Wees getrou – 2 Timoteus 3:14-17
Die verhaal van die kerk: Paulus versit berge Tema: Wees getrou – 2 Timoteus 3:14-17 Somerstrand Youtube 09:00 22 November 2020
Verwelkoming
Baie welkom by ons Youtube erediens. Ek nooi jou uit om die Here te loof en prys, Hom te aanbid. Ek het ‘n hele paar nuwe liedere. Dankie aan Albert Troskie.
Ons lees vandag ‘n gedeelte uit die tweede brief aan Timoteus en fokus op Paulus se klem op getrouheid. Hy spel in vier hoofstukke die kernmomente van ons getrouheid uit: 1) aan die evangelie, 2) aan die Here Jesus Christus, 3) aan die Bybel, en 4) aan ons roeping.
Verjaarsdae
Net een gemeentelid wat vandag verjaar, Maud Strydom. Baie geluk. Geluk ook aan Zak Brand wat môre 11 jaar oud word.
Siekes en sterfgevalle
Jaco en Annemarie en hulle kinders het herstel van die virus. Ook Nicole en Freddie Forster en hulle kinders sowel as Theo en Esmé Rautenbach en hulle kinders. Ons sê dankie vir die Here. Conrad van Rensburg was egter nog dié week in die hospitaal. Ander is nog siek by die huis. Carl Muller en Tilla Olivier. Ansie en Tertius Delport. Daar is waarskynlik nog ander wat nie laat weet het nie. Baie sterkte en seën vir julle.
Ons bid ook vir Susan Kilian wat longontsteking het. Sy is by die huis, maar in goeie hande. En vir almal wat steeds ander siektes het en behandeling ontvang of net aansterk by die huis. Philip Rautenbach, Charles Louw, Annalise Viljoen, Susan Griesel, Jean Struwig en Henry Rautenbach.
Sarita Nell het haar ma verloor en Liana Steenkamp haar pa. Des Collins is ook verlede week oorlede. Ons dink aan Nelia en bid julle as gesin die teenwoordigheid van die Here toe. Ons dra julle aan die Here op en bid sy teenwoordigheid vir julle toe.
Kersgeskenke
MTR Smit geskenke kom stadig in. Inligting hier. Dit kos R320 om een van 11 kinders se harte bly te maak.
Bybelstudieboek
Onthou die Bybelstudieboek vir stiltetyd en kleingroepe. Jy kan alles gratis aflaai op ons webwerf.
Youtube
Teken in op ons Youtube kanaal met die rooi subscribe knoppie.
Toetrede
Lied 247 en 278 – Heer, wees ons genadig | Hoor ons bid o Heer
Votum en seëngroet
1 Paulus, ‘n apostel van Christus Jesus deur die wil van God in ooreenstemming met die belofte van die lewe in Christus Jesus, 2 aan Timoteus, my geliefde kind: Genade, barmhartigheid en vrede van God, die Vader, en Christus Jesus ons Here. (2 Tim 1:1-2 – BDV)
Lofsang
Ons sing van God se koningskap, hoër as die hemel, in die skepping en in ons lewens.
Vonkk 126 – Hoër as die hemel
Kindertyd
Ken julle die verhaal van Timoteus? Hy het groot geword in ‘n dorpie met die naam Listra in Turkye. Hier is ‘n kaart daarvan. Hy het ‘n besondere ma gehad, Eunice (1). Sy het hom van die Here Jesus vertel. Sy het vir hom Bybel gelees. En hy het ‘n ouma gehad, Loïs, (2) wat vir hom gebid het en hom van die Here Jesus geleer het.
Dit is darem wonderlik om deel van só ‘n familie te wees (3). Waar baie gebid word. Waar baie Bybel gelees word.
Hoe is dit daar by jou huis? Het jy al jou eie Bybel? Kan jy al jou eie Bybel lees of lees jou ma en pa nog vir jou? Bid julle saam?
Onthou die vyf-vinger gebed (grafika). Eers die handpalm – ons loof altyd eers die Here. Dan kom die duim – ons bid vir ons familie en vriende, die wat naaste aan ons is. Dan kom die wysvinger – ons bid vir ons onderwysers, die wat die pad vir ons aanwys. Dan kom die middelvinger – ons bid vir leiers. Dan kom die vierde vinger, die ringvinger – ons bid vir die swakkes en siekes. Dan kom die pinkie – ons bid vir onsself.
