Skip to main content

Tag: Bybel

Kolossense 3:12-17 – Die Bybel is ‘n huis om in te woon – Son 7 Feb 2010

Verwelkoming

  • Vraelys – PowerPoint twee slides: Waar die skakel is en waarheen die skakel jou neem.
  • Simpatie – Ons innige simpatie aan Gerrit Venter, kinders en familie met die heengaan van Rita. Ons innige meegevoel ook aan Louis Marx, kinders en familie met die heengaan van Elizabeth. Ons bid vir julle die sterkte van die Here toe.

Toetrede

Lied 154 “Kom nou tesaam, laat ons vergader, één as sy kerk, één in sy Naam.” (gemeente vers 1 en 3, koor vers 2) sit

Votum

Seëngroet

Lofliedere

Lied 365 “Hoor die blye eng’lelied aan die Koningseun gebied: Vrede op aarde – God die eer – Hy daal tot die sondaar neer.” staan

Lied 373 “U, Jesus, eersgebore Kind, u lig sou bewe in die wind, dit flikker in die donker.” sit

Kindertyd

Hoe leer julle lees?
In Dolfyntjie skryf hulle mos julle name op ‘n bord en dan leer julle om dit te herken.
Kyk gou hierna: kan julle die naam herken? Rethie
En met die foto by?
Kom ons probeer nog een. Chris
En in graad 1 leer julle mos om prentjies en woorde met mekaar te verbind.
Ken julle die woord al? boek
En met die prentjie?
Kom ons probeer weer.  lyf
As ‘n mens dit genoeg doen, uiteindelik dan kan jy lees en verstaan wat jy lees!
En dan kan ‘n mens die koerant oopmaak en verstaan wat mense sê.
En jy kan ‘n boek lees en verstaan wat die skrywer sê.
En jy kan leer oor diere en dan kan jy ‘n dieredokter word.
Of jy kan leer oor mielies en dan kan jy ‘n mielieboer word.
En jy kan leer oor pype en water en krane en dan kan jy ‘n loodgieter word.
Dit is hoe die lewe werk – en alles is afhanklik daarvan dat ons kan lees.
Dit is net soos die Bybel ook werk.
Ons leer om die Bybel te lees.
Dan begin ons om te doen wat die Bybel sê, en
kort voor lank dan kan jy doen wat die Here wil hê jy moet doen.
En dan raak die Here vir jou alles in die lewe.
Hy raak soos ‘n huis waarin jy woon.
Hy bly by jou, Hy is lief vir jou, en julle kan met mekaar praat en
ons raak familie.

Gebed

Skriflesing

Dit is ‘n wonderlike gedeelte.

Hy gebruik eintlik die woordjie beklee in vers 12 om die gedagte van iets waarin ‘n mens woon of leef oor te dra: “Beklee julle dan … en dan volg die vyf goed wat hy sê waarmee hulle hulleself moet beklee:

1.      die 5 deugdes (meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig, verdraagsaam),

2.      die liefde vir mekaar (wat met sy geduld en vergifnis die hoofbestanddele is van die gemeenskapslewe wat onder ons moet heers),

3.      die Woord van God in al sy vorme (prediking, lering en onderrig),

4.      die liedere vir God in al sy vorme (psalms, lofsange en geestelike liedere), en

5.      hulle lewenswandel in die wêreld (wat ons sê of doen).

En die middelste mededeling – om die Woord in ons te laat woon – is die hart van die gedeelte, want dit is die bron waaruit die ander 4 opdragte hulle krag kry.  Alles word gekoppel word aan hierdie oproep dat die boodskap van Christus in sy volle rykdom in hulle moet bly, as’t ware in hulle moet woning maak, of anders gestel ‘n huis moet word waarin hulle woon.

Ons kan volgens God se riglyne leef as ons dit alles doen, waarvan ek vandag spesifiek gaan konsentreer op die 3de opdrag, om in die Woord te bly, dat dit ons huis word.

Kolossense 3:12-17

Woordverkondiging

Die Bybel is God se verhaal

Die Bybel is die verhaal van God.  Dit strek van die begin van die skepping af regdeur die geskiedenis tot by die verhaal van Jesus Christus.  En na Jesus se lyding, dood, opstanding en hemelvaart vertel die Bybel ons van die Gees wat deur die kerk die koninkryk van God laat kom.  En Johannes skryf ten laaste oor die nuwe skepping wat God belowe het vir almal wat in Hom glo.  Van begin tot einde is dit God se verhaal.

Dit is ook die evangelie.  Dit is die fondament van wat ons glo.  En dit waarom ons die Bybel die Woord van God noem.  Dit is Sy verhaal.

