Skip to main content

Tag: Wie is God?

Julle is die sout vir die aarde – Matteus 5:13-16

Wat is jou idee van ‘n geseënde en gelukkig lewe?

In die fliek The Pursuit of Happyness is geluk vir Chris Gardner (Will Smith) om ‘n lewe te kan maak waarin hy vir hom en sy seun ‘n toekoms kan verseker. Waarin hy ook ‘n Ferrari kan besit. En hy hét geluk gevind in die besigheidswêreld. Sy droom om bó uit te kom, is bewaarheid.

In die Bergrede spel Jesus sy idee van ‘n geseënde en gelukkige lewe uit. Julle ken dit goed. Maar veral die laaste een verras ‘n mens nogal:

“Geseënd is julle wanneer die mense julle om My ontwil beledig en vervolg en vals beskuldig van alles wat sleg is. Wees bly en jubel omdat julle beloning groot is in die hemele. Hulle het immers die profete vóór julle net so vervolg.”

Geluk lê in beledigings, vervolgings, en beskuldigings! Wees bly en jubel! Regtig?

Die verklaring hiervoor lê in wat Jesus net daarna sê, oor sout en oor lig.

Download the English Translation: You are the salt of the earth – Matthew 5_13-16.docx

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS

Continue reading

Leef deur die Gees – Galasiërs 5:13-26

Wie het Finding Nemo gesien?

Bruce is ‘n groot wit dood haai in die fliek. Hy is die leier van die Vis-vriendelike Haaie-ondersteuningsgroep wat vriende maak met Marlin, Nemo se pa, die anemoonvis, en Dory, die doktersvis, wie se geheue haar so in die steek laat.

By een van sy Vis-vriendelike Haaie-ondersteuningsgroep sessies – geskoei op Alkoholiste Anoniem se 12 stap program – word Marlin en Dory saamgenooi met twee ander haaie, Anchor en Chum. Dit is immers die viering van stap 5: Bring ‘n vis-vriend.

Ongelukkig kom daar ‘n bietjie bloed in die water en Bruce se natuurlike instinkte skop in. Sy oë verander van helderblou tot donkerswart en hy wil met alle mag en geweld sy nuutgevonde vis-vriende, Marlin en Dory, opeet. Dit is net met moeite wat Marlin en Dory aan dié bloeddorstige wit dood haai ontkom.

Bruce is ‘n goeie siel. ‘n Aangename haai. Hy is vrolik, vol grappies, almal se pel. “Visse is vriende, nie voedsel nie,” so herinner Bruce homself telkens. Maar sy persoonlikheid verander die oomblik wanneer sy instinkte inskop, en dit maak van hom ‘n “mindless eating machine”.

Instink is sterker as afrigting

Nou, dit is maar ‘n fliek. Maar, in die werklike lewe is dit steeds ‘n realiteit. Instink by wilde diere is doodgewoon sterker as enige afrigting. Jy kan ‘n dier tem, maar jy kan nooit heeltemal die instink beheer nie. As jy weghardloop van ‘n cheetah, selfs in ‘n beheerde omgewing, sal hy jou probeer vang.

Dit is nie anders in die geestelike lewe nie. Ons leef in ‘n wêreld wat van God afvallig geraak het. In ‘n wêreld wat leef asof Hy nie bestaan nie. En die suigkrag van hierdie sondige wêreld kom nie net van buite af na ons toe nie. Dit is binne ons. Dit is deel van ons. Dit is deel van ons sondige natuur.

Ons het deel gekry aan God se natuur. Watter genade! So het ons in 2 Petrus 1 gelees. Maar die sondige natuur bly steeds lewendig in ons. En God se natuur en ons sondige natuur is in ‘n voortdurende konflik met mekaar. Soos ek met die grafika probeer illustreer. Die water en die vuur in stryd met mekaar in ons harte.

Wat is die oplossing?

Wat is die oplossing dan vir die konflik binne ons? Hoe kry ons dit reg dat ons nie kop verloor soos Bruce, die groot wit dood haai, nie.

