Posts Tagged ‘wysheid’

Hervormingsondag 1 Konings 3 Preek

As God vandag aan jou verskyn en sê jy kan vra net wat jy wil, wat sal jy vra?  Eerlik nou.  Jy hoef vir niemand te sê nie.

Soos wat ons as kinders mekaar altyd herinner:  vra dat al jou versoeke waar sal word.

Maar Salomo… Salomo kan vir enige iets vra.  En hy vra vir ’n luisterende hart.  Interessant, hy vra nie vir iets heel nuut of vreemd nie.  Hy vra vir God iets wat hy nodig het vir die taak wat voor hom lê.  Hy het reeds die opdrag, is reeds besig hiermee.  Help my om dit wat u my gegee het om te doen, goed te doen.

Continue Reading

Job 28 – Om die Here te dien, is wysheid; om die kwaad te vermy, is insig

Bloemendal 13 Maart 2016

Pa- en Ma-Koedoe moes vir twee dae na ‘n ver plek vir noodsaaklike sake vertrek.  Hulle roep hulle koedoe-kindertjies bymekaar en vra mooi dat hulle by die ander koedoes in die ruigtes moet bly.  Die kinders mag onder geen omstandighede naby die rivier gaan nie, want daar skuil gevaar.  Koning Leeu is in die omgewing en ‘n hele klomp luiperds het hulle by die rivier tuisgemaak.  Dis doodsake.  Die klein koedoetjies beloof hand en mond hulle sal gehoorsaam wees.

Toe pa en ma terugkom, is die kinders skoonveld.  Dit gee ‘n vreeslike soektog af.  “Moet ons nie by die rivier gaan kyk nie?” vra Oupa-koedoe, ‘n ringkop in die koedoe-familie.  Einde ten laaste, toe dit al amper donker was, soek die koedoes rivier langs.  Hulle kom op ‘n klomp klein koedoe-ore af wat daar teen die rivier se wal lê.  Leeu-spore lê die hele wêreld vol. Die oortjies is al wat van die ongelukkige koedoes oorgebly het.

“Nee,” sê pa- en ma-koedoe, “dis beslis nie ons kinders se ore nie, want ons kinders hét nie ore nie!”

Continue Reading

Spreuke 2:1-22 – Hou jou ore oop vir die wysheid, span jou in om te verstaan.

Verwelkoming

Toetrede

Liedboek 577:1,5 – Die Heer, my herder, sorg vir my – sit

Votum

Seëngroet

Lofsang

Liedboek 510 – Genade, onbeskryflik groot – staan

Liedboek 512 – Nader, my God, by U, nog naderby – sit

Kindertyd

Episode 2 van Omdat ek jou liefhet van Max Lucado

Terugflits

Lank, lank gelede in ‘n ver land het ‘n wyse man met die naam Shaddai gewoon.  Shaddai was ‘n groot man wat lief was vir kinders.  Hy het ’n pragtige dorpie vir die kinders gebou.  En die beste van alles was dat Shaddai  vir al die kinders ewe lief was. 

Dit is hoekom hy die muur gebou het reg rondom die kinders se dorpie.  Want, buite hierdie dorpie was daar ‘n gevaarlike bos. Hy het vir die kinders gesê: “Daar is gevaar buitekant die muur.  Julle is gemaak vir hierdie dorpie binne die muur.  Bly by my.  Dit is veilig hier.”

Shaddai by sy werksbank

Die dag toe hy die laaste klip op die muur pak, gaan hy terug na sy werksplek, sit voor sy werkbank en sny ‘n kierie uit ‘n lang boomtak.  Shaddai sit die kierie toe in ‘n hoek neer en sê vir homself:  “Ek sal gereed wees.”

‘n Rukkie later hardloop ‘n seuntjie met rooierige hare Shaddai se werksplek binne.  Die kind met die soekende oë en rustelose energie maak die skepper bly én bekommerd.

“Shaddai.”

In ‘n oogwink het die skepper sy hamer laat val en omgedraai.  “Wat is dit, Palladin?”

Palladin ontdek die gat in die muur

Die seun het met rukke en stote gepraat terwyl hy na asem  hyg:  “Die muur … ek het … ‘n gat ontdek.  Dit is ‘n groot gat!” Die seun het sy hande gerek om te wys hoe groot die gat is.  “Iemand kan dalk daar deurkruip.”

Shaddai het ‘n stoel nader getrek en daarop gaan sit.  “Ek het geweet dit sal jy wees, Palladin, my kind.  Sê vir my, hoe het jy dit gekry?”

“Ek het al langs die muur geloop op soek na – “

“Gate?”

Palladin aarsel, verras dat Shaddai geweet het.

“Ja, ek het na gate gesoek. “

“Sodat jy die bos kan sien?”

