Die krag van gebed – Pinkster 2016
Pinkster in New York
(Laai pdf hier af: Die krag van gebed - sewe Psalms vir Pinkster.pdf)
Die 10 dae tussen Hemelvaart en Pinksterdag was nog altyd ’n baie besondere tyd in die NG Kerk familie. Vir meer as 150 jaar al word die tyd aan Pinksterbidure afgestaan, ’n gebruik wat reg deur die kerk gehandhaaf word. Die fokus is op die werk van die Heilige Gees, die nuwe lewe wat Hy bring, en die krag wat Hy gee sodat ons by God se werk in die lewe kan aansluit.
Die stimulus daarvoor begin interessant genoeg in ’n North Dutch Reformed kerk in Fulton straat, New York in Amerika, en ironies genoeg in 1857, presies in dieselfde jaar van die gewraakte besluit “ten gevolge van de zwakheid van sommige” wat hier by ons tot aparte kerkvorming gelei het.
Amerika was in ‘n toestand van sosiale, morele, politieke, geestelike en ekonomiese verval. Op 14 Oktober dié jaar het die bankstelsel van die VSA ineengestort. Die spoorweë het bankrot gespeel. Fabrieke het toegemaak. Die onrus oor die nagevolge slawerny was aan die oplaai. Burgeroorlog het gedreig. Mense was radeloos en sonder hoop. Die toekoms was donker.
Jeremiah Lanphier, ‘n stadsendeling van die gemeente in Fultonstraat, was baie bekommerd oor die impak van die landsituasie op die geestelike toestand van die mense van New York. Hy besluit toe om elke week ‘n middaguur-gebedsbyeenkoms tussen 12:00 en 13:00 te hou. Hy het pamflette laat druk om mense uit te nooi vir die eerste byeenkoms op 23 September 1857. Dit sou plaasvind in die konsistorie van die kerk in Fultonstraat.
Slegs 6 mense het die eerste week se byeenkoms bygewoon. Die tweede week het die bidders verdriedubbel. 20 mense het kom bid. Die derde week was daar 40. Die vierde week was daar 100. Binne enkele weke was die kerkgebou vol en het mense van toe af daagliks bymekaargekom om tydens middagete te bid. Mettertyd is daar nog en nog gebedsbyeenkomste gereël. By sommige was daar tot 5000 teenwoordig. Voor die einde van 1857 was daar honderde gebedsbyeenkomste in verskillende areas en het dit daagliks gegroei. Dit is beleef as ‘n herlewende werk van God.
Duisende mense het in dié tyd tot bekering gekom. Dit het nie net by New York gebly nie, maar oor die hele Amerika uitgebrei. Die teenwoordigheid van God was só tasbaar dat van die bemanningslede van ‘n skip wat New York se hawe binnegekom het, vertel het dat hulle gevoel het hoe hulle ‘n gebied binnevaar waar daar ‘n Goddelike teenwoordigheid was. Op een van die skepe het ‘n kaptein en 30 bemanningslede blykbaar tot bekering gekom nog voordat die skip in die hawe vasgemeer het.
Pinkster in Worcester
Gou het dié herlewing uitgebrei na Brittanje, Duitsland, Indië, Indonesië en Swede. Twee jaar later, in 1860, het die herlewing ook na Suid–Afrika gekom. Dr. Andrew Murray se pa, ds. Andrew Murray van Graaff-Reinet het toe reeds vir 36 jaar lank al elke Vrydagaand vir herlewing gebid. ‘n Boekie met die titel De kracht des Gebeds is destyds versprei en dit het gehelp om ‘n gees van gebed in baie gemeentes te laat posvat.
In April 1860 het die NG Kerk ‘n groot konferensie in Worcester gehou. 374 Predikante en gemeenteleiers het dit bygewoon. Die verhale van die herlewing in die VSA is hier vertel. Op ‘n stadium het dr. Andrew Murray opgestaan om te bid. Ooggetuies sê dit was die begin van ‘n magtige werk van die Here, want daarná het berigte van Bolandse dorpe begin instroom van hoe die Here werk.
Herlewing het ook in Worcester uitgebreek waar dr. Andrew Murray predikant was. Een aand was 60 jongmense bymekaar vir gebed. ‘n Vyftienjarige slawemeisie het opgestaan en net gesê: “O, hoe lief het ek Jesus.” Skielik het almal die geluid van ‘n veraf gedreun gehoor. Dit het nadergekom en die hele gebou het fisies geskud. Almal het gelyktydig begin bid. God se teenwoordigheid het die plek tasbaar gevul. Elkeen was ontsettend bewus van sy/haar sondelas en almal het na die Here geroep.
Niemand het van die predikant notisie geneem toe hy hulle wou stilmaak nie. Almal het gebid en wou net met alle mag van die ondraagbare las van sonde ontslae raak. Oorvol bidure het aand vir aand plaasgevind en dikwels tot in die vroeë oggendure aangehou. Dit was duidelik dat die Here se hand op Worcester was. Die hele gemeenskap het verander.
