Skip to main content

Tweede kanse – Filemon

Paulus versit berge
Tema: Tweede kanse – Filemon
Youtube Somerstrand 09:00 18 Oktober 2020

SKAKELS

Verwelkoming

Welkom by ons geloofsgemeenskap op Youtube. Mag die Here jou op ‘n spesiale manier met hierdie boodskap seën.

Eredienste in die kerk

Ons begin al hoe meer na normaal toe terugkeer. By die kerk kan 250 bywoon. Ons sing reeds met maskers om die Here te loof en aanbid. Ons doen dit gelyktydig met die Youtube erediens dat ons geestelik saam met mekaar die Here kan loof en aanbid.

Kerkkantoor

Die kerkkantoor begin ook na normaal terugkeer. Ons volg al die regulasies, maar ons admin personeel is weer terug op kantoor. Pastorale besoeke vind ook by voorkeur daar plaas. Jy is welkom om ‘n afspraak te maak met my.

Byeenkomste in die kerk

Die Ark asook die konsistorie is beskikbaar vir Bybelstudiegroepe. Bespreek asseblief by Liésl 041 583 51115, of “nul sewe drie 4713 647”, of epos haar by info@somerstrandgemeente.co.za. Handhaaf asseblief die Covid-protokol:  Dra maskers en saniteer die stoele en oppervlaktes wat gebruik word. Temperatuurmeter en handreiniger sal beskikbaar wees.

Verjaarsdae

Esther Diedericks, Patrick Fox, Lincoln Kilian, en Lureina Slabbert verjaar vandag. Baie geluk. Die res van die name is op die skerm. Bel en wens mekaar geluk.

Behoeftes

Onthou die kos en klere projekte wat ons deurlopend hardloop. Bydraes vir Jaco en Annemarie Barnard by Bognorstraat 6 en vir Theo by Total en Elsje by die spreekkamer of by Cecile by 3de Laan. Bydraes vir die Noodfonds is ook steeds welkom.

Kategese

Ons skakel vir die laerskool kategese in die tyd van die inperking in by die Lofkabouters van PE Hoogland. Vandag is dit die letter “P” in ds Thania Botha se Geloofsalfabet. Waarvoor staan die letter “P” in ons Geloofsalfabet? Dit staan vir Prys! Sy besoek ‘n winkel en gebruik die pryse wat ons vir allerlei betaal om ons van God te leer. Gebruik die 10 minute aanbieding vir gesprek en aktiwiteite met julle kinders. Geniet!

Pulse

Prof Marius Nel gesels by Pulse oor Hoop uit die brief van Filippense. Dit is beskikbaar van 11:00 af.

Die verhaal van die kerk – Paulus versit berge

Dit is week 13 van my fokus op die lewe van Paulus. Tot en met Advent. Ons lees saam die boek Handelinge en Paulus se dertien briewe. Titel en tema: Die verhaal van die kerkPaulus versit berge.

Daar is ‘n Bybelstudieboek vir stiltetyd en kleingroepe. Jy kan alles gratis aflaai op ons webwerf. Hierdie week is dit hoofstuk 13 met die brief Filemon op die tafel. Met die tema: Tweede kanse.

Youtube

Teken sommer nou in op die Youtube kanaal op jou skerm. Dit is die rooi subscribe knoppie. Jy kan notifications ook aansit sodat jy kennis kan kry van elke volgende video.

Onthou die kleiner formaat video of die klankbaan. Die skakels is op Whatsapp, nuusbrief, web en Facebook beskikbaar.

Votum en Seëngroet

Kindertyd

Ek wil met julle gesels oor Tweede kanse.

Wat is dit? Dit is iemand jou weer ‘n kans gee. As jy iets verkeerds gedoen het.

  1. Wou jy al ooit weghardloop van die huis? Sommer om te vlug van iets wat jy verkeerd gedoen het. Want, jy wil nie uitgevang word nie.
  2. Die Bybel vertel ons van só ‘n man. Sy naam was Onesimus. Dit is wat hy gedoen het. Onesimus was ‘n slaaf. Hy het hard gewerk vir sy baas. In die stad Kolosse. Sy baas se naam was Filemon.

3 Filemon was ryk. Net ryk mense kon slawe aanhou. Maar, hy was ‘n Christen. Onesimus was nog nie ‘n Christen nie.

4 Onesimus het baie hard gewerk. Hy moes die karre van sy baas skoonmaak.

5 Toe het Onesimus begin dagdroom dat hy weghardloop. Maar hoe sal hy dit regkry? Hy was dan ‘n slaaf?

6 Toe eendag kom daar ‘n geleentheid. Toe sy baas Filemon ander kant toe kyk, toe glip  Onesimus skelmpies weg.

7 Onesimus vat toe sommer ‘n paar goed van Filemon, sonder om daarvoor te vra.

8 Hy het vinnig en stilletjies beweeg. Skelm deur die skaduwees weggehardloop.

9 Onesimus het besluit Rome toe te gaan met ‘n boot.

10 ‘n Skip sou binnekort vertrek. Onesimus het die bootrit baie geniet. Maar, weet julle wat, Onesimus het nie goed gevoel nie. Hy was nou weg van sy baas. Maar dit het hom gepla dat hy goed gevat het wat nie aan hom behoort nie. Hy het skuldig gevoel.