“Ek was nuuskierig, Shaddai.  Ek wou weet hoekom jy nie wil hê ons moet soontoe gaan nie.  Hoekom is dit so gevaarlik?”

Shaddai praat ernstig met Palladin

Shaddai beduie toe vir die seun om na hom toe te kom.  Toe Palladin nader kom, vat die skepper die klein gesiggie in al twee sy hande en lig dit op sodat die seun reguit in sy oë kon. kyk.  Shaddai se ernstige gesig het Palladin se maak sommer so hol laat voel.

 “Palladin, luister na my.  Die wêreld daar buite is nie die plek vir jou nie;  ook nie vir my nie.  As jy na die bos toe gaan, sal jy seerkry.  Jy is nie gemaak vir daardie plek nie.  Laat jou voete jou dra na al die plekke waarnatoe jy mag gaan, nie na die een plek waarheen jy nie mag gaan nie.  As jy hier weggaan, sal jy nie die pad terug kry nie.”

Palladin wonder hoekom die gat nie toegemaak word nie

Palladin het saggies gevra:   “Sal jy dan die gat toemaak?”

“Nee, Palladin, ek het juis die gat gemaak omdat ek julle so liefhet.”

“Maar jy het dan gesê jy wil nie hê ons moet weggaan nie.”

“Ek wil nie hê julle moet weggaan nie.  Ek wil hê julle moet hier by my bly, maar ek het die opening gemaak toe ek die muur gebou het.”

“Maar as jy dit nie toemaak nie,” sê Palladin, “sal die kinders dalk weggaan, Shaddai.”

“Ek weet, Palladin.  Maar ek wil hê die kinders moet hier bly omdat hulle wíl, nie omdat hulle móét nie.”

Palladin verstaan nie mooi nie

Palladin kon dit nie verstaan nie.  Hy het ongemaklik gevoel en omgedraai om te loop.  Hy moes gaan dink oor wat Shaddai gesê het.  Toe hy uitstap in die sonlig, kyk hy om na die werkswinkel.  Shaddai het nog steeds op sy stoel gesit en  na Palladin gekyk.

Kom luister volgende week verder …

Gebed

Skriflesing

Spreuke het drie belangrike boodskappe:

  1. Begin met God,
  2. Soek na wysheid
  3. Loop die regte pad – wat natuurlik insluit om die drie hoof afdraaipaaie te vermy – “easy sex, easy money, easy power”.[1]

In tien lewenslesse leer ‘n pa sy seun hoe dit werk. 

  1. Verlede week het ons gekyk na watter rol God in die seun se lewe moet
  2. Vandag kyk ons na die rol wat die soeke na wysheid in die seun, en natuurlik in elkeen van ons, se lewe moetDie kern-boodskap is in Spreuke 2:2: “Hou jou ore oop vir die wysheid, span jou in om te verstaan.

Woordverkondiging

Luister in die diereryk

Dit is verstommend hoe goed sommige diere kan hoor.

  • Olifante het nie net baie groot ore nie.  Hulle kan geluid hoor wat 20 keer dieper is as wat ons ore kan optel.  En hulle gerommel kan 6 kilometer ver opgetel word deur ander olifante.  Dit is een van die maniere waarop hulle aangepas is om te kan oorleef en met mekaar te kan kommunikeer oor lang afstande.
  • Uile het van die skerpste ore wat bestaan. Interessant is dat hulle ore nie op dieselfde vlak sit nie – een is net bo die ooglyn, en die ander net daaronder – sodat hulle met absolute presisie die rigting van ’n geluid kan bepaal.  Maar uile kan nie net goed hoor nie.  Hulle reaksietyd is ook verstommend.  Binne ’n 100ste van ’n sekonde kan hulle reageer op die geritsel van ’n muis in die bos.  Dit is waarom uile in die donkerste donker – hulle het natuurlik goeie oë ook – hulle prooi kan vang en só kan oorleef.
  • Vlermuise se gehoor is miskien nog beter ontwikkel, hoewel hulle ’n tipe sonar gebruik om te kan hoor.  As jy ’n muskiet is, en só 15-20 voet van ’n vlermuis af, al is dit stikdonker, en jy piepklein, is jy geskiedenis.  Interessant, vlermuise beskerm hulle ore deur dit toe te maak met elke vlerkklap, sodat hulle gehoor nie verminder met die geraas van hulle eie vlerke nie.  Hulle is eintlik totaal afhanklik van hulle gehoor om te kan oorleef.
  • Dolfyne, wat ook sonar gebruik, kan tot op 70 meter ’n voorwerp opspoor al is dit net so groot soos ’n vyfrand muntstuk.  En soos walvisse kan hulle geluide oor groot afstande onder water optel.

