Skip to main content

Bid vir alle mense – 1 Timoteus 2


Die verhaal van die kerk: Paulus versit berge
Tema: Bid vir alle mense – 1 Timoteus 2
Somerstrand Youtube 09:00 8 November 2020

Verwelkoming

Die een ding wat die Covid-19 inperking aan ons gedoen het, dit het ons gemeenskap met mekaar moeiliker gemaak. Ek ervaar dat mense gewoond geraak het aan hulle eie geselskap. Dat almal in kleiner sirkels, sommige net met hulle naaste familie saamleef.

Dit het aan die een kant ‘n groot waarde. Ons herontdek ons familiewees. En ons moet dit nie verloor nie.

Maar aan die ander kant kan die liggaam van Christus nie net gereduseer word tot ‘n familiekring nie. Ons het interaksie met mekaar nodig. Ons het koinonia nodig. Want, dit is net wanneer ons regtig as ‘n geloofsgemeenskap funksioneer wat ons regtig ‘n impak in hierdie wêreld kan maak.

Ek wil jou dus uitnooi om weer moeite te doen om kerk toe te kom. Die 22ste November het ons die jaarlikse belydenisklas. Kom vier die geloof van ‘n klomp jongmense wat nou belydende lidmate word. Die 29ste November het ons Kerssangdiens. Dit gaan ‘n bietjie anders wees as vorige jare. Met maskers. Sonder ‘n koor. Maar steeds met ‘n fokus op die hoop, vrede, vreugde en liefde wat Advent vir ons bring. En die musiek gaan ‘n belewenis wees, met orrel, klavier en ‘n ensemble. Albert, Janneke en Erika werk al hard om dit alles by mekaar te sit. Moenie dit misloop nie.

Die 29ste skop ons ook ons Adventsviering af. Ons wil families uitnooi om ‘n Adventskrans te maak sowel as ‘n Adventskalender hierdie jaar. Ons het so min feestelikheid hierdie jaar beleef. Ek gaan die 29ste die Adventskrans en Adventskalender bekendstel. En daarna telkens daarop fokus in die volgende dienste.

Youtube sal uiteraard aangaan. Ook in die vakansietyd ná Kersfees. Maar, die erediens in die kerk bly ons prioriteit. Kom neem jou plek in. Wees veilig. Gee jou naam voor die tyd vir Liésl dat jy minder tyd in die ry om te registreer hoef te spandeer. Maar, kom! Ons het plek vir 250.

Verjaarsdae

Marius Neethling, (een van ons belydenisklas lidmate) en Annemarie Walker verjaar vandag. Baie geluk.

Onthou die Bybelstudieboek vir stiltetyd en kleingroepe. Jy kan alles gratis aflaai op ons webwerf. Hierdie week is dit hoofstuk 16 met die brief 1 Timoteus op die tafel. Met die tema: Bid vir alle mense.

Youtube

Teken sommer nou in op die Youtube kanaal op jou skerm. Dit is die rooi subscribe knoppie. Jy kan notifications ook aansit sodat jy kennis kan kry van elke volgende video.

Toetrede

Vonkk 85 – Here, ons Here (Ps 8)

Votum en seëngroet

Genade, barmhartigheid en vrede van God, die Vader, en Christus Jesus ons Here.  (1 Tim 1:2 – BDV)

Lofsang

Lied 184 – Lofsing die Here, die Ewige, sing tot sy ere

Kindertyd

VYF VINGER GEBED.

Ek wil vir julle ‘n maklike manier gee om te bid. Dit is die vyf-vinger gebed. Dit is maklik om te onthou.

Reg, hou jou hande voor jou op. Die grootste deel van jou hand is die palm, nè. Jou handpalm herinner jou daaraan om te begin om die Here te loof en prys. Vir alles wat Hy vir ons gee. Ons sê dankie vir sy liefde. Ons sê dankie dat Hy vir ons sorg.

Vou nou jou hande voor jou en vleg jou vingers in mekaar.

