Skip to main content

God ver-Lig ons lewe – 2 Korintiërs 4:1-6

God ver-Lig ons lewe – 2 Korintiërs 4:1-6
Somerstrand Gemeente Youtube 09:00 op Sondag 14 Februarie 2021
Youtube
Klankbaan

1. Verwelkoming

Chris

Baie welkom! Dit was heerlik om verlede Sondag terug te wees in die kerk met die belydenisaflegging, al was dit net 50 mense. Hier is die skakel na die Youtube video sodat jy die hele erediens kan kyk.

Dit is interessant hoe die afgelope jaar se aanlyn eredienste ons bywoning verbeter het. Daar is ook baie mense van ander dele van die wêreld wat inskakel.

Hier is ‘n grafiese voorstelling van die bywoning van ons eredienste:

Gemiddelde bywoning vóór inperking in die kerk was 248 in die oggend en 65 in die aand, ‘n totaal van 303 lidmate per Sondag. Reeds die eerste maand van inperking het ons Youtube Familiediens die totale deelnemers met 25% verhoog na 381. Verlede Sondag het die Familiediens se kykers op 623 vir die twee dienste gestaan, ‘n 100% verbetering.

Toe ons met Pulse begin het in Junie het ons kykertalle verdubbel na 818 kykers. Ons begin binnekort weer daarmee. Met Ligkids verlede Sondag het dit verder gegroei na 1 043 kykers. Dit beloof om nóg meer te groei wanneer Pulse weer begin.

Onthou dus om ons Youtube aanbieding Ligkids te kyk. Dit is gemik op ouers en kinders 0-13 jaar oud. Dit is kort en kragtig en gekombineer met ons kategese. Die video is al vroegoggend beskikbaar op hierdie Youtube playlist en op Somerstrand se Facebook. Laai hier die pdf af wat ons daarvoor gebruik.

Ons is veral baie opgewonde oor die oorspronklike musiek wat Tine Joubert in samewerking met Margie Botha en Lynette van Wyk skep. Ons het nou al twee splinternuwe liedere!

Die eerste aanbieding van Ligkids is teen Vrydag al 420 keer gekyk. Dankie Thania vir jou inisiatief. Ons sien uit na die insette wat jy in ons gemeente gaan maak.

Thania neem ook vandag die Familiediens waar sodat die gemeente haar kan leer ken. Sy sal meesal die Ligkids doen en so een maal ‘n maand ook die Familiediens waarneem.

Welkom!

Thania

Baie dankie vir die verwelkoming, dit is ‘n voorreg om vandag saam met julle as Somerstrand lidmate en besoekers, die Here te aanbid en soos wat die waardes van die gemeente ook sê: te kom luister wat God vir ons wil sê en dit ook te kan gaan uitleef. Kom ons berei ons daarvoor voor, deur stil te word en na die volgende lied te luister.

2. Toetredelied

Vonkk 040 – Kom en vul ons met vrede

3. Votum & seëngroet

Wel, dit is vandag Valentynsdag! Alhoewel dit nie ‘n Christelike feesdag is nie en ons ons ook nie vandag in hierdie tradisie gaan verdiep nie, sien en beleef ons hoe daar vandag regoor die wêreld blomme, teddiebere, sjokolades en allerhande geskenke en kaartjies heen en weer tussen mense gegee en laat aflewer as jy nie self by hulle kan uitkom nie of dalk nog te skaam is…dalk het jy ook vir iemand iets gegee/gestuur of iets ontvang.

So word ‘n dag en ‘n persoon uitgesonder vir wie jy op ‘n spesiale manier wys dat jy van hulle hou, in hulle belangstel of dat jy hulle liefhet. Dit is tog eintlik jammer dat ons dit net eenmaal ‘n jaar doen! En alhoewel dit vir sommige ‘n dag is waarop hulle geliefd en waardeer voel, waarop verhoudings tot stand kom of versterk word, werp ‘n dag soos vandag ook ‘n lig op die tydelike, veranderende en voorwaardelike aard van liefde tussen mense – want daar is soveel, dalk is dit jy, wat vandag alleen is, wat vereensaam het, dalk het jy al verwerping ervaar en skerm wanneer dit by dae soos vandag kom, dalk word jy vandag herinner aan ‘n gebroke verhouding/s of aan geliefdes wat nie meer daar is om ‘n geskenk te gee of te ontvang nie.