Hoekom?  Want al hierdie diere is afhanklik van hulle ore om te kan oorleef.  Hetsy of dit is om te kan kommunikeer, of om hulle kos op te spoor of om gevaar te kan ontwyk – ore is lewensbelangrik.

Die tweede lewensles

Dié voorbeelde gee ons ’n bietjie dieper begrip vir die tweede lewensles wat die pa in Spreuke 2 aan sy seun gee. 

Die pa weet dat die belangrikste ding in die lewe is om met God te begin.  Sonder om God te ken en te erken in alles wat jy doen, loop jy die gevaar om sy sorg en voorsiening te mis.

Maar, hy weet ook die seun kan dink dat hy dan maar agteroor kan sit, en bid, en wag vir God, en dan verder niks doen nie.  En die lewe werk nou eenmaal ook nou weer nie só nie.

Maar, let op, hy probeer hom nie in die tweede plek net ’n klomp reëls of kennis inprop nie.  Hy gee nie net vir hom ’n handboek wat hy moet lees nie.  Hy raai hom selfs nie aan om sekere goed sommer net te begin doen omdat dit goed vir hom sal wees nie.  “Doen soos ek sê en daarmee basta.” 

Nie dat hy niks gaan sê vir die seun oor wat hy moet weet nie.  Nie dat boeke nie belangrik is in die pa se oë nie.  En nie dat die pa nie tog vir hom gaan aanraai om op sekere paaie te loop en te waarsku om op ’n paar ander nie te loop nie.  Kennis is belangrik, en die regte pad is belangrik.  En die pa gaan vir sy seun ’n hele klompie dinge daaroor in die res van die boek sê. 

Maar, hy begin by ’n ander plek.  Hy raai sy seun in die tweede plek aan om sy ore te gebruik, om sy ore te spits, en te luister. 

Gebruik jou ore

En waarvoor moet hy sy ore gebruik? 

Hy moet as’t ware met gespitste ore soek en luister vir wysheid (2:1-4), nie net vir kennis nie, nie net vir dinge om te weet nie, maar vir wysheid, vir toegepaste kennis, vir kennis wat vir jou werk, vir kennis wat iets beteken.  Want sonder dié tipe wysheid, vir kennis in aksie, kan jy moeilik die uitdagings van hierdie lewe hanteer, sal jy moeilik oorleef.

Kyk, jy kan al die kennis hê wat bestaan, jy kan weet hoe alles werk in die lewe, en dit met baie kundigheid kan beskryf, maar as jy nie weet wat jy daarmee moet maak nie, wat die beste manier is om jou kennis toe te pas nie, hoe jy dit kan inspan ter wille van oorlewing of ter wille van sukses nie, dan baat dit jou nog maar min. 

Jy het wysheid nodig, jy het toepassings nodig, jy moet weet wat dinge beteken, jy moet dit verstaan, jy moet dit begryp, sodat jy dit tot jou eie en ander se voordeel kan inspan.  Eers dan sal kennis vir jou die moeite werd wees.  Dit is benewens die feit dat ’n mens eintlik eers regtig die wysheid het, as jy begin het om daarvolgens op te tree, maar dit is vir die res van die Preekreeks …

Ek wonder baie keer of dit nie die probleem is vandag met die kennis-ontploffing nie.  Ons weet só baie, sommige van ons dínk natuurlik ons weet so baie (glimlag), maar ons is eintlik in ons kinderskoene in die toepassing van dié kennis, in die wysheid wat nodig is om dit vir mense en die omgewing te laat werk.

Daarom, sê die pa vir sy seun, moet jy luister vir die wysheid, nie net vir die kennis nie, maar vir die wysheid, vir die maniere hoe om kennis toe te pas, sodat jy kan weet wat kennis vir jou en vir ander kan beteken.

Soek wysheid met gespitste ore

Nou, daar is twee maniere waarop die Bybel oor die verkryging van hierdie tipe kennis, hierdie wysheid, praat. 

  • In die eerste plek: God gee wysheid vir dié wat Hom vertrou.  God werk vir hulle selfs wanneer hulle slaap (Ps 127:2 – ’n Psalm van Salomo!).   Uiteraard is dit ’n belangrike klem, en is dit iets waarop ’n mens ook kan staatmaak.
  • Maar, belangrik, in die tweede plek: God gee wysheid in die doelgerigte soeke na wysheid, ‘n verantwoordelikheid wat ons nie kan ontwyk nie.   Om die waarheid te sê, dit is meermale hoe dit werk.

Dit is van hierdie doelgerigte soektog na wysheid, na toegepaste kennis, wat Spreuke praat.  Daarom sê die pa vir sy seun: hou jou ore oop vir die wysheid, span jou in, roep en vra, soek … en jy sal dit opspoor. 