En so het die herlewing uitgebrei na Calvinia, Swellendam, Heidelberg en uiteindelik ook na Paarl. In die Paarl-Franschoek vallei was daar ‘n magtige beweging van die Heilige Gees. Iemand het gesê daar was kwalik iemand vanaf Franschoek tot Wellington wat nie aangeraak was nie.
Dit was juis in die Paarl Strooidakkerk, waar die gebruik in die NG Kerk om die 10 aande tussen hemelvaartdag en Pinkstersondag, gebedsbyeenkomste te hou, ontstaan het. Want hier het ds G.W.A. van der Lingen die Paarlse gemeente opgeroep tot 10 dae van gebed vóór Pinkstersondag 1861.
Die seën en vrug hiervan was só omvangryk dat dit rimpelings regoor SA gemaak het. Sóveel so dat die NG Kerk sinode in 1867 besluit het om alle gemeentes aan te moedig om elke jaar die 10 dae voor Pinkstersondag in gebedsbyeenkomste bymekaar te kom.
Die res van die verhaal is geskiedenis … soos elke NG Kerk lidmaat in ons vier kerke van kan getuig.
Pinkster in Handelinge
Hierdie beweging in Suid-Afrika gaan natuurlik ver terug, na die eerste ervaring van Pinkster, soos ons dit in Handelinge 1-2 aantref.
Ons lees in Handelinge 1 dat Jesus in die tyd tussen sy opstanding en sy Hemelvaart baie tyd met die dissipels gespandeer het. Hy het met vele tekens getoon dat Hy werklik leef. Hy het oor die sake van die koninkryk van God met hulle gepraat. Die belangrikste was egter dat Hy deur die Heilige Gees vir hulle opdrag gegee het om nie uit Jerusalem weg te gaan nie, maar te bly wag op die Vader se belofte wat hulle van Hom gehoor het.
Hulle sou oor nie baie dae nie deur die Heilige Gees gedoop word, en krag ontvang om Jesus se getuies te wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria, en tot aan die einde van die aarde.
En dit is presies wat hulle toe gaan doen het. Toe Jesus met sy Hemelvaart van hulle weggeneem is, het hulle teruggekeer na Jerusalem – ’n Sabbatsreis ver van die Olyfberg af (ongeveer 880 meter, die afstand wat die Jode op die Sabbat mag afgelê het [Jos. 3:4; Num. 35:5]) – en in die bovertrek waar hulle gereeld was, bymekaargekom.
Daar het hulle almal eensgesind in gebed volhard saam met die vroue, waaronder Maria, Jesus se ma, sowel as saam met Jesus se broers.
Benewens een groter verkiesingsvergadering – daar was ongeveer 120 mense bymekaar – waar Mattias in die plek van Judas as apostel (apostels en dissipels word in hierdie hoofstuk uitruilbaar gebruik) gekies is, is die enigste ander aktiwiteit waarvan ons lees, dat hulle eensgesind in gebed volhard het.
Sewe Psalms vir Pinkstertyd
Wat sou hulle as gebede gebruik het?
Uiteraard sou hulle waarskynlik gebede gebid het wat die Here Jesus hulle geleer het, bv. die Ons Vader gebed wat Matteus (hfst. 6) en Lukas (hfst. 11) later in hulle evangelies sou opneem en waarskynlik ook spontane gebede, soos Jesus die Samaritaanse vrou geleer het (Joh. 4).
Die moontlikheid is egter sterk dat hulle in dié week tussen Hemelvaart en Pinkster sou aangesluit het by die gebruik van die Fees van die weke of “sabbatsweek” wat in dié tyd gehou is. Ons lees daarvan in Eks. 34:22, Deut. 16:10,16; Num. 28:26; Lev. 23:15. Dit is gehou sewe weke ná die Paasfees, wat gelei het daartoe dat die naam van “Pinkster” (die woord beteken “vyftig”) mettertyd aan dié fees gekoppel is.
Een van die voorskrifte vir dié tyd was die lees en bid van sewe “sabbatsweek” Psalms, een vir elke dag van die “Fees van die weke”, deur baie genoem: Shir Shel Yom (“lied vir die dag”). In die Griekse vertaling van die Psalms in die LXX, die OT Bybel wat die vroeë kerk gebruik het, is daar juis sewe Psalms wat in die opskrifte só aangedui word, en in volgorde vir die “sabbatsweek” of “Fees van die weke” voorgeskryf is.
Dit is die volgende Psalms:
- Psalm 24 – vir Sondag;
- Psalm 48 – vir Maandag;
- Psalm 82 – vir Dinsdag;
- Psalm 94 – vir Woensdag;
- Psalm 81 – vir Donderdag;
- Psalm 93 – vir Vrydag;
- Psalm 92 – vir Saterdag, die Sabbatdag.