In Sy Woord maak God ons egter telkemale bewus daarvan dat Sy liefde vir ons radikaal anders is, dit is nie ‘n *een-dag-in-‘n-jaar-liefde nie, maar elke dag-liefde. Iemand het geskryf: Elke sonsopkoms verkondig God se liefde vir ons. En Gal.3:22&23 bevestig: Deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. Wel, die son het vanoggend opgekom, het dit nie? Daarom, ontvang opnuut Sy genade en vrede, wat die Vader wat jou eerste liefgehad het, die Seun wat Sy liefde vir jou bewys het deur sy lewe vir jou af te lê en die Heilige Gees wat verseker dat niks jou ooit van Sy liefde kan skei nie, vir jou gee. Amen.

Ons kan nie anders as om nou te reageer met lofprysing nie. As jy iets van iemand ontvang het, dan is jy opgewonde, jy omhels hulle en bedank hulle. Wel, kom ons doen dit deur die volgende loflied saam te sing.

4. Loflied

Lied 154 en 220 Kom nou tesaam | Met ons harte sing ons, Here

5. Gebed

Voor skriflesing:

“Wanneer u woord vir mense oopgaan, bring dit lig; dit gee insig aan dié wat nog onervare is.”

PSALMS 119:130 AFR83

Steek kers aan terwyl bogenoemde gelees word.

6. Skriflesing – 2 Kor.4:1-6

“God het Hom oor ons ontferm en hierdie bediening aan ons opgedra. Daarom word ons nie moedeloos nie. Ons vermy praktyke wat nie die lig kan verdra nie en waaroor ons ons sou moes skaam. Ons gaan nie met bedrog te werk nie en ons vervals nie die woord van God nie. Inteendeel, ons maak die waarheid openlik bekend en beveel onsself so aan by elkeen wat voor God ‘n eerlike gewete het. As die evangelie wat ons verkondig, tog nog met ‘n sluier bedek is, is dit bedek net vir dié wat verlore gaan. Hulle is die ongelowiges wie se verstand deur die god van hierdie wêreld verblind is, sodat hulle die lig van die evangelie nie kan sien nie. Dit is die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is. Ons verkondig nie onsself nie, maar Jesus Christus as die Here, en onsself as julle dienaars ter wille van Jesus. God wat gesê het: “Laat daar lig skyn uit die duisternis,” het ook in ons harte ‘n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal.”

7. Boodskap

Kry jy ook gereeld ‘n notification op jou nuus-app, of boodskap van iemand, om jou in kennis te stel dat Loadshedding weer ingestel is? Somtyds kan jy voorbereid wees, vroeer die oggend opstaan sodat jy nog jou hare kan droogblaas, jou kos vroeg die middag klaarmaak of besluit om ‘n wegneemete te kry, jy kan solank die gasstofie uithaal. In vele huise in SA word voorbrand gemaak hiervoor en staan daar kerse en lampies rond en vuurhoutjies en flitsligte word op maklik bekombare plekke gebêre en winkelsentrums, selfs gemeentes, het generators.

Somtyds word ons egter onkant gevang en is dit skielik donker rondom ons en moet ons rondtas om ons pad te vind. Die persone wat daarsonder grootgeword het sal sekerlik nou glimlag en dink: Dit is nie so erg nie. Of dalk het julle ook al aan die luuksheid om ‘n skakelaar aan te sit en daar is lig gewoond geraak… Om gedurig op verwagte en onverwagse tye in die donker gehul te wees kan ‘n mens nogal moedeloos maak!

God wil ons egter vandag kom bewus maak dat die donkerte waarin ons onsself so dikwels bevind  egter nie (net) die kragvoorsienaar se skuld is nie! Nee, die donker in die wêreld is ten diepste geestelik van aard. Wanneer Paulus soos hy so dikwels graag doen, in sy briewe, die twee kontraste van lig teenoor donker plaas, dan beskryf hy donkerte as die werk van die duiwel (van wie Paulus in 2 Kor.4:4 praat as die god van die wêreld, wat mense verblind, m.a.w. hulle in die duisternis hou).

Wat hieruit voortvloei is dan ook sonde – in vers 2-5 noem hy ‘n aantal praktyke wat “nie die lig kan verdra nie,” in sy woorde. En hy noem dinge soos bedrog (oneerlikheid wat dit aanbetref waarmee ander jou vertrou), om die woord van die Here te vervals (dit te verdraai sodat dit jou pas, of daarvan af te wyk) en die verkondiging van die self (selfverheffing, selfvoldaanheid, om die eie-ek te voed).

