• Home
  • Preke
  • Ander predikers
  • Preek 8 Augustus 2010: Om te bid in ‘n wêreld waar ander godsdienste dreig om die oorhand te kry

Preek 8 Augustus 2010: Om te bid in ‘n wêreld waar ander godsdienste dreig om die oorhand te kry

 Om te bid in ‘n wêreld waar ander godsdienste dreig om die oorhand te kry

8 Augustus 2010

Teks:  1 Konings 18:1-2, 16-21, 30-38

 

1.       Agab

Agab en Isebel.  Die koning en die konigin van Israel.  Verteenwoordigend van wat sleg kan wees in magtige regeerders.  Ons onthou die baie bekende verhaal van Nabot se wingerd.  Dit was aangrensend aan die paleis en die koning wou dit vir ‘n kruietuin gebruik.  Toe Nabot dit nie aan Agab wou verkoop nie, en Agab koppig op sy bed gaan lê en na die muur staar, toe kom Isebel met ‘n listige plan.  Sy beraam ‘n vroom komplot – sy koop twee mans om om te sê dat Nabot ‘n vloek teen God en die koning uitgespreek het – wat daartoe lei dat hy gestenig word.  Toe kon die koning op sy grond beslag lê – wat Agab dan rustig doen!

In die laaste verse van Hoofstuk 16 ontmoet ons Agab vir die eerste keer toe hy sy pa, Omri, as koning van Israel opvolg.  Hy het gedoen wat verkeerd was in die Here se oë … hy het meer gedoen om die Here die God van Israel uit te tart as al die konings van Israel voor hom (1 Kon 16:30, 33). 

2.       Elia

In hierdie tyd van die regering van koning Agab was daar ‘n man met die naam Elia wat net mooi die teenoorgestelde van koning Agab was – hy was Elia.  In sy naam al sit die boodskap wat hy aan Agab en die volk bring. Elia beteken Jahwe is God.  Hy het die Here geken, die Here het met hom gepraat en hy het gesê wat die Here vir hom gesê het.  So gaan sê hy vir Agab dat dit vir drie jaar nie sou reën nie, behalwe as hy, Elia, so sou sê.

Maar as hy hierdie boodskap van God aan die koning gebring het, dan moet hy vlug, verdwyn.  Want hy word nou ‘n vyand van die staat.  Wat hy voorspel, gaan die ekonomie knou.  Hy gaan kruip dan anderkant die Jordaanrivier weg vir ongeveer drie jaar.  In hierdie tyd sien ons hoe die profeet leef.   Hoe die Here vir hom sorg.  Daar by die Kritspruit bring die kraaie vir hom brood en vleis.  Hy doen goed aan ander.  Die meel in die kruik en die olie in die kan van die heidense vrou in Sarfat raak nie op nie, as teken dat die Here sorg, nie net vir Elia nie, maar ook vir hierdie vrou en haar huisgesin.   As die vrou se seuntjie sterf, bid hy tot die Here, en die kind word uit die dood teruggebring, weereens as teken aan haar.  Hy ken die Here se wil.  Hy hoor die Here se stem.

3.       Elia, Agab en die volk

Maar dan kry hy die moeilike opdrag:  Gaan na Agab toe …  Dit moes moed gekos het.  Obadja, die paleisopsigter met wie Elia eerste praat en stuur om die koning te gaan sê hy, Elia, is daar, vrees vir sy lewe.  As die koning dan uiteindelik by Elia kom, verkondig Elia vreesloos die waarheid:  Dit is nie ek wat die dood oor Israel bring nie, maar jy en jou familie.  Julle het die gebooie van die Here verontagsaam en die Baäls gedien …

Elia konfronteer vir Agab met die vraag oor wie nou eintlik die God van Israel is.  Hy konfronteer nie net die koning nie, maar die hele volk:  Elia het voor die hele volk gaan staan en gesê:  Hoe lank hou julle aan met hink op twee gedagtes?  As die Here God is, volg Hóm; maar as dit Baäl is, volg hóm (1 Kon 18:21).

Hy stel die koning en die volk voor ’n ondubbelsinnige keuse, Jahwe of die afgod, Baäl.  En dan volg die vertelling van die vuur uit die hemel wat die offer verbrand, as teken aan die hele volk dat Jahwe God is en nie Baäl nie.