Die kanse is dus goed dat die dissipelkring dié sewe Psalms in dié tyd tussen Hemelvaart en Pinkster gebruik het in hulle gebede. En dit is heel gepas, omdat die Psalms onder andere die volgende betekenis vir hulle sou gehad het:
- Psalm 24 – om in God se teenwoordigheid tot rus te kom;
- Psalm 48 – om van God se leiding bewus te word;
- Psalm 82 – om van God se handhawing van die reg in die hemel bewus te word;
- Psalm 94 – om van God se handhawing van die reg op die aarde bewus te word;
- Psalm 81 – om van God se oorvloedige sorg bewus te word;
- Psalm 93 – om van God se onwankelbare koningskap bewus te word;
- Psalm 92 – om van God se liefde en trou bewus te word.
Pinkster 2016 – die krag van gebed
Ek is oortuig dat ons ‘n nuwe ervaring van die krag van gebed hierdie Pinkster gaan hê. Ons kerk het in die negentiende eeu ‘n ongekende herlewing beleef ná dekades van gebedsvoorbereiding. Toe die kerk in groot getalle begin bid het, het dit nie net nuwe lewe gebring in gemeentes nie, die genade van God het oor die grense van ons gemeentes ingevloei regdeur die hele kontinent.
Ek was onlangs op Wellington en is net weer blootgestel aan die omvattende visie en geestelike krag wat uit die bediening van Andrew Murray voortgespruit het. Hierdie gebedsreus het nie net miljoene mense met sy meer as 200 boeke geïnspireer die afgelope twee eeue nie, maar hy het onvermoeid gewerk aan die opheffing van armoede en die opleiding van vroue. Sy visie vir sending, gewortel in sy vertroue in die voorsienigheid van God, het gelei daartoe dat meer as 500 sendelinge opgelei en uitgestuur is tydens sy bediening! Sy nalatenskap is dat tientalle kerke in Afrika geplant is, talle skole tot stand gekom het, o.a. Grey Kollege in Bloemfontein, en verskeie kolleges vir onderwys en maatskaplike werk gestig is. Kragtig!
Ons fokus daarom op gebed hierdie Pinkster 2016. Dieselfde Here wat Andrew Murray geïnspireer en gestuur het, is ook aan die werk in ons lewens. Om ons te help, gebruik ek die sewe Psalms wat met die sabbatsweek geassosieer is, die tyd voor die eerste Pinksteruitstorting. Ek gee dié boekie uit sodat jy dié Psalms kan voorberei deur dit vooraf te lees en oordink aan die hand van die paar opmerkings wat ek daaroor maak. Daar is ook ‘n kort boodskap wat die essensie van die Psalm saamvat.
By elke Pinksterdiens gaan ek weereens die Psalm lees en ‘n kort boodskap daaroor lewer. Daarna gaan ons in gebed verkeer, soos die dissipels, meesal persoonlik, maar ook gesamentlik, sodat ons die krag van gebed eerstehands kan ervaar en soos die dissipels die wonder van die belewenis van die krag van die Heilige Gees kan ervaar.
Met hemelvaart – 5 Mei – gaan ons ook ‘n Psalm gebruik, een wat met hemelvaart verbind word, Psalm 47.
Materiaal vir kleingroepe
Kleingroepe kan in die week van 2 tot 8 Mei met die bekende metodiek Psalm 24 gebruik, en die week van 9 tot 15 Mei Psalm 92. Dit is nou benewens die boekie Kragtig wat ons gebruik vir die res van die kwartaal en fokus op die vervulling met die Heilige Gees volgens die brief aan die Efesiërs. Dit is by die kerkkantoor beskikbaar.
Julle ken die fases van die Seisoen van Luister se luistersiklus al goed. Ons Ontvang eers die rus wat die Here gee veral deur die eerste vers in die Psalm te oordink, soos telkens in dié boekie aangehaal word. Dan Ontgin ons die betekenis van die hele teks deur die hele Psalm in konteks te lees en met mekaar te deel wat ons daarin tref en veral wat ons van die krag van gebed daarin leer. Ons sluit af met die Ontplooi deel waar ons nadink oor wat die Here nou vir ons gee, belowe of van ons verwag, en antwoord Hom in gebed en met gehoorsaamheid.
jessica pienaar
Dankie vir hierdie inligting wat inspireer om saam te bid
Bybelskool » Ons het herlewing nodig
[…] Vandaar het dit gesprei na Brittanje, Europa, Indonesië en uiteindelik na Suid-Afrika. Ons Pinksterbidure is die getuienis […]
Pinkster: Om te wag en te bid – Dink Jeug
[…] https://ngkerksomerstrand.co.za/die-krag-van-gebed-pinkster-2016/ […]