  1. Jou duim is die naaste aan jou, Begin dus bid vir dié wat naaste aan jou is. Bid vir ma en pa. Bid vir jou ouma en oupa. Vir jou boeties en sussies. Vir jou maats.
  2. Die wysvinger is die volgende vinger. Ons gebruik dit om te wys na iets. Bid vir mense wat die pad vir ons aanwys. Bid vir jou onderwysers. Bid vir die predikante. Bid vir die ouderlinge. Vir die kategete.
  3. Die middelvinger is die langste vinger. Dit herinner ons om te bid vir die leiers in ons regering. Die leiers in die sakewêreld. In die munisipaliteit. Die leiers in ons skole. Die leiers in ons kerke.
  4. Die ringvinger is eintlik ons swakste vinger. Hy beweeg moeilik op sy eie. Bid vir mense wat siek is, of swak of in die moeilikheid. Vra God om vir hulle te wys dat hulle swak is, maar dat Hy sterk is. Dat Hy vir hulle sal sorg.
  5. Daarna is dit die kleinste vinger se beurt. Die pinkie herinner ons om vir onsself te bid.

Onthou om hierdie week só te bid.

Gebed

Kom ons bid hierdie gebed.

Skriflesing en prediking

Briewe

Onthou jy nog die dae toe ons briewe gestuur het vir mekaar?

Briefies in die klas as die onderwyser nie kyk nie. Vir jou geliefde. Ek het vandag nog ‘n boks met dié briefies uit my laerskooldae.

Briewe in die pos. Ook vir jou geliefde as julle ver van mekaar is ná skool. Ek het nog ‘n hele paar van hulle ook.

E-pos is net nie dieselfde nie. Elke brief was ‘n geleentheid. Daar was die afwagting. Die gaan loer in die posbus. En dan die vreugde as jy die koevert sien. Jouself rustig neerplak waar jy alleen is. En dan die lees en herlees. Om alles in te drink.

Dit is hoe jy na hierdie brief aan Timoteus moet kyk.

Paulus vertrou Timoteus

Paulus het die jong Timoteus – in sy middel twintigerjare – gestuur om in die gemeente van Efese te gaan werk. Paulus was waarskynlik op sy vierde sendingreis. Hierdie keer weer in Masedonië. Waar Timoteus tien jaar tevore saam met Paulus gewerk het. Filippi. Tessalonika. Berea. Plekke wat Timoteus goed geken het.

Dit was al ongeveer die sewende keer dat Paulus hom só vertrou het om ‘n gemeente te bedien. Hy het ten minste vier keer in Masedonië in die noorde van Griekeland gewerk (Hand 17:10-15; 1 Tess 3:2,5,6; Hand 19:22; Fil 2:19, 22). Hy het twee keer in Korinte in die suide van Griekeland gewerk (Hand 18:5; 2 Kor 1:19; Rom 16:21; 1 Kor 4:17; 16:10). Hy word trouens in ses van die briewe van Paulus aan gemeentes in die aanhef genoem (1 & 2 Tessalonisense; 2 Korintiërs; Filippense; Filemon; Kolossense).

Die probleem van dwaalleraars

Timoteus was egter nog jonk en onervare. Daar was ‘n klomp dwaalleraars. En Paulus wou hê dat Timoteus hulle moes beveel om nie ‘n ander evangelie te bring as die een wat Paulus reeds gebring het nie.

Nou, die probleem was dat hierdie dwaalleraars regtig nie eers hulle eie leringe goed verstaan het nie (1 Tim 1:6-7). So, as jy hulle aangevat het, het hulle soos glibberige palings uit jou greep ontsnap, want hulle het die implikasies van wat hulle sê nie goed genoeg verstaan nie!

Maar, hulle onkunde het hulle nie gekeer het om almal te probeer leer nie. Met mooi klinkende, maar uiters oppervlakkige leringe. Hulle was dwase wat heel spesifiek nie die verband tussen die wet en die evangelie verstaan het nie.

Paulus brei dan daarop uit om Timoteus ‘n greep te gee oor die wyse waarop hy hulle moet teëstaan.

