Skip to main content

Genesis 21:9-21 Familiediens preek

Woestyne is belangrike goed – in die Bybel en regdeur die Christelike tradisie tot in elkeen van ons se lewens.  Soms kies mens ’n woestyn – soos Hagar in Gen. 16.  Soms is woestyne iets wat met jou gebeur, soos in Gen. 21.  Dikwels is woestyne iets wat God toelaat.

Verskillende dinge in ons lewens voel vir ons soos woestyne.  En verskillende dinge bring ons by ons woestyne uit.  Maar in hierdie verstaan van woestyne is woestyne plekke van swaarkry; plekke van alleenwees; plekke van versoeking om ons eie planne te maak of om op te gee.  Dit is plekke van verlies, plekke waar ons twyfel oor God se teenwoordigheid.  Plekke waar ons heeltemal gestroop is van onsself, van al die geraas wat ons doof maak, van al die sekerhede waarop ons staatgemaak het.

Ons kom ook – in ’n leeftyd soms ’n hele paar keer – by skrikwekkende plekke waar dit voel asof daar nie meer hoop is nie.

Hagar lê haar seun onder ’n bos neer – die bewoording gee letterlik die idee van neerlê in ’n graf.  Sy gaan sit ’n ent weg – die pyn is te veel, sy wil nie haar seun se swaarkry sien nie.

En agter Hagar en Ismael aan het God gestuur

Die engel van geregtigheid.

sê Cussons.

Toetrede

Lied 519 Wees stil en weet

Votum

Psalm 86:15

U, Here, is ’n barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou.

Seëngroet

Nav Psalm 86:16

Die Drie-enige God sien ons, sy dienaars, van ons geboorte af, in genade aan.  Hy gee ons krag en red ons.

Lofsang

Lied 509:1, 2 en 4 Op berge en in dale

Toewyding

Vanoggend word ons herinner dat God ons nood hoor en sien, dat God by ons is, ook in die woestyn.  God werk selfs menslike foute in sy plan in.  Kom ons bid hierdie week se Leesrooster Psalm 86.

Geloofsbelydenis

God hoor wanneer ons bid of huil.  Ons bevestig dat ons dit glo met die lied wat ons sing:  Psalm 116:1-4

Gebed

Inleiding

Genesis 21:8-21 uit Die Bybel vir Almal

Preek

Ek is seker baie van julle het Rina Badenhorst se onlangse kunsuitstalling bygewoon. Rina was vir hierdie uitstalling geïnspireer deur van die grootste tragedies van die laaste tyd:  verwoesting van die Siriese stad Aleppo.  ’n Stad met meer as 2 miljoen inwoners, wat al 8000 jaar bestaan.  Die burgeroorlog het ontsettende vernietiging veroorsaak.  Die gevegte in Aleppo het die stad se inwonertal van tweemiljoen laat daal tot ongeveer 250,000. Duisende het gevlug en moes elders ‘n heenkome gaan soek. Dit veroorsaak ’n wêreldwye vlugteling-krisis, ’n toets vir veral Christene in die res van die wêreld.

Die verhaal van Aleppo is nou verbind aan die verhaal wat ons vanoggend gelees het.  Aleppo is nie net deel van daardie verhaal nie, dis ook die verhaal van baie moderne Hagars en Ismaels.

Hagar se verhaal

God gee ‘n belofte van ’n nageslag en grond aan Abram.  Maar menslik gesproke lyk dit nie moontlik nie.  Hoe gaan God se belofte waar word, as Abram en sy vrou Sarai dan nie eers kinders het nie?  So Sarai maak soos wat ons ook dikwels maak wanneer dit vir ons lyk asof God te lank vat om in te gryp:  sy maak haar eie planne.

In stede daarvan om God te vertrou, staat te maak op God se voorsiening en belofte, besluit Sarai om haar slavin vir Abram te gee, sodat Abram by die slavin kan slaap en by haar ’n kind kan hê – iets waarvoor ons natuurlik vandag ander woorde gebruik.

Maar Sarai se onvermoë om God te vertrou, boemerang.  Die slavin minag vir Sarai.  Sarai begin haar slavin só sleg behandel, dat dié wegloop.  In die woestyn in.