God gee wysheid vir dié wat daarna soek

Want sien, wysheid ís ’n gawe van God.  Hý is wysheid.  En Hy wil gráág wysheid vir ons gee.  Maar, God weet ook dat wysheid wat sommer net so uitgedeel word, te maklik op dowe ore kan val, onwerksaam in ons lewe kan lê, en dan tot niks kom nie.

Daarom het Hy ingebou dat vir die wysheid gesoek moet word.  Dit is in die soektog self wat ’n mens agterkom dat wysheid ’n gawe is van God, dat jy waardering kry vir hoe ragfyn God goed beplan, jy begrip kry vir hoe goed werk, en hoekom dit so is, te same met die sukses en beskerming wat met die wysheid saamgaan. Wanneer die seun só soek, dit is dan wanneer hy ook op die regte pad sal bly en kán bly. 

Dit is iets wat Jesus ook later sterk sou beklemtoon in sy bediening en onderrig, soos pragtig geïllustreer in die bekende uitspraak in die Bergrede: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.”  (Matt 7:7-8). 

God wíl gee, maar Hy wil ook hê dat die gawe iets vir ons beteken, dat dit ons help om te kan lewe, en daarom dat Hy gee vir dié wat daarna vra, vir dié wat daarna soek, vir dié wat klop aan die deur.

Interessant is dat Jesus hierdie gawe van wysheid ook met die gawe van die Heilige Gees verbind,  die goeie gawe van God (Luk 11:13).  En Jakobus sê dat ’n mens wysheid van God kan afbid (Jak 1:5).  Watter belofte!

Jy sal met vreugde en oordeel kan lewe

Liewe gemeente, dit is ook hoe God se beskerming werk. Dit is nie net iets wat God gee sonder jou medewerking nie.  Beskerming kom ook deur die manier waarop jy lewe. Dit is nie net ’n gevolg van God se wonder ingrype nie – hoewel Hy Goddank dit ook soms doen.

God gee beskerming deur toegepaste kennis, deur wysheid waar met insig op die verloop en beloop van die lewe gereageer word.  Wanneer kennis op só ’n manier, met wysheid, in die toepassing daarvan, begin om jou lewe te vorm en te verryk, dit is dan wanneer oordeelkundigheid en verstandigheid begin om jou lewe te beskerm en begelei.  Dit is dan wat God jou in staat stel om die verkeerde dinge en mense te vermy en Hy jou lei na die goeie, regverdige, opregte en onberispelike paaie wat volhoubare en vreugdevolle lewe moontlik maak.  Dít is hoe God beskerming en begeleiding gee – deur die wysheid waarvoor jý jou ore spits en waarop jý jou luister fokus.

En maak geen fout nie.  Dit is iets wat jou eie verantwoordelikheid is. Dit is nie iets wat iemand anders vir jou kan doen nie. Dit is selfs nie iets wat God sommer sonder jou medewerking kan doen nie, hoewel daar natuurlik ook ’n genade-kant van Sy betrokkenheid by ons is.  Die Bybel sê mos in Psalm 25:8 dat hy selfs vir sondaars die pad aanwys.  Dit is waar, maar ook net een kant van die saak.  God gee vir dié wat soek, vir dié wat nood het, vir dié wat heel wil word.

Wysheid is dus aan die een kant ‘n gawe van God wat jy uit Sy hand ontvang en ontgin in al sy fasette, maar ook iets aan die ander kant wat jy persoonlik moet toepas en ontplooi in jou praktiese lewe. Dit is in die ontvangs en in die ontplooiing, die vertroue op God en die persoonlike verantwoordelikheid neem, wat die beskerming en begeleiding gebeur.

Jy sal die pad van slegte mense kan vermy

Dit het aan die een kant te make met die tipe mense na wie jy moet luister, veral na gesagsfigure en rolmodelle in jou lewe wat goeie mense is, regverdig, opreg en onberispelik (2:1,9,20,21). Sulke mense moet jy uitkies, na hulle luister, en hulle navolg. 

Natuurlik sluit dit ook mense in na wie jy nie moet luister nie: mense wat verkeerde dinge verkondig (2:12), mense wat die regte paaie verlaat (2:13), mense wat slegte dinge doen, en wie se paaie krom is (2:14-15), sowel as die “slegte vrou” wat ’n simbool van enige buite-egtelike verhouding is, en natuurlik ook op ’n “slegte man” van toepassing is (2:16-20).

Aan die ander kant sluit dit ook dinge in waarna jy moet luister, die inhoud wat Spreuke aanbeveel. 

En let op, hoewel tyd my ontbreek om meer hieroor te sê, hoe Spreuke nie net ’n eenmalige luister na die wysheid aanbeveel nie, maar ’n onderskeidende proses, om jou in te span om te verstaan (2:2), om insig en gesonde begrip (common sense) te soek (2:2).  En dit saam met mense wat saam met jou na die wysheid soek.

