Skip to main content

Valse beskuldigings – Handelinge 21

Paulus versit berge
Tema: Valse beskuldigings – Handelinge 21
Youtube 09:00 4 Oktober 2020 Somerstrand

Skakels:

Verwelkoming

Welkom by ons geloofsgemeenskap op Youtube. Mag die Here jou op ‘n spesiale manier met hierdie boodskap seën.

Eredienste in die kerk

Ons het ons eredienste in die kerk hervat. 250 maksimum. Registrasie by Liésl Knipe is egter steeds noodsaaklik.

Byeenkomste in die kerk

Die Ark asook die konsistorie is beskikbaar vir Bybelstudiegroepe. Bespreek asseblief by Liesl “nul sewe drie 4713 647” of epos haar by info@somerstrandgemeente.co.za. Handhaaf asseblief die Covid-protokol:  Dra maskers en saniteer die stoele en oppervlaktes wat gebruik word. Temperatuurmeter en handreiniger sal beskikbaar wees.

Verjaarsdae

Daar is niemand wat vandag verjaar nie, maar ons sonder Lara Vögel uit wat op 9 Oktober 2 jaar oud word. Baie geluk aan jou. Die res van die verjaarsdae is op die skerm. Bel en wens mekaar geluk.

Belydenisklas

Die nege graad 11’s het hulle kategese voltooi. Die belydenisaflegging is 22 November. Ons sien uit daarna om hulle as belydende lidmate te ontvang.

Behoeftes

Onthou die kos en klere projekte wat ons deurlopend hardloop. Bydraes vir Jaco en Annemarie Barnard by Bognorstraat 6 en vir Theo by Total en Elsje by die spreekkamer of by Cecile by 3de Laan. Bydraes vir die Noodfonds is ook steeds welkom.

Inry-kermis

Daar is hierdie week weer ons inry-kermis. Vrydag 9 Oktober. Sosatierol en slaai vir R40 en poeding R15. Onthou om teen hierdie Woensdag by Marlein “nul-agt-drie”-2704853 te bestel en betaal of te EFT. Ons soek iemand om beskuit te bak. Kontak vir Liésl by “nul-sewe-drie”-4713647.

Kategese

Ons skakel vir die laerskool kategese in die tyd van die inperking in by die Lofkabouters van PE Hoogland. Vandag is dit die letter “N” in ds Thania Botha se Geloofsalfabet. Waarvoor staan die letter “N” in ons Geloofsalfabet? Dit staan vir “nederigheid”! Sy gebruik die nederige padteken om ons van nederigheid te leer. Gebruik die 10 minute aanbieding vir gesprek en aktiwiteite met julle kinders. Geniet!

Pulse

Ek gesels vanaand 18:00 by Pulse oor Geloof in die spervuur. Wat doen jy as jy gedwing word om anders te glo? As jou geloof in die gedrang kom? As jy voor ‘n ultimatum gestel word? As vir jou gesê word: “dink en doen soos ons vir jou sê, of betaal die prys”? Kom leer by Daniël se drie vriende hoe om staande te bly as jou geloof in die spervuur kom. Jy kan ook ‘n Bybelstudieboek oor Daniël aflaai. Beloftes vir die Eindtyd.

Die verhaal van die kerk – Paulus versit berge

Dit is week 11 van my fokus op die lewe van Paulus. Tot en met Advent. Ons lees saam die boek Handelinge en Paulus se dertien briewe. Titel en tema: Die verhaal van die kerkPaulus versit berge.

Daar is ‘n Bybelstudieboek vir stiltetyd en kleingroepe. Jy kan alles gratis aflaai op ons webwerf. Hierdie week is dit hoofstuk 11 met die laaste deel van Handelinge (hfst 21-28) op die tafel. Met die tema: Valse beskuldigings.

Youtube

Teken sommer nou in op die Youtube kanaal op jou skerm. Dit is die rooi subscribe knoppie. Jy kan notifications ook aansit sodat jy kennis kan kry van elke volgende video.

Onthou die kleiner formaat video of die klankbaan. Die skakels is op Whatsapp, nuusbrief, web en Facebook beskikbaar.

Votum en Seëngroet

Dit is weer Kindertyd en daarna sing ons lied 184 – Lofsing die Here, die Ewige, sing tot sy ere.

