Handelinge 2:42-47 – 4-10 Mei
Gee geleentheid dat elkeen iets deel wat gebeur het sedert julle laas by mekaar was.
RUS
Ons gaan in die Skrifgedeelte fokus op die eerste gemeente se geloofsgewoontes. Een daarvan was gebed. Neem Psalm 23 en gee aan elkeen ’n vers daaruit om in sy gebed te gebruik. Laat elkeen dan in volgorde ’n kort gebed rondom die gedagtes in dié vers bid. (Gebruik dié manier van bid gereeld. Julle kan dit met ander Psalms en selfs ook ander dele van die Bybel gebruik, óf in die kleingroep óf by jouself in jou binnekamer.)
HOOR
1. Lees Handelinge 2:42-47.
2. Deel met mekaar wat julle in dié gedeelte tref.
3. Lukas beskryf vir ons in die gedeelte die geloofsgewoontes van die eerste gemeente. Noem hulle vir mekaar en bespreek die betekenis wat dit vir die eerste gemeente en hulle impak binne hulle gemeenskap gehad het.
4. Die “onderlinge verbondenheid” (koinonia) was ’n baie belangrike geloofsgewoonte nie net vir die eerste gemeente nie, maar vir die kerk regdeur die eeue. Dink aan gevalle waar dié onderlinge verbondenheid onder druk gekom het in die kerk (Hand. 5 [Ananias en Saffira]; Hand. 6 [ongelyke versorging van die Hebreeuse en Griekse weduwees]; Gal. 2 [Petrus wat hom afskei van die Grieke]; Hand. 15 [Jode wat die Grieke verkwalik dat hulle nie die besnydenis toepas nie]). Hoe het die kerk dit hanteer? Wat leer julle daaruit?
5. Hoe goed doen julle kleingroep (en ons gemeente en kerk in die breë) met die “onderlinge verbondenheid”? Waar kom dit onder druk? Waar werk dit? Hoe moet ons dit hanteer?
LEEF
Navorsing in die sosiale sielkunde wys uit dat ons doelbewus moet fokus daarop om ons gedrag te verander as ons ons “onderlinge verbondenheid” oor groepsgrense wil verbeter. Dit skep nuwe houdings. Ons moet dus geleenthede skep waar mense oor grense heen vriende kan word met mekaar.
Hoe kan julle sulke vriendskapsvorming ondersteun? Wat gaan jy dié week daaraan doen?
Bid vir mekaar. Deel volgende week hoe julle met vriendskapsvorming gevorder het.
Die Skrifgedeelte vir volgende week is Handelinge 7.