Dit leer ons op God vertrou

Hierdie Bybel nooi ons telkens uit om met hierdie verhaal, die verhaal van God, rekening te hou.  Dit nooi ons uit om te vertrou op God se nabyheid, sy beloftes, sy krag.  Dit nooi ons uit om sy wil te soek en te doen, en eerder met Sy onsigbare werklikheid rekening te hou as met dit wat ons rondom ons sien.  En dit nooi ons uit om te leef soos Hy van ons vra eerder as soos almal rondom ons leef.

Dit leer ons om anders as die wêreld te leef

In die Bergrede noem Jesus, byvoorbeeld, diegene gelukkig, geseënd wat agter in die tou staan, as ‘n mens volgens gewone wêreldse standaarde sou meet: die armes, die sagmoediges, die barmhartiges – want, sê Jesus, aan hulle behoort die koninkryk van die hemel, hulle sal die nuwe aarde ontvang, en aan hulle sal barmhartigheid bewys word.

Die ongelooflike belofte word aan reinhartiges gemaak, hulle sal God sien.  Die vredemakers sal kinders van God genoem word.  En dié wat vervolg word omdat hulle Jesus navolg, hulle sal hulle loon ontvang in die hemel (Matt 5:1-9).

Die Bybel leer ons om nie so besorg oor allerhande dinge te wees nie, ons nie so moeg te maak oor aardse goed nie, maar eerder ‘n skat na te jaag wat groter is as kos en klere en sukses en status (Matt 6:25-34).

Dit leer ons om anders as die wêreld nie te dink oor wie ons kan uitsluit nie, maar eerder oor wie ons kan insluit, soos die verhaal van die barmhartige Samaritaan ons leer.  Daar is niemand wat ooit in beginsel, van die begin af, uitgesluit word net omdat hulle is wie hulle ook al is nie.  Ons mag ‘n naaste word vir dié wat ons kan help op ons pad deur die lewe (Matt 22:34-40).

Want dié Bybel wat hierdie verhale vertel, is ‘n boek wat aan ons eie adres gerig is.  Dit sê vir ons: “Gaan en doen jy net so.”

Dit leer ons om ander met mekaar te leef

Net so fokus Paulus ons gedagtes hier in Kolossense op die manier waarop ons met mekaar moet leef in die gemeenskap van gelowiges.

Daar is 1) 5 deugdes wat God van sy uitverkore volk verwag:  meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig, verdraagsaam.

Hy wil hê dat ons 2) mekaar moet liefhê deur geduld met mekaar te hê en mekaar te vergewe as iets verkeerd gaan.  Dit is die hoofbestanddele van die gemeenskapslewe wat onder ons moet heers.

En die hart van hierdie gemeenskapslewe is om 3) op die Bybel te fokus, wat uitmond in 4) ons spreke met God in ons liedere en 5) ‘n lewe wat God se eer voorop stel.

Maar die belangrikste hiervan is die fokus op die Bybel, die middelste van die 5 bestanddele, want al die ander dinge hang daarvan af.

Hoe word die Bybel ‘n werklikheid?

Regdeur die eeue word hierdie Bybel op dieselfde manier vir ons die Woord van God as ons in drie eenvoudige stappe daarna luister: ons lees dit, ons dink daaroor na en ons leef dit. (Vgl Dirkie Smit se uitstekende weergawe hiervan in Neem, lees)

Ons lees die Bybel

Die lees van die Bybel kan eenvoudig wees (in jou stiltetyd), én baie kompleks (akademies: tradisie-histories of retories); dit kan alleen gedoen word én in groepe; dit kan inzoom op een vers of selfs een woord in ‘n ‘n vers, én dit kan die breë lyne probeer vasvat.  Dit kan in die kerk wees én in ‘n huis of saam met ‘n groep vriende.

Hierdie eerste stap bly die eerste liefde, die ding wat die vonk verskaf, waarvan alles afhang.

  • Soos Augustinus onder die vyeboom gedoen het in 439 toe hy die kinderstemme hoor sing het, Tolle lege, Tolle lege, Neem, lees, Neem lees, en ingehardloop het en in Romeine begin lees het – en sy hele lewe verander het.
  • Of soos Karl Barth in 1918 onder ‘n appelboom gesit en lees het en die Bybel vir hom, asof vir die eerste keer, oopgegaan het. En sy ontdekking het ‘n impak gehad in die Christelike wêreld wat enorm was, bv. met sy kommentaar op die (toevallig ook) Romeine brief, waarin hy weer sterk beklemtoon het dat God na ons kom, zenkrecht von oben, en nie maar net langs die weg van humanistiese ontwikkeling nie.
  • En laat ons nie vergeet van Luther wat ook in die Romeine brief die eerste ervaring gehad het dat die Bybel vir hom oopgaan, en hy God se genade in Jesus vir die eerste keer ervaar het.

