Jesaja 2:1-5 – God gee lig vir die lewe deur sy mense – kleingroepmateriaal 24 Nov – 1 Des 2013
Omgee gesprekke
Gee terugvoer oor julle beoefening van dankbaarheid, soos julle die vorige keer afgespreek het. Wat het gebeur? Wat het dit vir jou beteken?
Bybel lees
Lees Jesaja 2:1-5. Wat tref jou in dié gedeelte? Gee mekaar ruim tyd om te deel wat die Here deur die gedeelte vir julle persoonlik sê.
Dink nou na oor die volgende opmerkings en vrae en deel met mekaar julle gedagtes daaroor.
In hierdie teks fokus Jesaja ons aandag op die mislukte roeping van Israel om in ’n lewende verhouding met God te leef as pelgrimsbestemming vir die nasies. Hulle keuse om eerder alliansie-politiek te bedryf teen die groot wêreldmoondhede as om God se raad deur sy profeet te volg (Jes. 7), het onvermydelik gelei tot Sy oordeel oor hulle deur die einste wêreldmoondhede, eers deur die Assiriërs (7de eeu v C), en later deur Babilon (6de eeu v C).
Maar die droom bly – dat God se mense ’n punt van kontak tussen mense van die nasies en God sal wees. Hoekom? Want God het gekies om deur sy mense ’n lig vir die wêreld te wees. Hy kies dat mense sy wil sal leer ken deur die lewens van sy mense.
In ’n sekere sin is dit al wat ’n kerk ooit mag wees, ’n plek waar God se lig so helder skyn dat dit lewe gee vir ander mense. Daarom kan die kerk nooit ’n politieke instrument wees nie. Hoe ’n kerk lewe, sal politieke konsekwensies hê – om op te kom vir die reg en behoeftes van verdruktes en behoeftiges – maar die oomblik as die kerk ’n te onafhanklike rolspeler in die magstryd tussen politieke faksies word, begin hy sy primêre funksie verloor. En dit is om ’n kontakpunt tussen God en mense te wees. Eweneens geld dit die ekonomie.
- Wat beteken dié teks vir ons kerk, gemeente en ons gemeenskap vandag? Hoe kan ons beter daarin slaag om ’n kontakpunt tussen God en die gemeenskap rondom ons wees? Dink veral aan die mense in ons buurt, in die skole, in die werkplek en ander plekke waar ons skouers skuur met mense van ander nasionaliteite en geloofsoortuigings.
- Wat vra dit van julle groep – en wat vra dit van jou persoonlik? Hoe kan jy sorg dat jou huis ook ’n ontmoetingsplek vir God en die gemeenskap kan wees?
Gewoontes en gebruike
Dink na oor die Advent tyd tot en met Kersfees. Maak miskien ’n adventskrans om as gesin julle aan die hoop, vreugde, vrede en liefde van dié tyd te herinner. Reik uit na mense wat eensaam is. Sorg dat jy tyd neem om goed na te dink oor die afgelope jaar en God se hand in jou lewe raak te sien en te vier. Beplan jou prioriteite vir volgende jaar.
Geseën om te seën
Die Here seën ons om te seën. Dink oor die afgelope jaar. Hoe het die Here julle geseën? Sê vir Hom dankie daarvoor. Bid vir mekaar dat dié seën tot ’n seën vir ander kan wees.
Kleingroepmateriaal vir 2014. Ons lees die evangelie van Matteus in die kleingroepe in die 1ste kwartaal volgende jaar. Kleingroepmateriaal sal weer vir die eerste week van die skoolkwartaal beskikbaar wees (Sondag 12 Januarie).