Maar Spreuke wil ook hê dat die lewenstyl van mense wat hierdie inhoud uitleef, nagevolg moet word (eerlikheid – 2:7; onberispelikheid – 2:7,21, getrouheid – 2:8; regverdigheid en billikheid – 2:9,20; oordeelkundigheid en verstandigheid – 2:11; goedheid – 2:20; opregtheid – 2:21).  Dit is die inhoud van die tipe wysheid wat nagevolg moet word.  Só word jyself natuurlik ’n voorbeeld wat ander kan navolg.

Ons sal leer om met mekaar saam te kan lewe

Ek sluit af.  Ons kan leer by die uile van die diereryk, ook van die olifante, vlermuise en dolfyne, veral in hoe hulle staatmaak op hulle ore om te oorleef in die lewe.

Maar ons moet vir meer luister as die diere.  Ons moet luister vir die wysheid, vir dié toepassings van kennis wat nie net nodig is om te oorleef nie, nie net vir ons kos in ons mae sit nie, maar vir dít wat ons gaan help om mekaar te kan verdra, om mekaar te kan akkommodeer, om met mekaar te kan saamleef, om mekaar te help om by selfverwesenliking uit te kom.

Dit is miskien die grootste wysheid wat ons nodig het, hoe om dit te kan regkry om met mekaar te kan saamlewe, hoe om te sorg dat mense die ervaring het om te behoort, om tuis te kom, om tot hulle reg te kom, om iemand te voel, en iemand te wees, vir ander, vir jou, vir my, vir God.

Hou jou ore dus oop vir die wysheid, span jou in om te verstaan, en begin om dit met ander te deel, begin om dit uit te leef.  Ons almal het dit nodig.  Ons almal moet daarop fokus.  Dit is hoe ons dit gaan regkry om mekaar nie uit te wis nie, maar die beste in mekaar na vore te bring.

Gebed

Verootmoediging

Liedboek 299:1 – Laat ons, Heer, u dood verkondig – sit

Nagmaal

Dankoffers

Slotsang

Liedboek 529 – Dank, dank die Heer.  Ons dank die Heer – staan

Seën

Amen

Respons

Liedboek 228 – Halleluja!  Halleluja! – staan


[1] Interessant: die luister-siklus van die Seisoen van Luister werk met ‘n soortgelyke skema: RUS, HOOR, LEEF.  Die luister-siklus is eintlik ‘n manier van luister-leef wat in die wysheidstradisie van die OT inpas!

Continue Reading

Kol 1:9-14 – Son 8 Feb 09

Sondag 8 Februarie:  Tema:  Uiters waardevolle gisters (daaglikse ondersoek).

Votum:  Elke môre laat Hy my opnuut weer luister, Hy laat my luister soos n leerling moet luister. Die Here my God het my geleer om te luister. (Jes 50:4b-5a).

Wet: Lees Ef 3:14-19.

Ons ken die wet, dat ons God en ons naaste bo alles moet liefhê. In die gedeelte bid Paulus vir sy lesers dat hulle die vermoë sal ontvang om te begryp hoe groot die liefde van God is. Dit is alleen wanneer ons God toelaat om ons lief te hê en wanneer ons gereeld op Hom wag om sy liefde vir ons aan ons te openbaar, dat ons ook self gevul word met sy liefde. Dan kan ons ook vir Hom en vir mekaar opreg liefhê.

Respons:  Sing – Waar daar liefde is en deernis, daar is God die Heer.

Prediking:

Om in die kerk groot te word, het baie voordele, maar daar is ook nadele aan verbonde. Een van die groot nadele is dat mens so gewoond raak aan alles, so gewoond aan die manier waarop daar oor God gepraat word, so gewoond aan ons manier van dink oor God, praat met God en luister na God, dat ons nie regtig oop is daarvoor dat God werklik deel word van ons totale lewe nie.

Want sien, my ervaring daarvan is dat meeste van ons aan God `n sekere plek toeken, `n plek en tyd waar Hy met ons kan praat en waar ons na Hom wil luister. Maar dan is daar ook baie plekke en tye, miskien meer as eersgenoemde, waar God glad nie `n rol speel nie. Daarom is dit maklik om van God iemand te maak aan wie ons net aandag gee wanneer dit ons pas, inroep wanneer dit ons pas. Dit kan maklik gebeur met mense wat in die kerk opgroei, dat hulle nie werklik besef wie God is en wat dit beteken dat Hy Here van ons totale lewe word wat altyd en oral by ons betrokke is nie.

