Skip to main content

Tag: Johannes

Johannes 4 – Jesus steek grense oor deur gender – 24 Mei 09 – Pinkster 2

Sondagaand 18:30 – 24 Mei – Johannes 4 – Pinksterdiens 2

Laai hier die mp3 klankbaan af.

Verwelkoming

Die grootste verskil wat die evangelie maak, lê nie in wat IN mense gebeur nie, maar wat TUSSEN mense gebeur.  Verhoudings tussen mense is die plek waar ware gemeenskap gebeur.

Elkeen van ons is ‘n ketting, ‘n band wat mense verbind.  Telkens as ons uitreik na mekaar in gemeenskap en versorging, en bereid is om grense oor te steek na ander, trek ons mense in, en gee dit sin en betekenis aan ander en ons eie lewe.

Om grense oor te steek: kultureel, eties, generasies, etnies, sosiaal, ekonomies, gender en noem maar self verder op, was en sal altyd die lewensbloed van die geloof in Christus bly.

Van die begin af was dit die patroon: waar gelowiges ‘n kulturele grens oorgesteek is, soos ons bv. in Handelinge 11 lees,  waar ‘n paar onbekende Joodse gelowiges in Antiochië met die Grieke oor Jesus gesels het, kom daar ‘n kerk tot stand. (11:19-20). En waar hulle dit nie gedoen het nie, het die kerk gekrimp of tot niet gegaan.

Ek wil jou dus uitdaag om ‘n reis dié week met ‘n paar mense in die gemeente te onderneem – ons noem die reis: Die Gees stuur ons oor Grense. Vir 5 dae gaan jy en ‘n paar van jou vriende fokus op die mense wat oor julle pad kom.  Elke aand gaan ek jou begelei om te gesels daaroor en te probeer agterkom wie dit is wat die Here oor jou pad stuur.  En ons sluit met ‘n heerlike Pinksterete Vrydagaand af met ‘n feesviering volgende Sondag.

Omdat sulke ontmoetings met mense geskenke uit die hand van die Here is, vra ons elke aand hoe dié ontmoetings jou geruk of getroos of geseën het.  En ons gaan praat oor hoe die Gees jou moontlik voorberei het daarop en wat jy dink die Here deur die persoon(e) met jou wil laat gebeur.

Telkens gaan ons ook vra wat die Here deur jou wil bevestig in die ander persoon en/of moontlik wil verander in jou.  En elke aand help ons mekaar om te leer wat ons beter wil leer doen.

Kortom – ons gaan op reis met mekaar om ‘n paar grense na ander mense oor te steek, wat uiteindelik geskenke van die Here word.

Dit beteken dat jy nou moet dink aan mense wat jy graag wil uitnooi op jou reis dié week.

Vannaand gaan ons die verhaal van Jesus en die Samaritaanse vrou lees in Johannes 4 en baie spesifiek kyk na die wyse waarop Jesus teen die heersende gedagtes oor die plek van vroue, juis met haar gesels en deur ‘n vrou die dorpie Sigar bereik.

Lees Johannes 4:1-42

Jesus móés deur Samaria gaan

Dat Jesus deur Samaria moes gaan is nogal relevant – omdat dit beteken het dat Hy met ‘n kortpad (so ‘n 3-dag reis) na Galilea sou gaan.  Dit was nie iets wat die Jode maklik gedoen het nie, hulle het Samaria eerder vermy;  Samaria was ‘n “no-go” vir die Jode – ‘n area waar hulle gegril het vir die  “onsuiwerheid” van die Samaritane wat van ‘n gemengde ras was.

Dit is eintlik altyd so as ons oor grense beweeg – mense is anders en doen dinge anders in “Samaria”.  Daarom loop ons dikwels ‘n ompad eerder as om daar deur te gaan.

Dit is die sesde uur

Dit is betekenisvol dat dit die sesde uur was.  Dit beteken dat dit 12 uur die middag was.  In daardie tyd het vroue boonop twee keer ‘n dag gaan water haal vir hulle huise, soggens en saans, wanneer dit koeler was.  Die Samaritaanse vrou gaan skep dus water op die warmste tyd van die dag.

Sy vermy die ander vroue van die dorp, miskien omdat sy verwerp gevoel het, of meer waarskynlik inderdaad ‘n verworpene was.  Blykbaar was daar nog boonop ‘n ander put nader aan die dorpie, wat sy sou kon gebruik het.  Die water van Jakob se put was egter suiwerder … en verder van die dorp af.

Die broosheid van Jesus

Jesus is alleen, dit is in die middel van die dag, Hy is moeg en dors en hy het nie ‘n skepding om water uit die put te haal nie.  In een woord, Hy is kwesbaar in meer as een opsig.  Hy het die vrou se hulp nodig, en Hy kan in meer as een opsig in die moeilikheid kom, net omdat Hy met haar praat.

Dit is in hierdie broosheid wat Hy oor grense beweeg en die gesprek tussen Hom en die vrou plaasvind. Geen uit die hoogte posisie, eerder ‘n posisie van magteloosheid en kwesbaarheid.

Jesus praat met ‘n vrou

Dat Jesus met ‘n vrou praat, en dit nogal in die openbaar, was ongehoord.  Volgens Joodse tradisie mag ‘n Rabbi nie eers met sy eie vrou, dogter of suster gepraat het nie, laat staan nog as dit ‘n vreemde vrou was.

Vroue was eenvoudig nie gereken nie.  Mans het soms die Joodse gebed gebid: “Ek loof U, o God . . . dat U my nie ‘n vrou gemaak het nie”!