As ‘n mens die Bybel só lees, dat die betekenis daarvan vir jou vasvang en dit die rigsnoer vir jou lewe word, dan word die Bybel vir jou soos ‘n huis om in te woon, ‘n wêreld waarin jy tuis kan wees en jou kan verheug, elke dag, ook vandag in die 3de millennium na Christus.

Ons dink na oor die Bybel

Die tweede stap van Bybellees is net so belangrik.  Dit is om die Bybel herhalend, en met groeiende nadenke te lees; om nie tevrede te wees totdat die betekenis daarvan vir jou oopgaan en jy die praktiese betekenis vir jou lewe daaruit kon haal nie.

En die nadink van die Bybel kan baie dinge insluit: dit kan meditatief wees met baie stilte en verwondering; dit kan akademies wees met baie vrae en met baie instrumente; dit kan in groepsverband wees of juis in ‘n oor-grense-luister, waarin nuwe perspektiewe vir jou oopgaan.

  • Ek sal nooit vergeet hoe ek in ‘n luister sessie met VGK dominees oor ‘n baie bekende teks gesels het, die verhaal van Jesus se verheerliking op die berg (dit is toevallig ook die tyd in die kerkjaar wat ons vandag vier!), en een van hulle my gevra het wat ek maak met die verskyning van Moses en Elia saam met Jesus op die berg; wat ek dink daar gebeur het. En toe ek sê, maar hulle het seker uit God se wêreld, die hemel, verskyn, het hy begin praat oor die wyse waarop hy oor die voorvaders dink vanuit ‘n Christelike perspektief, en hulle die “living dead” genoem. Geen sprake van aanbidding nie, maar net erkenning dat hulle nie opgehou bestaan het nie, en steeds ‘n rol kon speel.

Nou, dit bly steeds vir my ‘n vreemde konsep, maar ten minste iets waaroor ek begin dink omdat ek blootgestel is aan ‘n ander manier van dink oor die Bybel.  En dit beteken dat daar groter begrip vir mekaar kom, al bly die konsepte steeds vreemd.  En die toenadering in ons begrip het met die nadenke vanuit ander hoeke te make.

Ons leef die Bybel

Maar, dit moet altyd ook die derde stap insluit, om die Bybel te gaan leef, om te doen wat God in sy Woord van ons vra.

Soos Paulus hier leer in Kolossense, moet die boodskap van Christus, sy logos, in sy volle rykdom in ons bly. Dit beteken dat ons mekaar moet leer en onderrig met alle wysheid in die betekenis van die Bybel. En let op dat Paulus hier van drie verskillende vorme van verkondiging praat: prediking, lering en onderrig.  Nou, die punt is nie om dit noodwendig presies te gaan identifiseer en onderskei van mekaar nie, maar om te sê dit moet omvattend wees, en op verskillende maniere gedoen word.

Hierdie leef van en uit God se werklikheid sluit in dat ons met dankbaarheid in ons harte psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God moet sing. Weereens word drie vorme van sang genoem, om te sê dat daar ‘n verskeidenheid moet wees en dat dit regtig ‘n belangrike rol moet speek in die samekoms van God se mense.  Die Psalms sê nie verniet dat God woon waar die lofsange van sy mense weerklink nie.

Om die waarheid te sê, hierdie Woord se aanspraak op ons lewens is so omvattend, dat Paulus sê, “wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.”

En dit moet in die praktyk van die lewe geleef word.

Die leef van die Bybel is nie vanselfsprekend nie

Maar laat ons eerlik met mekaar wees.  Die leef van die Bybel is nie vanselfsprekend nie.  Dit bly steeds die moeilikste deel van die besig wees met die Bybel.  Ons sien dit alreeds in die verhale van die skares wat Jesus gevolg het, wat aanvanklik verwonderd was oor Hom en die wonders wat Hy doen, maar toenemend sy woorde moeilik gevind het om te doen, en uiteindelik gerebelleer het teen Hom en Hom verwerp en gekruisig het.

Die kruis het nie gebeur omdat die skares slegte mense was nie, maar omdat die navolging van Jesus toenemend moeiliker geword het, en hulle die prys daarvoor nie wou betaal nie. Sy woorde was in konflik met die huise waarin hulle gewoon het, hulle verstaan van wat belangrik is en wat nie.  En dan moet die een wat konflik vir jou veroorsaak uit die weg geruim word, nie waar nie, want hoe anders kry jy sy stem stil?