Timoteus het nie net by sy ma en sy ouma van die Here geleer nie (4). Paulus het hom gevra om saam met hom te reis sodat hy kan leer om ‘n predikant te word. En Timoteus het baie avonture beleef. Deur die berge van Turkye. Oor die see met ‘n skip. Hy het selfs gesien hoe Paulus in die tronk gegooi word. En hoe dapper Paulus was. Hy het vir almal, selfs vir die mense in die tronk van die Here Jesus vertel.
(5)Timoteus word toe aangestel as predikant in Efese (kaart), ‘n dorpie in die suide van Turkye. Maar, hy was nog jonk. Hy moes nog baie leer. Paulus skryf toe vir hom ‘n brief waarin hy vir hom raad gee.
Die belangrikste stukkie raad was:
Lees jou Bybel
14–17 Jy moet altyd onthou wat ek vir jou geleer het. Moet nooit ophou om vir Jesus lief te wees nie. Dink altyd aan dit wat jou ma en jou ouma vir jou geleer het. Jy was maar nog net ’n baba, toe leer hulle jou al van die Bybel. Die Bybel is wonderlik. Dit vertel vir ’n mens hoe Jesus ons weer vriende van God wil maak. Die hele Bybel kom van God af. Mense het dit geskryf, maar God het vir hulle gesê wat hulle moes skryf. Die Bybel leer ons ook wie God is. Dit help ons om nie die dom stories te glo wat ander mense oor die Here vertel nie. Die Bybel wys ook vir ons watter verkeerde dinge ons doen. En dan sê die Bybel ook vir ons wat ons moet doen as ons God wil bly maak. As ons vir Jesus lief is, moet ons die Bybel lees. Dan kan Jesus ons ook gebruik om vir Hom te werk. (Die Nuwe Testament vir kinders in ’n taal wat hulle verstaan)
Ek wil hê jy moet nou vir jou ma en pa dankie sê dat hulle vir jou van die Here vertel. Teken sommer vir hulle ‘n prent van waar julle Bybellees of waar julle bid. En sommer vir jou oupa en ouma ook. Vra jou ma of pa om ‘n foto daarvan te neem, dan wys ek dit op Facebook of op Youtube. So kan jy vir hulle dankie sê dat hulle vir jou van die Here leer.
Kom ons sê dankie vir die Here vir ons ma’s en pa’s en ouma’s en oupa’s en almal wat vir ons van die Here leer.
Gebed
Lekker bly
Aanbidding
Vonkk 127 – By God is ek tevrede
Skriflesing en prediking
Wonderlike herinneringe
Ek was November 34 jaar in die gemeente van Somerstrand. Wonderlike herinneringe. Ek bel dié week vir tannie Bets Vivier. Om net te hoor hoe dit gaan. Haar seun Gerrit is so ‘n paar weke gelede oorlede. Die wonde is nog rou. So ‘n pragtige familie. En ons ken mekaar so lank. Sy vertel my toe van ons eerste ontmoeting. By Veritas op kampus waar ek en Hannes Marais ‘n klomp waatlemoene moes kom aflaai. Tannie Bets se geheue skrik vir niks!
So het ek baie van julle die week gebel. Veral om van ons siekes moed in te praat. Om te simpatiseer met verliese. Dit is ‘n voorreg om só ‘n groep gelowiges te hê om ‘n pad mee te stap. Die kerkraad en dagbestuur het ook vergader om oor volgende jaar te gesels. En ons kategete. Dit is lekker om na al die jare nog soveel vitaliteit te sien, selfs al is hierdie jaar seker die grootste uitdaging in die gemeente se geskiedenis.
Dit is daarom heel gepas om hierdie laaste brief van Paulus, sy tweede aan Timoteus, te lees en daarmee ons reeks oor Paulus af te sluit. En ek kan aan geen beter tema dink om die brief se boodskap op te som nie. Hy moedig vir Timoteus in ‘n uitdagende konteks aan: Wees getrou. Aan die evangelie. Aan die Here Jesus. Aan die Woord. Aan jou roeping.
