Jou onsigbare Vriend – Kolossense 1
Die verhaal van die kerk: Paulus versit berge Tema: Jou onsigbare Vriend – Kolossense 1 Somerstrand Youtube 09:00 25 Oktober 2020
SKAKELS
Verwelkoming
Johan Groenewald, Riana Swartz, en Ronelda van Eyk verjaar vandag. Baie geluk. Lara Hoops word 4 jaar oud op 28 Oktober. Baie geluk. Verjaarsdae op die skerm.
Onthou die Bybelstudieboek vir stiltetyd en kleingroepe. Jy kan alles gratis aflaai op ons webwerf. Hierdie week is dit hoofstuk 14 met die brief Kolossense op die tafel. Met die tema: Jou onsigbare Vriend.
Youtube
Teken sommer nou in op die Youtube kanaal op jou skerm. Dit is die rooi subscribe knoppie. Jy kan notifications ook aansit sodat jy kennis kan kry van elke volgende video.
Toetrede
Vonkk 40 – Kom en vul ons met vrede
Votum en seëngroet
Aan die heilige en gelowige broers en susters in Christus wat in Kolosse is: Genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus! (Kol 1:2 – OAV)
Lofsang
Lied 425 – Kyk die Heer het opgestaan
Kindertyd
My onsigbare vriend
Goeie more! Hoe gaan dit? Ek is bly dat jy vandag hier is.
Het jy ‘n onsigbare maatjie? Hoe lyk hy? Hoe lyk sy? Net jy weet, nè?
Vanoggend wil ek jou voorstel aan my onsigbare vriend. Weet jy hoe hy lyk? Kan jou ma of pa gou vir jou vertel hoe hy lyk? Wel natuurlik nie. Hy is immers onsigbaar. Maar weet jy wat, ek weet hoe hy lyk. Hy lyk nes my pa.
Nou, as jy weet my vriend lyk nes my pa, kan jy nou vir jou ma en pa vertel hoe my vriend lyk? Nie!? Hoekom nie? Hy lyk nes my pa. O ja, dit is reg, jy weet nie hoe my pa lyk nie.
My pa lyk baie soos ek. Hy het net so min hare soos ek. Maar, hy is ‘n bietjie kleiner as ek. Maar oor die algemeen lyk hy baie soos ek. Kan jy nou vir jou ma en pa vertel hoe my vriend lyk? Ja, hy lyk baie soos ek. Baie goed!
Die Bybel vertel ons ook ‘n onsigbare vriend. Wie is dit? Paulus skryf vir die gemeente in Kolosse:
“Mense het voorheen nooit geweet van die boodskap oor Christus nie. Maar nou het God dit vertel vir almal wat aan Hom behoort. God wou hê almal wat aan Hom behoort, moet sy boodskap ken. God wou hê hulle moet weet van die groot wonderwerk dat die boodskap oor Christus by die heidene moes kom, ‘n boodskap wat niemand voorheen geken het nie. Julle wat heidene is, moet nou weet dat Christus ook in julle is, en daarom kan julle seker wees dat julle ook by God, die Koning, sal wees.” (Kolossense 1:26-27 ABA)
Hoe lyk Jesus? Wel, die Bybel vertel vir ons. Hy was ‘n mens. Hy was vol liefde. Hy het ons sondes vergeef. Die wonderlikste is, Hy woon in ons!
Wat? Hoe is dit moontlik? Waar steek sy voete uit! Want, hoe kan Hy inpas in ons hart?
Wel, Hy is mos onsigbaar. So Hy pas enige plek in.
Weet julle wat doen Hy daar? Jesus is die een wat ons krag gee. As ons voel ons kry niks reg nie, help Hy ons om nie moed te verloor nie. Jesus is die een wat vir ons vrede gee. As ons sleg voel oor ons sonde, en Hom vra vir vergifnis, dan gee Hy vir ons vrede.
Jy kan dit sommer nou vra. Maak jou oë toe en as jy moedeloos is, vra dat Hy jou sal help. Of as jy skuldig voel oor iets vra dat Hy jou sal vergewe. Jesus sal vir jou moed gee. Hy sal vir jou vrede gee. Want, Hy is jou onsigbare vriend!
Kom ons bid saam.
Lekker bly!