Ek het nie ‘n man nie

In die gesprek met Jesus kom ‘n mens boonop agter, dat sy saamgebly het met iemand.  Van een kant kan ‘n mens jou wenkbroue daaroor lig, maar van ‘n ander kant moet ons onthou, vroue het in daardie tyd baie min sê gehad in hulle verbintenisse met mans, wat beteken dat die man wat sy nou gehad het, se wense waarskynlik die deurslag gegee het vir haar “saambly”-status.

Sy is dus nie net verworpe nie, sy is ook uitgelewer aan die wense van die man saam met wie se gebly het.

Dit is Ek, Ek wat met jou praat

Maar dan die verrassende.  Jesus kies om aan ‘n vrou, aan dié vrou, Homself te openbaar.  Hy steek die grens van godsdiens en kultuur en belangrik van gender oor om haar lewe aan te raak.  Dit is ‘n radikale omkeer van die normale geslags- en sosiale posisies.

Oorrompel deur Jesus

En die vrou reageer in geloof.

Ephraem, die Siriese kommentator sê: ” At the beginning of the conversation he did not make himself known to her, but first she caught sight of a thirsty man, then a Jew, then a Rabbi, afterwards a prophet, last of all the Messiah. She tried to get the better of the thirsty man, she showed dislike of the Jew, she heckled the Rabbi, she was swept off her feet by the prophet, and she adored the Christ” (aangehaal deur J.A. Findlay, Comm, 61 in Beasley-Murray, G. R. 2002 Word Biblical Commentary,  Vol 36, p. 66).

Sy dra groot vrug

Die wonderlikste van die verhaal is vir my, dat die oomblik as sy agterkom wie Jesus is, sy alles net so laat staan, en die mense in die dorpie van die Messias gaan vertel – dié mense wat haar verwerp het.  Sý steek nou die grens van verwerping en veroordeling oor na die dorpie toe.  Sy raak ‘n belangrike getuie wat die dorpie se mense tot geloof lei wat hulle lei tot ‘n diep wete dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is.

In teenstelling met Nikodemus (hfst. 3) wat eers later vrug dra (7:50 in die Joodse Raad waar Hy vir ‘n billike hantering van Jesus vra, en 19:39 in die tuin van Josef van Arimitea waar Jesus begrawe is met die 50 liter mirre en aalwyn wat Nikodemus gebring het), toon die Samaritaanse vrou onmiddellik vrug in haar getuienis aan die dorpie.

En teenoor die eerste dissipels wat net enkelinge na Jesus gebring het (hfst. 1), bring die Samaritaanse vrou ‘n hele dorpie!

Die dissipels kon hier ook net kos uit die dorpie vir Jesus bring, wat Hy toe nie eers geëet het nie, maar die Samaritaanse vrou ‘n hele gemeenskap van mense!

En die gedeelte sluit met die dorpie wat in geloof en gasvryheid uitreik na Jesus en Hom vra om twee dae by hulle oor te bly.

Dit is hoe gemeentewees moet werk – grense van watter aard ook al wat oorgesteek word, en ‘n gemeenskap wat gestig word waar in gasvryheid mense mekaar as mense raaksien en waar God gedien en geëer word.

Uitdaging

Die uitdaging aan ons is, om te leer uit dié verhaal om ons gedagtes oor ander mense in pas te bring met die prentjie wat Johannes hier vir ons skets.

1.  Hoe ons dink oor vroue en mans

Dit eerste uitdaging is hoe ons dink oor vroue en mans.

Baie mense werk nog steeds met ‘n baie rigiede idee van hoe mans is en hoe vroue is.  Mans is sterk en vroue sensitief.  Daniël Louw lys die faktore wat hierin ‘n rol speel as volg:

  • Sterk – manlik, in beheer, moed, prestasie.
  • Sensitief – vroulik, subtiel, swakker, verleidelik, emosioneel.

Dié eienskappe is baie meer menslike eienskappe as wat dit net vroulike of net manlike eienskappe is.  En selfs as ‘n mens meer na die sterk kant of meer na die sensitiewe kant oorhel, mag dit nooit die basis wees om te diskrimineer teen iemand nie.

Soos Jesus hier die grens oorsteek na ‘n vrou, met haar sterk en sensitiewe kante, en deur haar die grens kan oorsteek na ‘n dorpie wat ook uit mense wat sterke en sensitiewe kante het – so moet ons dit ook doen.

Wat baie help om hierdie grens oor te steek, is om te besef dat mans en vroue in die eerste plek mense is en slegs in die tweede plek mans en vroue.  En om verder in ag te neem, dat beide geslagte ‘n sterk en sensitiewe kant kan vertoon … omdat hulle mense is.

2.  MENSE IS GESKENKE VAN GOD AAN ONS AL IS HULLE DIKWELS “DISRUPTIONS’

Maar wat ons nog meer kan help, is juis om met ‘n ander verwagting te leef.  Mense is immers geskep na die beeld van God – die ou teologiese gesegde is, mense is geskep as Imago Dei.  Dit is van alle mense wat ons pad kruis waar.

Dit is dus die tweede uitdaging.

Miskien help dit jou om daaroor te dink dat mense wat oor jou pad kom, geskenke van God aan ons is. Dikwels kom hulle onverwags oor jou pad en het jy nie tyd vir nader kennis maak nie en ás jy kennis maak het jy nie altyd die energie of die lus om ‘n gesprek aan te knoop nie. Dit neem nie weg dat élke mens wat ons pad kruis, geskep is na die beeld van God en heel moontlik God se geskenk aan ons is nie.

