Die Gebed deur die Gees – Efesiërs 6:10-24

Ons leef vanuit God se kragtige liefde en genade, maar dan gebeur die lewe.  Daarom moet ons ons krag soek in die Here en sy groot mag, deur te bid deur die Gees.

[Klik “continue reading” vir die hele diens]

Inleiding

Ons sluit vanoggend ons reeks oor Efesiërs af.  Die ideaal is eintlik dat ons die hele boek lees en sien hoe die brief se argument bou, hoe elke stukkie ingebed is in die geheel.  Dis uiteraard nie prakties nie!  Die hele liturgie gaan gevolglik verskillende dele van die boek gebruik, om so ’n oorsig oor die boek te probeer gee.

Toetrede

Flam 58 Skepper Gees (staan)

Seëngroet

Ef.1:1-2

Votum

Ef. 1:3

Lofsang

Psalm 100 (staan)

Lied 431 O Gees van Vader en van Seun (staan)

Toewyding

Die Efesiër-brief begin met ’n  wonderlike lofgebed, wat deurgaans bevestig dat gelowiges deur God uitverkies is, aan God behoort – deur Christus, beseël deur die Gees.  Ek wil julle weer herinner (ons het dit ook vroeër in die reeks gesê):  die hele brief Efesiërs spel eerstens die realiteit uit van ons verlossing in Christus en bedink dan die implikasies van die verlossing vir die lewe.  Maar alles wat in die hele brief staan –  wat in ons hele lewe gebeur, kom uit hierdie realiteit:

Ef. 2:1-10

Geloofsbelydenis van Nicea

Gebed

Lied 442 Gees van God wat in my woon (sit)

Efesiërs 3:14-21

Skriflesing

Oorsig oor Efesiërs:

Efesiërs begin met ’n pastorale inleiding, lof, gebed vir gelowiges (1)

Dan volg ’n gesprek oor die eenheid van gelowiges, gebore uit God se liefde en kragtige werk (2-3)

Dit lei tot ’n oproep om te leef vanuit hierdie genadige eenheid, wat dan ook die praktiese implikasies daarvan uitgespel (4-6:9)

Aan die einde bring die skrywer sy lesers weer terug en herinner hulle aan die genade.  In die proses verpak hy die oproep van die brief volledig binne genade.

Die brief sluit dan af met pastorale woorde.

Ef. 6:10-24

Inleiding

Monkey with a tool belt – Chris Monroe

Preek

Efesiërs

En so kom hierdie kwartaal se reis met Efesiërs tot ’n einde.  Soos die gelowiges aan wie die brief gerig is, is ons ook dikwels aangegryp deur God se genade, onder die indruk van hoe groot God se krag is wat in ons werk; voel ons innerlik sterk; is ons in God se liefde gewortel en gegrondves.

Maar dan… Die stryd

En dan gebeur die lewe.  Wat netnou nog hierdie wonderlike geestelike “high” was, word ’n stryd teen bos magte en die sondige wêreld.  Jy het gedink dis ’n heerlike nagereg en dan is jy vasgevang in ’n boks.

Daardie boks neem baie vorme aan.  Soms is dit maklik om identifiseer: versoekings, sonde, aanslae, vrees en moedeloosheid.  Of om gewoon net oorweldig te voel deur die wêreld waarin ons leef.

Maar meestal is dit baie subtiel.  Sodanig dat ons dit amper nie eers sien gebeur nie.

Die Bybel beeld nie om dowe neute die Bose as aanklaer uit nie.  Geleidelik begin jy fokus op jou sondigheid, op jou onvermoë om in elke opsig getrou te wees aan God.  Dan gebeur ’n baie subtiele skuif:  jou fokus skuif weg van God, na jouself –  na jou sonde en jou worsteling met sonde.  Op die ou end sit jy vasgekeer in jou eie onvermoë, eerder as om te leef vanuit die krag van God.  Die aanklaer se stem refrein in jou gedagtes:  “Jy is nie goed genoeg nie.  Jy moet net harder probeer…”

[Eugene Peterson gee in “Practice the Resurrection” ‘n interessante oorsig oor “die liste van die duiwel” – Hoofstuk 13, pp 255-260.  Hy lees self Hoofstuk 13 van die boek hier.  Die gedeelte oor “The wiles of the devil” is vanaf 15:00 tot by 29:38.]