En dit is wat ek ook vir jou wil deurgee. Wees getrou.
Die verkondiging van die evangelie is spanwerk
Paulus skryf die brief uit die tronk in Rome (2 Tim 1:8,17) in ongeveer 64 nC en is heel waarskynlik kort hierna deur keiser Nero tereggestel.
Die boodskap is gefokus op getrouheid te midde van teenstand deur dwaalleraars (2 Tim 2:16-18; 3:13), die afvalligheid van baie mense (2 Tim 1:15) en Paulus se eie naderende dood (2 Tim 4:6-8).
In die eerste plek herinner Paulus hom aan die feit dat die verkondiging van die evangelie spanwerk is.
Paulus noem in hierdie brief ‘n 17 plus medewerkers en medegelowiges wat hom in sy bediening bygestaan het, en self berge versit het in hulle eie geloofslewe en bediening. Dit is boeiende en baie persoonlike stories. Wat net vir ons wys hoe belangrik spanwerk in die verkondiging van die evangelie is.
1. Hy begin in hoofstuk een met families.
Uiteraard is die brief gerig aan Timoteus (2 Tim 1:2), want dit is aan hom wat Paulus hierdie laaste brief rig. Timoteus het Paulus in alles nagevolg. Hy was ‘n “geliefde kind” vir hom. Talle kere het Paulus hom gestuur na gemeentes om hulle te bedien. Sy laaste opdrag was juis om in Efese te werk (1 Tim 1:3; 2 Tim 1:18), en dit is waarheen Paulus hierdie brief skryf.
Maar let op dat Paulus oor Timoteus skryf in die konteks van sy uitgebreide familie. Paulus eer sy ouma Loïs, wie se geloof ook in sy ma, Eunice, gelewe het, en uiteindelik in Timoteus voortgelewe het. ‘n Uitgebreide gesin wat die Here gedien het, selfs al lyk dit asof Timoteus se pa nie die Here gedien het nie (2 Tim 1:5). Paulus is dus baie bewus van die rol wat families speel in die verkondiging van die evangelie.
Dieselfde geld die reus in barmhartigheid, Onesiforus. Hy het gehoor dat Paulus hulp nodig het in Rome, en met sy familie se ondersteuning van Efese af gereis om Paulus in Rome te soek. Daar het hy volhard tot hy Paulus gevind het, want die inligting was nie geredelik beskikbaar nie (2 Tim 1:16-18). Onesiforus het nie net vir Paulus daarna in die tronk besoek nie, maar hom regdeur sy gevangeniskap ondersteun. Onesiforus en sy huisgesin was dus glad nie skaam vir die kettings waarmee Paulus geboei was nie. En het hom regdeur bygestaan.
2. Paulus lig aan die einde van die brief ‘n hele span medewerkers uit.
Die evangelie kan nie oor die hele wêreld versprei as daar nie arbeiders in die oes is nie. Paulus eer daarom vir Kressens wat gaan werk het in Galasië en later biskop geraak het in Gallië (2 Tim 4:10). Hy eer vir Titus wat ná sy tyd in Kreta vir Paulus besoek het in Rome, en toe gestuur is om te gaan werk in Dalmasië (2 Tim 4:10). Dit is ‘n deel van wat ons vandag ken as Kroasië aan die kus van die Adriatiese See.
Paulus eer vir Lukas wat Paulus sedert die derde sendingreis deurlopend ondersteun het (2 Tim 4:11). In Jerusalem. in Seserea. Op die bootrit en skipbreuk in Malta (Milete genoem in daardie tyd). Tot in Rome met sy eerste huisarres daar. Toe op sy vierde sendingreis en weer terug na Rome in die tronk tot Paulus tereggestel is. Lukas is natuurlik die bekende skrywer van die evangelie van Lukas en die Handelinge van die apostels.