In ‘n wêreld waar die kitsbank jou waarsku dat alle vreemdelinge as gevaarlik beskou moet word, is dit belangrik om hierdie ingesteldheid van Imago Dei ‘n gewoonte te maak. ‘n Imago Dei blik in jou oë maak nogal ‘n verskil in die manier waarop jy na mense kyk, oor hulle dink en na hulle luister.

Dit geld natuurlik nie net vir die mense met wie ons ‘n natuurlike gevoel van toegeneentheid het nie, maar juis hulle by wie ons sou verby stap omdat hulle anders as ons is. Leer die gewoonte aan om hulle in die oë te kyk, gereed te wees om deur hulle “disrupt” te word en tyd te maak om na hulle te luister. Hierdie gewoontes is belangrik om die “geskenke” van God in ontvangs te neem.

3.  Bereid dat hulle óns bedien

Maar daar is nog ‘n uitdaging, nommer drie.

Vir sommige van ons sal dit moeilik wees, omdat ons gewoond is om te dink dat ons ander moet help. So die oë waardeur ons kyk, is oë wat probleme raaksien en met ons gawes en bronne die probleme wil regmaak. So kan ‘n mens nie ander as geskenke ontvang nie. Uiteindelik word mense eers geskenke aan ons as ons bereid is dat hulle óns bedien met hulle insigte, hulle gawes – ja as ons van hulle interafhanklik raak.

Dalk omdat ons met kritiek groot geword het, dink ons, dit is maar hoe ‘n mens lewe teenoor ander – deur hulle te kritiseer – so ‘n bietjie af te kraak. Elke mens met wie jy te doen het, is geskape na die beeld van God – IMAGO DEI – en is begaafd geskape om hulle begaafdheid uit te leef teenoor ander. Deur hulle gawes te waardeer en te ontvang as geskenke aan jou, ontvang hulle die bevestiging waarop so baie mense wag, naamlik dat hulle mens-waardig is.

Dit is in wese die roeping van hierdie Jesus wat oor grense beweeg, ook die grens na ‘n Samaritaanse vrou, om uit te reik na mense na wie die Here ons stuur en hulle dan te bevestig as mense, as IMAGO DEI, mense wat geskape is na die beeld van God.  So bring ons die koninkryk van God naby aan mense.

4.  Luister na mense wat nie ‘n stem in ons gemeentes het nie

Luister na “ander” verg die prysgee van mag

Dit beteken ook dat ons moet luister na mense wat nie ‘n stem in ons gemeentes het nie. Hulle ís daar en die Gees werk vir seker deur hulle, maar daar is nie noodwendig ‘n plek waar hulle meer as bloot verdra word nie. Omdat ek ‘n man is en boonop ‘n predikant, het ek persoonlik minder ervaring daarvan dat daar nie na my geluister word nie – om behandel te word asof ek nie daar is nie – as wat vroue en ander lidmate dit dikwels ervaar.

Vra maar vir vroue, jongmense, mense uit ‘n ander kultuurgroep en arm mense.  Mense is vriendelik met hulle, verwelkom hulle dalk selfs, maar doen nie noodwendig moeite om na hulle te luister nie. ‘n Vriend van my het as arm student in Nederland so ‘n ervaring gehad. Hy het sy beurs aangevul deur die badkamers en vloere van ‘n speelskool skoon te maak. Sy opdrag het gelui: Jy kan die skoonmaakwerk enige tyd doen wanneer die skool nie aan die gang is nie. “Ons wil graag hê jy moet dit so deeglik moontlik doen, maar ons het nie die behoefte om jou te sien terwyl jy dit doen nie.”

Ons gee dikwels soortgelyke boodskappe aan mense: “Jy is baie welkom hier, maar ons gaan jou bydrae nie noodwendig ernstig opneem nie.”

Luister gebeur wanneer dié wat in magsposisies is doelbewus afstand doen van hulle spreekreg, en dié daarsonder vrymaak deur na hulle te luister.

Luister na hulle

Ek sluit af.  In ‘n gesprek van ‘n gemeentelike leiersgroep in ‘n voorstedelike omgewing is daar eenkeer gepraat oor die pad vorentoe. Iemand merk toe op dat hulle ná al die jare nog nie daarin kon slaag om die groot groep mense van ‘n woonstelkompleks reg voor die kerk by die gemeente te betrek nie. “Ek moet sê, ek weet nie meer wat ons moet doen nie,” het ‘n leraar van die gemeente moedeloos amper kwaad opgemerk.

“Vra hulle,” stel die fasiliteerder toe half ongevraagd voor.

“Wat bedoel jy met vra hulle?”

“Ek bedoel dat jy na hulle sal uitreik, nie met jou planne nie, maar met die doel dat jy by hulle sal gaan leer wat hulle daarvan weerhou om deel van julle geloofsgemeenskap te word.”

Daar was ‘n ongemaklike stilte, waarna een van die kerkraadslede opgemerk het: “Ons is nie ‘n uitreikspan nie. Ons is ‘n raad wat besluite neem.”

Die goeie nuus van die evangelie kan nie oorgedra word sonder dat ons grense oorsteek nie.  En die grense is soms so basies as om ‘n vrou ernstig te neem, of iemand wat aan die onderpunt van die sosiale leer is.

Neem dus die tyd dié week, let op wie die Here oor jou pad stuur, steek die grens oor en praat met iemand wat jy nie normaalweg mee sal praat nie.  En kom gesels verder met die vriende wat die reis saam met jou onderneem: Die Gees stuur jou oor Grense.