Kindertyd

Loflied

Lied 184 – Lofsing die Here, die Ewige, sing tot sy ere

Gebed

Die Bybel is vol werklike mense

Weet jy hoeveel mans en vrouens se name word in die Bybel genoem? Dink ‘n bietjie. Wat raai jy?

Daar is 1793 mans wie se name in die Bybel genoem word. Jy kan gerus gaan blaai by hierdie bron by Biblegateway waar ‘n beskrywing van elkeen gegee word. Ditto die 196 vroue by dieselfde webtuiste.

Hoekom is dit belangrik om só iets te weet? Want, dit sê vir jou die Bybel vertel werklike verhale van werklike mense. Vlees en bloed. Mense soos jy en ek.

Die Bybel is nie ‘n feëverhaal nie. Dit is nie ‘n klomp mites nie. Die Bybel bevat die verhale van werklike mense wat ‘n mens baie keer in ander historiese bronne kan verifieer. Die Bybel is nie ‘n bundel abstrakte waarhede nie. Dit is geanker in die werklike verhale van mense en hulle dinge. Veral in hulle verhouding met God. Want die Bybel is natuurlik na alles God se verhaal met die mens.

Dit is waarom die Bybel só ‘n heerlike skat van voorbeelde is waarna ons ons lewens kan rig. Ons kom agter in die werklike verhale van werklike mense hoe ‘n mens met God kan leef. Waarvan God hou. Waarvan Hy nie hou nie. Hoe Hy werk. Wat Hy doen. Wat Hy wil – geïllustreer in die lewens van werklike mense. Sodat jy self die pad met Hom kan stap.

Paulus nader die einde van sy derde sendingreis

Ons tel nou na die briewe van Paulus aan die Korintiërs en die Romeine die verhaal van Paulus op aan die einde van sy derde sendingreis op pad na Jerusalem. Vir die Pinksterfees. Dit is die jaar 57 nC. Paulus het van bo in Masedonië in Griekeland af gekom nadat hy die gelowiges daar oral bemoedig het. Plekke soos Filippi, Tessalonika, en Berea.

Hy het nou per boot na Turkye gereis na Troas waar hy Eutigus uit die dood uit opgewek het. Daarna het hy sy reis voortgesit, maar te voet. Hy het vir ‘n Emmaus-walk gegaan, niemand weet presies hoekom nie. Maar, hy was heeltemal alleen – tot in Assus, so dertig km suid. Die ander mense wat saam met hom gereis het, is met die boot van Troas tot by Assus.

Vandaar het hulle saam na Milete aan die kus van Turkye gevaar, waar hy ‘n roerende gesprek met die ouderlinge van Efese gehad het voor hy die pad gevat het na Jerusalem vir die Pinksterdag en om die groot kollekte van die Griekse Christene aan die Joodse Christene te gaan oorhandig.

‘n Span van sewe

Dit is egter uiters interessant dat Lukas vir ons vertel van ‘n hele aantal gelowiges uit die verskillende stede waar hy die evangelie verkondig het, wat saam met hom begin reis, ’n hele gevolg (Hand 21). Waarskynlik om by hom te leer, maar ook om eerstehands by die bediening betrokke te raak. Want Paulus stuur ‘n hele paar van hulle hierna uit op hulle eie bedienings.

In die reisgeselskap staan sewe mans uit.

  • Daar was die Jood Sopater van Berea.
  • Ook die Grieke Aristargos en Sekundus, albei van Tessalonika.
  • Dan die Griek Gaius en die jong Joods-Griekse Timoteus van Derbe.
  • Laastens die twee Grieke van Efese, Tigikus en Trofimus.
  • Lukas was natuurlik ook daar, maar aangesien hy die verhaal opgeteken het, het hy nie soseer op homself gefokus nie.

Die kontak met Paulus het ‘n geweldige effek in die sewe mans se lewens gehad.

  • Timoteus werk hierna heel selfstandig in Efese, steeds onder Paulus se leiding, soos ‘n mens uit die twee briewe aan Timoteus aflei, maar met groot sukses.
  • Tigikus werk aanvanklik in Kolosse in opdrag van Paulus (Kol 4:7-9), maar word later ook na Efese gestuur, waarskynlik ná die aardbewing wat Kolosse verwoes het (Ef 6:21-22).
  • Sopater het regdeur met Paulus die pad gestap, ook op die reis na Rome en hom in Rome in die tronk bygestaan (Rom 16:21).
  • Aristargos Trouens, dit lyk asof hy saam met Paulus in huisarres was in Rome (Kol 4:10).
  • Sekundes en Gaius is saam tot in Jerusalem, maar ons weet nie wat daarna van hulle geword het nie.