Paulus vertoef egter nie net op wat in die verlede gebeur het nie. Hy fokus ook op wat nou in die hede nodig is. Daarom versoek hy vir Timoteus om Markus te gaan haal en na hom in Rome te bring (2 Tim 4:11). Markus was op hierdie tyd al deur Barnabas met Paulus versoen na hulle verhouding op die tweede sendingreis in Klein-Asië skipbreuk gelei het met Markus wat eers weer gaan moed skep het in Jerusalem by sy ma Maria. Onder Barnabas se leiding is hy verder ingelei in die evangelie verkondiging in Siprus. Timoteus kry nou opdrag om Markus te gaan haal – ons weet nie presies waar hy op dié stadium was nie – en na Rome te bring, omdat Markus vir Paulus van groot hulp kan wees. Markus skryf natuurlik die oudste evangelie, die evangelie van Markus, op grond van die herinneringe van Petrus in Rome.
Paulus is ook steeds besig vanuit die tronk om strategiese skuiwe in die bediening te maak. Hy vertel vir Timoteus dat hy Tigikus na Efese toe gestuur het, waarskynlik om Timoteus daar af te los, sodat Timoteus na Rome toe kan kom (2 Tim 4:12). Tigikus was saam met Paulus op sy derde sendingreis na Jerusalem toe (Hand. 20:4) en het onder andere Paulus se gevangenskap briewe afgelewer (Kol. 4:7; Ef. 6:21) en hom tot diens gewees in ‘n hele paar gemeentes (Tit. 3:12). Paulus het hom op hierdie stadium na Efese gestuur. Paulus praat ook oor Erastus, die stadstesourier (Rom 16:23), wat vroeër in Korinte agtergebly het om daar te bedien (2 Tim 4:20; vgl Hand 19:22). Hy sorg dus dat die medewerkers weet van mekaar sodat hulle kan bid en mekaar kan ondersteun.
Paulus gebruik ook die geleentheid om hulp vir homself te kry. Hy versoek Timoteus om die reismantel wat Paulus vroeër agtergelaat het vir Karpus in Troas saam met hom bring, want dit was besig om winter te raak. Saam met die boeke en die perkamente. Dit is waarskynlik die versameling geskrifte waaruit die NT gegroei het – aantekeninge, verhale van Jesus, miskien kopieë van die OT, en natuurlik Paulus se eie groeiende versameling briewe (2 Tim 4:13).
Paulus fokus aan die einde ook weereens op families wat sy medewerkers was en vra dat Timoteus sy groete oordra vir Priska en Akwila wat waarskynlik toe in hulle huis in Efese gebly het (2 Tim 4:19). Hulle het in Rome, Korinte en Efese huise besit en was ‘n ongelooflike bate vir die vroeë kerkgemeenskap. Hulle het onder andere die groot prediker Apollos onderrig (Hand 19). Paulus vra op soortgelyke wyse ook dat groete aan die huisgesin van Onesiforus oorgedra word, want hulle het vir hom geweldig baie beteken (2 Tim 4:19).
Paulus is ook besorgd oor sy medewerkers en lig Timoteus in van Trofimus, die man van Efese, wat deur die Jode misbruik is om Paulus in Jerusalem by te kom wat tot sy gevangenisskap in Jerusalem, Seserea en Rome gelei het (Hand. 21:29). Trofimus het siek geraak, waarskynlik op Paulus se vierde sendingreis, en is in Milete agtergelaat (2 Tim 4:20). Paulus laat Timoteus waarskynlik weet daarvan dat hulle mense kan stuur om Trofimus daar by te staan of moontlik na sy tuisdorp, Efese, te kan neem.
Paulus eer ook die mense wat hom in Rome bystaan. Eubulus, Pudens, Linos, en Claudia, almal gelowiges wat Paulus daar ondersteun het (2 Tim 4:21).
Dit is wat die Christelike evangelie só ‘n kragtige invloed in die wêreld maak. God wat gelowiges in ‘n span saamsnoer om die evangelie regdeur die wêreld te neem. Enkelinge sowel as families.
Dit is waarom dit so belangrik is dat ons tyd spandeer met mekaar. Dat ons moeite maak selfs in hierdie moeilike tyd om uit te reik en belang te stel en mekaar te help om die Here te dien. Ook ons sendelinge wat so absoluut deel van ons gemeente is.
Die verkondiging van die evangelie is ‘n stryd
Maar, dié spanwerk is ook belangrik vir ‘n ander doel. Dit is, om effektief die teenstand teen die evangelie die hoof te bied. Hoekom? Want die evangelie is ‘n stryd, nie net van buite nie, maar veral ook van binne, vanuit die kerk self.