11 Toe Onesimus in Rome kom, het hy egter daar ook iets verkeerd gedoen – ons weet nie regtig wat nie. Miskien iemand se geld uit sy sak gesteel.

12 En hulle gooi hom in die tronk. “Gotcha! Jy is onder arres! ” Groot Romeinse soldate het hom tronk toe gesleep.

13 ‘n Ruk later het die wagte iemand gebring wat saam met hom in die sel gegooi is. Wie was dit? Dit was Paulus.

14 Die volgende paar dae het hulle aan die gesels geraak. Ons weet nie presies wat Paulus gesê het nie. Ons weet net dat Onesimus jammer was oor alles wat hy verkeerd gedoen het.

15 Onesimus het besluit om sy sondes te bely. Al die slegte dinge wat hy gedoen het. Hy het gevra dat Jesus hom vergewe. En die Here het sy sondes vergewe.

16 Paulus was egter nog nie klaar nie. Hy wou hê dat Onesimus die dinge met sy baas moet gaan regmaak. Daarvoor was Onesimus nie lus nie. Filemon sal my nooit vergewe nie. Hy sal my nooit ‘n tweede kans gee nie! Ek het ook niks oor om hom te betaal nie. Hoe nou gemaak?

17 Paulus het ‘n rukkie gedink. ‘Ek sal doen wat ek kan. Ek sal vir hom ‘n brief skryf. Ek sal hom vra om jou ‘n tweede kans te gee. En ek sal vir jou betaal.

18 Dit was nie lank daarna nie toe Onesimus vrygelaat is. Die tronkbewaarder het hom op straat gesit.

19 Onesimus moes nou besluit. Gaan ek terug? Of nie? Dit is ‘n groot besluit. Hy was bang. Sê nou Filemon wil hom seermaak?

20 Onesimus besluit toe om die kans te waag en hy is terug na sy stad, Kolosse.

21 Toe hy by Filemon se huis kom, het hy eers die sweet van sy voorkop afgevee. En gesluk. Sy bewende hand in sy sak gesteek en die brief van Paulus uitgehaal. Dit begin so:

“Liewe Filemon, jy moet vir Onesimus terugverwelkom. Nie as ‘n slaaf nie. As ‘n broer. En ek sal alles betaal wat hy jou skuld.”

22 Onesimus het geklop aan die deur en gewag … die deur het oopgekraak … Filemon het die deur oopgemaak … Wat dink julle het gebeur?

23 Die Bybel vertel nie vir ons nie, maar ons weet uit die kerkgeskiedenis dat Onesimus later ‘n predikant geword het. So, Filemon het vir Onesimus vergewe. Hy het hom ‘n tweede kans gegee. Die sake is reggestel. Alles deur die werk van Paulus in die tronk in Rome.

Die verhaal leer ons om altyd te vergewe. Om ander ‘n tweede kans te gee. En as ons mense kan help om dit te doen, moet ons bereid wees om selfs te betaal daarvoor.

(Grafika van Helen Reason / FreeBibleimages.org)

Lofsang

Lied 420 – Daar klink ‘n lied, daar juig ‘n stem

Gebed

Skriflesing en prediking

Ek wil verder gesels oor hierdie verhaal en fokus op die tema van “Tweede kanse.”

Paulus skryf die brief aan Filemon uit die tronk in Rome. Dit is net een hoofstuk lank. Maar, moenie dat die lengte jou afsit nie. Dit is ‘n brief wat vertel hoe mense uit hulle “comfort zones” gevat is. Dit gaan oor Tweede Kanse. Oor die hele saak van slawerny. Ook oor hoe die verhouding tussen werkgewers en werknemers werk. En wat ‘n mens doen as iemand sy skuld bely. Wat doen jy met die skade wat jy gely het?

Kom ons kyk na die verhaal wat tot dié brief aanleiding gegee

Filemon was een van die geestelike leiers van die gemeente in Kolosse (Filemon 2; Kol. 4:9). Hy het waarskynlik tot bekering gekom in Efese toe Paulus daar gewerk het. Toe Epafroditos ‘n kerk in Kolosse begin het, het Filemon ‘n leier van die huiskerk daar geword.

