Johannes 20: Van Vrees na Krag

Wanneer Jesus sy vreesbevange dissipels agter geslote deure ontmoet, het hierdie ontmoeting drie gevolge:  die dissipels ontvang vrede, ‘n missie, en die Gees.

Skriflesing

Johannes 20:19–23

Preek

Inleiding

Invisible String deur Patrice Karst, illustrasies Geoff Stevenson

Vrees

Verlede Sondag was Paassondag. Oor en oor het ons gehoor en gesê: die graf is leeg! Ons het gehoor van Maria Magdalena, wat vrou alleen in die tuin – in ’n donker begraafplaas – vreemdelinge nader op soek na Jesus… Nou lees ons van die dissipels wat vreesbevange agter geslote deure wegkruip.

Vrees is natuurlik ’n realiteit vir Jesus se volgelinge, deur die eeue nog. Ons leef in ’n wêreld wat ons nie altyd goedgesind is nie, waar alles nie altyd voor die wind gaan nie. Daarom is dit goed om, wanneer ons hierdie verhaal lees, vir onsself te vra: waarvoor is jy bang? Watter dinge maak dat vreesbevange agter geslote deure wegkruip? Natuurlik is daar eksterne kragte wat hiertoe aanleiding gee. Maar dit is veral innerlike oortuigings, dit wat binne ons aangaan, wat ons terughou.

Vrees kan ’n mens verlam. Selfs op die dag van Jesus se opstanding. Die gebeure rondom die leë graf speel die oggend af. Hierdie gebeure in vandag se Skriflesing, is dieselfde aand. Hulle het die nuus gehoor van Jesus se opstanding! Maar vreesbevange sit hulle agter geslote deure.

Hulle is darem steeds saam! Verenig in hul vrees.

Hulle het nog nie besef dat nuwe lewe aan die ander kant van die geslote deur lê nie. ’n Tydjie gelede (Joh. 10:7) het Jesus vir hulle gesê: Ek is die deur. (Die N.A.V. vertaal dit met: “Ek is die ingang vir die skape”, terwyl die OAV meer korrek praat van ’n deur.) Hulle moet eers deur dáárdie deur beweeg, om die oorvloedige lewe te ontvang wat op hulle wag.

Die lewe van dissipelskap hang volledig af van die Deur – van Jesus, van sy hulp en sy inisiatief. En Jesus neem die inisiatief! Hy kom staan tussen hulle, binne die vertrek gesluit deur hul vrees en ontmoet hulle in hul vrees. Hierdie ontmoeting het drie gevolge:

Vrede

Die eerste gevolg is vrede. Die opgestane Heer sê twee keer vir hulle: “Vrede vir julle.” Dis meer as ‘n groet. Dis ’n feit, ’n vervulling van belofte. Toe hulle die laaste keer saam geëet het, het Jesus belowe:
Johannes 14:27

27“Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.

En nou vervul Jesus daardie belofte.

Wat presies hierdie vrede? Dit is duidelik nie die afwesigheid van swaarkry en konflik – dit bly deel van die lewe. Om die waarheid te sê, Jesus het hulle gewaarsku dit gaan deel van die lewe wees, selfs erger wees: “Die wêreld sal julle haat” Joh. 15:18 ev.

Vrede, te midde van haat en vervolging. Wat beteken die wêreld sal nie die laaste sê hê nie. Want ook by daardie laaste ete het Jesus gesê:
Johannes 16:33

33Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”

Dit is inderdaad wanneer die dissipels Jesus se wonde sien, dat hulle bly raak. Wonde, wat deur die magte van wêreld aangebring is, die einste magte vir wie hulle bang sit en wegkruip. Daardie wonde sê: uiteindelik kan daardie magte julle nie oorwin nie. Wat die wêreld ook al aan julle doen, God is groter.

Die vrede wat Jesus gee, is die geskenk van sy ewige teenwoordigheid – die onsigbare tou. Hierdie teenwoordigheid dryf die vrees uit, maak hulle dapper en gee vir hulle krag

Missie

Hierdie geskenk is nie net vir die dissipels nie. Die tweede resultaat van die ontmoet met die opgestane Here, is ‘n opdrag, ’n missie. Vrees is aangespreek, vrede is ontvang – nou word hulle gestuur, by die deur uitgedruk, terug in die wêreld in. “Soos die Vader my gestuur het so stuur ek julle ook.” Dis merkwaardig.