Vandag maak ons Sy stem stil deur in die eerste plek ons lees te beperk – ‘n vinnige blaai deur die Bybel vir ‘n teks wat ons opval, of nog erger net in ‘n dagboek te lees en glad nie meer die Bybel te hanteer nie.  In die tweede plek lees ons oppervlakkig, sonder om diep daaroor na te dink en die betekenis te laat insak in ons harte.  Gevolglik word ons nie uitgedaag om ons lewens te verander nie, want daar is nie diepte in ons nadenke nie.  En in die derde plek – en dit is die grootste gevaar – lees ons sonder om te doen.  Gevolglik verdwyn nie net die uitdaging van die Woord nie, maar die Woord self uit ons lewe, soos die Satan die Woord oppik uit ons harte.  Dit kry nie eers kans om wortel te skiet nie, laat staan nog om kans te kry om sy werk te doen nie.

Sommige teoloë het hieroor so sterk gevoel dat hulle half raadop voorgestel het dat die Bybel eerder verbrand moet word, want mense maak ‘n bespotting daarvan deur nie te doen wat dit vra nie.

Schleiermacher skryf op ‘n keer in sy dagboek dat hy dink die Bybelgenootskappe moet toemaak, en alle Bybels moet gekonfiskeer word en vernietig word, terwyl hulle sê: Here, ons doen liewer dit, en erken daarmee openlik dat ons tog nie van plan was of is om van die Bybel of uit die Bybel te lewe nie.  Ons wil nie in hierdie huis van die Woord woon nie.

Ook Thielicke, wat ons die beste ken uit sy boekie Die gebed wat die wêreld omspan, het soortgelyke gedagtes geopper omdat hy besorg was oor die kerk se geloofwaardigheid.  Die kerk vertel vir ander van die Bybel, maar doen nie self wat die Woord vra nie.

Ons leef die Bybel deur die Gees van God

Dit is waarom die werk van die Gees so belangrik is.  Dit is wanneer Hy ons vrymaak, ons harte sagmaak, laat reageer op die fluistering van die Woord in ons lewe, dat ons dit regkry om in die anderster wêreld van die Woord te woon, om daarvan ons huis te maak.

En dit gebeur wanneer ons toelaat dat die Woord ons begin lees.

Wat ek daarmee bedoel, is dat ‘n mens die Bybel moet lees totdat dit iets binne in jou begin roer, dat jy ervaar die sluier word van jou oë gelig en jy begin met God se oë kyk na jouself, na die wêreld, en na Hom en sy teenwoordigheid in die lewe, en jy daardie roering begin koester.

O, die wonder van só ‘n lees, waar jou lewe opgeneem word in die lewe van God, en Hy jou só vol maak van Homself dat jy eintlik deursigtig raak en God oral uit jou begin skyn.

Dan raak die Bybel regtig vir jou ‘n HUIS om in te woon.

Amen.

Gebed

Dankoffers

Koor: Ons vind ons krag in die Here – Vonkk 58.

Ouderlinge voorstelling

Slotlied

Lied 494 “Gelukkig is die mens wat op die Here bou, God self sal in sy nood sy hande om ons hou.” ( vers 1 en 3 almal, vers 2 koor) staan

Seën

Gemeenterespons

Lied 228 “Halleluja!” (koor 1x, en gemeente 1x)

Dag 5 – 2 Korintiërs 4:1-6 – Hierdie waarheid maak ons aan almal bekend

Die Bybel was vir die kerk nog altyd ‘n skat van onbeskryflike waarde.  Niks kan regtig daarmee vergelyk word nie.  Niks kan die rol van die Bybel in die lewe van gelowiges verander nie.  Vandaar die liedjie: “Lees jou Bybel, bid elke dag, want dit gee jou krag.”  Maar … dit is natuurlik ‘n skat wat bedoel is vir almal.  Daarom dat Paulus onmiddellik nadat hy oor die spieël wat ons verander (2 Kor 3:12-18) praat oor ons as gelowiges wat hierdie waarheid aan almal bekend maak.  Dit is ons bediening!

Dink na oor maniere waarop jy oor die krag van die Woord in jou en ander se lewe kan getuig.  Dink ook oor maniere waarop jy mense rondom jou kan beïnvloed met die krag van die Woord: aanhalings op ‘n kennisgewingbord, wyshede in ‘n nuusbrief … wees kreatief!