Gebed
Skriflesing en prediking
“Beware intellectuals”
Die brief aan die Kolossense is eintlik die eerste verdediging van die waarheid van die evangelie. ‘n Apologia. Geskryf om die gemeente toe te rus om die aanslae van die intellektuele te weerstaan. Beide die Joodse geleerdes wat hulle probeer verwar het met ‘n fokus op die wet en die besnydenis. Sowel as die Griekse filosowe wat hulle probeer verwar het met ‘n fokus op die beginsels van die natuur en die wêreldse wysheid.
Dit is ‘n uitdaging wat ons vandag ook goed ken. Soos Os Guinness (Fool’s Talk) skryf: “Beware Intellectuals.” Want, anders as wat ‘n mens sou verwag, soek baie intellektuele nie na die waarheid nie. Guinness skryf bv oor Aldous Huxley, bekende Engelse filosoof (Brave New World), se erkenning dat sy werk nie net gebaseer is op die waarheid nie, maar terselfdertyd op ander redes: dinge soos sy begeertes en wat hy graag wil hê moet gebeur. Daarom kan Huxley sê van die intelligentsia van sy tyd:
“We objected to morality because it interfered with our sexual freedom.”
Of soos ‘n ander Amerikaanse filosoof gesê het (Thomas Nagel – The Last Word):
“I don’t want there to be a God; I don’t want the universe to be like that.”
Dit is waarom Paulus soveel moeite doen om die gemeente te waarsku teen vreemde idees. Idees wat indruis teen die evangelie. Idees wat die boodskap van die Bybel in twyfel trek. Want, die wêreld se wyses haat die evangelie. Hoekom? Want hulle is bang dat die idees oor God waar mag wees (Pascal). Hulle glo nie in God nie.
Ongeloof is nie maar ‘n onskuldige houding nie. Ongeloof haat die waarheid. Ongeloof gryp die waarheid, maak die stem van waarheid stil, en verdraai dit van God se bedoeling daarmee na iets wat onherkenbaar is. Ongeloof sensureer die waarheid, blokkeer dit, maak dit stil, sodat dit nie meer gehoor kan word en die verlossing en vryheid kan bring wat die waarheid veronderstel is om te bring nie.
Soos Job vir sy vriende sê:
“Tog het hulle tot God gesê: Bly ver van ons af; en: In die kennis van u weë het ons geen behae nie.” (Job 21:14)
Die probleem vir hulle, en die gerusstelling vir ons, is dat die waarheid die waarheid sal bly, selfs al glo niemand dit nie. Die leuen sal die leuen bly, selfs al glo almal dit.
Die “woord van waarheid”
Paulus skryf daarom in hoofstuk 1 aan hulle oor die “woord van die waarheid, die evangelie.”
3 Elke keer wanneer ons vir julle bid, dank ons God die Vader van ons Here Jesus Christus. 4 Dit doen ons, want ons het gehoor van julle geloof in Christus Jesus en die liefde wat julle vir al die heiliges het, 5 op grond van die hoop wat in die hemel op julle wag. Julle het al hiervan gehoor toe die woord van die waarheid, die evangelie, 6 julle bereik het. (Kol 1:3-6a – BDV)
Dit is daardie “woord van waarheid” wat hulle tot geloof in God gebring het. Dit is daardie “woord van waarheid” wat begin vrug dra het in hulle lewe. Wat hulle laat groei het in die kennis van God. Wat hulle krag gee om te volhard. Wat hulle laat uitsien na die erfdeel wat vir hulle wag aan die einde van die tyd.
O, hoe nodig het ons nie om dié boodskap weer ter harte te neem vandag nie! Dit is die enigste manier om die evangelie van Jesus Christus reg te hoor. Deur die “woord van die waarheid” weer te omarm.
Dit is immers hierdie boodskap van Paulus wat die Hervormers oortuig het om terug te gaan na die bronne, Ad Fontes, terug na die Bron van die Bybel. Want, dit is die openbaring van God. Dit is die “woord van waarheid.” Nie die tradisies van die Rooms-Katolieke wat die Bybel begrawe het onder allerhande leringe wat later só belangrik geraak het dat die “woord van die waarheid” daaronder verdwyn het.
Die Hervorming is egter nou al vyf eeue gelede. Die uitdagings wat hulle getrotseer het, het gegaan oor die aflaatstelsel – die idee dat jy jou sondes kan afkoop – en die gebede vir Maria en die ander heiliges – wat die sentrale rol van Jesus as die verhoorder van gebed in die gedagtes van mense bedreig het. Daardeur het hulle die Bybel ontkrag en in die plek daarvan hulle eie tradisies geplaas.
