• Home
  • Preke
  • Water in Wyn – Die Kuns van Verwondering – Johannes 2:1-12 Preek

Water in Wyn – Die Kuns van Verwondering – Johannes 2:1-12 Preek

 

600 liter wyn.  ‘n Lewe saam met Christus.  Dit is asemrowend.

Paul Harris is ‘n kulkunstenaar wat ‘n trilogie geskryf het, getiteld “The Art of Astonishment”.  Daarin sê hy dat een van die mens se basiese ervaringe of emosies, dié van verwondering is.  Daardie gevoel van verwondering en ontsag wat ons beleef, bv. wanneer ons ‘n asemrowende sonsondergang sien, of wanneer daar iets verstommend gebeur.  Daardie gevoel, daardie gevoel van verwondering, is in ons in geskape.  Dit is ‘n vermoë wat deur die Gees gegee is.  En dit is ‘n vermoë wat ons help om God se hand in ons lewens raak te sien.

Toetrede

Flam 21 In die hemel is die Heer

Votum

Jesus sê in Johannes 10

 “Dit verseker Ek julle: Ek is die ingang vir die skape… as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry. … Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.

Seëngroet

Johannes 1:16

Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang.

Lofsang

Psalm 111

Lied 464 vv 1 en 4 O Heer my God

Doopherinnering

Sou vanoggend doop gehad, weens familie krisis uitgestel.  Lees vanoggend teks Jesus water in wyn verander.  Water word simbool van God heerlike, oorvloedige genade.  Soos ook in doop, water simbool van God heerlike, oorvloedige genade.  As dink aan water van doop, dan herinner dat Jesus ons deel gemaak God oorvloedige genade, niks ons uit God se hand kan ruk.  Dit is ‘n asemrowende gedagte!

Soos Jesus sê in Johannes 10, aan begin ook aangehaal:

7Toe het Jesus verder gesê: “Dit verseker Ek julle: Ek is die ingang vir die skape. 8Almal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie na hulle geluister nie. 9Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry. 10’n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.  11“Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.

Asemrowend.

Bemoediging

Die groot kerkvader Augustinus was vir jare lank besig met die dinge van die wêreld, voordat hy eendag ontdek het dat God hom reeds gevind het.  Toe is hy deur Ambrosius gedoop.  Dan skryf hy hierdie aangrypende gebed:

Te laat het ek U liefgekry, skoonheid, so oud en tog so nuut;  te laat het ek U liefgekry!  U was in my binneste en ek was buite besig om U te soek, maar op die verkeerde plekke.  Ek het my liefde uitgestort op die skoonheid en pragtige dinge wat U gemaak het.  U was by my, maar ek was nie by U nie.  Dinge wat nie sou bestaan het as dit nie vir U was nie, het my vasgehou.  U het geroep en geskreeu en deur my doofheid gebreek;  U het geskitter en my blindheid verdryf;  U het ‘n aangename geur versprei en ek kon dit inasem, en nou snak ek na U:  Ek het U geproe en nou honger en dors ek na U.  U het my aangeraak en nou is ek aan die brand met ‘n vurige verlange na u vrede.

Toewyding

Flam 5 Daar is geen grens

Gebed

Skriflesing

Johannes 2:1-12

Video

Inleiding

Kyk wat het ek! [wys boks, maak skrefie oop, maak vinnig weer toe]

Huh?!  Hoe fantasties is dit!

Wys wat dit is.  Epically awesome! Fan-tas-ties!  Supercalifragilisticexpialidocious!  Watter woorde sal hulle gebruik?  Wat sal vir julle super-awesome wees?

Jesus troue – partytjie.  Verander water in wyn.  Soos partytjie, gee vir jou net water te drink.  Dan verander dit in gunsteling koeldrank.  Maar so baie, kan daarin swem!

Epically awesome!

Daarmee Jesus vir ons kom wys lewe saam met hom is epically awesome.  Soos boks oopmaak, kan sien wat binne-in.  En nou kan ons ook vir ander mense boks oopmaak, wys en vertel hoe epically awesome Jesus is!  Kan doen deur lief te wees vir hulle:  nie lelik wees, nie spot, praat as alleen, troos as hartseer.  Deur mense help.  Altyd vertel hoe lief Jesus hulle het en hoe epically awesome dit is.

Preek

Wonder oor wonders

Hoe voel jy oor wonderwerke?  Dalk spesifiek oor die wonderwerke wat in die Bybel opgeteken is?

Ek weet die meeste van julle dink dit is fantasties; dat dit presies net so gebeur het soos wat dit in die Bybel beskryf is; dat dit elke dag nog moontlik is.  God kan steeds water in wyn verander, siekes genees, dooies opwek.

Wat ‘n mens dan soms, natuurlik, met diep vrae laat wanneer God iemand nié genees nie, wanneer kos nie wonderbaarlik vermeerder word om honger mense te voed nie, wanneer dooies nie uit die dood uit opstaan nie.

Ek weet ook dat party van julle skepties is oor wonderwerke.  Natuurlik sal ons dit nie sommer hardop vir mekaar sê nie.  Veral nie hier nie.  Maar ek weet sommige van julle lees verhale soos hierdie van die troue in Kana met ‘n knippie sout.