Dag 4 – Markus 4:21-25 – Met die “maat wat ons meet”, sal daar vir ons gegee word

Markus vertel die gelykenis van die saad wat in die grond val om die krag van die Woord wat mense verander, te illustreer.  Die saad groei immers vanself (vgl. verse 26-28 wat net in Markus voorkom).  Maar, terselfdertyd dring hy aan by ons om aandag te gee aan wat ons hoor.  “Want met die maat waarmee julle meet, sal vir julle gemeet word en daar sal vir julle nog toegevoeg word.”  Dit wil sê, ons hoor net soveel as wat ons tyd maak daarvoor!  En as ons meer luister, sal daar meer vir ons gegee word! Dit is nogal ‘n lewensveranderende gedagte!

Dink diep hieroor na: Jy verander as jy tyd maak om die Bybel te lees, want dit is hoe Jesus dit doen.  Die wonder is, dat wanneer jy dit doen … jy nog meer kry as wat jy selfs verwag het!  Maar as jy dit nie doen nie, raak dit wat jy reeds het, verlore.  Wie ore het, en kan hoor, moet luister!

Dag 3 – 2 Korintiërs 3:12-18 – Ons sien CHRISTUS raak in die spieël van die Woord

Paulus maak die ongelooflike stelling in 2 Korintiërs 3 dat ons in die spieël van die Woord vir Christus raaksien.  Ons sien nie net onsself in ons sonde raak nie, ons sien nie net die hoofsaak van die liefde raak as ons na die lewe kyk nie, maar ons sien die belangrikste van alles raak, hoe Christus lyk.  Want dit is net Hy wat ons kan verander.  Daarom nooi die gedeelte ons uit om diep te kyk dat Hy ons kan verander.

Alles hang van Christus af.  Hoe dieper ek in ‘n verhouding met Hom leef, hoe meer sal ek verander.  Hoe meer ek die Bybel lees en oordink, hoe meer sal ek begin leef en optree soos Christus dit gedoen het.  Maak ‘n lewenslange afspraak – van vandag af – om dit die hoofsaak van jou lewe te maak.

Dag 2 – 1 Korintiërs 13 – Ons sien die LEWE raak in die spieël van die Woord

In 1 Korintiërs 13 word volgens Dirkie Smit gepraat oor hoe ons die lewe sien.  Vers 12: Ons kyk soos in ‘n dowwe spieël – spieëls van daardie tyd was nie so helder soos vandag s’n nie – en verstaan nie alles van die lewe nie.  Maar, sê Paulus, een ding kan ons weet, en dit is dat die liefde die enigste ding is wat regtig saak maak, belangriker as die mees wonderbaarlike geestelike gawes, diepsinniger as die beste kennis en insig, en baie meer werd as die grootste opoffering wat ‘n mens kan maak.  Dit troos ons, en nooi ons dus uit om in liefde teenoor en met almal te leef.

Beantwoord vandag vir jou die vraag: “Wat is vir my die belangrikste in die praktyk van my lewe?” Beoordeel dit dan in die lig van hierdie spieël in 1 Korintiërs 13.  En oorweeg die uitnodiging hierin om in liefde te leef.

2 Korintiërs 3:12-18 – Die Bybel is ‘n spieël wat ons verander – Son 31 Januarie 2010

Verwelkoming

REËN: Dit het ‘n bietjie gereën na ons verlede Sondag gebid het.  Dit het wel baie gereën in ander dele van ons land.  Ons moet aanhou bid, en ook bid vir dié wat geraak word deur die vloede. Ons het ‘n biddag vir reën môre by Waltonpark om 15:00.

HAÏTI: Ook vir die mense van Haïti.

DADAGÉ: Ons het ‘n groot klomp mense by Didage gehad dié week, meer as 50.  Die Bybelskool het ook nog 25 mense van oor die land wat via die Internet inskakel.  Ek wil jou uitnooi om dieselfde te doen.

  • Volg die Bybelskool in jou persoonlike stiltetyd of as ‘n sel of Bybelstudiegroep (een sel doen dit reeds).
  • Registreer net by die blog, dan stuur ek vir jou die leeslys en kan jy elke dag die bydraes lees en daarop reageer. Skakel op die Joernaal: www.ngkerksomerstrand.co.za/blog
  • En vir Bybelstudiegroepe sal ek ‘n gesprekraamwerk gee wat hulle in hulle sessies kan gebruik. E-pos my net daarvoor.