En hier, in Genesis 16, ontmoet Hagar vir die eerste keer vir God.  In die woestyn, waar sy probeer vlug vir haar probleme.  En hier, in die woestyn, gee God vir haar – ’n Egiptenaar, ’n vrou, ’n slaaf – dieselfde belofte as vir Abram (Gen. 16:9):  “Ek sal jou nageslag so baie maak dat hulle te veel sal wees om te tel.”

Hagar gaan terug na Abram toe en kry ’n seun, Ismael.  Isma-‘el – wat letterlik beteken:  God hoor.

Maar dan gebeur die wonderwerk en Sara word swanger.  En sy sien vir Ismael lag (kon dalk spot wees) – en besef ewe skielik dat háár seun sy erfporsie met ’n slavin se seun sal moet deel.  So sy dring aan dat die slavin weggejaag word.

Dis interessant hoe daar óór Hagar en Ismael gepraat word:  “die slavin, die kind”.  Nooit word hulle name genoem nie.  Hagar – en nou ook Ismael – is heeltemal gestroop van hul menswaardigheid.  Hagar is ’n slaaf, ’n Egiptenaar.  Ismael haar seun.  Nie mense nie, nie naaste nie, nie werd om gereken te word nie.

Hierdie keer lyk dit asof Abraham die regte ding wil doen.  Maar God sê hy moet vir Hagar en Ismael wegstuur.  Hoe dikwels gebeur dit nie dat ons nie verstaan wat God doen nie!  Soms eindig ons in ons eie woestyne en dan het ons in ons agterkop die aaklige vermoede dat God ons hier gebring het.

Die skatryk Abraham gee vir Hagar kos en ’N velsak water en stuur haar weg.

En weer is Hagar in die woestyn.

Sheila Cussons skryf oor hierdie verhaal (“Sarai”):

Die Here het Sarai se skoot gesluit.

Vir haar en Abram die juk opgelê

wat hulle in vrese gedra het, maar tog

met altyd die koppige hoop:   dat God

nog self sou sê:

Ek sal jou meer as die sterre en sandkorrels maak.

 

Veel het Sarai getob, en tóé die besluit:

Laat hy háár dan vat, dalk verwek hy in háár –

En nege maanmaande later

Loop Hagar die huis breed, met Ismael

aan haar bors:

hoon onbeskaamd, smaad wat soos dor hout brand –

 

Tot Isak.

 

Formidabel Sarai nóú:  die slavin met haar kind

op haar rug onder die dak uit die vlakte in.

 

Sarai word toe Sara;  Abram:  Abraham.

En agter Hagar en Ismael aan het God gestuur

Die engel van geregtigheid.

Woestyntye

Woestyne is belangrike goed – in die Bybel en regdeur die Christelike tradisie tot in elkeen van ons se lewens.  Soms kies mens ’n woestyn – soos Hagar in Gen. 16.  Soms is woestyne iets wat met jou gebeur, soos in Gen. 21.  Dikwels is woestyne iets wat God toelaat.

Verskillende dinge in ons lewens voel vir ons soos woestyne.  En verskillende dinge bring ons by ons woestyne uit.  Maar in hierdie verstaan van woestyne is woestyne plekke van swaarkry; plekke van alleenwees; plekke van versoeking om ons eie planne te maak of om op te gee.  Dit is plekke van verlies, plekke waar ons twyfel oor God se teenwoordigheid.  Plekke waar ons heeltemal gestroop is van onsself, van al die geraas wat ons doof maak, van al die sekerhede waarop ons staatgemaak het.

Ons kom ook – in ’n leeftyd soms ’n hele paar keer – by skrikwekkende plekke waar dit voel asof daar nie meer hoop is nie.

Hagar lê haar seun onder ’n bos neer – die bewoording gee letterlik die idee van neerlê in ’n graf.  Sy gaan sit ’n ent weg – die pyn is te veel, sy wil nie haar seun se swaarkry sien nie.

En agter Hagar en Ismael aan het God gestuur

Die engel van geregtigheid.

sê Cussons.

Die woestyn is God se plek

Want die woestyn is ook God se plek.  Dit is juis in en deur woestyne wat God in ons lewens werk.  Dit is wanneer ons so gestroop is, nie meer ons eie planne probeer maak nie, nie meer op ander goed probeer staatmaak nie, wat ons vir God sien.

