Skip to main content

Goeie Vrydag Psalm 22 Preek

Verlies is verlies.  En verlies maak seer.  En dikwels is die verlies gekoppel aan ons identiteit, het ons manier van dink oor onsself onbewustelik verweef geraak met die dinge, met die plek, die gebou…

Wat maak ‘n mens as jy alles verloor?  Wat bly oor, wanneer jy alles verloor het?

Votum

(vi)

Dit was die bespotlikste van konings,

die purper mantel, die kroon van dorings.

En as die Koning dors is, kry hy wyn:

Vonkelwit? Donkerrooi? Nee, liefs asyn!

Vir ure het die groot spot aangegaan:

“Toe, U Hoogheid, wie het jou nou geslaan?”

Die gesel het gespeel oor sy rug, sy lyf

was rooi van bloed. Op die koppie dryf

hulle spykers deur sy polse. ’n Skouspel was

dit vir dié wat roep: “Red nou jou eie bas!”

(vii)

Aan ’n kruis roep ’n Man hard na sy Pa

en sug vir laas. Water en bloed dra

die boodskap van sy dood. Die aarde beef

en grafte beur oop. Dooies wat leef

verskyn oral. In die tempel skeur

die voorhangsel oor wat buite gebeur. Die son het ophou skyn. Dit is twaalfuur —

middag — maar die duister, ’n roukleed, duur

tot drie. Die skepping rou en ’n groot

stilte beaam: Die Seun van God is dood.

Uit: “Goeie Vrydag” deur Neels Jackson

Groet

Goeie môre en baie welkom by hierdie Goeie Vrydag erediens – die dag waarop ons die dieptepunt van Christus se lyding oordink, diep onder die indruk van die betekenis daarvan in ons eie lewens.

Gebed

Gebed by Psalm 22 (Jaco Thom)

vertaal uit The Archbishops’ Council of the Church of England

Ontredderd van smart en vrees

draai die verstotenes na U:

goeie Here, verlos ons

in ons uur van nood,

o allerheiligste God, o sterke God

Wie se wysheid die kruis van Christus is.

Lofsang

Lied 389 Is dit, is dit my Koning?

Gebed

Skriflesing

Psalm 22

Preek

Verlies

Terwyl ek Maandagaand in afgryse gesit en kyk het hoe die Notre Dame brand, kon ek nie anders as om te wonder nie:  hoekom brand die kerke so?  Ek is seker baie mense wonder saam met my.

Ek weet van minstens 3 pastorieë wat die afgelope 12 maande afgebrand het.  Saterdagaand, 29 Desember verlede jaar, brand die NG Kerk Maitland – bekend as die Maitland Gemeenskapskerk, tot in die grond toe af.

Sondagoggend daag mense by ‘n hoop smeulende as op vir ‘n erediens.  31 Desember verlede jaar is die historiese sendingdorpie Wuppertal in puin gelê deur ‘n onkeerbare brand.  Verlede week (9 April) ontstaan ‘n brand in die kerktoring van die NG Kerk Redelinghuys, daar naby die wêreld waar ek grootgeword het.

So ek sit en kyk na Notre Dame en ek wonder:  waarom brand alles so?  En ‘n mens wil onmiddellik gryp na elke greintjie positiewe, begin verskonings maak wat die verlies minder maak:  “‘n Kerk is nie ‘n gemeente nie.  Net omdat die gebou vernietig is, beteken dit nie dat die gemeente nie meer bestaan nie.  Net omdat die gebou vernietig is, beteken dit nie dat daar nie meer ‘n huis is nie.”

Maar tog… Waar daag mense Sondagoggend op om te aanbid?  Waarheen gaan die Notre Dame se lidmate vandag?  Natuurlik is die gebou nie die gemeente nie en kan ‘n mens allerhande goed sê oor aardse dinge.  Maar tog…

Wat maak ‘n mens as jy alles verloor?  Wat bly oor, wanneer jy alles verloor het?

Verlies is verlies.  En verlies maak seer.  En dikwels is die verlies gekoppel aan ons identiteit, het ons manier van dink oor onsself onbewustelik verweef geraak met die dinge, met die plek, die gebou…

Wat maak ‘n mens as jy alles verloor?  Wat bly oor, wanneer jy alles verloor het?

Natuurlik is daar die korporatiewe verlies, dinge wat ons saam verloor.  ‘n Gevoel van sekuriteit.  Die sekerhede van die verlede.  Die gevoel van beheer wat (ek weet nie) in die 80-erjare geheers het?

Maar daar is ook persoonlike, individuele verlies.  Klein verliese en groter verliese.  Verliese wat jou seermaak.  Verliese wat jou laat wonder hoe jy ooit sal kan aangaan.  En verliese wat jou laat dink:  daar is eenvoudig niks meer nie.

Dit is waaroor Psalm 22 praat.

2My God, my God,

waarom het U my verlaat

en bly U ver as ek om hulp roep?

