Skip to main content

DIXIT DEUS – God se vernuwende pad deur dissipelskap – 2025

Puik. Skitterend. Indrukwekkend. So reageer Francois se W.A.T. as jy die woord-raaispel, Wortel, vinnig kon voltooi het. As jy egter flop… Ontwortel! Wel, dít voel maar vrotterig, nè?

Deur van hierdie ervarings te lees, kan jy dink hoekom woorde ’n baie sterk gevoelswaarde het. Soos bv. sukses, wat daarenteen, sommer baie lekker kan voel en selfs soet sal smaak!

In “Beleef God” vra Henry Blackaby watter eienskap van God het jy oor die jare heen ondervind, dra ‘n spesiale waarde vir jou. Dalk Sy liefde? Of Sy alwetendheid – omdat jy wis, soms voor jy sou vra, dat Hy sou weet? Of die vrede in Sy teenwoordigheid – wat dan ook mense, daaglikse voorvalle en geleenthede Godsvallig maak, want niks is tog meer vir jou toevallig nie? Of God se trou, wat vir jou innerlike betekenis en ‘n gevoelswaarde kan hê, wat selfs “hemels” kan voel?

Inderdaad. Woorde dra emosies. Wanneer jy fyn na God in sy Woord luister, kan jy vir seker weet dat dit ’n kragtige en wesenlike uitwerking op jou lewe sal hê. En as jy rêrig ernstig na Hom roep en soek, kom Hy in Sy alwysheid jou uitnodigend tegemoet, en leer jy Sy wil en Sy pad vir jou ken.

God antwoord onlangs op Sy roeping en seën ons met ’n vars, besielende visie vir die handel-en-wandel vir vernuwende kleingroepe soos Dixit Deus. (Latyn vir “God praat”.) God self is nou die Hoofkarakter en wil met elkeen deur sy Woord praat; en ja, luister is belangrik! As jy in eenvoud die Bybel lees, kan jy ’n dieper verstaan van God kry en Sy werklikheid elke dag meer raaksien. En wanneer jy Sy woorde verinnerlik, bou jy besielend – deur voortgaande verdieping – aan ’n intieme verhouding met jou Vader. Juis dít is van die kern-aspekte van geestelike groei in kleingroepe.

Gordon McDonald en Adele Calhoun se boeke oor geestelike gewoontes (ook dissiplines, ritmes en beginsels genoem) help ons om dit op verrassende wyses te kan bemeester. Dit dra by tot ons emosionele welstand en veral ’n groeiende besef van wie God is en wil wees. Ons ondersteun mekaar om mettertyd sulke gewoontes as gewone ritmes in ons lewenstyle te kan vestig!

Dixit Deus is vir elkeen wat ’n geestelike afplatting ervaar, ’n ander geestelike tuiste soek, of wat ‘n behoefte het aan ’n nuwe lewensvisie. Òf, as jy ’n ware soeke na die HERE God self het, kom gerus mee op hierdie pad van Hom. Dissipelskap help elkeen om immer saam met Jesus te stap.

Verder kan jy op ‘n dag ’n hoogs uitsonderlike aha­-oomblik ervaar, sodat jy saam met Job (42:4) sal getuig: “Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê. Maar nou het ek U self gesien.”

Dit is op die heilige grond van sy Goddelike teenwoordigheid waar God se seën jou deel word in ’n unieke, lewensveranderende belewenis; ’n nuwe avontuur. Verruklik. Groots. Subliem-hemels!

Liefdevolle seëngroete in Christus!

Mariette Rossouw (Januarie 2025)

Naskrif:

Vir navrae of meer besonderhede maak gerus kontak met ons by een van die volgende:

mariette@mweb.co.za / 041 583 3456 / 082 801 2801

INHOUDELIK: ’N KERNLYS VAN SIELSVERRYKENDE GELOOFSGEWOONTES

Dié dissiplines (Adele noem vele meer) is wyses wat saam met luister-na-Gods-woord by Dixit Deus, prakties gefasiliteer word. Met die missie om meer van dissipelskap vorentoe te bemeester. Dit sal jou o.a. toerus om mettertyd uit te reik deur ‘die aflosstokkie aan te gee’, en/of om jou eie bediening – volgens jou gawes en talente – te begin. Dit is wanneer God jou lei en sal toerus en salf deur sy Gees. En wel tot vestiging en uitbreiding van Sy koninkryk.