Wat jou natuurlik weer met ‘n geslote, meganistiese wêreld laat.  Die Engelse woord beskryf dit presies korrek:  disenchanted.  ‘n Wêreld waarin die onmoontlike vir ewig en altyd onmoontlik bly.  Op die ou end beperk jy God binne ‘n boks, waarbinne God se bestaan nie regtig veel van ‘n verskil aan die wêreld maak nie.

Wonderlik in Kana

Maar of jy soos ‘n kind glo in wonderwerke, of met ‘n knippie sout, die wonderwerk in Kana is wonderlik.

Dis die begin van Jesus se aardse bediening, die eerste van die sewe wonderwerke wat in die Evangelie van Johannes beskryf word.   En soos elke keer wanneer Johannes skryf, is daar lae en lae van betekenis wat ‘n mens stuk-stuk kan aftrek om elke keer in verwondering te staan vir wat hier vir jou oopgaan.

Die gebeure in Kana word ook in verstommende detail beskryf, wat vir jou sê dat dit belangrik is, dat hierdie gebeurtenis belangrik is.

Hierdie is een van net twee plekke in die Evangelie van Johannes waar ons van Jesus se ma lees.  Ons lees van haar hier, by die begin van Jesus se openbare bediening, en dan weer aan die voet van die kruis.  Aan die begin en die einde.

En het jy opgelet hoeveel wyn Jesus maak?  Ses klipkanne.  Elkeen tussen 90 en honderd liter.  Dis tussen 540 en 600 liter wyn.  Dis meer as Pierre-hulle se totale oes verlede jaar.  Selfs meer wyn as wat in Linus se kelder is.  Dis ‘n oordadige hoeveelheid wyn.

Plus, dis wyn.  Dis nie brood of water nie.  Dis nie iets wat brood-nodig is, wat ons móét hê om te oorleef nie.  Dis iets wat die lewe verryk, wat heerlik is, wat ons geniet.  (Wanneer ons nie 600 liter self drink nie, natuurlik.)  Dit is iets wat mense sáám geniet, wat gemeenskap skep.  Dis iets waarmee ons fees vier.

Hiervan gee Jesus ‘n oordaad.

En let ook op waarIN Jesus dit gee.  Hierdie kanne het die Jode gebruik omdat hulle die wet nougeset wou nakom.  Omdat hulle vir God wou dien en wou seker maak dat hulle aan God se wil voldoen, dat hulle goed genoeg is, goed genoeg leef – rein genoeg leef.  Want al hierdie voortdurende reinigingsrituele simboliseer ‘n rein lewe, getrou aan God se wet.

En daardie reiningskanne, simbole van die rituele onderhouding van die wet, verander Jesus in oordadige bronne van God se oorvloedige, genadige seën.  Hiermee kondig hy vir die Jode aan dat daar iets nuuts is, iets heerlik en oorvloedig.  Dat hulle vry is.

Dis asemrowend.

Wonderlike Jesus

Dis baie belangrik om daarop te let dat hierdie in die evangelie van Johannes Jesus se eerste openbare optrede is.  In elkeen van die 4 Evangelies speel Jesus se eerste openbare optrede ‘n sentrale rol.  Dit dek die tafel vir die res van die Evangelie, sê vir ons wié daardie Evangelis dink Jesus is, wat daardie Evangelis vir ons wil sê Jesus kom doen het, wat die klem van daardie Evangelie gaan wees.

Vir Johannes is Jesus die gewer van oorvloedige gawes.  Jesus het gekom sodat ons lewe kan hê, en dit in oorvloed, volgens Johannes 10.  Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang, sê Johannes 1.

Johannes maak dit duidelik dat die lewe saam met Christus oorvloediger is as wat ons ooit kon droom, dat daar in Christus ‘n kwaliteit lewe moontlik is wat ons nie eers kon verbeel nie.

In die Evangelie van Johannes word wonderwerke nooit wonderwerke genoem nie.  Johannes noem dit “tekens”.  Die 1983-vertaling vertaal dit as “wondertekens”,  maar Johannes noem dit “tekens”.  Want wat doen ‘n teken?  ‘n Teken wys na iets anders.  Dit gaan nie oor die teken nie, dit gaan oor dít waarna die teken wys.

Nie die wyn nie, maar Jesus.  Die wyn wys vir ons wie God is, hoe God is, hoe die lewe in Christus lyk.

Dis interessant dat die Evangelie van Johannes net 4 keer die woord “genade” gebruik – en al 4 daardie kere is in die proloog.  Hoekom?  Want Johannes sê:  Die Woord het vlees geword – en dan wys die res van die Evangelie vir ons hoe genade lyk, proe, ruik, klink, voel.

Wat ons by Kana sien is oorvloedige genade.

Die Kuns van Verwondering

600 liter wyn.  ‘n Lewe saam met Christus.  Dit is asemrowend.