Hiermee hang die verrykende gevolge van sonde ook dan saam, wat bydrae tot die donker in harte, huise en die wêreld: gebroke verhoudings (soos ons reeds aan die begin van die diens gehoor het), armoede, siekte, dood, ens. Hierdie dinge het Paulus en sy mede-reisigers gesien en aan hulle eie lywe gevoel – en tog, skryf hy dat hulle nie moedeloos raak nie… ek weet darem nie?! Wanneer ons hierdie dinge hoor en daaroor nadink dan kom klop moedeloosheid nie net aan die deur nie, dit kom sommer in en maak ditself tuis in jou gedagtes en gemoed.

“Maar skep moed!” sê God, “laat my toe om my lig in julle harte ook te laat skyn en julle Geestesoë te verhelder, soos ek met Paulus en sy medewerkers gedoen het!” Op hierdie dag waar harte oral te siene is, is dit eintlik so besonders om die getuienis van Paulus in vers 6 te lees: God wat gesê het: Laat daar lig skyn uit die duisternis, het ook in ons harte ‘n lig laat skyn om ons te verlig met die heerlikheid van God. Deur so te verwys na die lig wat in die begin geskep is en dit in verband te bring met die lig wat God in hulle harte laat skyn het, word aanleiding gegee tot denke dat God ook hulle harte herskep/nuutgemaak het. Met dieselfde krag waarmee Hy die skepping tot stand gebring het, werk God kragtig in harte en lewens en kom ver-Lig Hy dit.

Hier in 2 Kor.4:1 getuig Paulus: God het Hom oor ons ontferm. Die NLV gebruik die woord: genade. God het aan ons genade bewys. ‘n Webtuiste definieer genade as volg: onvoorwaardelike Goddelike bystand wat aan mense verleen word met hulle redding ten doel.

God verleen aan ons Sy bystand – Hy staan BY ONS. Hy ontmoet ons dus hier in ‘n donker wêreld en binne ons persoonlike donkerte, verlorenheid, onsekerheid, bekommernis. Paulus se verhaal waarvan ons in Hand.9:3-19. lees is ‘n sprekende voorbeeld hiervan. Paulus is op daardie stadium nog Saulus en oppad na Damaskus om Christene in hegtenis te gaan neem en daar het God Hom ontmoet!

So is die gemeente in Korinte ook saamgestel uit heidene wat bekeer is deurdat God vir Paulus na hulle gestuur het om hulle van Hom te vertel. So bewys God sy liefde aan ons – dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Rom.5:7 Telkens getuig Paulus egter ook dat God te midde van allerlei swaarkry en vervolging, agv die werking van die duiwel en ander se toedoen, by hom was, hom versterk het.

God herinner ons die donker is nie die enigste realiteit nie, daar is nie net lig aan die einde van die tonnel nie, daar is lig van begin tot einde van die tonnel, want God is daar! Hy was nog altyd en is steeds ten volle teenwoordig en ten diepste betrokke by ons lewens hier op aarde – as Skepper sedert die begin toe dit nog (letterlik) donker was, Jesus Christus se voetspore lê onuitwisbaar diep in die geskiedenis van die wêreld en die Heilige Gees, wel, is steeds by ons, te midde van ons innerlike donkerte en die donkerte in die wêreld rondom ons. Ons hoef dus nie die donker te vrees, soos kinders gewoonlik doen nie.

Ek onthou nog goed, toe ek klein was, was ek verskriklik bang om in die groot donker plaashuis alleen in my kamer te slaap, dan het my Oupa en Ouma vir my ‘n matras langs hulle bed neergesit. Net die wete hulle is daar, het my getroos, om hulle asemhaling te hoor, het my rustig gemaak en ek kon slaap. Dawid getuig van die nabyheid van God wat hom so, te midde van donkertes, getroos het: Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig, skryf hy in die alombekende Ps.23:4.

Dit verskuif ons fokus, van die donker rondom ons, na die Een wat saam met ons in die donker is, vir Wie selfs die duisternis nie donker is nie en die nag so lig soos die dag, duisternis so goed soos lig – PSALMS 139:12 Per implikasie kan ek en jy God vertrou om ons in ‘n donker wêreld rond te lei – om ons te help navigeer deur ons eie foute en tekortkominge, asook deur ‘n wêreld vol van die duiwel se handewerk en die gevolge van die mensdom se sonde.