Vandag kom die uitdagings vir die Bybel nie meer van die Rooms-Katolieke af in die eerste plek nie. Dit kom van ‘n sekulêre samelewing wat ons mense laat dink dat die Bybel oudmodies is in terme van die geestelike wêreld – asof daar geen duiwel en geen koninkryk van die duisternis is nie – en die natuurlike wêreld – asof daar geen sonde is nie, en jy jou lewenstyl kan skoei op hoe jy self dink en voel oor jouself.
Sulke idees verander nie net ons teologie nie, maar daarom ons verlossingsleer, en uiteindelik ons etiek. Dit verander nie net hoe ons oor God dink nie, maar ook hoe ons dink oor die lewe. Oor sonde, oor gedrag, oor lewenstyl.
En ons moenie dink dat hierdie idees onskuldig is nie! Dit is idees wat kom uit die sekulêre wêreld wat uiteindelik vir ons sê dat daar gaan God is nie. Dat daar geen transendensie is nie. Dat wonders nie moontlik is nie. Dat die opstanding van Jesus Christus nooit kon gebeur het nie. Want, ons weet mos nou van beter.
Die sigbare en onsigbare wêreld
Om dié uitdagings die hoof te bied, praat Paulus daarom met die mense van Kolosse – en met ons – oor die geestelike wêreld – die bestaan van die sigbare en onsigbare dinge – sowel as die natuurlike wêreld – die feit dat alles deur Hom en tot Hom geskep is … dat alles in Hom saamhang.
13 God het ons uit die mag van die duisternis gered en verplaas na die koninkryk van sy geliefde Seun — 14 deur wie ons bevryding, die vergifnis van sondes ontvang het. 15 Die Seun is die beeld van die onsigbare God, die Eersgeborene van die hele skepping, 16 want in Hom is alles geskep: alles in die hemel en op die aarde, die sigbare en die onsigbare dinge, of dit konings of heersers is, gesagvoerders of magte; alles is deur Hom en tot Hom geskep. 17 Hy het voor alles bestaan en in Hom hang alles saam. 18 Hy is die hoof van sy liggaam, die kerk.
Dit is die evangelie – die “woord van waarheid” – wat in die hele skepping onder die hemel verkondig is, en waarin hulle en ons glo.
En dit is só belangrik om hierdie waarheid van ‘n sigbare en onsigbare skepping te ontvang. Want dit is per definisie wat geloof is. Dit is ‘n bewys van die dinge wat nie gesien kan word nie (Hebr 11:1). Hoe kan jy glo in die hemel en in ‘n ewige lewe – wat tog onsigbaar is, nie waar nie – en nie glo dat daar ook ‘n koninkryk van duisternis is nie!?
Jy kan dink dit is heel onskuldig om iemand toe te laat om bv nie in die bestaan van die duiwel te glo nie. Soos baie teoloë vandag doen. En miskien wonder jyself ook daaroor.
Maar, onthou, as jy die bestaan van die onsigbare wêreld waarvan Paulus hier skryf, ontken, dan kan jy nie net dié dele waarmee jy nie saamstem, uithaal nie. As jy nie in die onsigbare wêreld glo nie, kan jy ook nie in God glo nie. Jy kan nie glo in ‘n lewe hierna nie.
Jy kan nie die duiwel en sy trawante uitskryf uit die onsigbare wêreld, sonder om daarmee dieselfde te doen met God en sy bestaan nie. Die waarheid is óf soos die “woord van die waarheid” dit beskryf, óf daar is niks van waar nie.
Gaan luister gerus – of lees – wat ek daaroor te sê gehad het verlede jaar by die aanddiens. Die beste boek wat ek daaroor het, is van Michael Heiser, ‘n wêreldkenner op die gebied: The Unseen Realm.
Julle moet in die geloof bly
Maar, daar is meer, sê Paulus. Ons moet in die geloof bly, die geloof in die “woord van die waarheid.” En let op die bepaalde lidwoord, “die” geloof.
21 Ook julle was voorheen van Hom vervreem, ja, vyandiggesind teenoor Hom op grond van julle slegte dade, 22 maar nou het Hy julle deur sy liggaam met Homself versoen, sodat Hy deur sy dood julle heilig, sonder foute en onberispelik voor Hom kan stel. 23 Maar dan moet julle in die geloof bly, gegrondves en onwrikbaar, en nie losgeruk word van die hoop wat die evangelie bring nie. Dit is die evangelie wat julle gehoor het en wat in die hele skepping onder die hemel verkondig is en waarvan ek, Paulus, ‘n dienaar geword het.