Toetrede

Lied 185 “Kom alle volke” staan (in kanon tussen koor, galery en kerkskip)

Votum

Seëngroet

Lofliedere

Lied 168 “Heilige Jesus, Heer van die here ” staan

Lied 340 “Kom ons loof die Jesuskind” sit (v1 en 3 almal v2 koor)

Kindertyd

Kom ons kyk na hierdie prentjie

Kyk stip (20 sekondes lank) na die vier kolletjies binnekant.

Maak nou jou oë toe.

Wat sien julle?

Net so, as ons lank kyk na die Bybel, dan laat die Bybel ons God se gesig sien.  En dan weet ons hoe Hy wil hê ons moet lewe.

Liedjie leer

“Lees jou Bybel, bid elke dag (x3). Lees jou Bybel, bid elke dag, want dit gee jou krag.

Want dit gee jou krag (x2). Lees jou Bybel, bid elke dag, want dit gee jou krag.”

Bybelgenootskap

Ds Ben Fourie

Gebed

Skriflesing

2 Korintiërs 3:12-18

Woorverkondiging

Vers 18: “Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here … ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word.  Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe.  Dit doen die Here wat die Gees is.” ( vers 18)

Die ou Afrikaanse vertaling het dit helder vertaal: “En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld …”

Ons het nou al twee Sondae oor die Bybel gesels:

  • Die Bybel is ‘n SAADKORREL wat ontkiem – God se Woord val op die grond van ons hart en ontkiem, en dra vrug. Op ‘n ongelooflike manier werk God die vrug in ons lewe, deur die werking van sy Woord in ons lewe.
  • Die Bybel is ‘n STEM in ons hart en mond – Ons lewe word daagliks bepaal deur ons luister na God se stem in die Woord. En dit is iets wat ‘n daaglikse werklikheid vir ons kan en moet wees.

Vandag wil ek gesels oor die feit dat die Woord ons lewens verander.  Dit is soos ‘n spieël wat nie net vir ons wys wie ons is, en wat ons nodig het nie, maar die krag het om ons te verander.  Die Bybel is ‘n SPIEËL wat ons verander.

Tolle lege

In die jaar 386, in Milaan in Italië, sit drie vriende en gesels.  Die een is Augustinus, ‘n beroemde professor in retoriek uit Noord-Afrika.  Die ander twee is sy twee vriende Alypius en Ponticianus.  Daar lê ‘n Nuwe Testament geskrif op ‘n tafel en Ponticianus vra vir Augustinus of hy ‘n Christen is.

Nou Augustinus se ma, Monica, het toe al jare reeds vir hom gebid, maar hy moes antwoord, nee, hy is nie ‘n gelowige nie; hy kom net nie so ver nie, eintlik omdat hy sy eie lewenstyl – ‘n gejaag na plesier en sukses – te liefhet.

Dan vertel Ponticianus vir Augustinus hoe hy onlangs tot geloof gekom het toe hy een van die woestynvaders, Antonius, se verhale gelees het, en hoe dié tot geloof gekom het toe hy in ‘n kerk gehoor het hoe daar uit die boek Matteus voorgelees is.  Dié woorde het Antonius só ontroer dat hy tot inkeer gekom het, en sy lewe dramaties verander het.

En Ponticianus het só onder die indruk van die krag van die Woord in die lewe van Antoius gekom, dat hyself ‘n volgeling van Jesus geword het.

Die gesprek en getuienis van sy vriend het Augustinus hewig ontstel.  Dit het hom opnuut verward en leeg laat voel, vol van verlange na die vreugde wat Ponticianus en Antonius in die Woord en in ‘n verhouding met Jesus ontdek het.

Hy het opgestaan en in ‘n tuin daar naby gegaan om alleen te wees.  Onder ‘n vyeboom het hy in trane uitgebars.  En dan hoor hy ‘n stem.  Êrens, daar naby, hoor hy ‘n kinderstem wat sing, dieselfde woorde oor en oor.  En hoewel hy nie kan uitmaak of dit ‘n seuns- of dogterstem is nie, kan hy die woorde van die liedjie duidelik hoor: Tolle, lege.  Tolle, lege. Neem, lees.  Neem, lees.

Dit is asof Augustinus weet die woorde is vir hom bedoel.  Hy draai om, gaan die huis binne, neem die Nuwe Testamentiese boek op die tafel en begin lees by Romeine 13:13 en verder.  En oombliklik is die Woord vir hom soos ‘n spieël, waarin hy homself sien: “Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort.  Daar moet geen drinkery en uitspattigheid, geen ontug en onsedelikheid, geen rusie en jaloesie wees nie.”