Môreaand gesels oor die wyse waarop ons die grense na behoeftiges oorsteek, uit die voorbeeld van die eerste gemeente in Handelinge se eerste 6 hoofstukke.

Johannes 12:22-26 – Son 19 Okt 08

‘N KORINGKORREL WORD ‘N KORINGPLANT

En dan gebruik Jesus ‘n diepsinnige beeld om dit te bevestig, en sy offer aan die kruis te beskrywe, ‘n offer wat Hy ook van almal vra wat sy voorbeeld wil navolg, nog dieper, wat Hom wil volg.  Hy praat oor die feit dat as ‘n koringkorrel nie geplant (begrawe) word nie, kan dit geen koringare, wat op hulle beurt ‘n oorvloed koringkorrels dra, voortbring nie.

Dit is met die begrafnis van ‘n lewe vir jouself, wat die krag van ‘n nuwe oorvloedige lewe ontkiem en begin groei en begin vrug dra.

Nou ons moet dit goed hoor.  Dit is ‘n sterf aan ‘n lewe vir jouself, om ‘n lewe vir ander te kan lewe.  ‘n Mens moet hierdie woord, apothnēskō, “as die koringkorrel nie in die grond val en STERF nie” nie in ‘n wetenskaplike sin verstaan nie, asof die “sterwe” sou beteken dat daar letterlik doodgegaan moet word nie (EP Groenewald).

Dit is in elk geval ook nie wat met ‘n koringkorrel gebeur nie.  Die bedoeling is dat die gestalte, die uiterlike vorm van die saadkorrel vergaan, maar die kiem van die lewe bly behoue en spruit voort (pherō) in ’n nuwe gestalte.

Die bedoeling is dat Jesus in sy aardse gestalte ‘n offer moes bring, waardeur God se krag in werking gestel kon word, en die oes van God sigbaar kon word.  Deur Jesus se opstanding uit die dood in ‘n ander gestalte kon God nou die ewige lewe gee aan elkeen wat in Hom glo, en wat Hom navolg om nie meer vir hulleself te lewe nie, maar vir God.

En dit is die punt – Ons is koringkorrels!  En ‘n koringkorrel, dit is nou jy en ek, kan besluit om vir jare sy kragte te spaar vir homself ( en dit kan hy suksesvol doen deur in die skuur te bly en te sorg dat die boer hom nie in die hande kry nie).  Of ‘n koringkorrel, dit is nou jy en ek, kan besluit om sy lewe vir ander te gee, deur in die grond geplant te word en in die transformasie van homself ‘n koringplant te word wat are het en koringkorrels lewer wat op hulle beurt geplant kan word om die lewe aan te gee dat ander kan lewe en so die lewe wat in hulle opgesluit is, te kan vermenigvuldig.

Koringkorrels moet koringplante word.

Soos Beasley-Murray in die Word kommentaar op Johannes sê: “The law of life through death in v 24 has in view making life possible for others, whereas in v 25 it is to gain life for oneself.”

Om te sterwe aan ‘n lewe vir jouself, en ‘n lewe te begin lewe vir ander – dit is wat dit beteken om Jesus te volg.  Om ‘n koringkorrel te wees wat ‘n koringplant word.

DIE BEGEERTE NA MEER

Nou waar begin dit alles?  Hoe kan ek dit prakties begin doen?

Wel jy begin waar jy is!  Maak nie saak watter stoel nie (Deon se vier stoele van laasweek wat die verskillende segmente van geestelike groei verduidelik)!

En jy maak ‘n keuse: Ek wil Jesus volg.

Want dít is die begin, en dit is die resep selfs vir die vêrste gevorderde, mees geestelike volwasse kind van God, om Jesus te volg.  Om Jesus te volg, is waar verandering begin (soos die storie van die 6 jarige Len) en waar verandering uitgebou word.

Die begeerte is die begin.

Hoekom?  Want Jesus werk met ons begeerte.  Die begeerte na Hom trek Hom in die kern van ons bestaan in.
Daarom die fokus die kwartaal op die teks van Handelinge: hulle het hulle HEELHARTIG toegelê op die lering van die apostels, die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede.

GEESTELIKE DISSIPLINES

Hoekom is dit so belangrik?

Want, reg deur die eeue het gelowiges hierdie behoefte aan en na God gekoppel aan sekere geestelike dissiplines of gewoontes of praktyke.

Die navorsing van Willow Creek Community Church in Chicago bevestig dit.  Een van die vier katalisators van geestelike groei is persoonlike geestelike praktyke.

Die vier katalisators is:

  1. Geestelike oortuigings en houdings
  2. Georganiseerde kerklike aktiwiteite (formeel)
  3. Persoonlike geestelike praktyke
  4. Geestelike aktiwiteite saam met ander (informeel)

Want elke keer as ‘n mens ‘n geestelike dissipline doen, skep jy ruimte in jou lewe vir Jesus.  Soos Adele Calhoun sê: dit gee die Gees: “space to brood over our souls.”

As jy ‘n behoefte aan verandering het in jou lewe, dan is die eerste stap om dié behoefte na die Here toe te bring.  En vir elke behoefte is daar ‘n dissipline of ‘n aktiwiteit wat jy kan beoefen om vir Hom tyd te maak om dié behoefte te vervul.

En deur dit stap vir stap te doen, treetjie vir treetjie, begin die verandering in jou lewe kom.