Soos al die rykes van daardie tyd het Filemon ‘n slaaf gehad. Onesimus. Hulle het ‘n groot uitval gehad, want Onesimus het Filemon op een of ander manier benadeel. Waarskynlik gesteel of een of ander vorm van bedrog gepleeg. En Onesimus het gevlug.

Onesimus se pad het in Rome met Paulus in die gevangenis gekruis. Hoe dit presies gebeur het, weet ons nie, maar die resultaat van dié ontmoeting was dat Onesimus tot bekering gekom en in Jesus Christus begin glo het. Dit het gelei tot sy skuldbelydenis.

Onesimus het Paulus begin ondersteun, sodat Paulus kan skryf dat Onesimus vir hom van veel nut in die tronk is.

Maar, Paulus het geweet dat skuldbelydenis net een deel van die proses van bekering is.

  • Onesimus sou Filemon moes om vergifnis gaan smeek en een of ander vorm van restitusie betaal. Want, Filemon sou waarskynlik vergoeding van een of ander aard wou hê.
  • Daarby moes Paulus vir Onesimus deel van die geloofsgemeenskap maak in Kolosse.

‘n Dubbele tameletjie!

Dit is waarom Paulus sy brief begin met ‘n gebed.

4–6 Filemon, ek sê elke keer in my gebede vir God baie dankie vir jou. Want ek hoor hoe lief jy vir die Here Jesus en vir ander gelowiges is. Ek bid dat jy elke dag sal onthou watter wonderlike dinge Christus vir ons almal gedoen het.

7 My vriend, jy maak my hart baie bly. Ek hoor jy is goed vir ander gelowiges. Almal praat daarvan. Hou so aan! (Die Nuwe Testament vir kinders in ’n taal wat hulle verstaan)

Paulus verbind Filemon eers aan sy eie geloofstorie en aan die werk wat God in sy lewe gedoen het. Hy praat oor Filemon se hulp aan die ander gelowiges. En hy noem hom sy vennoot in die geloofsgemeenskap. Hy gebruik die woord koinonia. En Paulus prys Filemon dat hy soveel moeite doen om die onderlinge gemeenskap te versterk. Hy is lief vir die ander gelowiges. En hy is goed vir hulle. “Almal praat daarvan. Hou so aan!”

“Jy is my medewerker om almal in die geloofsgemeenskap in te sluit. En dit is só lekker om saam met jou daaraan te werk.”

Want, natuurlik is koinonia nie net ‘n wonderlike abstrakte leerstelling nie. Dit is iets wat ons saam laat gebeur. Koinonia is iets wat jy doen.

Dan skryf Paulus oor die versoek wat hy aan Filemon wil rig:

8–10 Filemon, ek wil jou ’n groot guns vra. Ek doen dit want ons al twee is kinders van die Here. Omdat ek spesiaal deur Christus gekies is om vir ander mense van Hom te vertel, kan ek jou seker beveel om te doen wat ek nou gaan vra. Maar ek sal nooit so iets doen nie. Want Christene tree altyd in liefde teenoor mekaar op. Daarom vra ek jou baie mooi om na my te luister. Onthou, ek sit hier in die tronk omdat ek vir die Here werk. My versoek gaan oor Onesimus, een van jou werkers. Hy het nou die dag hier in die tronk beland. Maar ek het baie goeie nuus vir jou! Onesimus is nou ’n kind van die Here. Nadat ek hom van Christus vertel het, het hy ook ’n Christen geword.

11–12 Vroeër was Onesimus ’n slegte werker. Maar alles het nou verander, want hy is nou ’n Christen. Van nou af gaan hy sommer baie vir jou beteken. En vir my ook. Ek stuur Onesimus na jou toe terug. Ontvang hom asseblief baie vriendelik.

Let op hoe Paulus doelbewus die gesag waarmee hy Filemon sou kon aanspreek om Onesimus terug te neem, onderspeel – sy ouderdom, sy apostelskap, sy status as gevangene t.w.v. Christus – maar liewer ‘n aanspraak maak op die liefde vir Christus waarvoor Filemon bekend geraak het.

Hy wil só graag hê dat Filemon Onesimus nou sal aanvaar as ‘n broer in Christus. “Alles het nou verander, want hy is nou ‘n Christen. Van nou af gaan hy sommer baie vir jou beteken.”

Maar, ons moet verstaan. Paulus vra regtig ‘n groot ding van Filemon. Filemon het skade gely. Hy is waarskynlik op een of ander manier verneder. En die wet was aan sy kant. Filemon kon skadevergoeding eis.

Ek wonder hoe jy in só ‘n situasie sou gemaak het?

Daarby vra Paulus boonop dat Filemon sy slaaf nou as ‘n broer in Christus moet aanvaar. As ‘n sosiale gelyke in die kerk van die Here. Dit vra soveel meer van Filemon.