En in die sien van homself, in alle eerlikheid skuldig aan alles wat die Woord sê nie in sy lewe moet wees nie, kom daar ‘n verandering, toe hy verder lees en agterkom die geheim van ‘n oorvloedige lewe lê in die afskeid van sy sondige begeertes, en die navolging van Jesus Christus ( vers 14).  En hy kom tot geloof in Jesus Christus, tot groot vreugde van sy ma.

En die res van die verhaal is vir ons bekend: Augustinus word waarskynlik die grootste denker en teoloog, nie net van sy eie tyd nie, maar van alle tye (verhaal in Neem, lees! van Dirkie Smit, p 231).

En deur die eeue sou dié ervaring hom telkens herhaal – Luther, Calvyn, Wesley – en tallose gewone mense.  Hulle word diep geraak deur die lees van die Woord, kom tot geloof, word deur die Woord versterk in hulle geloof deur die jare heen, soms radikaal soos met ‘n waterval of ‘n stroomversnelling en ander tye diepsinnig soos met ‘n al dieper vloeiende rivier.

Die Bybel is soos ‘n spieël

Die Bybel is soos ‘n spieël.

Elke keer as ons daarin kyk, sien ons drie goed raak: 1) onsself geteken in ons mensheid, sondigheid en gebrokenheid, 2) die wêreld en die lewe in sy verydeling en boosheid, en 3) die beeld van Christus wat ons nie net uitnooi om soos Hy te word nie, maar wat in die raaksien en die herkenning van wie Hy is en wat Hy bied alreeds ons menswees verander.

Die Bybel praat op ‘n paar plekke oor dié ervaring.

  • 1. In Jakobus 1:21-25 word veral gepraat oor hoe onsself sien in die spieël van die Woord. Ons kan nie wegkruip vir die prentjie wat die Bybel gee van onsself. Dit teken ons in ons sonde en onmag. Dit ruk ons en dit ontstel en bring ons by ‘n kruispad, ‘n ontmoeting met dié Een wat ons wil verander.
  • 2. In 1 Korintiërs 13 word weer gepraat van hoe ons die lewe sien. Ons kyk soos in ‘n spieël, ‘n dowwe spieël – spieëls van daardie tyd was nie so helder soos vandag s’n nie, want dit was van gepoleerde metaal gemaak – en verstaan nie alles nie. Maar, sê Paulus, een ding kan ons weet, en dit is dat die liefde die enigste ding is wat regtig saak maak, belangriker as die mees wonderbaarlike geestelike gawes, diepsinniger as die beste kennis en insig, en baie meer werd as die grootste opoffering wat ‘n mens kan maak. Dit troos ons, en nooi ons dus uit om in liefde teenoor en met almal te leef.
  • 3. Maar die toppunt vir my van al dié skrywes oor die Woord as ‘n spieël, is waar Paulus sê in 2 Korintiërs 3: As ons in die spieël van die Woord kyk, sien ons vir Christus. Ons sien in die Bybel, nie net hoe ons lyk nie, of hoe die wêreld lyk nie, maar hoe Christus lyk.

Die Bybel is soos ‘n spieël wat ons verander

Want, en dit is die verstommende manier waarop Paulus hierdie metafoor van die spieël aanwend, die spieël van die Woord keer volgens hom die normale orde van dinge om.  In plaas daarvan dat die spieël se beeld verander soos ek daarin kyk en ek beweeg of gebare maak – dit is soos normale spieëls werk toe ek laas gekyk het – verander die een wat voor die spieël staan om te lyk soos die prentjie wat in die spieël wys.

Die ou Afrikaanse vertaling het dit helder vertaal: “En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld …”

En nou weet ons, die een in die spieël is Christus.  Dit is die weerkaatsing wat ons in die spieël van die Woord sien.  En die een voor die spieël is ekself.  Dit is ek wat verander as ek lank genoeg kyk na die beeld van Christus wat in die Woord so duidelik vir ons geskets word.

As ons lank genoeg, en diep genoeg kyk in die spieël van die Woord, word ons algaande verander, stukkie vir stukkie – van heerlikheid tot heerlikheid, soos Paulus hier sê – om die heerlikheid van Christus te weerspieël.  Dit is asof die sluier van ons lewens afgehaal word, ons gebrek aan verstaan en begrip, en ons Hom al hoe beter kan raaksien.

Godskennis en selfkennis gaan saam

Calvyn het hieroor geskryf in sy bekende werk, die Institusie van die Christelike geloof, dat jy jouself net beter kan leer ken, as jy God leer ken – en dat jy net vir God regtig kan leer ken, as jy jouself beter leer ken.  Godskennis en selfkennis, sê hy, gaan saam, die een kan nie sonder die ander nie.

