Skip to main content

’n Koningin met skoonheid en moed – Ester 4 (28 Julie tot 3 Augustus)

Ester se verhaal speel af in die tyd van die Persiese koning Xerxes – of Ahasveros, soos hy in die Bybel genoem word – in die stad Susan (486-465 v.C.).  Die gebeure van die boek kan daarom geplaas word tussen die verhaal van Esra 1-6 (die terugkeer onder Serubabbel van 539 v.C. af) en Esra 7-12 (die tyd van Esra en Nehemia van 458-430 v.C.).  Susan is ook die stad wat Daniël in een van sy visioene gesien het (Dan. 8) en waarvandaan Nehemia sy werk in Jerusalem in opdrag van Artaxerxes (Artasasta – Neh. 2:1), Xerxes se seun, gaan doen.  Artaxerxes was nie Ester se eie seun nie, maar hulle moes mekaar waarskynlik wel geken het.  Só moontlik ook Nehemia en Ester.

Ester se verhaal gee vir ons ’n prentjie van die wedervaringe  van sommige van die Jode wat ná die terugkeer uit ballingskap, steeds in ander lande gebly het, in die sogenaamde diaspora.  Dit fokus op die geweldige uitdagings waaraan hulle blootgestel is in die vreemde.

Die boek word met baie humor geskrywe.  ’n Mens glimlag as jy lees dat die koning dink ’n wêreldwye bevel “dat elke man baas moet wees in sy eie huis” (1:22) sommer outomaties sal werk!  Daarmee word ook indirek gespot met die ideologie van die patriargie. Daar is ook fyn ironie.  Haman probeer eer aan homself bewys, maar bevoordeel só vir Mordegai.  Haman probeer die Jode uitwis, maar vernietig net homself en sy familie.  Haman sterf op die einste galg wat hy vir Mordegai laat bou.

Maar dit is ook ’n ontstellende boek as ’n mens ingedagte hou dat Haman ’n Amalekiet was en Mordegai ’n Benjaminiet.  Trouens, Haman kom van die nageslag van Agag (3:1), dié koning van Amalek wat deur koning Saul – uit die stam van Benjamin (Mordegai se oupagrootjie se naam was ook Kis, soos ook Saul se pa – Est. 2:5; 1 Sam 9:1-2) – aanvanklik gespaar is in oorlog, maar toe deur Samuel om die lewe gebring is (1 Sam. 15).  Die vete tussen Israel (Benjaminiete) en die Amalekiete (Agagiete) was dus baie diep en verbete.  So byna slaag die Amalekiete dus hier om die volk Israel uit te wis deur die konkelwerk van Haman!

Die diepste indruk wat die boek egter laat, is dat God op ongelooflike fyn beplande maniere verandering bewerk, selfs sonder dat sy naam enigsins eksplisiet in die boek gebruik word.  Ester se keuse as koningin sit bv. die verlossende gebeure aan die gang.  Die koning se slaaploosheid lei hom daartoe om Mordegai se heldedaad in die annale raak te lees en agter te kom dat hy hom nog nie daarvoor vereer het nie.  Ester se berekende risiko om die koning ongevraagd te nader, slaag toe hy haar te woord staan.  Daaragter sien ’n mens God se hand raak, waarmee Hy die veiligheid van sy mense regoor die wêreld waarborg, ook dié wat sukkel in Jerusalem om die geloofsgemeenskap weer op te bou.

Kleingroep byeenkoms

RUS

Deel met mekaar hoe God julle tans seën en hoe julle tot ’n seën gebruik word.  Dank die Here daarvoor in gebed.

LUISTER

Vertel vir mekaar die verhaal van Ester net soos wat julle dit onthou uit Die Storie.  Las by mekaar aan totdat julle die geheelbeeld onder die knie het.  Lees dan hoofstuk 4 – die gesprek van Mordegai en Ester wat haar oorreed om die risiko te neem om vir haar volk in die bresse te tree.

  1. Hoe sien julle God se hand raak in die verhaal?
  2. Wat leer die boek Ester julle oor God se voorsiening in die geskiedenis?
  3. Op watter maniere het jy God se getrouheid in jou lewe ervaar?
  4. Hoe kan jy ’n groter ruimte maak in jou lewe vir God se voorsiening?

LEEF

Vir wie wil die Here hê dat jy in die bresse moet tree?

Deel dit met mekaar en bid vir mekaar.

Kleingroep materiaal vir 28 Julie tot 3 Augustus 2013

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.