Kom ons lees wat Paulus daaroor skryf in Galasiërs 5:

HIER VOLG DIE HELE EREDIENS

Download the English Translation: Live by the Spirit – Galations 5_13-26

Continue reading

God is een Wese in wie drie Persone is: Vader, Seun en Heilige Gees – Lukas 1:26-38

Wat is die Drie-eenheid?

Verlede week het ons gepraat oor ons Godsbeeld. God is groot en genadig, goed en getrou. Hy sorg vir alles en almal, vol liefde en trou. (Download English Version: Luke 1_26-38 – Trinity)

Met die droogte in die tyd van Elia het God geïllustreer dat Hy die kosmos beheer. Met die kraaie by die Kritspruit het God geïllustreer dat Hy vir sy profeet kan sorg. Met die meel en olie wat nie opraak in die kruike en kanne van die weduwee van Sarfat nie het God geïllustreer dat Hy self kos kan voorsien. Met die seun van die weduwee van Sarfat se opwekking uit die dood het Hy geïllustreer dat Hy selfs beheer oor die dood het.

En daarmee het God ons ook ‘n voorsmakie gegee van die opstanding uit die dood van sy Seun Jesus juis ná die dood aan die kruis … en die hoop in ons aangesteek van ons eie opstanding ná ons dood. Soms is die opstanding uit die dood reeds in hierdie lewe, soos talle dit al ervaar het. Soms is dit eers aan die einde van die tyd. Maar, opstaan sal ons opstaan!

Maar, hierdie prentjies van God is maar net uit een hoofstuk in die Bybel, 1 Konings 17, soos wat Elia dit vir ons vertel … daar is 1188 ander hoofstukke. Dink ‘n bietjie oor die grootheid daarvan.

Want, ons het sulke stories oor God nodig in ons tyd. Ons moet dit aanmekaar vir mekaar vertel. Want ons Godsbeeld bepaal ons menswees. Ons Godsbeeld bepaal ons wêreldbeeld. Ons Godsbeeld bepaal wat ons bereid is om te glo. Ons Godsbeeld bepaal wat ons bereid is om te hoop. Ons Godsbeeld bepaal wat ons bereid is om te doen. Ons Godsbeeld bepaal waarvoor ons bereid is om ons lewe te gee, selfs al kos dit ons dood.

Waar jou God groot is, is jy bereid om groot dinge vir Hom te waag. Waar jou God genadig is, is jy bereid om God te gehoorsaam. Waar jou God goed en getrou is, is jy bereid om God vir kos en water te vertrou. Waar jou God vir alles en almal sorg, waar Hy vol liefde en trou is, is jy bereid om in te tree vir die uitdagings wat mense ervaar, selfs waar hulle die erge kruis van die dood moet trotseer.

Die omgekeerde is ook waar. Waar jou Godsbeeld vervaag, of jy die verkeerde idee van God begin kry, kan jy eintlik nie anders as om vir jouself te begin sorg, om volgens jou eie behoeftes te begin leef. Raak jy die maatstaf vir jou eie lewe en vir dié van ander.

Waar jy met die verkeerde idee van God begin werk, skep jy jou eie gode, leef jy volgens jou eie kode. Begin jy jou eie voordeel soek. Lei dit tot uitbuiting, die grootboere teen die kleinboere, die konings teen hulle onderdane, die magtiges teen die eenvoudiges. Hele gemeenskappe verval in onsedelikheid en anargie waar God nie meer beleef en gedien word nie.

Dit is uit hierdie hoek wat ons moet dink oor die Drie-eenheid. Want die beskrywing van God as die Drie-eenheid is die beste en grootste prentjie van Hom wat ons het. Dit is die beste verduideliking van wie God is. Dit is die diepste prentjie van wie God is. Misterieus. Groots. Ontsagwekkend. Onpeilbaar. Soos ‘n waterpoel waarvan jy die diepte nie kan meet nie. Soos die heelal waarvan jy die einde nie kan raaksien nie. Maar helder en duidelik.