4.       Elia, Agab en ons

Hoe resoneer hierdie verhaal met ons en ons situasie en waartoe die Here ons roep?

In Die Burger van 31 Julie skryf Dirkie Smit in die rubriek Geestelike Waardes, treffend hieroor.  Hy praat van … speaking truth to power, die moed om te sê wat gesê móét word, in die aangesig van invloed en mag, ook al verg dit ’n prys. Hy sê dis die taak van koerante, denkende mense, die openbare mening, maar ook (en veral) ook van kerke.  Die kerk ken dié motief as sy profetiese roeping. Soos profete vrymoedig getuig teenoor vors en volk, só bly geld die roeping deur die eeue om nie te swyg oor onreg en geweld, wat boonop valslik goedgepraat word nie. In kerke word gepleit dat gelowiges hul profetiese taak tog nie sal versaak nie, maar die waarheid openlik en met durf sal praat waar nodig, ongeag.

Hy bring dit verder treffend in verband met gemeentes wat weekliks in die erediens hulle geloof bely.  Hy sê:  Trouens, dié oortuiging weerklink weekliks wêreldwyd as gemeentes hul geloof bely, met die kerk van die eeue, in hóm “wat gely het onder Pontius Pilatus“ – ter herinnering dat hulle navolgers is van hom wat voor Pilatus die goeie getuienis afgelê het (1 Tim 6:13), al moes hy die prys betaal. In die vroeë kerk was dié verwysing na Pilatus van groot belang. Ignatius van Antiochië, op weg na sy marteldood in 115 n.C., bemoedig lesers só. Eweneens Justinus die Martelaar rondom 165 n.C., wat sê die duiwels sidder as hulle die name van Jesus en Pilatus só in een asem hoor! Pilatus, simbool van die Romeinse Ryk, staan vir politieke magsmisbruik, regsisteme in diens van onreg, vir kultuur, kennis en openbare mening wat sáámspan in korrupsie. Jesus staan vir waarheid wat dié onheil ontmasker – al vra dit lyding.

Ons moet die onreg, mense wat hulle eie belang en voordeel soek, magtige mense wat magteloses uitbuit, natuurlik nie net op die politieke terrein te gaan soek nie.  ‘n Mens kry hulle oral, op elke terrein van die lewe, in die kerk, in die gemeente, in die handel, by die werk, oral.  Elke terrein van die lewe is vol afknou, misbruik, intimidasie en geweld. Wie van ons is volkome vry daarvan?

Verstaan u die belang van die profetiese taak van die kerk, en dit beteken van my en van jou?  En die voorbeeld van Elia is dat die geloofwaardigheid van ons profetiese stem lê in die opregtheid van ons verhouding met die Here.  Om een ding te getuig en ‘n ander te doen is geen profetiese stem nie.  Dit maak trouens die profetiese stem van die kerk, van die gelowiges belaglik.

Dirkie Smit sluit sy rubriek af met hierdie woorde:  In dié onopsigtelike oomblikke van elke dag bly ons geroep om die waarheid te praat, óngeag. Die tragiek is dat ons vele redes vind om dit nié te doen nie – selfbelang, lojaliteit, vrees. Ons volg eerder Pilatus! Só word ook koerante, kenners, ja, kerke diensbaar aan, déél van dié magtiges. Vind maniere om ons hande in onskuld te was. Weet (glo) nie wat om te doen nie. Werk (glo) eerder van binne af. Beoefen (glo) lojale verset – met baie lojaal en weinig verset. Dié dat vandag se duiwels nie wil sidder nie. In stede van bely wonder ons hande-wringend, soos Pilatus, wat is waarheid? Asof ons omgee.

Dat die profetiese taak van die kerk en van elke gelowige nie maklik is nie,  sien ons in 1 Konings 19 waar Elia so bang vir Isebel word dat hy op die vlug slaan en uitgeput onder ‘n besembos neerval met die woorde:  Nou is dit genoeg, Here!  Net om daar te ontdek dat die Here hom nuwe krag kan gee, en ‘n nuwe opdrag …

Amen

 

 

     

Trackback from your site.

Leave a comment