En dan Trofimus. Die man van Efese. Trofimus se naam kan iets van sy status weggee. Sy naam kan beteken “pleegkind”. Hy was waarskynlik soos ‘n kind vir Paulus, getrou aan hom en die boodskap van die evangelie. Want dit is wat ons van hom agterkom uit die drie verwysings waar ons van hom lees.

  • Hy het nie net die reis na Jerusalem saam met Paulus meegemaak nie, maar ook die twee jaar in Jerusalem en Seserea aan sy sy gebly.
  • Hy het saam met hom gereis na Rome, onder andere deur die skipbreuk by Malta.
  • En hy is steeds by Paulus in Rome in huisarres, hetsy saam met hom in die huis, of van buite om hom te ondersteun.
  • Hy is selfs saam met Paulus op sy vierde sendingreis, soos ons uit Paulus se tweede brief aan Timoteus aflei.
  • Op dié reis in Milete het Trofimus egter siek geraak en kon hy nie verder saam reis nie. Hy is daar aan die kus van Turkye agtergelaat waarvandaan hy waarskynlik kon teruggekeer na Efese, sy tuisdorp, of waar mense hom kon kom versorg het (2 Tim 4:20).

Die moeilikheidmakers

Maar, dit is nie al nie. Lukas vertel ons egter ook van ‘n paar ander Jode wat na Jerusalem reis. Ook uit Asië. Waarskynlik ook uit Efese, want hulle hulle word soos Trofimus Asiërs genoem. Manne wat nie saam met Paulus gereis het nie. Maar ook op pad was na Jerusalem. Na die Pinksterfees. Maar, nie om Paulus en sy werk te ondersteun nie. Nee, om moeilikheid te maak. Hulle was geswore teenstanders van Paulus. Gelowige Jode, maar teenstanders van die evangelie.

Valse beskuldigings

En hulle sou fokus op Trofimus om Paulus by te kom. Met valse beskuldigings.

Ons lees in Handelinge 21:

17En toe ons in Jerusalem aankom, het die broeders ons met blydskap ontvang. 18En op die volgende dag het Paulus saam met ons na Jakobus se huis gegaan, en al die ouderlinge was daar teenwoordig. 19En nadat hy hulle gegroet het, het hy van stuk tot stuk vertel wat God onder die heidene deur sy diens gedoen het. 20En toe hulle dit hoor, het hulle die Here verheerlik.

Hulle is baie bly om dit te hoor, maar dan sê hulle:

U sien, broeder, hoeveel duisende Jode daar is wat gelowig geword het, en almal is yweraars vir die wet. 21En hulle is aangaande u vertel dat u al die Jode onder die heidene leer om van Moses afvallig te word deur te sê dat hulle die kinders nie moet besny nie en ook nie volgens die sedes moet wandel nie.

Hierdie skinderstories was natuurlik nie waar nie. Paulus het immers vir Timoteus laat besny, omdat sy ma ’n Jodin was (Hand. 16:3). Paulus het nie die wet verbreek nie, net soos Jesus dit voor hom nie gedoen het nie.

Hulle stel toe voor:

22Wat staan ons dan te doen? Dit is dringend nodig dat die menigte bymekaarkom, want hulle sal hoor dat u gekom het. 23Doen dan wat ons vir u sê. Ons het vier manne wat ’n gelofte gedoen het; 24neem hulle en heilig u saam met hulle en betaal die koste vir hulle, sodat hulle hul hoofde kan skeer en almal kan weet dat daar niks is in wat van u vertel word nie, maar dat u self ook wandel as een wat die wet onderhou.

Paulus word hier voor ’n skerp toets geplaas. Bedoel hy werklik dat hy vir die Jode soos ’n Jood word, en is hy bereid om hom onder die wet te stel, al is hy nie meer onder die wet nie (1 Kor. 9:19-23)?

Paulus wys dat hy dit werklik bedoel, ter wille van die evangelie, deur hulle voorstel te aanvaar. Hy stel homself onder die wet ter wille van dié wat onder die wet lewe.