  1. Skrifstudie: jy gebruik basies jou Bybel – God praat op baie maniere met jou, en wel eerstens deur Sy Woord; dit rig jou gemoed, gedagtes, gedrag en jou dag.  Jou hele lewe.Om leergierig te wees, is iets waarvoor elkeen, en ons vir mekaar, eendragtig kan bid.
  2. Joernaal: dit is ’n gespreksboek met God; maak gerus altyddeur notas in jou stiltetyd, en by jou kleingroep, asook op jou geestelike pad (soos bv. met ’n preek, ’n praatjie oor die radio & TV, of as jy ’n lesing bywoon).  Getuig uit jou joernaal soos van toepassing.
  3. ’n Kleingroep is jou geloofsgemeenskap in die kleine – daar waar medegelowiges saam met God verkeer en ook mekaar leer ken en dra. Dit is insiggewend om Jesus se kleingroepmodel van net vier lede, gekies uit sy 12 dissipels, te sien (Mat. 17:1).
  4. Stiltetyd: die kring se aktiwiteite en belewenisse is vir seker ’n praktiese riglyn om sinvol tuis toe te pas.
  5. Afsondering: vir jou afspraak met God het jy ’n vaste tyd en verkieslik ’n stil vertrek vir jou binnekamer nodig.
  6. Danksegging: dit is veral vir wat God DOEN en GEE – vir jou/enige iemand; daar is dus altyd minstens twee partye. Gaandeweg begin jy dan uit dankbaarheid leef (1 Tes. 5:18).
  7. Gebed: bid in gewone spreektaal, terwyl jy poog om aandagtig en gefokus te bly. Voorbidding en om ’n intersessor te wees – onder leiding van die Heilige Gees, vra dalk ook dat jy sal leer om volhardend te bid.
  8. Kommitment: dit begin met jou daaglikse afspraak met die Here vir jou stiltetyd, en dan ook jou weeklikse afspraak met Hom by jou kleingroep. En dít vra beplanning van jou tyd en program, asook dikwels en voortgaande selfdissipline.
  9. Eenvoud: dit behels ’n ongekunsteldheid en opregtheid in die wyse van jou aanbidding, en om ook die balans tussen opgesmuktheid/oordaad en wat genoeg is vir jou daaglikse lewenswyse, te vind/kies.
  10. Lofprysing: ons loof God vir WIE en HOE Hy is: daar is baie maniere (werkwoorde) wat sê en uiting gee daaraan om God te prys en oor Hom te juig (bv. in Ps. 145). Onthou, jy fokus alleenlik en eensydig op God, want jy kyk weg van jouself en jou en ander se behoeftes.
  11. Aanbidding: om stil te word voor God / be in awe; buig voor Hom in eerbetoning en verwondering, of sit net in liefde stil aan Sy voete. Aanbidding is ‘n Goddelike afspraak, en daarom steeds een van die mees uitsonderlike en seënende ervarings.
  12. Belydenis: om God te vra om Sy lig oor jou lewe te laat skyn en jou te help om fyn te luister. Dan vereis elke blokkasie berou (‘Penthos’ – hartseer) en laat-gaan (Ps 51: 19).
  13. Getuienis / testimony: deel met mekaar oor die pad wat die Here met jou geloop het. Woorde wek woorde en jou geloofstorie kan mede-gelowiges aanraak en inspireer. Dit is om jou storie met ander te deel. Jy getuig oor God se pad met jou, en die werklikheid van saam met Jesus se leef-en-stap. Dit gaan nié oor “ek” nie!
  14. ’n Bediening hê / ministry: God wil jou gebruik, en deur die salwing van Sy Gees staan jou talente en bediening in Sy diens en is tot eer van Hom; dit sal ook bydra tot uitbreiding van Sy Koningkryk.
  15. Viering / celebration: op jou vreugdepad (joy) kuier jy saam met gelowige vriende.
  16. Koinonia / fellowship: eredienste, gemeente-etes, -bidure, -uitreike en diensterreine word na waarde geag. Jy kan uitvind waar jy tuis voel en betrokke raak.
  17. Rentmeesterskap: gee (tiendes) van jou tyd, energie en geld (eintlik vanuit jou hele lewe) terug aan jou Vader.  Raak gerus betrokke; jy ontvang op ’n plek en gee op ’n ander.
  18. Geestelike boeke, programme en musiek: moenie die waarde onderskat word nie!
  19. Mentorskap / submission:  is om verstaan wat mentorskap is, en waarde daaraan te heg. ’n Geesvervulde groepleier sal jou ondersteun op jou pad saam met God, en jou o.a. ook help met selfinsig vir geestelike groei, en veral met verantwoordheid in jou keuses.

Vir meer oor geestelike gewoontes, lees gerus – en pas dit toe, soos in:

’n Tyd vir Orde (beskikbaar in Engels as Ordering your Private Life – Spiritual Disciplines) van Gordon MacDonald en

SPIRITUAL DISCIPLINES Handbook – Practices that transform us: Adele Ahlberg Calhoun.

ENKELE VAN DIE UITEENLOPENDE BRONNE, MET INHOUD TOEPASLIK OP DIE BOSTAANDE

  • Amplified Bible, sowel as verskeie ander vertalings, o.a. NIV, Jerusalem Bible, die 1933-Afrikaanse Vertaling, en Die Boodskap
  • Beleef God! Hoe om God se wil te ken en te doen: Henry Blackaby & Claude King (Engels: Experiencing God!)
  • Bybelskool – 2025, se voortgaande notas op WhatsApp: Chris van Wyk
  • Dissipelskap, die Volwasse Menswees-kursus by Humansdorp en voorts:
  • Ek sal Hom sien – my lewe voor God; Bybelstudies in Brandpunte (1995 – 2002): MR
  • In Gees en in Waarheid: Cecile Burger
  • In Gesprek met God, asook Jy is ’n Nuwe Mens: Ferdinand Deist
  • Knowing God: James I. Packer
  • Life of the Beloved, en Here and Now – Living in the Spirit, en vele ander: Henri Nouwen
  • Life Together: Dietrich Bonnhoefer
  • Open to God: Joyce Hugget
  • Practice the Presence of God: Brother Lawrence
  • Prayer, en Celebration of Discipline: Richard Foster
  • The Secret of Adoration, en The Power from on High, en The Power from Abiding Presence; en ander soos in Die Geheimenisse van God: Andrew Murray.

Wees gegroet, en mag God jou ryklik seën.

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.