Dit beteken egter geensins dat ons gemaklik moet raak met of gewoond aan die donker nie. Dit gebeur mos wanneer ‘n mens lank in die donker was – jou oë pas daarby aan en dan is die lig verskriklik skerp en maak eintlik jou oë seer wanneer dit weer aangeskakel word. Die Bybel is duidelik daaroor dat die doel nie is dat ons in die donker sal lewe nie. Julle is die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. 1 PETRUS 2:9 AFR83

Dit is baie interessant, die een kommentaar wat ek geraadpleeg het sê die Griekse woord vir moedeloos wat Paulus in vers 1 gebruik, impliseer nie net om toe te laat dat iets jou onderkry nie, maar om net saam met die stroom te beweeg en eintlik deel te neem aan dit wat moedeloosheid veroorsaak! Indien ons die heeltyd die donker raaksien, dink en praat oor wat iemand nou weer gedoen het, wat ons bekommer het, of as ons heeltyd top oor dit wat ons verkeerd gedoen het of iemand anders aan ons gedoen het – lei dit nie net tot meer donker geselskappe en gemoedere nie? Absoluut! Hoe keer ons hierdie sneeubal effek, hoe leef ons as mense wat uit die donker geroep is om in God se lig te lewe, met ‘n bewustheid van en soekend na Sy liggewende teenwoordigheid en wil?

Ons kan ons harte en gedagtes voorberei om die donker te konfronteer en te verdryf, soos ons ons huise sou voorberei vir ‘n kragonderbreking/beurtkrag, deur ons toe te rus met ‘n ligbron/ne, wat ons nie wegbêre nie, maar altyd naby aan ons hou:

Die eerste ligbron is die Woord van God: Ons lees, bestudeer, ken die Woord (hoe goed ken ons God se Woord werklik, kan ons wanneer ons in die versoeking kom om te sondig of wanneer ons aanslae van die duiwel ervaar of ons bewus word van die gebrokenheid van die wêreld, God se Woord aanhaal? Weet ons wat Hy daaroor sê?) Ps.119:105 bevestig – U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad. Dit is ook ‘n sward om die bose en die sonde teen te staan en onderskeid te tref tussen  “wat goed en reg en waar is” (Ef 5:8-11), wat mense wat in die lig lewe behoort te doen of te vermy.

Die tweede Ligbron, is Jesus. Joh.8:12 Hy het self gesê: Ek is die Lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee. Ons het dus nodig om die karakter van Jesus te leer ken, te luister wat Hy leer en en die voorbeeld wat Hy stel in ons eie lewe te implimenteer.  As ons naby Jesus leef, kan ons nie anders as om ‘n intieme persoonlike verhouding met God te ontwikkel nie en daaruit sal ook goeie dade voortspruit – wat ook ‘n bewys is daarvan dat ons in die (l)Lig lewe.

Mag dit ons wat in die wêreld vol donkerte leef e nook met ons eie innerlike donkerte gekonfronteer word, vertroos om te weet God is by ons. Hy ontmoet ons waar ons is. Hy roep ons dan ook uit die donker uit om in die lig te lewe. Dit is egter slegs moontlik deurdat ons onsself ingrawe in SY Woord en werklik vir Jesus leer ken. Mag die donkerte ons nie moedeloos maak nie, maar juis aanspoor daartoe om God se lig te reflekteer, want…

Die kleinste kers se liggie

Kan die diepste donker breek

En ‘n duisend ander liggies

Kan by daardie een aansteek

Dan by daardie duisend liggies

Nog miljoen of twee of tien

Totdat almal in die wêreld

Deur die donkerte kan sien

-Amanda Strydom

8. Gebed

9. Afkondigings & dankoffers inligting

Dankoffers

Jy kan met Snapscan of EFT jou dankoffer inbetaal.

Verjaarsdae

Daar is geen verjaarsdae vandag nie. Franco Jonker word hierdie week, 17 Februarie, 9 jaar oud. Baie geluk! Die res van die name van dié wat hierdie week verjaar is op die skerm. Wens hulle geluk hierdie week.