26Toe het Paulus die manne geneem en op die volgende dag hom saam met hulle geheilig en in die tempel gegaan om bekend te maak dat die dae van die heiliging sou voortduur totdat die offer vir elkeen van hulle gebring moes word.

“So far so good.”

Maar, onthou daar was die moeilikheidmakers …

27Maar toe die sewe dae byna verby was, het die Jode van Asië hom in die tempel gesien en die hele skare oproerig gemaak en die hande aan hom geslaan 28            en geskreeu: Israeliete, help! Dit is die man wat oral aan almal dinge leer teen die volk en die wet en hierdie plek. Hy het ook nog Grieke in die tempel gebring en hierdie heilige plek ontheilig.

Kom weer, waar kom julle hieraan, sou Paulus wou sê! En dan vertel Lukas vir ons van hulle valse beskuldiging:

29Want hulle het vantevore Trófimus, die Efésiër, in die stad by hom gesien en gedink dat Paulus hom in die tempel gebring het.

Het só iets al met jou gebeur?

Het só iets al met jou gebeur? Jy word beskuldig van iets wat enigiemand wat net die moeite doen om die feite vas te stel, sal agterkom niks om die lyf het nie. Maar, die valse beskuldigings kry as’t ware ‘n lewe van hulle eie. En voor jy jou kom kry, gebeur met jou wat met Paulus gebeur het hier:

30Toe kom die hele stad in beweging, en daar was ’n oploop van die volk; en hulle het Paulus gegryp en hom buitekant die tempel gesleep; en dadelik is die deure gesluit.

Gelukkig is die Here in beheer van die situasie en laat die Romeinse owerste ingryp en red Paulus van die gepeupel.

Paulus kry die kans om die evangelie te verkondig

En Paulus kry die kans om die hele evangelie aan bykans die hele Jerusalem te verkondig. Watter wonderlike getuienis van God se planne.

Ons lees in hoofstuk 22:

1Broers en vaders, luister nou na my verdediging teenoor julle! (Hand 22:1)

Die woord apologia word hier gebruik vir verdediging. Paulus kry dus kans om ’n apologeet vir die evangelie in die hart van Jerusalem te word. Net soos Jesus dit kon doen. En Petrus. En die res van die apostels. Hier is die Paulus se beurt.

Hy praat oor die Weg van Christus. Hy praat oor sy bekering op die pad na Damaskus. Hy fokus baie spesifiek op Jesus, die een wat die Jode doodgemaak het, maar God uit die dood uit opgewek het. Hy sluit aan by die verhaal van Stefanus, die eerste martelaar, en vervolg met sy sending na die heidene.

Dit is hoe ‘n getuienis werk

Dit is hoe ‘n getuienis werk, selfs al word dit uiteindelik verwerp. Eerlikheid oor waar jy vandaan kom as ‘n aanknopingspunt om oor die magtige dade van God te praat!

Op dié punt raak die skare egter só oproerig dat die Romeinse offisier vir Paulus na die Romeinse kaserne bring ter wille van sy veiligheid.

Soos die verhaal egter verder ontvou, raak dit duidelik dat die Here Jesus Paulus teenoor ‘n verskeidenheid politieke leiers in Jerusalem sowel as later in Rome wou gebruik. Dit sluit hier selfs die Joodse Raad in.

Die hele proses open dus die deur vir Paulus om nou amper drie dekades ná Jesus se opstanding uit die dood oor die hoop van die opstanding ook met die Joodse Raad te praat.

En dit alles begin met die valse beskuldigings van die Joodse gelowiges uit Asië rondom Paulus se verhouding met sy “pleegkind” Trofimus.

Hoe moet ons dit verstaan?

1. Lyding is deel van God se plan met die evangelie

Wel, nommer een – Jesus het reeds lank vóór hierdie aanslag op Paulus se lewe hom daaroor gewaarsku en gerus gestel dat lyding deel is van God se plan met Paulus se lewe. Vir die ouderlinge van Efese het Paulus in Milete gesê:

22En kyk, ek gaan nou gebind deur die Gees na Jerusalem; en watter dinge my daar sal oorkom, weet ek nie, 23behalwe dat die Heilige Gees in elke stad kragtig getuig en sê dat boeie en verdrukkinge my wag. (Hand 20:22-23)

Dit is immers wat die Here Jesus self vir Paulus gesê het reg aan die begin van sy bediening:

Ek self sal vir hom wys hoeveel hy vir my Naam moet ly. (Hand 9:16)

Maar hoekom? Hoekom hierdie pad? Is daar nie makliker maniere nie?