Hoor mooi:  dis ’n woestyn.  Vir die grootste deel van ons tyd in die woestyn voel ons verlate.  Dors.  Desperaat.  God is daar!  Maar dikwels is dit juis die aard van woestyne, dat ons nie God se teenwoordigheid raaksien nie, dat ons juis uitgelewer, bang en onseker voel.

God hoor

Maar in die woestyn leer Hagar wéér dat God hoor.  Soos wat God reeds bevestig het in haar seun se naam:  Ismael.  God hoor.  En dit is omdat God hoor, dat Hagar opgeroep word om nie bang te wees nie.

Vers 17:

Moenie bang wees nie, want God het die kind daar waar hy lê, gehoor.

Psalm 56:9:

My ellende het nie ongemerk

By u verbygegaan nie,

U het op my trane gelet.

In u boek staan hulle opgeteken.

Letterlik: U hou my trane in u kruik.

Al is woestyne plekke wat verlate voel, sê mense wat die natuur ken vir ons dat woestyne plekke is wat krioel van lewe.  Al voel woestyne vir ons alleen, Godverlate.  Al voel dit asof ons trane op dor grond verdwyn.  Die woestyn is juis die plek waar God met ons werk, waar God hoor.

God weef die gevolge van die keuse ruimhartig in sy plan in.

Die tweede ding wat ons in Hagar se woestyn sien, in die woorde van die Ou-Testamentikus Lisel Joubert: God weef die gevolge van die keuse ruimhartig in sy plan in.

God weef die gevolge ook van ons foute in sy plan in.

Hierdie hele situasie is die gevolg van Sara en Abraham se ongeloof, se onvermoë om op God se belofte te vertrou.  Hierdie kon die einde gewees het van hul fout: Hagar en Ismael kon doodgegaan het in die woestyn.  Geen gevolge meer.  Wel, ten minste nie vir Abraham en Sara.  Maar Hagar en Ismael word ingeweef in God se belofte.  Hulle verhaal word deel van die Abraham en Sara verhaal.  God sorg ook vir Hagar en vir Ismael, ómdat hulle deel is van die verhaal.

Natuurlik met verreikende gevolge.  Daar is vele parallelle tussen Ismael en Isak se verhale. Ismael word die stamvader van 12 stamme, soos Isak.  Uit Isak, die kind van die verbond, kom Judaïsme en uiteindelik ons, Christene.  Uit Ismael, Islam.  En ’n stryd tussen Jode en Moslems wat tot vandag nog voortduur.

Daar is troos in die feit dat God ons keuses in sy plan inweef.  Maar dit beteken nie dat ons ons skouers kan ophaal en sê “God’s water oor God’s akker” nie.  Die gevolge word déél van die verhaal, maar daar is gevolge.

Woestyn as plek van bevryding

En dan, aangrypend van woestyne – en van die God van die woestyn – is dat woestyne plekke van bevryding is.

Hier is Hagar:  Egiptenaar. Slaaf. Vrou.  Weggejaag.  Weggegooi.  Die woord wat in Afr. “weggestuur” vertaal word,  is ook ’n term vir egskeiding.  Hierdie is dus die eerste egskeiding.

Maar God ontmoet hierdie verwerpte vrou.  God sê dat hy haar hoor.  God bevestig wéér die belofte wat hy destyds aan haar gemaak het – die belofte soortgelyk aan die belofte wat God aan Abraham gemaak het.  Niemand anders ontvang so ’n belofte nie!  Hagar word ’n matriarg – wat ons sien uit die feit dat sy vir Ismael ’n vrou kies.

Die woord wat gebruik word vir “wegstuur” is dieselfde as “skei”, maar óók die elfde woord vir slawe vrymaak.  Hagar word weggestuur – en vrygemaak.

Woestyne is plekke waar ons vry word.

Calvyn het gesê byna die volle eindtotaal van wysheid, is  kennis van God en kennis van onsself.

In die woestyn leer Hagar vir God ken as die een wat hoor:  wat hoor wanneer ons desperaat, dors sit en huil;  wat verwerpte, onderdrukte mense, mense wie se menswaardigheid deur ander ontneem word, ontmoet  en hul waarde bevestig.  Sy leer vir God ken as die God van geregtigheid.  Ook – veral – teenoor randfigure en onderdruktes, teenoor die vlugtelinge.