3My God, ek roep bedags

en U antwoord nie,

ook snags, maar ek kry geen rus nie.

Dit begin met ‘n diep, donker klag, wat die rouheid van verlies skerp verwoord.  Die Psalmdigter kan nie klein kry wat aangaan nie.  Hoe werk dit dat hy bid, maar daar is nie antwoord nie?

Wat is die verlies waarmee jy op hierdie Goeie Vrydag hier sit?  Is dit ‘n verlies soos dié wat ek reeds genoem het:  verlies aan sekerheid, verlies aan ‘n gevoel van sekuriteit?  Of is dit meer spesifiek, ‘n finansiële verlies, ‘n verhouding, ‘n geliefde?

Kom ons maak soos Psalm 22 en ons bring ons verlies na God.  Soos wat die Psalmdigter sy gebede gesing het, sing ons ons gebed met Lied 278 en 279

Lied 278 Hoor ons bid o Heer Lied 279 Hoor ons sug, o Heer

Vertroue

Psalm 22 se klag word vinnig gevolg deur ‘n belydenis van vertroue:

4U is tog die Heilige

wat woon waar die lofsange van Israel

weerklink!

5Op U het ons voorvaders vertrou.

Hulle het vertrou en U het hulle gered.

6Hulle het na U om hulp geroep

en hulle is bevry;

op U het hulle vertrou

en hulle is nie beskaam nie.

Hierdie vertroue word nie uit die lug uit gegryp nie.  Dit berus op die Psalmdigter se ervarings van die verlede.  Dat God teenwoordig is waar Sy lof besing word.  Dat God op soveel maniere die verlede gewys het dat hy by sy volk is.

Ook dit is waar van ons, korporatief, en van ons, individueel.  Ons kan terugkyk op ‘n verlede van God se sorg vir sy kerk.  Maar ons kan ook terugkyk na gister, verlede week, verlede jaar, na al die maniere waarop God nog altyd sorg.

Dink net aan al die maniere wat God in die verlede gesorg het!  Vir ons land.  Vir ons kerkverband.  Vir ons gemeente.  Vir jou.  Kom ons gee oor erkenning daaraan met ons lied:

Lied 572v1 Heer, soms word ek ongeduldig

Lyding

God se sorg in die verlede, maak natuurlik nie die verlies in die hede ongedaan of minder ondraaglik nie.

Ps 22 beskryf dit so aangrypend:

7Maar ek is ’n wurm, nie ’n mens nie.

Ek word deur die mense bespot

en deur die volk verag.

8Almal wat my sien, spot my,

hulle steek vir my tong uit

en knik met voldoening die kop en sê:

9“Laat dit aan die Here oor!

Laat Hy hom red, laat Hy hom bevry

as Hy dan so baie van hom hou.”

10U het my die eerste lewenslig laat sien,

my veilig laat rus

aan die bors van my moeder.

11Van my geboorte af is ek onder u sorg,

van die begin van my lewe af

is U my God.

12Moet tog nie so ver van my af weg

bly nie,

want die nood is naby

en daar is niemand wat help nie.

Dit is asof God se sorg in die verlede die huidige verlies nog méér ondraaglik maak.  God het dan gesorg in die verlede – hoekom nie nou nie?  Van my geboorte af, my lewe lank is ek in God se hand – wat gebeur dan nou hier?

Die krisis gaan op die ou end nie net oor omstandighede nie, maar oor God.  Oor geloof.  Want nou is die Kinderbybel-prentjie van God nie meer voldoende nie.  Daardie prentjie werk nie meer nie.

Hy gaan verder en beskryf in verse 13-29 hoe die vyande is soos ‘n trop beeste wat hom toe staan, soos brullende leeus wat met oop bekke op hom afstorm, soos uitgestorte water wat in sand verdwyn.  Sy bene val uitmekaar, sy hart smelt weg, sy tong kleef aan sy verhemelte.

En nou lees ons hierdie Psalm anders as die Jode 3000 jaar gelede in hul tempel.  Ons lees hierdie Psalm, en ons hoor vir Jesus.  Ons sien ‘n kruis.  Dan sien ons nie net ons eie lyding in hierdie Psalm raak nie, maar skielik raak dit ‘n Psalm wat God se eie lyding beskryf.

Wat gebeur dan?  Met die Psalm, met ons verstaan van ons verlies, met ons verstaan van God, wanneer hierdie Psalm God se lyding beskryf?

Lied 390 Ons kniel hier aan U voete neer

Aan die kruis bid Jesus hierdie Psalm:

2My God, my God,

waarom het U my verlaat

Aan die kruis word Jesus bespot en verag, soos wat in Psalm 22 beskryf word.  Soos wat daar vir die Psalmdigter gesê is:  “Laat die Here hom red”,  so word Jesus aan die kruis gespot:  “laat God hom nou red as Hy dan behae in hom het.” (Matteus 27:43)

19Hulle verdeel my klere onder mekaar

en trek lootjies oor my mantel.