Paulus leer vir Timoteus dat die wet ons help om agter te kom wat is sonde en wat nie. Daarom spel Paulus in die eerste hoofstuk al ses die gebooie van die tweede tafel van die Tien Gebooie prakties en konkreet met voorbeelde van dertien sondes uit (Eks 20:12-17). Dit is die dinge wat steeds vermy moet word deur kinders van die Here. Hierdie dinge mag jy nie doen nie (1 Tim 1:9-11).

Maar, Paulus is net so helder oor die feit dat dit nie die wet is wat jou vrymaak van dié sondes nie. Dit is die evangelie van Jesus Christus. Dit is immers waarom Hy in die wêreld gekom het. Om sondaars te red van hulle sonde. Van dié dinge wat die wet vir ons oortuig dat dit sonde is.

Dit is hierdie “woord van waarheid” – die evangelie oor Jesus Christus – wat ‘n mens moet aanneem waarop jy die gawe van die ewige lewe ontvang (vgl die vorige boodskap oor Efesiërs). Waarin die regte verhouding tussen wet en evangelie gepreek word.

Paulus roep Timoteus dus op om hierdie dwaalleraars teë te staan. En nie op ‘n dwaalspoor gelei te word deur hulle mooi klinkende maar valse leringe nie.

Want, Paulus het self al onder hulle deurgeloop. Hulle het Paulus al baie kwaad aangedoen. En Paulus lig twee van dié dwaalleraars uit.

Die eerste is Himeneus. Hy het gedwaal deur te sê die opstanding het alreeds plaasgevind. Dit het baie gelowiges laat twyfel en die geloof in die koms van die Here Jesus Christus laat verloor (2 Tim 2:17-18).

Die tweede is Alexander, waarskynlik die kopersmid, wat Paulus se prediking heftig teengewerk het. Paulus het hulle daarom “aan die Satan oorgegee” – dws uit die gemeenskap van die gelowiges uitgesluit – sodat hulle kan leer om die Here Jesus nie met hulle verkeerde leringe te belaster nie (1 Tim 1:20; 2 Tim 4:14-15).

Wet en evangelie

Nou, hoe doen ‘n mens dit? Hoe hou ‘n mens wet en evangelie in die regte verhouding? Hoe staan jy die dwaalleraars teë?

Wel, in die eerste hoofstuk het Paulus met hierdie lering oor die dwaalleraars al reeds vir hom ‘n “clue” gegee.

Die mees basiese dwaling is om te dink dat die wet jou kan red. Dit was veral die Joodse gelowiges se versoeking.

Maar, aan die ander kant was dit net so dwaas om te dink die wet het geen betekenis nie. Dit was veral die Griekse gelowiges se versoeking. Want, dan sal jy nie meer die sonde kan herken nie, en mense leer om hulle eie gevoelens oor sake te volg (vgl Galasiërs 5-6 wat uitvoerig daaroor skryf).

Die wet en die evangelie is in ‘n noue verband. Die wet oortuig van sonde en die evangelie verlos van sonde. Jy kan nie die een sonder die ander navolg nie. Jy het albei nodig.

Maar, let nou op, die hele eerste hoofstuk is net konteks vir die lering wat Paulus vir Timoteus in die res van die brief gaan gee. Paulus is helder waar Timoteus die probleem moet aanspreek.

Hoe doen ‘n mens dit? Hoe staan jy die dwaalleraars teë?

1 Heel eerste pleit ek daarvoor dat smekinge, gebede, voorbidding en dankgebede vir alle mense gedoen word, 2 vir konings en vir almal wat hoë posisies beklee, sodat ons ‘n rustige en stil lewe in alle vroomheid en waardigheid kan lei. 3 Dit is goed en reg in die oë van God, ons Verlosser, 4 wat wil hê dat alle mense verlos word en tot kennis van die waarheid kom.  5 Want daar is een God,  en een Middelaar tussen God en die mense,  die mens Christus Jesus,  6 wat Homself as losprys vir almal gegee het  tot getuienis op die bestemde tyd.  7 Hiervoor is ek aangestel as prediker en apostel — ek praat die waarheid, ek lieg nie — as leermeester om die heidene in geloof en waarheid te onderrig. (1 Tim 2:1-7 – BDV)

Gebed vir alle mense

Hoe staan jy die dwaalleraars teë. Deur te bid vir alle mense. Dat hulle tot kennis van die waarheid sal kom.