Paulus noem dus ses teenstanders van die evangelie en waarsku Timoteus nie net teen hulle nie, maar teen mense soos hulle sodat hy bedag kan wees daarop en hulle invloed nie net kan vermy nie, maar ook aktief kan teenstaan waar dit gelowiges van die pad af lok. Trouens, die hele brief word gewy aan wat Timoteus kan doen om hulle verderflike invloed teen te staan.
1. Daar is die skynheiliges in die gemeente.
Paulus noem reg aan die begin van sy brief vir Figelus en Hermoneges. Hulle het waarskynlik skaam geraak vir Paulus in die tronk. Hulle was die politiek korrektes van hulle dag. Hulle het die gelowiges se getuienis aanvaarbaar probeer maak vir hulle gemeenskap. En beswaar gemaak teen enige getuienis wat die vernames van hulle tyd ongemaklik gemaak het. Wat in wou pas en nie uit wou staan vir die evangelie in hulle gemeenskap nie.
Paulus waarsku teen die skynheiliges, want sulke mense se invloed kan ongelooflik destruktief in die geloofsgemeenskap werk. Dit ontmoedig mense om die waarheid te praat. Om betrokke te raak waar ander verby wil stap. Om nie te praat van die druk wat dit op ‘n Paulus plaas waar hy vir die evangelie moet stry in haglike omstandighede in die tronk.
Maar, dié wat skaam geraak het vir die eise wat die evangelie stel, is een ding. Dit is heel ‘n ander en eksponensieel groter uitdaging om die invloed van die dwaalleraars teen te werk.
2. Daar is dus ook die dwaalleraars.
Paulus noem daarom by name vir Himeneus en Filetus as mense vir wie Timoteus baie versigtig moet wees. Hulle het hulle eie evangelie begin verkondig dat die wederkoms al plaasgevind het. Himeneus is uit die geloofsgemeenskap geskop, maar het voortgegaan om ‘n invloed te hê. Dit het baie verwarring veroorsaak. Hulle het hulle nie aan die lering van Jesus soos dit in die Skrif en die groeiende korpus van NT briewe en evangelies gehou nie.
3. Dan is daar ook die afvalliges.
Dit is diegene wat uitgesak het, en nie die pas kon volhou nie. Paulus noem vir Demas wat lank uitgehou het, wat Paulus nog bygestaan het in sy eerste gevangeniskap in Rome (Fil 24; Kol 4:14), maar toe die teenwoordige wêreld lief gekry het en nie meer saam met Paulus wou werk nie. Hy is terug na Tessalonika en ons hoor nooit weer van hom nie (2 Tim 4:10). Latere tradisies noem dat hy afvallig geword het. Dit is gebaseer op die wêreldsliefde waaroor Johannes in sy eerste brief uiters negatief is (1 Joh 2:15-17). Trouens, Jakokus skryf ook daaroor en sê, hy wat lief raak vir die wêreld, raak ‘n vyand van God (Jak 4:4).
4. Heel laaste is daar ook die vervolgers.
Reg aan die einde noem Paulus vir Aleksander wat ‘n kopersmid was en Paulus baie leed aangedoen het. Uit die konteks wil dit voorkom asof Alexander op een of ander manier deel was van die verhoor van Paulus. Moontlik ‘n tipe aanklaer? Want, hy het Paulus se woorde teengestaan. Daar was niemand anders wat Paulus bygestaan het nie, maar tog het die Here hom uit die bek van die leeu verlos. Paulus is egter duidelik daaroor dat hy Aleksander aan die Here oorgegee het dat die Here hom sal vergeld vir die kwaad wat hy Paulus berokken het (2 Tim 4:14-17).
Wat sê Paulus vir Timoteus in die lig van hierdie konteks?
- Wees getrou aan die evangelie. Let op jou eie lewe. Kry ruggraat. Dit beteken dat hy bereid moet wees om vir die evangelie te ly (vers 2 en 8) en hom aan sy roeping sal toewy in afhanklikheid van die Heilige Gees wat in hom woon (vers 13-14).