HOU ‘N JOERNAAL

Een van die beste maniere om Jesus te volg, as die Here vandag hierdie begeerte om Jesus te volg in jou hart weer aangeblaas het, is om die dissipline van stiltetyd te laat herleef, en meer spesifiek ‘n joernaal te hou sodat die pad wat jy met Hom stap met tyd vir jou meer sin kan begin maak.

Kom ons dink ‘n bietjie na oor ons lewe – op die blaadjie is ‘n Stiltetyd barometer.  Vul dit in om ‘n waarderende blik te kry op wat in jou stiltetyd al gebeur het met jou.  En dink na oor hoe jy meer van die goeie dinge kan doen.

Wat doen ‘n mens met ‘n joernaal (scrapbook)?

Adele Calhoun sê: dis om jou in te stel “to be alert to my life through writing and reflecting on God’s presence and activity in, around and through me”.

‘n Joernaal help jou om jouself in te stel om raak te sien wanneer God opdaag in jou lewe.  Hy is natuurlik altyd daar, maar omdat ons nie onsself instel om Hom raak te sien nie, sien ons Hom nie raak nie!  In ‘n sekere sin help ‘n joernaal ons natuurlik eintlik om die waarheid oor onsself raak te sien … dat ons in God se hande is, dat Hy met ons ‘n pad stap … en dit gebeur wanneer ons ruimte maak in ons lewe om te kan agterkom wat aangaan.

En onthou: daar is eintlik niks waardeur God nie met ons praat nie!    Jy kan skryf oor dinge buite jou en dinge binne in jou.  Jy kan jou gebede neerskryf.  En soos wat ons herhalende temas, sondes, gevoelens, behoeftes, beperkings, bekommernisse, verwagtinge begin raak sien, kom ons in aanraking met die genesende teenwoordigheid van God.  En ons joernaal word ‘n reis van ons siel na God toe.

Daar is nie ‘n regte of verkeerde manier vir ‘n joernaal nie.  Daarom het ek die voorbeeld van ‘n scrapbook gekies om met die kinders te behandel.  Jy kan teken, skryf of plak.  Jy kan sleutel woorde onderstreep om agter te kom watter dinge by herhaling vir jou betekenis het.  En baie gou sal jy agterkom dat jy met jou joernaal in ‘n gesprek met God betrokke raak waar jou joernaal nie net jou kreatiwiteit ten toon sal stel nie, maar ‘n getuienis van God se teenwoordigheid in jou lewe sal wees.

Jy moet jou eie ritme vind, daagliks, weekliks, maar verseker gereeld.  En dit is absoluut noodsaaklik as daar veranderinge in jou lewe is, of jy besluite moet neem, of jy worstel met goed … asof dit nie elke dag is nie!?

En dit help as jy plek en tyd maak vir ander om saam met jou die pad te stap.  Veral vir ons families: die dissipline van huisgodsdiens kan bestaan in die deel met mekaar van ons joernale.  Dit kan ook ‘n welkome afwisseling vir kleingroepe wees om vir ‘n tyd spesifiek hierop te fokus.

Laat elkeen kom met dié een ding wat die week in stiltetyd duidelik geword het, en dit met mekaar te deel.  Dit kan soms ook ‘n vraag wees, of ‘n gebedsversoek, of ‘n stuk leed en hartseer waarmee geworstel word.

Maar dit begin by stiltetyd … en ‘n joernaal.

UITDAGING

Ek sluit af.

Christen wees is Volgeling wees.

Volgeling wees is om ‘n Koringplant te word.

Die koringkorrel moet in die grond val, en dit moet ‘n koringplant word, lewe ter wille van ander.

Begin met ‘n joernaal om dié reis neer te pen, sodat dit ‘n getuienis vir jouself kan wees van die proses waarin jy ‘n volwasse volgeling van Jesus Christus word.

“Hulle het hulle HEELHARTIG toegelê …”

KINDERTYD (vooraf)

Wat is dié?

‘n Scrapbook.

Ja – dit is ‘n verjaardag maatjie s’n.

Maar daaroor so ‘n bietjie later.

IN JESUS SE VOETSPORE

Die sesjarige Len was gedurig op sy ma se hakke, so veel so dat sy selfs amper op ’n keer oor hom geval het!  Sy raas toe en vra hom of hy nie liewers buite wil gaan speel nie.  Sy antwoord aan haar was dat hy liewer saam met haar wil wees!

Toe sy egter die hoeveelste keer op sy tone trap, het sy haar geduld verloor en gevra:  “Hoekom tree jy so vreemd op?”

Toe kyk Len sy ma in die oë en antwoord:  “Wel, juffrou het gesê ek moet in Jesus se voetspore loop.  Maar ek kan nie vir Jesus sien nie, so nou loop ek maar in Mamma s’n!”

Mooi storie nê?!

VOLG MY!

Want die Bybel sê mos: ons moet in Jesus se spore loop. 

Onthou julle nog hoe julle laasweek agter oom Deon aangeloop het.

Die Bybel sê ons moet vir Jesus volg.

Hoe doen ‘n mens dit?

Bid, Lees, Dien, Praat, Lief, ens.

Ek wil vandag vir julle iets voorstel wat julle nog baie in julle lewe gaan help om Jesus te volg.

‘n Mens kan nie vroeg genoeg daarmee begin nie!

Kom ons kyk nou in hierdie Scrapbook.

Ons hou ‘n Scrapbook van alles in ons lewe – van jou geboorte, van jou verjaarsdae, van plekke waar ons vakansie gehou het, van groot partytjies of feeste wat ons hou.