En laat niemand jou vertel dat dit ‘n prentjie is wat die vroeë kerk geskep het. Asof dit nie duidelik in die Bybel na vore kom nie.

Continue reading

Vraag 3: Wat is die mens? – kleingroepe

Materiaal vir stiltetyd, kleingroepe of families. Gebruik veral die verhaal vir kinders.

RUS

Gebruik Psalm 8:4-10: “Wanneer ek opkyk na die naghemel en ek sien die werke van u vingers, die maan en sterre wat U in hulle plekke geplaas het, wat is die mens dat U aan hom dink, die mensdom dat U vir hulle omgee? U het hom ’n bietjie minder gemaak as hemelse wesens, en hom gekroon met roem en eer. U het hom in beheer gestel van alles wat u hande gemaak het. U het vir hom mag gegee oor alle dinge: skape en beeste, alles, en ook die wilde diere van die veld, die voëls in die lug, die visse in die see, en alles wat swem deur die seestrome. Here, ons God, hoe vol majesteit is u Naam oor die hele aarde!” (NLV)

Continue reading

Gratis foto’s en illustrasies vir Bybelverhale, -karakters en -temas

Hier is ‘n wonderlike hulpmiddel vir families wat die Bybelverhale met hulle kinders wil deurwerk. Dit is die webtuiste Free Bible Images. Dit is ‘n webwerf waar jy gratis stelle Bybelverhaalprente (foto’s of illustrasies) kan aflaai om te gebruik in PowerPoint-, PDF-, Keynote- of JPEG-formate. Jy kan dit ook direk op jou rekenaar gebruik om die stories vir jou kinders te vertel.

Gebruik die Find a story op die spyskaart om ‘n Bybelverhaal volgens boek, karakter of tema te soek, of klik op die Photos, Illustrations of Contributors opsies in die hoofkieslys om deur die grafika te blaai.

Die vier verhale van Elia wat ek vanoggend gebruik het, kan jy bv by die Character spyskaart kry (daar is honderde!): Elia. Ek sluit ‘n paar van die grafika hieronder in om jou ‘n idee te gee hoe goed dit is.

Free bible Images is ‘n geregistreerde Christelike liefdadigheidsorganisasie. Dit word gefinansier deur skenkings. Hulle het ‘n hart vir besige mense en stel dié hulpmiddels gratis aan die wêreld beskikbaar as ‘n Christelike hulpbron.

Elia waarsku vir Agab
Die droogte
Die kraaie
Die wedewee van Sarfat
Die kruis – haar seun sterf
Elia dra die seun boontoe
Elia bid ernstig
Die Here wek die seun op
Vreugde oor God se seën

God is groot en genadig – 1 Konings 17

Onsekerheid en onrus

Ek dink nie ons was al ooit in ons land in soveel onsekerheid en onrus gedompel nie. Die politieke gevegte in ons stede is vuil en verbete. Die sosiale onrus rondom grond en dienslewering groei by die dag. Ons regstelsel het slagvelde geword waar wydverspreide korrupsie en die grootskaalse kaping van bronne blootgelê word. Selfs die kerk beland in die gedrang waarin die vraag ten diepste is na die gesag wat die Woord van God in mense se lewens behoort te hê.

Hoe maak ‘n mens sin hiervan? Hoe kies ‘n mens koers? Hoe besluit jy wat is die regte ding om te doen?

Fokus op jou Godsbeeld

Die antwoord is om terug te keer na die fundamentele vraag na God. Jou Godsbeeld. Wie Hy is. Wat Hy doen. Wat Hy vra.

Want, jou Godsbeeld beïnvloed jou mens- en wêreldbeeld. Jou Godsbeeld bepaal hoe jy reageer op die uitdagings in die politiek en die gemeenskap. Jou Godsbeeld bepaal hoe jy reageer op die gesag wat die Woord van God in mense se lewens behoort te hê.

Dit leer die verhaal van Elia ons.

Continue reading