Ek glo dit is wat Paulus ook in gedagte gehad het met sy gebed vir die Kolosense. Lees Kol 1:9-14.

Luister mooi waarvoor bid hy: dat julle deur al die wysheid en die insig wat die Gees gee…
Dit is verskriklik belangrike woorde – want sien die Gees van God kom maak woning in ons as sy kinders, Hy word deel van ons totale lewe. En as sodanig, is Hy voortdurend besig, van jaar tot jaar, van maand tot maand, van week tot week, van dag tot dag, van oomblik tot oomblik om met ons te praat; om vir ons wysheid en insig te gee. Dit is sy werk, dit is hoekom Hy in ons kom woon het. Hy is nooit passief nie, nooit ledig nie, los ons nooit alleeen nie, hou nooit op om met ons te praat nie. Daar is nooit `n oomblik waarin Hy nie probeer om ons aandag te kry om ons te vul met Goddelike wysheid en insig nie.

Jy sê: “maar dis nie waar nie – ek ervaar dan niks daarvan nie.” Dan is dit juis omdat jy té gewoond geraak het aan God, en daarom aan Hom `n sekere plek en rol toegeken het, soos wat jy Hom verstaan. En met die plek en rol wat jy aan Hom toegeken het, is daar by jouself geen openheid om na Hom te luister nie, word daar nie aktief opgelet waarmee Hy besig is nie, word daar nie werklik aandag gegee aan dit wat Hy sê of doen hier binne jou van oomblik tot oomblik nie. Moontlik nie omdat jy nie wil luister nie, maar net omdat jy nie verwag dat Hy met jou praat nie, omdat dit nie inpas in jou verwysingsraamwerk nie.

Kom ek deel `n voorbeeld.
`n Paar jaar terug was ek met `n groepie studente in Zambië vir `n uitreik. Net nadat ons daar aangekom het, deel die Zambiërs ons mee dat hulle die naweek een of ander feesgeleentheid in `n groot sokker stadion het. Almal van hulle moet daar wees en ons word ook genooi om te deel in die feesgeleentheid.
Ons het dus die volgende oggend vroeg van die Jeugsentrum af (waar ons tuisgegaan het) begin stap na die stadion toe, wat so ongeveer 6 km van die Jeugsentrum af is. Dit was `n winderige dag, grondstrate (of eerder stofstrate). Almal het windverwaai en vol stof by die stadion aangekom. Al die verrigtinge was in die Zambiërs se moedertaal, so die studente het niks verstaan van wat gesê word nie. Die middag laat het ons weer teruggestap na die Jeugsentrum. Teen daardie tyd het ek agtergekom die meeste van die studente is maar redelik geïrriteerd. Hulle kon nie enige sin in die bywoning van die geleentheid sien nie en die stap deur die “township” met die wind wat die stof aanmekaar in ons oë waai was dit nie `n aangename ervaring nie.

Daardie aand het ons as span saam stilgeraak (soos ons gewoonte is tydens sulke uitreike). Ek vra toe vir hulle om terug te dink aan die dag, aan alles wat gebeur het en dan vir hulleself die vraag af te vra: “Wat wou God vandag vir my leer of wys deur dit wat ek ervaar het?”. Na `n paar minute se nadenke, het ons met mekaar gedeel. Dit was regtig verassend om te hoor wat toé alles uitgekom het. Skielik het hulle bewus geword van sake wat hulle vroeër glad nie aan gedink het nie. `n Dag wat aanvanklik as baie negatief beleef is, het skielik `n dag van baie dieper betekenis en lering geword. Almal se gemoedstemming oor die dag het ook verander. Wat was die verskil? “Aandag.” Die feit dat hulle tyd geneem het om aandag te gee aan dit waarmee God in hulle lewens besig is. Die feit dat hulle `n paar oomblikke geneem het om na die wysheid en die insig te luister wat die Gees gee.

Weet jy wat? Jy kan dit elke dag ervaar. Jy kan elke dag op die wyse leer van God die Heilige Gees. Al wat nodig is, is om te leer om te luister, om aandag te gee, om te weet dat Hy in jou woon en met jou praat. Die enigste ding wat dit verhinder is waarskynlik dat jou aandag vasgevang word deur ander goed; goeters wat in jou verstaan van die werklikheid waarin jy leef waarskynlik belangriker is. Dinge wat in jou gemoed dringend is. Dinge wat nie kan wag tot later nie. Hierdie dinge put jou gewoonlik uit en veroorsaak allerhande worstelinge, moegheid, vrae, bekommernis, vrese, ens. Intussen is die Gees in jou wagtend om vir jou lig te gee, leiding te gee, wysheid en insig te gee; wagtend dat jy net na Hom sal draai en sal luister, sal aandag gee. Maar ongelukkig is jy té besig of té moeg. Kan jy sien hoé dom dit is?