  • Hier is Jan se geboorte – hy is sowaar 19 jaar oud vandag.
  • Hier is Jan se doopdag 31 Desember 1989.  
  • En hier is sy kamer.
  • En hier sy eerste verjaardag.
  • En hier sy matriekafskeid.

Nou ons kan ook ‘n Scrapbook hou van hoe ons Jesus volg in ons lewe.

Wat sit ‘n mens daar in?

  • Jy kan foto’s van jou ma en pa daar sit – want as Hy nie vir hulle bymekaar gebring het nie, was julle nie hier nie!  Dit sê iets van wat Jesus vir jou gedoen het.
  • Jy kan foto’s van jou doop daar sit – want toe het God gesê, Hy is baie lief vir jou en Hy maak jou sy kind.
  • Jy kan daarin skryf van gebedsverhorings.
  • Jy kan daarin skryf van ‘n Bybelteks wat jou vir mooi is.
  • Jy kan daarin skryf van kere wat die Here vir julle baie goed was.
  • Jy kan daarin skryf van tye wat die Here julle uit gevaar gered het.
  • Jy kan daarin skryf van ‘n tyd wat jy gehoorsaam was en vir Jesus gevolg het en wat toe gebeur het.
  • En jy kan plak, teken, skryf – enige manier!

En so kan ‘n mens in die Scrapbook alles sit wat vir jou sê: Jesus is in my lewe. Ek volg Hom.

En as ‘n mens eendag twyfel, of dit gaan swaar, of jy wil weet wat moet ek nou doen, dan kan jy kyk in jou Scrapbook.

Julle gaan nou begin met ‘n Scrapbook by die toepassing – maar miskien moet julle vir julle ma’s en pa’s vra vir ‘n groter boek wat julle langs julle bed kan hou sodat dit sommer vir die res van jou lewe gebruik kan word.

By die SKRIFLESING

U weet nou al heel goed, die tema van ons kwartaal is die woorde van Handelinge 2:42: “Hulle het hulle HEELHARTIG toegelê …”  Dit verwoord die reaksie van die 3 000 nuwe volgelinge van Jesus wat met die eerste Pinksterdag hulleself aan Jesus en aan die gemeenskap van gelowiges verbind het. 

In die Grieks word die woordjie proskartereō gebruik. 

Dit beteken ‘n toewyding en fokus van gedagtes en gedrag, van volharding en deursettingsvermoë, van aanhou ten spyte van, van onafgebroke jouself te gee vir iets, om vas te byt en deur die pyngrens te breek, om alles te doen wat dit van jou vra. 

Paulus gebruik die woord op ‘n punt in sy mentorskap teenoor Timoteus, waar hy vir hom sê hy moet aanhou om die Bybel in die openbaar te lees (1 Tim 4:13), hom toe te lê daarop, daarin te leef … want daardeur sal hy homself red EN dié wat na hom luister.

Dít is die Christelike weg.  Dít is wat dit beteken om ‘n volgeling van Jesus te wees.  Dít is wat dit beteken om Sy afdruk op jou lewe te hê.

Maarten Luther het mos gesê: “God se Woord is nie ’n Leeswoord nie, maar ’n Leefwoord!”

Johannes 12:22-26; Handelinge 2:42

EKSTRA STOF
DIE MERK VAN CHRISTUS IN ONS LEWE

Die Griekse woord wat gebruik word in die Bybel vir “voorbeeld” is ook gebruik vir wanneer ’n merk agtergelaat is deur ’n harde hou  (byvoorbeeld wanneer ’n motief op ’n muntstuk geslaan is).  Om Jesus as voorbeeld na te volg, beteken dus dat ons toelaat dat Christus ons lewe merk, soos ’n muntstuk geslaan word, of soos ’n bees gebrandmerk word.  Ons is gemerk deur Christus en ons lewe word bepaal deur Christus.  Alles word bepaal deur die beeld wat op ons ingeslaan is!  Die beeld bepaal die waarde van die muntstuk! 

Dit geld natuurlik ook van alle gelowiges.  Die Heilige Gees het ons lewe gemerk met die lewe van Christus. Wat sien mense in ons lewe raak –  vir ons of Christus wie se voorbeeld ons uitleef?

OM JESUS TE VOLG

Ons toewyding om Christus na te volg moet só sterk wees, dat ons bereid sal wees om ons idee van hoe ons lewens gelewe moet word, en wat belangrik is, en waarvoor ons moet werk, prys te gee. En te luister na wat God wil hê, Hom te dien, soos wat Jesus hier sê, en dit met ons hele hart te doen. 

Jesus gebruik eintlik twee woorde wat mekaar komplimenteer hier in Joh 12:22-26, om God te dien (diakoneō), en om Hom te volg (akoloutheō). Die woord om te volg, is saamgestel uit die eerste letter van die alfabet a wat ‘n deelwoord van eenheid is, en keleuthos (‘n pad) – d.w.s. ‘n mens kan daarin die idee inlees van agter iemand aan te loop, dieselfde pad as hy te volg. 

Dit beteken dus nie dat ons moet of graag sal wil sterf nie, maar dat ons bereid moet wees om enigiets: posisie, besittings, gerief, op te offer – sodat ons God kan dien, en agter Jesus aan kan stap, Hom kan volg, kan doen wat Hy vra, kan gaan waar Hy wys, sy wil en wens te gehoorsaam.  Dit kan selfs beteken dat ons ons lewens verloor om Christus te verheerlik, hoewel vir die meeste van ons dit meer van belang is dat ons bly lewe, maar vir Christus.