Die oomblik as jy begin om te bid vir ander dan fokus dit nie net jou geestelike lewe nie, maar jy kan nie anders as om tegelykertyd ook op die waarheid te fokus. En almal wat saam met jou bid, sal ingetrek word in ‘n nuwe waardering vir die waarheid.

Soos in die brief aan Efese word gebed dus as een van die belangrikste dinge genoem wat ‘n gemeente kan beoefen. En die gebed is nie net privaat vir die behoeftes van enkelinge of selfs lede van die gemeente nie, maar vir alle mense. Hoewel regeerders uitgesonder word, veral met die oog op ‘n rustige en stil lewe in volkome toewyding aan God in alle eerbaarheid, bly die fokus alle mense.

Dit is goed en reg in die oë van God, sê Paulus, want God wil hê dat alle mense verlos word en tot kennis van die waarheid kom. Dit is die inhoud van die gebed.

Die belangrikste taak van die gemeente is om hierdie waarheid na alle mense te neem. Die gemeente is immers die draer van die waarheid, soos Paulus in die volgende hoofstuk helder gaan uitspel.

Dit is na alles ook die hart van Paulus se roeping, om die boodskap hiervan aan alle nasies te bring. Die boodskap van Christus as Middelaar is die motivering vir sy lewensmissie. Almal moet hoor van die Middelaar wat versoening bring tussen mense en God. En hiervoor moet die gemeente voortdurend en volhardend intree.

Kom ons raak prakties

Paulus noem hier vier maniere van bid, sodat almal tot die kennis van die waarheid sal kom:

1. Smekinge (deēseis) is dringende gebede waar God vir spesifiek behoeftes gevra word, soos Sagaria in die tempel wat gebid het vir ‘n kind (Luk 1:13). Dit kan meer persoonlik wees waar ‘n mens veral jou eie behoeftes voor God bring, maar uiteraard gaan dit ook oor die behoeftes van ander mense wat voor die Here gebring word en ingetree word daarvoor.

Waar mense se behoeftes aangespreek word, daar kom ‘n openheid vir die waarheid van die evangelie. Soos dit telkens ook die geval was in Jesus se bediening. Hy het mense se oë oopgemaak vir die waarheid nie net deur sy lering nie, maar deur vir hulle te bid en sy Vader om genesing en bevryding te vra.

Dit kan kleiner dinge wees. Die week sukkel Lynette met die Poskantoor. Twee keer gesmeek. Probleem opgelos. Dit kan ook groter dinge wees.

Dit kan groter dinge wees. Die effek van post-moderne ideologieë op mense. Waar die waarheid opgeoffer word vir die leuen. Waar vryheid van spraak ingeperk word. Waar vryheid van geloof onderdruk word. Die Here nooi ons uit. Volhard.

2. Gebede (proseuchas) is ‘n meer oorkoepelende manier om oor gebed te praat. As Jesus op die berg klim om alleen met sy Vader te praat word dié woord gebruik (Matt 14:23). As Jesus sê, die huis van my Vader is bedoel om ‘n huis van gebed te wees, dan is dit ook die woord wat gebruik word (Luk 19:46). Jy kan ook dink aan Daniël wat drie keer ‘n dag stil geword het in sy kamer en tot die Here gebid het om Hom te loof en prys.

Om regtig te kan agterkom wat die waarheid is, is hierdie tipe gebede nodig. Om in God se teenwoordigheid die Woord te oordink en die waarheid daarvan te omarm. Dit is waarom dit ook so goed is om die Bybel self te bid. Want, só raak die woord van die waarheid deel van jou manier van dink, van jou manier van lewe.