Wel, hierdie verhaal maak dit duidelik hoekom. Daar was nie ‘n ander manier om in die raadsale van die wêreld te kom nie. Die grootste apologeet wat ons ooit gehad het, Paulus, het deur valse beskuldigings presies kon doen waarvoor God hom geroep het.

Die Here Jesus het hierdeur vir Paulus gebruik om aan dieselfde drie owerhede te getuig as wat Jesus dit self gedoen het in die laaste week van sy aardse lewe.

Só moet jy ook oor jou eie lewe dink.

2. God gebruik ons om ook aan “konings” die boodskap te bring

Dit is die tweede perspektief wat ons nodig het. God gebruik ons ook aan “konings” die boodskap te bring. Dit is juis deur die situasie wat geskep is deur die valse beskuldigings wat God Paulus gestuur het na die drie “konings” van sy tyd.

Soos ons in die res van hierdie verhaal in Handelinge lees. Want, hulle moet ook die boodskap hoor:

  • God stuur Paulus na die hoëpriester Ananias, ‘n korrupte nasaat van die einste Ananias en Kajafas wat Jesus met valse getuienis veroordeel het. In ‘n sameswering met sy slinkse advokaat Tertullus.
  • God stuur Paulus na die twee Romeinse goewerneurs wat mekaar in dié tyd opgevolg het, Feliks en Festus, wat net soos Pilatus baie geïnteresseerd was in die waarheid van die evangelie, maar ook net soos Pilatus nie aan die uitdaging daarvan wou byt nie.
  • God stuur Paulus natuurlik ook na Agrippa II, een van die Herodes konings. Wat anders as koning Herodes Antipas, die ou jakkals, voor wie Jesus verskyn het, byna beweeg is om op die evangelie te reageer. Maar op die laaste moment kop uitgetrek het.

Dít was dus die doel van hierdie pad van ontbering vir Paulus. God wou onomwonde aan die Joodse Raad en die Romeinse en Joodse regering die evangelie laat verkondig.

En die valse beskuldiging dat Paulus vir Trofimus wederregtelik in die tempel ingebring het, was die manier wat God gekies het.

3. Onderskeiding is nodig

Ons moet hierin hoor dat die verkondiging van die evangelie fundamenteel God se werk is. Hy span ons in soos Hy dit wil. Soos Gordon Fee sê:

“we are constantly reminded that the gospel is God’s thing in the world – salvation for all through Jesus Christ and the Spirit.”[1]

Om hierdie boodskap te omarm, is onderskeiding egter nodig, want dit is nie ‘n maklike pad nie.

As ‘n mens nougeset lees in die res van die boek van Handelinge, ook die deel in Handelinge 20-21 oor sy reis na Jerusalem wat ek nou nie gelees het nie, kom ‘n mens agter dat daar baie gelowiges was wat Paulus die lyding wou spaar.

Die gelowiges in Tirus het ook hierdie boodskap van lyding van die Gees gehoor, maar wou Paulus dit spaar en het hom aangeraai het om nie na Jerusalem toe te gaan nie (Hand 21:4). Hulle het hom probeer keer om sy lewe te spaar.

Die probleem is egter dat dit Paulus se lewensroeping en die persoonlike woord van die Gees in sy lewe sou kon dwarsboom (Hand 20:2-24). Paulus kon dus nie inval met hulle goedbedoelde, maar misplaaste raad nie, en het volhard op sy reis na Jerusalem ten spyte van.

Netso het die profeet Agabus in Sesarea na Paulus toe gekom met die waarskuwing dat hy aan die heidene uitgelewer sal word, weereens onder leiding van die Heilige Gees (Hand 21:10-11).

Die waarskuwing was egter ironies genoeg vir Paulus ’n bevestiging dat hy nie moet terugdeins van die lyding wat vir hom wag nie, maar juis moet volhard in sy voorneme om Jerusalem toe te gaan. Tot Agabus se krediet, hy het net oorgedra wat hy gehoor het, volstaan hy dan met Paulus se reaksie op sy woord en aanvaar dat Paulus moet verder reis.