Paul Harris is ‘n kulkunstenaar wat ‘n trilogie geskryf het, getiteld “The Art of Astonishment”.  Daarin sê hy dat een van die mens se basiese ervaringe of emosies, dié van verwondering is.  Daardie gevoel van verwondering en ontsag wat ons beleef, bv. wanneer ons ‘n asemrowende sonsondergang sien, of wanneer daar iets verstommend gebeur.  Daardie gevoel, daardie gevoel van verwondering, is in ons in geskape.  Dit is ‘n vermoë wat deur die Gees gegee is.  En dit is ‘n vermoë wat ons help om God se hand in ons lewens raak te sien.

Dan sê Harris dat dit ‘n kulkunstenaar se taak is om die boks van verwondering net ‘n klein bietjie langer oop te hou.

Nou ek dink dis ‘n pragtige beskrywing van my werk.  En van jou werk – van elke gelowige se werk.  En ons kul niemand nie.

Dis wat wonderwerke doen, wat water in wyn doen – dit hou daardie boks net ‘n bietjie langer oop.  Dit laat ons net ‘n effense blik kry op die asemrowende realiteit van God se genade.  En dit laat ons in verwondering.

Die wonderwerk wat dan gebeur, bly nie net in Kana 2000 jaar gelede nie.  Daar gebeur ook ‘n wonderwerk in ons.  Wanneer ons in verwondering staan oor God, dan word ons verbeelding gerek, word ons normale aannames uitgedag, sodat ons anders kan dink oor die toekoms én oor die hede.  Dit maak dit vir ons moontlik om dinge raak te sien wat ons nie vantevore gesien het nie.

Dit daag ons uit om anders te kyk na die lewe, na ons omstandighede.  Om ander moontlikhede te oorweeg.  Om selfs dieper te kyk, en te sien daar lê ook nog ‘n wonderlike sticker wat ons net voorheen raakgesien het nie.

Wanneer ons die kuns van verwondering bemeester, dan kan ons met verwagting leef.  Dit beteken dat ek, te midde van slegte omstandighede, die hele tyd op soek is na die sticker – of dan nou die wyn – na die hand van God wat my verras met God se oorvloedige genade.  Dit beteken dat ek, te midde van slegte omstandighede, my kan verwonder in die genade en liefde wat oorvloedig my deel is, omdat ek in God is, omdat God teenwoordig is.  Ek staar nie na die lelike, toe boks nie.  Ek staar my nie blind teen die uitdagings van die lewe nie.  Ek kyk na God, ek fokus op hom.

DIT is hoe ‘n mens met verwondering leef.

Ver-wonder

En dan, wanneer ons verbeelding so bietjie meer elasties is, dan kan ons begin wonder.

Op watter maniere is ons lewens – ons godsdiens, ons kulture – soos ‘n huweliksfees waarvan die wyn opgeraak het?  Wat is dit wat by ons opgeraak het?  Wat is die klipkanne van ons dag – reusagtige, leë houers wat vir godsdienstige doeleindes gebruik word?  Wat sal dit beteken vir daardie houers om weer vol te raak – met wyn?  En hoekom so baie wyn?  Wat kan dit vir ons beteken dat Jesus ‘n nuwe doel gee aan houers wat voorheen gebruik is om rein en onrein van mekaar te skei?  En wat kan dit vir ons beteken dat God die beste vir laaste bêre?

Wanneer ons so wonder, in ons verwondering, dat kan ons skielik op nuwe maniere sien, wat ons lei om op nuwe maniere op te tree, wat lei tot nuwe lewe.

Asemrowend.

Gebed

Dankoffer

Slotsang

Vonkk 256 vv 1 en 4 Vol van vreugde wil ons jubel

Seën

Mag jy gaan en in verwondering leef.

Want hoe asemrowend is dít:

Dat die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God en die teenwoordigheid van die Heilige Gees, met ons is en bly.

Respons

Psalm 111 Keervers

     

Tags: , , ,

Trackback from your site.

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Marinette Kapp

    |

    Goeie dag

    Ek het n kamer beskikbaar in n 3 slaapkamer meenthuis complex agter humewood spar. Veilige area en parkeering vir n kar. Huur is 3500 water ingesluit maar krag is prepaid so ons sal dit tussen die 3 van ons moet deel. Vir enige navra kan julle my kontak op 0761304582.
    Groete Marinette

  • Avatar

    Carine

    |

    Akkommodasie vir ‘n mans persoon beskikbaar. “Flatlet” in kompleks, veilig met elektriese omheining, water en ligte ingesluit. Naby Universiteit – Somerstrand
    skakel my gerus: 0842502286

  • Avatar

    Tilla

    |

    Baie dankie Chris!
    Het ervaring van hoe God mens roep tot aanbidding. En hoe nodig ek dit het.
    Vir my werk stilte, in die natuur en met die Bybel en joernaal saam die beste.

  • Avatar

    Andre Botha

    |

    Wil net dankie se vir hierdie boodskap. Wat my baie perspektief gegee het. En veral gehelp om roeping te verstaan, die hoe van gestuur wees. Dankie 🙂

  • Avatar

    Anita

    |

    Baie dankie. Reggekom