- Wees getrou aan die Here Jesus Christus. Timoteus word dus daaraan herinner dat hy sterk moet wees in die gemeente en gemeenskap deur die genade wat Christus Jesus aan hom verleen (2 Tim. 2:1 – vgl Ef. 6:10). Hoe? Stel bekwame getuies aan! Leiers wat weet hoe om ander te onderrig.
- Wees getrou aan die Woord. Staan die dwaalleraars teë. Hoe? Daar is maar een manier en dit is om op God en sy Woord te fokus. Dit is dié fokus wat ook Timoteus die krag gee om in vervolging, wat ‘n normale deel van die pad met die Here is, vas te staan.
Die waarde van die Skrif is velerlei: onderrig in die waarheid, bestryding van dwaling, regstel van verkeerdhede, en die kweek van ‘n regte lewenswyse. Dan sal ‘n mens volkome voorbereid wees en toegerus vir elke goeie werk.
- Wees getrou aan jou roeping. Eugene Peterson vertaal hoofstuk 4:1-2 so:
“God is looking over your shoulder … He is about to break into the open with his rule, so proclaim the Message with intensity; keep on your watch.” Inderdaad!
Daarmee gee Paulus dan ook die leisels af aan sy geliefde Timoteus. Paulus weet die tyd van sy dood is voor die deur. Hy is bly dat hy die wedloop enduit kon aflê, en gee dus nou oor aan die bekwame hande van die een wat sy navolger in leer en lewe geword het.
Gebed
Dankoffers
Jy kan met Snapscan of EFT jou dankoffer inbetaal.
Kategese
Ons skakel vir die laerskool kategese in die tyd van die inperking in by die Lofkabouters van PE Hoogland. Ds Pieter Nel fokus hierdie week op die letter U in die Geloofsalfabet. Ons leer dat ons uniek is. Gebruik die 10 minute aanbieding vir gesprek en aktiwiteite met julle kinders. Geniet!
Kerkkantoor
Die kerkkantoor is beskikbaar Dinsdag en Donderdag 09:00-12:00 weens die toename in Covid-19. Pastorale besoeke vind ook by voorkeur daar plaas. Jy is welkom om ‘n afspraak te maak met my.
Behoeftes
Onthou die kos en klere projekte wat ons deurlopend hardloop. Bydraes vir Jaco en Annemarie Barnard by Bognorstraat 6 en vir Theo by Total en Elsje by die spreekkamer of by Cecile by 3de Laan. Bydraes vir die Noodfonds is ook steeds welkom.
Slotlied
Ons sing vir mense wat wag op God se Woord, wat smag na die God van hoop in hulle nood.
Vonkk 159 – Heer, ons dink aan Afrika
Seën
Die Here bly met jou gees. Die genade bly met julle. 2 Tim 4:22 – BDV)
En die gemeente sê:
Amen
Lied 314 – Amen
View all posts in this series
- Die verhaal van die kerk – Paulus versit berge - 24/07/2020
- Waar is God? – Handelinge 6-12 - 26/07/2020
- Hoe verander hierdie wêreld? – Handelinge 13-16:5 - 02/08/2020
- Wanneer weet ‘n mens wat is waarheid? – Handelinge 16:6-18:23 - 09/08/2020
- Hoopvol op pad – 1 Tessalonisense - 16/08/2020
- Afdraaipaaie – 2 Tessalonisense - 23/08/2020
- Die kragveld van die Gees – Galasiërs 5:16-26 - 30/08/2020
- Lewenslange Leer – Handelinge 18:24-19:38 - 06/09/2020
- Liefde is … 1 Korintiërs 13 - 13/09/2020
- Skat in kleipotte – 2 Korintiërs 4 - 20/09/2020
- Wat is goed? – Romeine 12:1-2 - 27/09/2020
- Valse beskuldigings – Handelinge 21 - 04/10/2020
- Wees bly – Filippense 4:2-8 - 11/10/2020
- Tweede kanse – Filemon - 18/10/2020
- Jou onsigbare Vriend – Kolossense 1 - 25/10/2020
- Op pad na Eden – Efesiërs 2 - 01/11/2020
- Bid vir alle mense – 1 Timoteus 2 - 08/11/2020
- Die laaste stukkie van die legkaart – Titus 2:11-14 - 15/11/2020
- Wees getrou – 2 Timoteus 3:14-17 - 22/11/2020