Hieruit sien ’n mens die gevaar wat altyd in geestelike onderskeiding bestaan. ’n Mens hoor dieselfde woord van die Heilige Gees – ’n waarskuwing byvoorbeeld – maar maak afleidings daaroor in terme van ’n mens se eie denke – ’n mens moet gevaar vermy byvoorbeeld. Paulus daarenteen doen die regte ding, en verbind die woord van die Gees aan sy lewensroeping – lyding gaan deel wees van jou pad – en loop die pad van lyding met blymoedige dapperheid.

4. God werk deur valse beskuldigings

Valse beskuldigings is ‘n tegniek wat boelies gebruik wat nie meer die krag van hulle argumente vertrou nie, en daarom hulle toevlug tot die onwaarheid neem. Ons kan dit op sóveel plekke ook vandag in die kerk en die samelewing sien. Lees maar net die koerante.

Maar, ‘n mens moet nooit vergeet dat dit maar net een kant van die waarheid is. Die Here gebruik juis die kwaad om sy wil deur te voer! Hy gebruik valse beskuldigings om sy eie plan deur te voer.

Jesus is vals beskuldig voor die Joodse Raad, die Romeinse goewerneur en koning Herodes. Al kon hulle niks bewys nie, is Hy in elk geval doodgemaak.

Maar, dit is hoe dit in die evangelie werk. Daar is ‘n ontembare krag in die dood van ‘n onskuldige. Die kruisdood was die triomf van God oor al die bose dinge wat mense teen mekaar, en uiteindelik teenoor Hom beplan.

Ek weet dit maak nie die pad wat ‘n mens moet stap met valse beskuldigings makliker nie. Dit bly swaar. ‘n Mens is in die versoeking om jouself te verdedig. En uiteraard moet ‘n mens in elk geval darem die waarheid verkondig waar dit jou toegelaat word. Ons bly apologete. Maar, die punt is nie die krag van die verdediging nie, maar die krag van die getuienis.

Dit gaan uiteindelik nie oor jou nie, maar oor wat God deur jou kan doen. En almal moet die boodskap hoor. Die eenvoudiges sowel as die intellektueles. Die behoeftiges en die magtiges. Die voetsoldate en die konings.

Jesus sê: Hou goeie moed!

Ek sluit af met ‘n trooswoord. Wanneer Paulus uiteindelik in die Romeinse kaserne is, en wonder, maar hoe nou verder, dan verskyn Jesus aan hom en verduidelik wat aan die gang is:

Hou goeie moed, Paulus, want soos jy aangaande My in Jerusalem kragtig getuig het, so moet jy in Rome ook getuig. (Hand 23:11)

Tot op hierdie punt het Paulus net geweet hy moet in Jerusalem wees. Hy moes die verwerping hanteer deur die skare. Hy is hardhandig behandel deur die Romeine. Hy is verwerp in die Joodse Raad. En hy is opgesluit in die Romeinse kaserne.

Maar nou maak alles skielik sin. Sy gehoorsaamheid en getuienis tot op hierdie punt het die deur oopgemaak na ’n kragtige getuienis in Jerusalem, sowel as uiteindelik in Rome.

Lees gerus in my boek oor die drie “konings” en hulle reaksies om uiteindelik oor jou eie lewe na te dink. Waarmee is die Here in jou lewe besig. Beide in die wonderlike dinge wat gebeur as in die dinge wat vir jou swaar is. En hoor Jesus se woord: “Hoe goeie moed!”

Gebed

Dankoffer

Jy kan jou bydrae gee met Snapscan. Ek sal dit aan die einde vir ‘n halfminuut weer wys. Die Bankbesonderhede verskyn ook vir mense wat EFT wil doen.

NGK Somerstrand

Absa Tjekrekening 01008731388

Takkode 632005

Ons luister na ‘n bydrae van die Mina’s in Egipte en daarna sing ons Vonkk 156, die bekende “It is well with my soul.”

Bydrae

Moheb en Kim Mina vertel meer van hulle bediening in Egipte.

Slotlied

Vonkk 156As vreugde my deel is, of smart my verteer

Seën

13Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sy met julle almal! (2 Kor 13:13)

En die gemeente sê: “Amen!”

[1] How to read the Bible Book by Book, 303.

Paulus

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.