Hier help dit om ‘n roetine te hê. Die Psalms deur te bid. Die Joodse manier. Drie keer ‘n dag. Die vyf-vinger gebed. Ek het dié week weer begin om in die aande te gaan slaap met Psalm 121:

“Jou Beskermer sal nie insluimer nie.  Kyk, die Beskermer van Israel  sluimer nie in nie en Hy slaap nie.” (Ps 121:3-4 – BDV)

3. Voorbidding (enteuxeis) is baie spesifiek waar namens iemand ingetree word, waar jy intersessie doen, as’t ware in die plek van iemand gaan staan en namens hom tot God bid. Soos ‘n Abraham vir Sodom en Gomorra – sal U die regverdiges vernietig saam met die goddeloses. Dit kan tog nie, Here (Gen 19)? En die Here het geantwoord en vir Lot en sy familie gered.

Uiteraard is daar ook tye wat die Here sulke gebede verbied. Soos ‘n Jeremia wat op ‘n punt ook die ongemaklike antwoord van die Here hoor dat die tyd van genade verby is en dat hy nie verder moet bid nie (Jer 7:16; 11:14; 14:11).

Gelukkig lees ons ná die oordeel van die ballingskap dat die Here wel weer vir hom gesê het om te bid (Jer 29:7, 12).

Die toppunt van hierdie tipe voorbidding is waar die Gees ook vir ons intree en namens ons onuitspreeklike versugtinge tot die Vader troon uiter (Rom 8:34). Soos Jesus dit ook in die hemel vir ons doen (Hebr 7:25).

Hierdie tipe gebede word ook baie spesifiek aan die Woord van God gekoppel, veral waar gebid word dat mense nie van die geloof afvallig sal word en die demoniese leringe van dwaalleraars sal aanhang nie, soos Paulus later in die brief leer (1 Tim 4:5).

Intersessors weet dat dit ‘n worsteling is. Maar, van die grootste ervarings wat ‘n mens kan hê. Waar God, soos by ‘n Abraham, by jou kom staan, en jy ingetrek word in sy gesprek oor wat in die wêreld moet gebeur.

4. Dankgebede (eucharistias) is ook ‘n oorkoepelende term vir die gees waarin gebed gedoen word, soos Paulus ook aan die Filippense geskryf het (Fil 4:7). Dit is om dankie te sê vir God se genade en seën op soveel maniere in ons lewe.

Dié gebede moet vir alle mense gebid word – sonder om enigiemand uit te sluit. Dit is gebede wat kom uit ‘n diep besef van God se genade vir alle mense. En die droom dat alle mense God se genade in Jesus Christus sal omhels.

Gebed vir konings en hooggeplaastes

Maar, een groep word wel uitgesonder – konings en hooggeplaastes – weens hulle invloed op die gemeente. Hierdie gebed is die sleutel tot die verspreiding van die evangelie.

En let op. Jy bid nie net vir die “koning” waarvan jy hou nie. Jy bid vir almal in gesagsposisies. En jy bid dat die Here die “koning” sal aanstel wat die grootste moontlike mate van vryheid vir die evangelie sal gee.

Ons bid vir hulle sodat ons ‘n rustige en stil lewe in alle vroomheid en waardigheid kan leef, sodat die boodskap van die evangelie by almal op hierdie aarde kan uitkom. Dit is ook hoe ‘n mens moet bid vir dié wat gelowiges vervolg (Matt 5:44). Vir hulle bekering, maar ook dat hulle vyandskap en vervolging nie die evangelie inhibeer nie.

Om te kan leef in alle vroomheid en waardigheid beteken dat gelowiges toegelaat sal word om te leef volgens die waardes van die koninkryk, soos die Woord van God, die Bybel, dit vir ons uitspel. Soos God dit wil hê. Nie soos die samelewing dit wil hê nie.

Vroom en waardig

In hierdie drie pastorale briewe van Paulus word die woord vroomheid (eusebeia) veral gebruik om ‘n lewe wat volgens die leer van die Woord gelewe word, uit te spel. Die woord waardigheid (semnotēs) het te make met lewenstyl, die gedrag wat pas by die geloof.