Hoekom is dit só belangrik? Paulus sê:  “sodat julle tot volle kennis kan kom van wat sy wil is.” Kan daar enigiets wees in die lewe van God se kinders wat belangriker is as dit? Ek bedoel as jou gestoei om `n bestaan te maak, om geld te maak, om jou geld goed te belê, om planne te maak vir jou toekoms, of wat ook al gedoen word, gedoen word sonder die sekerheid dat dit wat jy doen in God se wil is – watter betekenis het dit dan? Dit gaan tog vir ons as kinders van die Here daaroor dat ons die kuns wil aanleer om vir Jesus Christus in alles na te volg, dat ons in sy wil wil lewe. Dat ons graag sal wil sê:  “Alles wat ek doen, doen ek omdat ek oortuig is dat dit die wil van God vir my lewe is. Dit is die rigting wat die Gees nou vir my aandui; dit is soos ek dit verstaan volgens die wysheid en die insig wat die Gees gee.”

Indien ons so `n manier van lewe kan aanleer, dan glo ek dat dit sal lei tot die lewe waarvan Paulus in vers 10 praat: “dat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang; dat ons vrugte sal dra deur goeie werke en dat ons sal toeneem in ons kennis van God.” Dit is eintlik logies dat so `n manier van lewe sal meebring dat ons kennis en ervaring van God dramaties sal toeneem. Ons sal soveel meer bewus word van God in ons alledaagse lewe, soveel meer leer van wat Hy doen, van wat op sy hart is, van wat Hy vir ons wil leer, van hoe Hy oor ons voel. Wanneer dit gebeur, het dit weer tot gevolg dat mens se liefde vir God toeneem.

Dan sal ons ook begin ervaar wat in vers 11 staan, dat God ons sal versterk om in alle omstandighede met geduld te volhard. Dan is omstandighede nie meer `n vyand wat buite ons beheer is en wat ons so maklik onderkry nie. Dan word omstandighede iets waarin God altyd teenwoordig is met sy wysheid en insig, met sy vertroosting en bemoediging, met sy krag en liefde wat ons dra.

Die geestelike dissipline wat ons help om so `n lewe aan te leer, word genoem die daaglikse ondersoek (daily examen).
WAARVANDAAN KOM DIT?
St Ignatius, stigter van die Jesuit Society (of Society of Jesus).Gebore 1491 in noorde van Spanje. As jong man, hou van wyn, vroue, verslaaf aan dobbel. Op 30 gewond in `n geveg. Terwyl herstel lees stories van Christus se lewe. Was aangetrek na Jesus deur die effek wat Jesus op sy volgelinge gehad het. Terselftertyd ook aangetrokke gevoel tot `n vrou, roem en glorie. Kom agter dat sy dagdrome oor die vrou, tot rusteloosheid lei, terwyl sy nadenke oor Jesus vrede gebring het. Was begin van sy bekering, ook van sy lering oor geestelike onderskeiding deur middel van `n ondersoek van emosies, gevoelens en denke.

Hy het geleer dat die werk van die HG nie net aan die intellek openbaar word nie. God word in alles gevind, ook in ons gevoelens en emosies. Kom agter deur aandag aan dit alles te gee, word meer en meer bewus van wat God hom roep om te wees. Later het daarop aangedring dat almal wat aan die Jesuiete orde behoort, elke dag hierdie ondersoek moet doen. Ook aanbeveel vir enigeen wat ernstig is daaroor om `n geestelike lewe te lei. Dit is `n baie sekere manier waarop ons bewus kan word van God se leiding in ons lewe.

Watter voordele hou dit vir ons in?
Dit leer jou om jou aandag te fokus op waarmee God besig is.
Dit werk – mense pas dit al eeue toe en die wat dit doen se lewens word daardeur verander.
Dit leer jou hoe God ook deur jou emosies, gevoelens en gedagtes werk.
Dit sal jou baie meer bewus maak van dit wat God besig is om in jou lewe te doen.
Dit help jou om te ontdek wat dit is waarvoor God jou geroep het, wat sy wil vir jou lewe is.
y sal die krag van God sien werk in en rondom jou as jy dit getrou doen.

HOE WORD GEDOEN?
Geskikte tyd – Deel van daaglikse roetine, soos tandeborsel. Elke dag dieselfde tyd.