IGNATIUS SE STORIE

Ignatius, ‘n biskop van Antiochië in die begin van die eerste eeu n C, was op pad na Rome.  Hy was ter dood veroordeel weens sy geloof in Christus.  Op pad deur Turkye word hy besoek deur gelowiges uit Rome wat hulle invloed wou gebruik om hom van sy vonnis te onthef.

Sy hele lewe het hy geleef vir die Here Jesus en hy was gereed om sy getuienis met sy lewe te beseël.  Daarom het hy nie gedink dat die Romeinse Christene hom ‘n guns sou bewys nie.  Inteendeel.  Dit sou hom verhinder om Jesus te volg tot die einde toe.

Daarom skryf hy in sy brief aan die Christene in Rome, interessant genoeg uit die stad Smirna, hedendaagse Izmir, waar ons sendelinge op ‘n tyd gedien het, die volgende aangrypende woorde: 

“I fear your kindness, which may harm me.  You may be able to achieve what you plan.  But if you pay no heed to my request it will be very difficult for me to attain unto God.”

Al wat hy wil hê van sy mede Christene is dat hulle sal bid dat hy getrou bly, met sy hele hart, aan die pad wat die Here vir hom gegee het:

“If you remain silent about me, I shall become a word of God.  But if you allow yourselves to be swayed by the love in which you hold my flesh, I shall again be no more than a human voice.” (Letter from Ignatius, Romans 1,2-2.1)

Geen wonder dat Ignatius bekend geword het as die “Draer van God” en dat die legende ontstaan het dat hy die jong kind was wat Jesus gebruik het om te illustreer hoe ‘n mens die koninkryk van die hemele binnegaan (Matt 18).

PROSKARTEREŌ IN DIE WOORDEBOEKE –“HEELHARTIG TOEGELÊ”

Enhanced Strong’s Lexicon AV translates as “continue” four times, “continue instant” once, “continue steadfastly” once, “attend continually” once, “give (one’s) self continually” once, “wait on” once, and “wait on continually” once. 1 to adhere to one, be his adherent, to be devoted or constant to one. 2 to be steadfastly attentive unto, to give unremitting care to a thing. 3 to continue all the time in a place. 4 to persevere and not to faint. 5 to show one’s self courageous for. 6 to be in constant readiness for one, wait on constantly.

The New Strong’s Dictionary of Hebrew and Greek Words: to be earnest toward, i.e. (to a thing) to persevere, be constantly diligent, or (in a place) to attend assiduously all the exercises, or (to a person) to adhere closely to (as a servitor):— attend (give self) continually (upon), continue (in, instant in, with), wait on (continually). 

Vine’s Complete Expository Dictionary of Old and New Testament Words:  “to take heed, give heed,” is said of the priests who “gave attendance at the altar,” Heb. 7:13. It suggests devotion of thought and effort to a thing. In 1 Tim. 4:13 (in the exhortation regarding the public reading of the Scriptures), the RV translates it “give heed,” for the KJV, “give attendance.” In Acts 16:14, “to give heed” (for KJV, “attended). See BEWARE, GIVE, No. 17, REGARD.
2. proskartereo (προσκαρτερέω, 4342), “to be steadfast,” a strengthened form of kartereo (pros, “towards,” intensive, karteros, “strong”), denotes to continue steadfastly in a thing and give unremitting care to it, e.g., Rom. 13:6, of rulers in the discharge of their functions. See CONTINUE, WAIT. In the Sept., Num. 13:21.¶

OOR VOLGELINGE

Terloops: Joh. 12:26 wys daarop dat baie mense, onder andere Jesus se dissipels, gedink het dat Jesus net vir die Jode gekom het. Maar Jesus verkaar dat almal wat opreg na Hom soek, welkom is as sy volgelinge, wie hulle ook al is. Sy boodskap is vir almal. Ons mag dus nooit toelaat dat sosiale en rasseverskille struikelblokke word as dit by die verkondiging van die Evangelie kom nie. Die Woord moet na alle mense uitgedra word en alle mense moet welkom wees in die gemeenskap van die gelowiges.

NAVORSING VAN WILLOW WAT OP DIÉ WOORDVERKONDIGING BETREKKING HET (UIT DIE BOEK: FOLLOW ME)
1.  WAT MENSE VAN DIE KERK EN SY LEIERS VERWAG

Gelowiges verwag transformasie en wil die vertroue hê dat die kerk en sy leiers hulle daarmee sal help.

Een van die sleutel verwagtings van gelowiges wat uit die navorsing gekom het, was: “Challenge me to grow and take the next step in my spiritual life.”
Reveal – Where are you? (die eerste boek in die reeks) en Follow Me werk met die “vision gap” tussen 1) waar mense nou is (werklikheid) en 2) waar hulle graag wil wees (visie) op voetspoor van Peter Senge (Fifth Discipline) se navorsing.  Sy tese is dat die gaping tussen werklikheid en visie ‘n “creative tension” veroorsaak wat as sodanig die energie voorsien om die gaping te oorbrug.  Dit is soos ‘n rubberband wat jou vorentoe trek.

Vir verandering om te gebeur, moet die kerk ‘n werkbare plan voorsien om die gaping te oorbrug. 

En dit is die hooffokus van die Follow Me boek se refleksie as opvolg van die vorige boek Reveal – Where are you?:

om te verstaan hoe werklike mense prakties te werk gaan om die geestelike gapings in hulle lewens te oorbrug, sodat die kerk werkbare planne daarvoor kan voorsien.

Die kerk moet dus die gapings in geestelike groei identifiseer en spesifieke stappe aanbied sodat mense die gapings in hulle geestelike groei kan oorbrug.