Paulus leer dus vir Timoteus dat dít die manier is waarop die dwaalleraars se invloed gestop word. Waar ‘n gemeente regtig dié lering oor gebed ter harte neem, daar sal die dwaalleraars se invloed verminder word en die evangelie se invloed in die wêreld vermeerder.

Die evangelie is vir almal – Redding is vir elkeen wat glo

Paulus beklemtoon dat die evangelie vir alle mense is. Elkeen wat die naam van die Here aanroep, sal gered word (Rom 1:16-17; 10:9-10). Die genade is beskikbaar vir almal.

Maar, Hy beklemtoon ook dat redding is vir dié wat in Jesus Christus glo. En daarin volhard. Mense wat nie volhard in die geloof nie, en verwaand raak in die geloof, soos die duiwel, sou steeds in die oordeel van God kom (1 Tim 3:6).

Gebed is die basis vir ons getuienis

Dit is waarom dié van ons wat reeds tot geloof gekom het, op elke plek, moet bid, soos Paulus in vers 8 en verder aan gaan skryf:

  • Oor mans en vroue in die gemeente en hoe die regte lering jou help om in die regte verhouding met mekaar te kan leef (1 Tim 2:8-15).
  • Oor die leierskap in die gemeente – opsieners en diakens. Die gemeente is die draer van die waarheid en het leiers nodig wat onwrikbaar by die waarheid sal bly (1 Tim 3).
  • Oor die uitdagings wat voorlê waar hy spesifiek skryf oor die feit dat die huwelik in die branding sal wees – ‘n verwysing waarskynlik na die Griekse versoekings – en die dieetreëls – ‘n verwysing waarskynlik na die Joodse versoekings (1 Tim 4).
  • Oor ouer mense, weduwees, ouderling-leraars en slawe (1 Tim 5) voor Paulus afsluit met ‘n paar laaste opdragte af waarin hy spesifiek ook die uitdaging van rykdom uitleg en gelowiges aanraai om gierigheid af te lê (1 Tim 6).

Gaan lees die brief in sy geheel die week en sien dit as ‘n brief wat ook aan jou geskryf is. En oorweeg prakties hoe jy veral in jou gebedslewe kan groei, maar verseker ook in die ander dinge waaroor Paulus hier skryf.

Gebed

Dankoffers

Jy kan met Snapscan of EFT jou dankoffer inbetaal.

Kategese

Ons skakel vir die laerskool kategese in die tyd van die inperking in by die Lofkabouters van PE Hoogland. Ds Thania Botha fokus op die letter S in haar Geloofsalfabet. Staan dit vir Slaap?  Of vir Sondag?  Gaan luister by hierdie skakel om agter te kom waarvoor staan “S”. Gebruik die 10 minute aanbieding vir gesprek en aktiwiteite met julle kinders. Geniet!

Kerkkantoor

Die kerkkantoor begin ook na normaal terugkeer. Ons volg al die regulasies, maar ons admin personeel is weer terug op kantoor. Pastorale besoeke vind ook by voorkeur daar plaas. Jy is welkom om ‘n afspraak te maak met my.

Byeenkomste in die kerk

Die Ark asook die konsistorie is beskikbaar vir Bybelstudiegroepe. Bespreek asseblief by Liésl 041 583 51115, of “nul sewe drie 4713 647”, of epos haar by info@somerstrandgemeente.co.za. Handhaaf asseblief die Covid-protokol:  Dra maskers en saniteer die stoele en oppervlaktes wat gebruik word. Temperatuurmeter en handreiniger sal beskikbaar wees.

Behoeftes

Onthou die kos en klere projekte wat ons deurlopend hardloop. Bydraes vir Jaco en Annemarie Barnard by Bognorstraat 6 en vir Theo by Total en Elsje by die spreekkamer of by Cecile by 3de Laan. Bydraes vir die Noodfonds is ook steeds welkom.

Slotlied

Vonkk 159 – Heer, ons dink aan Afrika

Seën

Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees bly met julle almal. 2 Kor 13:13 – BDV)

 

Paulus

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.