En hoe leer ons God (en onsself) ken?  In die spieël van die Woord, in Jesus Christus, want dit is die beeld wat die Bybel uitstraal.  Daarom kon Calvyn oor geloof praat en sê, geloof is: “to contemplate the face of God”.  Geloof is om ure lank in God se teenwoordigheid met sy Woord deur te bring, sodat ek Hom kan sien in die Woord, en die beeld van Hom my kan verander.

Ons word spieëls vir die wêreld

En die wonder gebeur, soos ons verander, word ons ook spieëls vir die wêreld, weerkaatsings van God se heerlikheid, wat sy genade, en sy liefde, sy vreugde, en sy vrede na mense uitstraal.  En soos mense na ons kyk, en in ons hierdie weerkaatsing van God raaksien, word hulleself verander – soos dit inderdaad gebeur het met Augustinus.  Sy vriend Ponticianus was vir hom soos ‘n spieël wat hom na die spieël van die Woord gedryf het, waardeur die verandering in sy lewe gebeur het.

Daarin is ons anders as Moses, wat wel verander het in God se teenwoordigheid, maar telkens as hy terug is in die gewone lewe, die glans verloor het.  Daarom dat hy dit weggesteek het vir die ander mense. ‘n sluier oor sy gesig getrek het.  Hy wou nie hê dat hulle sien die glans verdof nie.

Nou, Paulus skryf hieroor, nie net om ‘n mooi kontras met die lewe van Moses te teken nie.  Hy skryf nie hieroor net om ‘n literêre tegniek te gebruik om sy brief interessanter te maak nie.  Hy spreek ‘n fundamentele vrees by Christene aan. Dit is – ek weet mos wie ek is, ‘n sondige mens, iemand wat so baie tevore al verkeerde keuses gemaak het.  Hoe weet ek dat ek nie môre die Here weer in die steek gaan laat nie, dat ek ook maar soos Moses al hoe dowwer en dowwer sal raak totdat daar van die glans van Christus min oorbly nie?

Moet ek nie maar meer kere, soos Moses, die berg van ‘n retreat of ‘n byeenkoms wat my weer laat blink van die glans van die Here bywoon nie?  En sorg dat ek die inspuiting gereeld kry, sodat my dowwe gelaat kan bly blink nie?

Nou, moet vir geen oomblik dink dat die berg-ervarings nie belangrik is nie.  Sonder dit sou baie van ons wat hier sit nie hier gewees het nie.  En van tyd tot tyd het selfs die blinkstes onder ons dit nodig.

Ek onthou hoe die 3 ervarings wat ek nou al by Willow Creek en in Madison County by die Benediktynse klooster met John Ackerman se spiritual direction gehad het, my lewe verander het.  En ek is só bly dat dit gebeur het en dat dit ‘n blywende effek in my lewe het.

MAAR – dit verdryf nie die vrees nie!

Dit doen die Here wat die Gees is

Daarom dat Paulus hier sê: “Dit doen die Here wat die Gees is.”  Dit is Hy wat die heerlikheid wat ek uitstraal, laat toeneem.  Hy maak ons vry om God te kan hoor en gehoorsaam.

Dit is net die Gees wat my vrees kan verdrywe.  Want Hy maak my lewe vol van die krag van God, van God self.

Maar, hoe doen Hy dit?

Dit gebeur in my daaglikse besig-wees met die Woord

Dit gebeur in my daaglikse besig-wees en bly met die Woord van God.

Hoe mooi sê Peterson dit nie, in daardie vers wat ‘n motto vir ons gemeente begin word: ““Let the word of Christ – the Message – have the run of the house.  Give it plenty of room in your lives.  Instruct and direct one another using good common sense.  And sing, sing your hearts out to God!” Kol 3:16 in The Message.

  • Dit is uiteindelik nie die berg as sodanig wat my of jou verander nie. Dit is die God van die berg.
  • En dit is ook nie die bediening van ‘n Bill Hybels of ‘n John Ackerman wat jou in die eerste plek verander nie. Nee, dit is die God van wie hulle jou vertel, wat jou lewe verander.
  • En daarom, dit is nie die berg wat jou verander nie – ‘n mens kan tog nie altyd daar bly nie – dit is die Woord van God wat jou verander.

Daarom, die uitdaging:

Lees jou Bybel, bid elke dag – want dit gee jou krag.

Gebed

Dankoffers

Koor: Skuil by die Vader (Vonkk 53)

Slotlied

Lied 353 “Die Heiland is gebore, soos eeue reeds voorspel staan

Seën

Gemeenterespons

Lied 228 “Halleluja!”