Word rustig, raak bewus van God se teenwoordigheid in jou. Vra God om jou te wys wat Hy besig is/was om jou te leer deur die gebeure van die dag.
Dink terug aan die dag, vandat jy opgestaan het. Laat dit voor jou afspeel soos `n video wat jy kyk.
Ø Dink aan alles wat gebeur het en hoe dit jou laat voel het.
Ø Let op die oomblikke in die dag wat jou nader aan God getrek het. Jy kan dit ontdek deur te let op die ervarings wat jou meer vrygewig, meer hoopvol, meer lewendig en kreatief, tye wat jy vrede ervaar het, opgewonde of tevrede. Soms kan pynlike ervarings jou ook nader aan God laat voel. Ignatius noem dit: “moments of consolation.”  Wat wil God vir my daaruit leer?
Ø Gebruik `n paar minute om vir God dankie te sê hiervoor, bêre die ervarings in jou hart sodat jy bewus kan bly van God se betrokkenheid in jou lewe.
Ø Dink nou aan tye deur die dag waar jy vervreemd van God, ander of jouself gevoel het. Tye wanneer jy gefrustreerd, ongemaklik, angstig of vasgevang gevoel het. Tye waar jy minder openhartig en minder oop vir God gevoel het. Ignatius noem dit: “moments of desolation.” Wat wil God vir my daaruit leer?
Ø Gebruik `n paar minute om daardie tye na God te bring. Vra dan vir die genesing, krag en vergifnis wat jy nodig het.
Ø Dink dan aan die dag wat voorlê en die genade wat jy daarvoor nodig het. Bring dit na God toe en vra vir sy leiding in dit.

Deur dit te doen, erken ons eenvoudig dat God die Here van ons lewe is, dat Hy lewend en aktief betrokke by ons is, dat Hy in ons woon en besig is om deur sy Gees vir ons wysheid en insig te gee. Sodoende word alles wat in en rondom my gebeur deel van God se gesprek met my. Dit kan ook nie anders nie, want God is totaal en al deel daarvan – dit is nou as jy werklik glo wat die Bybel van Hom sê en nie net `n godsdienstige lewe leef volgens tradisie nie. As jy dit wat jy op die manier leer, elke dag dan ook in `n joernaal aanteken, en dan weer op `n maandelikse basis gaan kyk wat God die afgelope maand vir jou geleer het, sal jy oor `n paar maande verbaas staan om te sien hoé aktief God besig is om in en rondom jou te werk.

Dit beteken dat ek erken dat God ook met my praat deur dit wat in my liggaam gebeur. Ek word al meer bewus van liggaamlike reaksies soos hoofpyne, migraine, maagpyn, gespanne skouer- en nekspiere, neerslagtigheid en skuldgevoelens. Die maklikste manier om daarvan “ontslae te raak”, en wat deur die samelewing rondom ons voorgeskryf word, is natuurlik medikasie. Drink `n pilletjie en voel beter, of eet `n sjokolade, of koop `n tydskrif, of gaan fliek. Alles maklike ontsnaproetes wat ons aanleer wanneer ons die dinge ervaar.

Dit sou baie meer van waarde wees as ons kan leer om ook hieroor by God stil te raak en vir Hom te vra: “Here waar kom hierdie kopseer vandaan?, Wat is die oorsaak daarvan?” Moenie dink dat dit net `n belaglike oefening is nie. Hy is `n lewende God en kan aan ons insig gee – dit is wat die werk van die Gees is, om vir ons wysheid en insig te gee. Ek het dit al so baie voor my oë sien gebeur, dat iemand na my toe kom met een of ander probleem en sê: ek weet glad nie waarvandaan dit kom nie. Dan sê ek, kom ons vra dat die Here dit vir jou sal wys. Dan bid ons en vra daarvoor, bly stil en wag op Hom. Na `n paar oomblikke dan sê die persoon: “Ek dink ek weet nou waarvandaan dit kom.” Dan het die Gees insig gegee deur iets na vore te bring, `n gedagte, `n herinnering.

Die manier waarop ons leer om so in afhanklikheid van die Gees te lewe, is deur dit in te oefen. Deur dit te doen, kan jy moontlik agterkom waarom jou liggaam op sekere maniere reageer in sekere omstandighede. Die Gees bring sekere ervarings terug in jou geheue, soms is dit nodig dat daar genesing moet plaasvind, dat jy verlos moet word van sekere vrese of angstigheid. Wanneer dit gebeur, dan reageer jou liggaam nie meer soos altyd nie.

Ek bid regtig dat jy sal hoor en verstaan watter tipe lewe vir ons as kinders van God moontlik is; sal insien watter moontlikhede van groei dit inhou; watter moontlikhede dit inhou om God beter te leer ken, om nader aan Hom te kom, om te groei in die verstaan en doen van sy wil. Dit is die lewe wat God vir sy kinders bedoel het, dat Hy werklik `n verskil in ons lewens sal maak, `n rol sal speel ons Herder sal word, ons Raadsman, ons Geneesheer en Verlosser, ons Vader, ons God!  Verlang u daarna?  Begin dan om op die manier te leef.

 

 

 

Continue Reading