22-28 Julie – Terug Huis Toe
RUS
- Laat iemand bid en vir die Here vra om met julle te praat.
- Vertel vir mekaar van projekte of stokperdjies wat jy begin het, maar halfpad mee opgehou het.
HOOR
Lees Hoofstuk 19 van Die Storie (dit is die verhaal van die volk se terugkeer uit ballingskap en die begin van die herbou van die tempel – Esra 3:7-6:22
- Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die verhaal. As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels.
- Die mense spring vol energie weg en begin die tempel bou, maar later hou hulle op en begin op ander goed fokus. Natuurlik werk dit so met ons verhouding met God ook: partykeer leef ons naby aan God, maar ander kere word ons aandag afgetrek deur ander goed. Vertel vir mekaar van tye wat jou lewe saam met God vir jou baie spesiaal was.
- Wanneer hulle ’n ent gevorder het met hul bouwerk, kyk hulle wat hulle reggekry het en is baie teleurgesteld. Ten spyte van hul harde werk, is die tempel nie naastenby so pragtig soos die vorige een nie. Vertel vir mekaar van tye wat jy ook so gevoel het: dat jy jou beste gedoen het, maar die resultate was nie soos jy gehoop het nie.
- Die tempel was vir die volk ’n teken dat God by hulle is. Ons dink nie meer so oor die kerk nie – dit is nie “die huis van God” nie. God woon in ons. Maar hoekom gaan ons kerk toe? Hoekom is kerke vir ons belangrik? Vertel vir mekaar wat kerk toe gaan vir julle beteken.
LEEF
- Hoe het God vandag deur die storie met jou gepraat? Vertel vir mekaar hoe jy daarop wil reageer.
- Hoe gaan julle hierdie week ’n seën wees?
- Gaan deur jul gebedslys- is van jul gebede beantwoord? Sê dankie! Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid. Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys. Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.
esra, haggai, herbou, Huisgodsdiens, kerk, storie, teleurstelling, tempel