Alpha

Groot nuus is dat ons volgende week 17:00 met die Youth Alpha begin vir ons graad 7 tot 11 katkisante in die kerk. Hier is ‘n kort insetsel daaroor.

Video

Die koste is R200 vir die eerste kind van ‘n gesin, en R100 vir elke volgende kind. Jy is ook welkom om maats te nooi teen R100 per persoon ekstra en ons te laat weet. Ons kan so ‘n tien ekstra akkommodeer. Ons beplan ook later ‘n Alpha vir ouers.

Daar is twintig ouers wat al besluit het om te help! Jaco Barnard is die seremoniemeester, Saskia Weitz die administrateur, Andra Serfontein en Riëtte Muller die kosmaak en skoonmaak koördineerders, die huidige kategete die fasiliteerders, en Francois Ross die tegniese persoon. Daar is nog plek op die gebedspan!

Kerkkantoor

Die kerkkantoor is oop twee dae ‘n week, Dinsdag en Donderdag 09:00-12:00. Onthou om in te skryf op ons Nuusbrief en op ons Webtuiste.

Eredienste

Die opsies vir ons eredienste brei uit.

  • Jy kan Sondae by die weeklikse erediens om 09:00 inskakel by hierdie YouTube playlist of by Somerstrand se Facebook.
  • Jy kan ook die erediens in die kerkgebou bywoon – maksimum 50. Bespreking dus belangrik. Skryf in by Liésl (info@somerstrandgemeente.co.za).
  • Indien jy net na die preke wil luister, kan jy dit Sondae vanaf 09:00 by my eie YouTube playlist doen.
  • Die Kinderkerk Ligkids kan jy op hierdie playlist by Youtube Dit is al 06:00 beskikbaar. Stoor die skakels êrens sodat jy maklik daarby kan kom.
  • Pulse kom binnekort wat teen 11:00 beskikbaar is.

Leesrooster 2021

Ons volg hierdie jaar die Leesrooster (Revised Common Lectionary 2021). Jy is baie welkom om in te skakel daarby. Daar is ongeveer 1 600 mense ingeskryf by bybelskool.com. Die voordeel is dat jy doodgewoon in ‘n gegewe week kan inval om saam te lees.

Ons lees Maandae ‘n gedeelte uit die Evangelies, Dinsdae ‘n gedeelte uit die OT, Woensdae ‘n gedeelte uit die Psalms en Donderdae ‘n gedeelte uit die res van die NT. Sondae se erediens sal handel oor een van hierdie tekste.

Stiltetyd en Kleingroepe

Vir stiltetyd en kleingroepe stuur ek elke dag, Maandag tot Donderdag, die Bybelgedeelte vir die dag saam met ‘n bydrae oor die teks en konteks, sowel as die boodskap en betekenis hiervan vir ons. Die eerste bydrae is 25 Januarie 2021 gestuur.

Om bogenoemde bydraes per e-pos te ontvang, kan jy inskryf by Bybelskool.com.

Behoeftes

Onthou die kos en klere projekte wat ons deurlopend hardloop. Bydraes vir Jaco en Annemarie Barnard by Bognorstraat 6 en vir Theo by Total en Elsje by die spreekkamer of by Cecile by 3de Laan. Bydraes vir die Noodfonds is ook steeds welkom.

Youtube

Onthou om in te teken op ons kanaal met die rooi subscribe knoppie. Jy kan notifications ook aansit om jou te herinner om Sondag in te skakel.

12.Wegsending

Daar sal nie meer nag wees nie. Die mense het nie die lig van ‘n lamp en die lig van die son nodig nie, omdat die Here God hulle sal verlig, en hulle sal tot in alle ewigheid regeer. Openb.22:5

Tot dan:

Die Here is voor jou, Sy lig op jou pad

Hy neem jou na waters van rus

Die Here is langs jou, jou vesting en rots

Hy laat jou staan op die hoogte

Die Here is om jou, die duister word lig

Hy laat jou lamp helder skyn

Die Here is bo jou van Hom kom jou hoop

Jou siel sal Hy ewig bewaar, Hy is by jou

Sy seën gee Hy uit en Hy leer jou Sy waarheid

Hy stuur Sy engele na jou

-Annelie van Rooyen lied

11. Wegsendingslied & Dankoffers herhaling terwyl lied speel

Vonkk 156 – As vreugde my deel is, of smart my verteer

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.