Uiteraard wil hulle nie ‘n honderd stappe gee nie, maar net die eerste 3 of 4 om ‘n beweging te begin om die gaping te oorbrug.

Leiers moet dus die rol van geestelike breiers inneem om mense te help met die werklikheid (waar is ek?) en die visie (waar wil ek wees?) om hulle eie gapings te kan identifiseer.

  • Dié gapings moet nie te groot gedefinieer word nie, anders sal dit demotiverend wees.
  • Die stappe moet ook verpersoonlik word, sodat mense ingeligte keuses kan maak – “one size does not fit all”.

Wat gelowiges (en leiers) hiermee help is die bril van segmentering. 

Dit word in detail in die eerste boek Reveal – Where are you? bespreek, gebaseer op die navorsing van Copeland en Arnson oor predictiveness.  Dit is ‘n meetinstrument wat in verbruikersnavorsing gebruik word om vas te stel: “the degree to which we can predict whether or not someone is likely to behave in a certain way or to try a new product.” 

‘n Hoë korrelasie tussen houdings en gedrag is “predictiveness”, waaruit segmente (groepe mense met gemeenskaplike eienskappe) geëkstrapoleer kan word.
Die segmente wat uit hulle navorsing na vore gekom het, is:

a.    Ontdekkingstog van die boodskap van Christus (Exploring Christianity)
b.    Groei in Christus
c.    Naby aan Christus
d.    Christus-gesentreerd

Die behoeftes wat mense in dié segmente het, is die volgende:

a.    ONTDEKKERS: Soeker eredienste en geleenthede om met ander te connect
b.    BEGINNERS: Kleingroep geleenthede en basiese persoonlike geestelike praktyke
c.    GROEIENDES: Diensgeleenthede en gevorderde persoonlike geestelike praktyke
d.    CHRISTUS-GESENTREERDES: Mentor geleenthede en ‘n wye reeks van diensgeleenthede

Benewens die metafoor van ‘n rubberband wat jou vorentoe trek, gebruik hulle ook die metafoor van water wat vloei – ons is soos water wat na God toe wil vloei en diep intieme gemeenskap met Hom wil hê – en die kerk moet mense hiermee help.

2.  KATALISATORS

In hulle aanvanklike ondersoek van 200 kerke en 80 000 mense (met die skrywe hiervan het 500 kerke en 157 000 mense al deelgeneem) is vier kategorieë van geestelike katalisators gevind wat mense help om van een fase van geestelike groei na die volgende te beweeg.

Die vier kategorieë is afgelei uit die meting van die impak van meer as vyftig faktore op geestelike groei.

Die vier katalisators is:

  1. Geestelike oortuigings en houdings
  2. Georganiseerde kerklike aktiwiteite
  3. Persoonlike geestelike praktyke
  4. Geestelike aktiwiteite saam met ander

In die bespreking van dié katalisators fokus hulle op drie bewegings wat mense van een segment na ‘n volgende laat beweeg:

  1. Beweging Een: die vroegste fase van geestelike groei (Ontdekker na Beginner) – veral die aanvaarding van Jesus as die enigste weg tot saligheid (laerskool).
  2. Beweging Twee: die intermediêre fase van geestelike groei (Beginner na Groeiende) – veral waar mense begin om meer aktief in hulle persoonlike geestelike ervarings te word (hoërskool). 
  3. Beweging Drie – die meer gevorderde fase van geestelike groei (Groeiende na Christus-gesentreerde) – veral waar mense begin skuif van ‘n daaglikse bewussyn van Christus se teenwoordigheid en betrokkenheid na ‘n herdefinisie van ‘n persoon se identiteit as Christus-gesentreerd (universiteit).

Die vyf hoof behoeftes is dieselfde vir al drie geestelike groei bewegings:

  1. Help my om die Bybel in diepte te verstaan,
  2. Help my om ‘n persoonlike verhouding met Christus te ontwikkel,
  3. Voorsien stewige programme vir kinders,
  4. Daag my uit om te groei en “next steps” te neem, 
  5. Voorsien “compelling” eredienste.

Belangrike ander bevindinge:

  • ‘n Begeerte dat Jesus ‘n prioriteit in my lewe sal wees (first in my life), is ‘n betekenisvolle katalisator in al drie bewegings, sowel as ‘n groeiende oortuiging van die outoriteit van die Bybel.
  • Die impak van die kerk, soos reeds in die eerste rondte van hulle navorsing bevind, is die hoogste in die eerste twee bewegings van geestelike groei: Ontdekkers na Beginners, en Beginners na Groeiendes.
  • ‘n Verstommende ontdekking is dat diensgeleenthede meer betekenisvol is in geestelike ontwikkeling as georganiseerde kleingroepe!
  • Verdere leer-ervarings oor geestelike temas het ook ‘n betekenisvolle impak in beweging twee (Beginner na Groeiende).
  • Verdere leer- en aanbiddings dienste het ook ‘n betekenisvolle katalisator effek in beweging drie Groeiende na Christus-gesentreerde).
  • Refleksie oor die betekenis van die Bybel vir my lewe is die nommer een faktor in al drie bewegings.
  • Geestelike gemeenskap is ‘n kritiese katalisator vir geestelike groei in al drie geestelike groei bewegings.  Dit skuif wel van meer spontane vriendskappe na sterker mentor verhoudings wat meer verantwoording asook meer risiko’s impliseer.
  • Alle segmente sê dat geestelike vriendskappe hulle mees belangrike bron van geestelike gemeenskap is.