Handelinge 2:36-41 – 27 April tot 4 Mei
Week van 27 April tot 4 Mei
Petrus roep die Jode op tot bekering – Handelinge 2:36-41
Gee geleentheid dat elkeen iets deel wat gebeur het sedert julle laas by mekaar was.
RUS
Donderdag is Werkersdag en Sondag is Arbeidsondag. Raak stil en dink ná oor die afgelope week. Wat het alles gebeur? 1 minuut stilte. Hoe het die Here in en deur jou lewe gewerk die afgelope week? 2 minute stilte. God nooi jou uit om stil te word en te rus. Ontvang die Sabbatsrus wat God gee. 2 minute stilte.
Sê amen en gee geleentheid dat mense kan deel wat hulle ervaar het in hierdie tot-rus-kom tyd.
HOOR
1. Lees Handelinge 2:36-41.
2. Deel met mekaar wat julle in dié gedeelte tref.
3. Kyk weer na Petrus se woorde in vers 36. Wat sê dit oor God, Jesus en die gehoor (ons)?
4. Die eerste oes word op die Oesfees ingesamel, drieduisend bekeerlinge! Let op dat hulle bekering met drie dinge te make het: ’n wegdraai van die sonde (ook die sonde van die kruisiging), ’n doop in die Naam van Jesus, waarmee hulle aan Hom verbind word, en die gawe van die Heilige Gees (dieselfde Gees as wat hulle so pas gesien en ervaar het in die lewe van die apostels). Dié boodskap is vir almal, spel Petrus dit vir hulle uit, ook vir dié wat daar ver is, waarmee waarskynlik die nie-Jode en heidene bedoel word, hoewel dit ’n tyd sou duur voor hulle hiervan werk sou maak. Vertel vir mekaar hoe julle bekering beleef. Watter rol speel die wegdraai van sonde, die doop en die Heilige Gees in ons (daaglikse?) bekering?
5. Kyk hoe word Petrus se optrede in vers 40 beskryf: hy getuig en spoor aan. Vertel van ’n geleentheid wat iemand se optrede teenoor jou getuig en jou aangespoor het. Hoe kan jy deur jou eie optrede getuig en aanspoor?
LEEF
Waartoe roep die Here julle nou? Deel dit met mekaar en dra mekaar in gebed aan die Here op.
Die Skrifgedeelte vir volgende week is Handelinge 2:42-47.