Ver-teenwoordig

Gelowiges se taak is om Jesus se werk voort te sit, die werk waardeur God, uit liefde, die wêreld opsoek en red. Die dissipels – ons – moet vir die wêreld wees wat Jesus vir die wêreld was. Dis uniek aan Johannes. Inderdaad ’n verstommende opdrag.

Johannes beskryf Jesus se opdrag – wat die Vader Jesus gestuur het om te doen: om die Lam van God te wees wat die sonde van die wêreld wegneem. (Joh. 1:29). En dis nou sy volgelinge se werk? Hoe kan dit wees?

Keuse

Om ons opdrag te verstaan, is dit belangrik dat ons verstaan wat Johannes bedoel met sonde. Sonde, in Johannes, is nie morele oortredings nie, maar ongeloof (bv. 16:8-9), blindheid vir die openbaring van God in Christus (Joh. 9). Die hele evangelie van Johannes vertel van ontmoetings met Jesus en hoe mense daardeur vir God sien. Tydens hierdie ontmoeting word mense gekonfronteer, gedwing om te kies: geloof of ongeloof? Daardie keuse, daardie reaksie op die ontmoeting met Jesus, bepaal hoe mense geoordeel word (Joh. 3:16-19).

Die opdrag wat Jesus se volgelinge dan ontvang, is om Jesus so te weerspieël in hul optrede, hul lewens, dat ontmoeting met gelowiges mense dwing tot ’n keuse. Jesus se volgelinge ver-teenwoordig Jesus, tree op so ’n manier op, dat Jesus se teenwoordigheid sigbaar gemaak word. En daarop moet mense reageer.

eenheid

Dis interessant dat een van die belangrikste maniere waarop ons Jesus ver-teenwoordig, ons onderlinge liefde is, ons eenheid. Wanneer Jesus van dissipels afskeid neem, sê hy (Joh. 13:35):

As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.”

In Jesus se laaste gebed vir sy dissipels, bid hy dat hulle een kan wees,
sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefhet net soos U My liefhet.
Joh. 17:23

Ons ver-teenwoordig Jesus wanneer ons mekaar lief het. Dit is die kenmerk van gelowiges. Dit is die ding wat vir die wêreld wys dat God by ons is. Dit is wat die wêreld dwing om te kies. Dit is ons missie: eenheid.

Gees

En natuurlik kan ons dit nie op ons eie regkry nie! Daarom is die laaste gevolg van die ontmoeting met opgestane Heer: Hulle ontvang die Heilige Gees.

Dit is Johannes se Pinkster. Nie so dramaties soos Lukas se beskrywing in Hand 2 nie. Tog het Jesus reeds vantevore, in Joh. 14-16, gesê wat die Gees gaan doen. Die Gees is die persoonlike teenwoordigheid van God by kerk. Die Gees is die Trooster in tye van moeilikheid en hartseer. Die Gees is die Onderwyser wat ons herinner wat Jesus gesê en gedoen het, wat openbaar hoe ons Jesus kan ver-teenwoordig in nuwe omstandighede, te midde van nuwe uitdagings. Die Gees is die Advokaat wat langs gelowiges staan wanneer hulle hul geloof moet verdedig of waarheid moet praat teenoor onreg en wat gelowiges bemagtig getuies te wees.

Lewensasem

Ek het nou gesê Johannes se vertelling is nie so dramaties soos Lukas se vertelling nie, maar eintlik is dit baie meer dramaties!

Jesus blaas oor hulle. Hierdie woord lees ons net hier in die Nuwe Testament. Die ander keer wat ons lees van blaas – in die Septuagint, die Griekse Ou Testament, waar dieselfde woord gebruik word, is in Genesis 2:7, wanneer God lewe in die mens blaas.

Net soos wat God met die skepping sy lewende asem in mense geblaas het, so het Jesus weer lewe in ’n nuwe skepping geblaas, wanneer hy die Gees in sy volgelinge blaas. Dieselfde asem wat van Adam – grond – mens gemaak het, daardie selfde asem stuur Jesus se volgelinge uit by die deur.

     

Tags: , ,

Trackback from your site.

Leave a comment