Dit is immers Iets waarmee die kerk vir 18 eeue mee gesukkel het. Dit is maar twee eeue gelede wat die kerk uiteindelik dit reggekry het om finaal te aanvaar dat alle mense na God se beeld geskape is en dat in Christus daar nie meer slaaf of vryman is nie, maar almal een in Christus.

Paulus is dus baie bewus van hierdie dubbele uitdaging, die finansiële kant en die sosiale geestelike kant. Die vrylating van slawe was baie bekend in Joodse geledere. Maar dit iets wat baie min gebeur het in die Grieks-Romeinse samelewing.

Daarom erken Paulus die frustrasie wat Filemon sou kon ervaar weens die gebrek of skade wat hy vroeër aan die hand van Onesimus gely het. En doen Paulus die ongewone. Hy bied aan om Filemon persoonlik vir sy skade te vergoed, sodat Filemon vrywilliglik die band met Onesimus kan herstel. Paulus staan in vir Onesimus se restitusie.

Maar dan gaan Paulus verder. Hy gebruik weer die woord koinonia. En Paulus sê, as jy regtig ‘n medewerker is van my, as jy volledig deel is van die geloofgemeenskap, as jy ‘n leier is van die huiskerk daar in jou huis Filemon, neem Onesimus dan in as een van ons, asof hy my verteenwoordig, as ‘n broer in Christus.

Wat leer Paulus ons hier?

1. Paulus leer dus vir ons hier dat dit in die evangelie gaan oor versoening met God. Dit is wat Onesimus in die gevangenis gedoen het. Hy het sy sondes bely. Hy is vergewe. Hy is met God versoen.

Nou gaan Paulus verder. Hy gaan staan soos Christus tussen Onesimus en Filemon en versoen hulle met mekaar. Met ‘n kragtige boodskap rondom koinonia, en met sy eie fondse om dié ding te laat werk. Paulus sal die koste dra vir Onesimus. Soos Christus dit natuurlik vir Paulus en vir elkeen van ons gedoen het.

Dit is wat die kruisevangelie van ons vra. Dat ons ons lewe aflê vir ons medebroers en -susters.

2. Paulus leer ons ook dat dit in die geloofgemeenskap gaan oor koinonia. Oor ‘n eenheid wat tussen ons as gelowiges kom wat alle grense oorsteek. Daar is nie meer man en vrou nie, daar is nie meer Griek of Jood nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie. Almal is een in Christus Jesus (Kol 3:11).

Paulus sluit die brief af met ‘n woord van vertroue. Hy is seker Filemon sal doen wat Paulus vra.

21 Filemon, ek ken jou goed genoeg om te weet jy sal doen wat ek vra. Daarom skryf ek hierdie brief aan jou. Ek weet jy sal sommer nog baie meer vir Onesimus doen as wat ek vra.

Dié brief het waarskynlik die gewenste uitwerking gehad, en volgens die vroeë kerkvaders word Onesimus later die biskop van Efese. Voorwaar ‘n wonderlike getuienis van versoening en die wonder van ‘n nuwe begin. Van Tweede Kanse.

Maar, daar is meer. Paulus wys vir ons hier dat die boodskap van Christus deel van jou persoonlike lewe moet word. Maar, terselfdertyd dat die boodskap nooit privaat is nie. Dit raak alle verhoudinge waarin jy staan. Dit raak ook instellings soos slawerny.

Al het dit dus lank geneem hierna, voor slawerny inderdaad in die Christelike wêreld afgeskaf is, het hierdie verhaal ‘n belangrike rol daarin gespeel. Want, jy kan nie anders om iemand wat jy in Christus aanvaar, op alle ander vlakke in die lewe ook te aanvaar nie.

Kinders van die Here is ‘n nuwe mensheid, ‘n nuwe skepping van God.

En dit is waarvoor jy ook jouself moet gee. Om vennote in dié tipe gemeenskap te wees. Dit is waaroor koinonia gaan.

Gebed

Dankoffer

Jy kan jou bydrae gee met Snapscan. Ek sal dit aan die einde vir ‘n halfminuut weer wys. Die Bankbesonderhede verskyn ook vir mense wat EFT wil doen.

NGK Somerstrand

Absa Tjekrekening 01008731388

Takkode 632005

Ons luister nou na ‘n bydrae van die Brinks uit Nederland en daarna sing ons Lied 269. God bly met jou waar jy ook mag gaan.

Bydrae

Gerrit en Sonja Brink

Slotlied

Lied 269 – God bly met u waar u ook mag gaan

Seën

13Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sy met julle almal! (2 Kor 13:13)

En die gemeente sê: “Amen!”

Paulus

Comment

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.