Skip to main content

Kolossense 1:11-20 – kleingroepmateriaal vir 17-23 November 2013

Omgee gesprekke

Gee terugvoer oor julle beoefening van bemoediging, soos julle die vorige keer afgespreek het.  Wat het gebeur?  Wat het dit vir jou beteken?

Bybel lees

‘’n Paar opmerkings vooraf oor die brief aan die Kolossense

Die gemeente van Kolosse is waarskynlik nie deur Paulus gestig nie (Kol 2:1), hoewel hy op ‘n keer deur die landstreek van Frigië, waar hulle geleë was, gereis het (Hand 16:6).  Hulle was egter duidelik sterk onder sy invloed.  Epafras wat van Kolosse af was – en ook Paulus se medewerker – was moontlik die skakel tussen hulle, en ‘n moontlike stigter van die gemeente (Kol 1:7; 4:12).  Die stad was geleë naby Efese in Klein-Asië (160 km na die ooste), in die suid-weste van wat vandag as Turkye bekend staan.  Hulle was ook nou verbind aan die naburige gemeentes in Laodisea en Hiërapolis (4:13,15).

Die brief is uit die gevangenis geskryf – soos ook Filippense, Efesiërs en Filemon – en soos met die ander drie briewe word die brief met Paulus se Romeinse gevangenskap verbind (Kol 4:3,10,18).  Die brief was dus waarskynlik in die vroeë sestigerjare n.C. geskrywe, net voor ‘n aardbewing die stad getref het in 61 n.C. en volgens historici waarskynlik die plek verwoes het.  Vandag is daar net ruïnes oor.

Lees Kolossense 1:11-20.  Wat tref jou in dié gedeelte? Gee mekaar ruim tyd om te deel wat die Here deur die gedeelte vir julle persoonlik sê.

Dink nou na oor die volgende opmerkings en vrae en deel met mekaar julle gedagtes daaroor.

  1. 1.       Paulus begin sy brief aan die gemeente in Kolosse deur te vertel hoe hy God oor dié gemeente dank.  Waarvoor is jy dankbaar in ons gemeente?  Waarvoor is jy dankbaar in die kleingroep?  Waarvoor is jy dankbaar in jou eie lewe?
  2. Dit is duidelik dat Paulus hierdie brief skryf om sekere idees en praktyke, wat begin posvat het in die gemeente, se invloed teë te werk – dinge soos ’n oormatige klem op die bose magte of die aanbidding van engele, wettiese reëls soos dat jy sekere dinge nie mag eet of drink nie, of die Sabbatdag moet hou, en die ontkenning van liggaamlike behoeftes deur asketies te lewe.  Sien jy enigiets hiervan raak in ons gemeente of in jou leefwêreld?  Watter ander idees en praktyke neem mense se fokus weg van Christus?  Hoe moet ‘n mens daarop reageer?
  3. 3.       Die Westerse wêreld is bekend vir sy sinisme. Ons is skepties, en glo en vertrou min dinge buite onsself. Ons is daarop ingestel om te bevraagteken. Ons werk net met wat ons kan sien, tas en ondersoek.  Ons kan baie leer by Paulus se fokus op die wonder van die Here Jesus Christus. Dit sit die wonder vir God weer terug in ons lewe.  Watter aspekte van die beskrywing van Christus in vers 15-20 raak jou die meeste?  Hoekom?

Gewoontes en gebruike

Een van die wonderlikste gewoontes is om met ’n dankbare gesindheid te lewe.  Doen hierdie week moeite om die dag te begin deur terug te dink oor die afgelope 24 uur.  Dink veral na oor dié dinge waarvoor en waaroor jy dankbaar is.  Skryf dit neer en herhaal dit nog een keer deur die dag.  Deel met mekaar volgende week die beste drie dinge wat óf met jou gebeur het óf iets wat met iemand anders gebeur het en wat jou dankbaar gestem het.  Dan kan julle die Here saam daarvoor dank volgende week.

Geseën om te seën

Die Here seën ons om te seën.  Bid vir mekaar.  Volgende week Jesaja 2:1-5 (1ste advent).

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.