Toe ek ’n tiener was, het die gospel sanger Carmen ’n lied gehad (wat aansluit by C.S. Lewis se Screwtape Letters / Briewe aan Bitterals), genaamd “Revival in the Land”.  In die lied word vertel hoe Satan sy demone uitstuur om gelowiges aan te val.  Sy laaste, beste, grootste wapen:  Herinner gelowiges aan hulle verlede.  Maak hulle bewus van hul sondigheid, kla hulle aan.

En wat maak ons onder sulke aanvalle, wanneer ons vasgekeer is in die draaiorrel-speler se boks?  Eugene Peterson sê daar is twee natuurlike reaksies:

We sink into a quicksand of paranoia, live in panic, never sure of where the evil is coming from or how it will show itself, doing everything that we can to keep the evil at a distance.

Ek sou sê:    ons word oorweldig deur vrees, waar ons net wegkruip in die hoekie van die boks en sien oral aanvalle.

Of, volgens Peterson:

We join forces with demagogues, moralists and defenders of purity, we vilify, mount crusades, define ourselves by what we are against and live lives of negative spirituality.

Want as ons die fokus kan skuif op ánder, kan sien dat ánder slegter is as ons, dan kan ons beter voel oor onsself.

Peterson voeg by dat daar eintlik nog ’n moontlike reaksie is, waarskynlik meeste van ons sê reaksie:  ons probeer maar net aangaan, in ’n tipe slap oorgerustheid (“flaccid complacency”), ’n argelose louheid wat vir niemand aanstoot gee nie, soos die kerk van Laodicea in Openbaring.

Die feit is, die gelowige lewe is nie net om altyd gelukkig te huppel deur veldblommetjies soos in ’n Disney storie nie.  Dit is ’n stryd.  Daar is aanvalle.

Daarom:  Soek julle krag in die Here

En DAAROM, sê die Efesiër-brief, moet ons ons krag in die Here soek, sie wapenrusting aantrek.

Die brief begin met hierdie wonderlike versekering van God se liefde en genade:  ons is deur genade gered, deur geloof.  Dan word die implikasies van hierdie lewe uit God se liefde en genade uitgespel.  Maar die skrywer weet mense kan moedeloos raak, hulle fokus verloor.  Daarom weer ons terugbring, gehelp om weer net ons fokus regte kry, om seker te maak ons kyk op die regte plek: die Here en sy groot mag.

Ons moet dit so baie hoor! Al hoor ons dit oor en oor, ons hoor dit eintlik nog steeds nie!  Ons bly soos klein kindertjies:  “Ek sal self”.

Wanneer die brief dan verder praat die wapenrusting, dan dink ons al weer:  “A-ha!  Hier is iets wat ek kan doen!  Wapens opneem!  God gee wapens sodat ék kan fight!”

Maar kyk gou vinnig na die wapens:  die wapens DOEN niks nie.  Die wapens is eintlik net ’n metafoor wat uitspel waarin ons God se krag sien:

Waarheid:  Dis die evangelie van Jesus Christus, wie gesê het “EK is die … waarheid en die weg en die lewe” (Joh. 14:6).  Die gordel van waarheid beteken dat ons omgord is deur die evangelie van Jesus.

Vryspraak: Die OAV vertaal dit as “geregtigheid”.  Dis nie deugde of dade nie.  Die borsharnas is ons status in Christus:  vrygemaak van sonde, geregverdig voor God

Vrede:  Die volgende een het ek self lank misgekyk.  NT Wright wys daarop dat dit nie die bereidheid is wat deel is van die wapenrusting nie, maar die evangelie.  Heel spesifiek die evangelie van vrede – vrede tussen ons en God, vrede tussen ons onderling.

Die skild is geloof, gewoon die oortuiging dat ons aan God behoort, dat ons geregverdig is deur Christus, deur genade, nie deur ons eie goeie dade nie.

Nou kan ons al sien wat die wapenrusting is!

Verlossing as helm.

Die enigste een dalk offensief kan lyk, is die swaard.  Weereens verstaan ons dit dikwels verkeerd. Ons dink die swaard is die woord van God is die Bybel.  Maar die swaard is nie die Bybel nie!  Eerstens kan hierdie spesifieke vers nie na die Bybel as woord van God verwys nie, omdat dit nie bestaan het soos dit nou ken toe die brief geskryf is nie! Maar kyk weer na die teks:  “vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God.”  Die swaard is die Gees!  Dis nie om teksverse soos wapens teen die Bose te swaai nie (hoewel dit natuurlik ook kan gebeur – verwys Jesus se versoeking in die woestyn), maar die werk van die Gees, wat ons herinner aan ons identiteit in Christus.