Sê Psalm 22:19 – en dit is presies wat met Jesus gebeur aan die kruis.

En wanneer Jesus sê “Ek is dors” (Joh. 19:28), dan hoor ons Psalm 22:

my tong kleef aan my verhemelte,

Dan eindig die Psalm met ‘n belofte.  En ‘n lofsang.

24Julle wat die Here dien,

prys Hom! Vereer Hom, nageslag van Jakob!

Betoon Hom eerbied,

nageslag van Israel!

25Die nood van die hulpelose

het Hy nie verontagsaam

en gering geskat nie,

Hom daarvan nie teruggetrek nie,

maar die hulpgeroep na Hom

het Hy gehoor.

26My loflied in die volle vergadering

kom van Hom af,

my geloftes sal ek nakom

voor die mense wat Hom dien.

27By dié offermaaltyd sal die armes

genoeg hê om te eet,

en sal dié

wat na die wil van die Here vra,

Hom prys.

Mag hulle lank en gelukkig lewe.

28Mense oor die hele wêreld

sal die Here erken

en hulle tot Hom bekeer.

Alle volke sal Hom as koning erken,

29want die koningskap behoort

aan die Here;

Hy heers oor die volke.

30Al die rykes van die wêreld sal ook

aan dié maaltyd deelneem

en Hom as koning erken,

ja, alle mense,

sterflik en verganklik,

sal voor Hom kniel.

31Die nageslag sal Hom dien,

en hulle sal van die Here vertel

aan die volgende geslag.

32Dié sal dan aan die volk

wat nog gebore moet word

van hierdie verlossingsdaad getuig:

die Here het dit gedoen.

Vir ons maak die kruis van Jesus alles anders.  Op Goeie Vrydag sê ons vir mekaar:  niks gaan ooit weer dieselfde wees nie.  Ja, verlies is nog daar.  En verlies is verlies.  En dis sleg.

Maar die kruis sê vir ons:  God is dáár.  IN ons verlies.  BY ons.  Saam met ons.  God is góéd bekend met ons hunkering na ‘n tyd toe dit beter gegaan het, na ‘n tyd toe God ‘n kinderbybel-prentjie was en alle antwoorde maklik was.  God is ook hier.

As ons dan alles verloor, wat bly oor?

Die  kruis bly oor.  Die teenwoordigheid van God.

Dit is opvallend hoe daar in elke brand ‘n kruis bly staan.  In Notre Dame, in Maitland, in my eie huis.  En ek dink ons moet versigtig wees om nie bygelowig daarop te fikseer nie.  Maar ek dink ook dat ons tog aan die simboliek daarvan kan vashou:  die kruis staan in die middel van ons verlies.

En dan is daar nog ‘n ding wat onverwags uit die puin van verlies oprys.  Lofsange.  Regtig – lofsange.  Julle het seker die video gesien van die Parysenaars wat in die skadu van die brandende Notre Dame staan en gesange sing.  Een van my vriendinne, ‘n dominee in die omgewing, stuur die video van die lidmate van die NG Kerk Maitland, die oggend na die brand, voor die deur van die afgebrande kerkgebou:  “Kom ons loof, loof die Heer.”

As ons dan alles verloor, wat bly oor?

‘n Kruis.  En lofsange.

Ek wil vir jou kans gee om bietjie hieroor te reflekteer en miskien met God daaroor te praat.  Kom ons dink na oor die kruis, terwyl die musikante vir ons ‘n verwerking van Lied 389 speel.

Refleksie

Lied 389 Instrumenteel

Nagmaalsformulier

Vonkk 198 v1-2 Kom ons buig voor die Here

Geloofsbelydenis

Voorganger: Saam met dié wat getuies was van die gebeure van die eerste Goeie Vrydag bely ons in die geloof …

Saam met Judas Iskariot …

Gemeente: dat ons soms self ’n onskuldige Man verraai.

V: Saam met Simon van Sirene …

G: dat wanneer jy Jesus volg, sy kruis ook jou kruis word.

V: Saam met die Romeinse soldaat …

G: dat ook ons afgestomp raak vir ander se nood.

V: Saam met Maria …

G: dat ons mekaar nodig het om Jesus enduit te volg.

V: Saam met die sterwende misdadiger …

G: dat ’n regverdige Man gesterf het.

V: Saam met die Romeinse offisier …

G: dat hierdie Man werklik die Seun van God is.

V: En nou bely ons ook saam met die wolk van geloofsgetuies deur die eeue heen …

G: Apostoliese Geloofsbelydenis

Gebed

Nagmaal

Gebed

Slotsang

Lied 588 verse 1 en 3 O Heer my God, ek leef uit U ontferming

Geen Seën

Verlaat kerkgebou in stilte

Goeie Vrydag, kruis, preek, Psalm 22, Rethie van Niekerk, verlies

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.