Woestyne is plekke van vryheid – of dalk eerder bevryding – omdat dit plekke is van “laat gaan”.  Ware vryheid is om ons ego en ons kulturele vooroordele te laat gaan.  Dit is om ons vrees vir verlies en dood te laat gaan.  Vryheid is om die behoefte aan meer en beter goed te laat gaan.  Om ons behoefte om God en ander te beheer en te manipuleer te laat gaan.  Dit is selfs om ons behoefte om te weet en ons behoefte om reg te wees te laat gaan.

Ons word vry as ons 3 dinge laat gaan:  ons behoefte aan mag en beheer;  ons behoefte aan veiligheid en sekuriteit; en ons behoefte aan aanvaarding en agting.

En dis juis in die woestyn waar God ons vrymaak van hierdie begeertes.  Sodat ons, in die plek van ons eie begeertes wat ons gebind het, onsself sien soos God ons sien:  as deel van sy plan; as waardig;  as kosbaar.

Slot

Soms is woestyne heerlike plekke van rus en stilte.  Maar dikwels is woestyne skrikwekkende, bedreigende plekke van onsekerheid en vrees en magteloosheid en eensaamheid.  Maar altyd is woestyne plekke van God, waar God werk, waar God hoor.

Die titel van Rina se uitstalling was:  Aleppo: Life in the Rubble of Destruction.  Rina is bekend vir haar voorliefde om voëls in haar kuns te gebruik. Soms vanweë hulle skoonheid en vryheid. In hierdie uitstalling gebruik sy die reier as ‘n metafoor om die verhaal te vertel van gewone mense vasgevang in die pyn en lyding van die stryd in Aleppo. In verskillende fases het sy die ontwrigting en vernietiging van ‘n Christengesin se lewe uitgebeeld. Sy beeld ook die wyse uit waarop ‘n boer lewe in die rommel probeer terugdra met sy groentetuin. Dit is gebaseer op die ware verhaal van tuinier Abu Wad en sy seun jong Ibrahim wat op hulle manier ‘n klein oase van kleur en lewe bevorder het met hulle blomme, groente, neute, en ander plante in die puin van hierdie vernietiging.

Die verhaal van die uitstalling eindig met hierdie skildery: Flight into Light, wat ‘n glinstering van hoop gee dat hierdie oudstes van stede in ons wrede wêreld, Aleppo, weer ‘n opstanding kan beleef.

Lewe oor en uit die woestyn.

God is die God van die vlugteling.

Die God van die verwerpte verstoteling.

Die God van Hagar in die woestyn.

Die God van Aleppo in die puin.

Die God van my en jou in ons pyn.

Gebed

Wanneer ons slawe is in ’n vreemde land

Is u die God wat sien en hoor.

 

Wanneer ons die slagoffers is van huishoudelike twis

Is u die God wat sien en hoor.

 

Wanneer ons geboorte skenk aan kinders van twis

Is u die God wat sien en hoor.

 

Wanneer ons uit ons huise gegooi word

Is u die God wat sien en hoor.

 

Wanneer ons ‘n bespotting maak van ander mense se smart

Is u die God wat sien en hoor.

 

Wanneer ons families ons verwerp

Is u die God wat sien en hoor.

 

Wanneer nie vir onsself kan voorsien nie

Is u die God wat sien en hoor.

 

Wanneer ons wanhoop aan die lewe self

Is u die God wat sien en hoor.

 

So mag die God wat Hagar en Ismael sien en hoor

Die God wat buitestanders en foute raaksien

Die God wat diegene wat nie gekies is nie sien en hoor

Na ons omsien en vir ons voorsien

Deur ons omswerwinge, ons ballingskap en ons foute.

Nou en vir altyd.

(n.a.v. ’n gebed deur The Grace Community http://www.freshworship.org/archive/services/2008/2008-02-hagar.html )

Slotsang

Lied 576 Moet jy stry teen moeilikhede

Seën

Die God wat ons sien in ons woestyne

En ons trane hoor

Gee vir ons die belofte van sy seën:

Die Here sal julle seën

en julle beskerm;

die Here sal tot julle redding

verskyn

en julle genadig wees;

die Here sal julle gebede verhoor

en aan julle vrede gee!

Respons

Lied 312

familiediens, Genesis 21, Hagar, Ismael, preek, Rethie van Niekerk, woestyn, woestyntye

Comment

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.