Die hele wapenrusting is iets waarmee ons geklee is.  Dis ons identiteit, wie ons is.  GK Chesterton het gepraat van twee moontlikhede:  Een moontlikheid is soos skaaldiere (crustaceans) het ‘n skelet aan die buitekant.   Hulle is solied aan die buitekant, maar sag binne.  Of die ander moontlikheid is soos gewerweldes (vertebrate / vertebrae’s), met die skelet aan die binnekant.  Hulle is sag en kwesbaar aan die buitekant, maar solied aan die binnekant.

Die wapenrusting is die beliggaming van ons lewe in God:  dat ons geregverdig is, vrede, geloof, verlossing en die Gees.  Sodat, wanneer die pyle van die aanklaer kom (wat vir ons wil kom vertel ons is nie goed genoeg vir God of sterk genoeg vir die lewe se uitdagings nie), dat het ons hierdie bedekking oor ons wat ons beskerm.

Die wapenrusting is nie wat ons doen nie, maar wie ons IS. Dit IS ons s’n in Jesus Christus. Uit genade.  Deur geloof.

Hoe? Gebed deur die Gees

Hoe ons geklee bly – kom ons sê ons wapenrusting in standhou, poleer (en julle verstaan dat die metafoor hier bietjie uitmekaarval, want ons wapenrusting is ons wapenrusting!  Die Dortse Leerreëls praat van die volharding van gelowiges:  as ons aan God behoort, gaan ons nie skielik ons wapenrusting – ons verlossing – verloor nie!), hoe ons leef vanuit ons identiteit as verlostes, hoe ons dit versterk in ons eie verstaan van onsself, is deur gebed.

En dis wat Efesiërs so aangrypend maak.  Weer  Peterson:

The message opens with prayer that bursts off the page like an artesian well (Eph 1:1-23).  Then the prayer goes underground, prayers like a subterranean river deep within the church keeping the aquifers filled.  Midway, the waters again come briefly to the surface (3:14-21).  But all through the letter we are aware that all the nouns and verbs, all the syntax and all the parts of speech, have been watered by artesian wells of prayer… All the epistle has to say about faith and life is wrapped up in the form of prayer.

Dan is gebed nie net lysies van versoeke of goed wat ons opsê nie.  Ek wil weer die beeld gebruik van vroeër in die reeks, van herlaaibare flitse.  Jy prop dit in, laai dit en dan het dit krag waarmee dit heeldag skyn.  Gebed is om ingeprop te wees by die Gees, om gelaai word, sodat daardie selfde gebed die krag is waaruit ons heeldag leef, die taal onderliggend aan alles wat ons sê, die krag onderliggend aan alles wat ons doen.

Dit is hoe ons die wapenrusting aantrek.

Goed, laat ek dan nou maar hier sê, dit is inderdaad harde werk.  Gebed is NIE net ’n paar oomblikke van slaperig bid voor jy aan die slaap raak, of skietgebedjies in die kar op pad na werk of selfs om ’n lang lys van behoeftes in voorbidding na God bring nie.  Dis beter as niks!  Op dieselfde manier wat ‘n stuk muf brood beter is as geen kos.  Maar dis nie naastenby so goed soos genoeg gesonde kos nie.

Gebed is om op God te fokus.  Bybel te lees met ’n gesindheid van luister, wag.  Stil te wees, te luister.  Inderdaad ook lyste en voorbidding, maar óók danksegging vir antwoorde.  Gebed is om te soek na God se leiding, God se wil.

Dis veelseggend dat die skrywer van Efesiërs self ook vra:  bid vir my.  Want deur vir mekaar te bid, deur te erken dat ons gebed nodig het, sê ons:  weet jy, ek kan nie in my eie krag nie.  Bid vir my, sodat ek optree uit God se krag.

Jou gereedskapgordel is jou identiteit in Christus.  Geen pyle kan jou tref, geen boks kan jou inhou nie, want jy is in Christus afgesonder vir God, uitverkies, geheilig.

Ek wil jou uitnooi om ’n lewe van gebed te leef,  om God se wil te soek.  Hou aan bid.  Leer bid.  Laat dit die krag wees wat elke oomblik van jou lewe vul.

Gebed

Dankoffer

Slotsang

L513 Soek in God jou sterkte (staan)

Seën

Vrede vir julle, en liefde en geloof, van God die Vader en die Here Jesus Christus deur die kragtige werking van die Heilige Gees!  Die genade sal by almal wees wat vir ons Here Jesus Christus met onverganklike liefde liefhet.

Respons

Lied 312

Save

Save

Efesiërs 6, Kragtig, Rethie van Niekerk, Wapenrusting

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.