Die grootste probleem vandag in die kerk is waarskynlik dat mense nooit persoonlik by hierdie punt uitgekom het dat hulle tot bekering gekom het van hulle “slegte dade” nie. Dit is waarom dit vir hulle ook nie sin maak dat God hulle deur sy Seun se dood heilig, sonder foute en onberispelik voor Hom kan stel nie.
Die hoop wat in ons aan die brand gesteek is, is dat ons in die hiernamaals saam met God in sy koninkryk vir ewig sal leef. Daardie hoop is in ons aangesteek die dag toe ons ons sonde voor die Here bely het, en gevra het dat Hy ons nie net vergewe nie, maar kom reinig van alles wat verkeerd is, van alle sonde.
Dit is eers wanneer God ons wederbaar het, ‘n nuwe natuur gegee het, dat ons gehoor kan gee aan die opdrag om in die geloof te bly – gewortel in die “woord van die waarheid” en onwrikbaar in ons gehoorsaamheid – dat ons sal slaag daarin dat ons nie losgeruk word van die hoop wat in ons deur die evangelie aangesteek is nie.
Dit is “die geloof” waarvan Paulus praat, nie maar net die persoonlike geloof waardeur jy vergifnis van sonde en die ewige lewe ontvang het nie, maar die publieke vashou aan “die geloof” soos ons dit uit die Woord van God, uit die Bybel, ontvang het.
Lyding is tot voordeel van die kerk
Dit is immers net dan dat ons die volgende deel van Paulus se boodskap kan verstaan en omhels. Want, dit is die geheim van ‘n lewe wat nie net “glo” nie, maar aan “die geloof” vashou:
24 Nou is ek bly oor die lyding wat ek om julle onthalwe verduur. Ja, met my liggaam vul ek die oorblywende deel van Christus se verdrukking aan, tot voordeel van sý liggaam, die kerk. 25 Van dié kerk het ek ‘n dienaar geword toe God die bedieningstaak aan my toevertrou het om in julle belang die woord van God volledig bekend te maak. 26 Die misterie wat vir eeue en geslagte lank verborge was, is nou aan sy heiliges bekend gemaak. 27 God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe ryk die heerlikheid van hierdie misterie vir alle nasies is: Christus is in julle, Hy is die hoop op die heerlikheid. 28 Hom verkondig ons terwyl ons elke mens vermaan en elke mens in alle wysheid onderrig, sodat ons elke mens tot volmaaktheid in Christus kan bring. 29 Daarvoor span ek my ook in, terwyl ek die worstelstryd voer deur sy krag wat met mag in my werk. (Kol 1:25-29).
Paulus praat hier nie net van vervolging nie. Hy praat van lydings (meervoud: “sufferings”) en verdrukkinge (“afflictions”), d.w.s. meer omvattende dinge as net vervolginge.
Hierdie lydings en verdrukkings is dinge wat Christus sou ervaar het as Hy nou nog hier was as mens. In ‘n sekere sin is alle lyding wat Paulus dus ervaar, ter wille van Christus, ter wille van “die geloof”. En die omgekeerde is ook waar. Alle lyding wat Paulus ervaar – omdat Hy in Christus glo en aan Hom getrou wil bly – is dinge wat aan Christus gedoen (sou) word.
Dit is waarom Paulus daaroor kan bly wees, want dit is dinge wat Hy ter wille van Christus ervaar, en dinge wat hy namens Christus ervaar. Dit is wat sy deelname aan die lyding van Christus beteken, soos hy vroeër in Filippense 3:10 geskryf het.
Ons moet dus nie afgeskrik word vir die lyding en vervolging wat deel is van hierdie vasstaan vir “die geloof” nie, want ons verdrukking is tot voordeel van die Here Jesus Christus se liggaam, die kerk. Watter voorreg. Om die oorblywende deel van Christus se verdrukking aan te vul.
Die Christelike lewe is ‘n worstelstryd. Daagliks. Dit hou nooit op nie. “Get used to it!”
Christus is in julle
Maar, om jou te inspireer, moet jy goed kyk na twee frases in hierdie gedeelte. Die eerste is die geheimenis wat Paulus in vers 27 uitspel:
Christus is in julle
Dít is die geheimenis van die Christelike lewe: Christus is IN julle. Hy is ons onsigbare Vriend. Die wonder is dat die Een wat op so ‘n integrale manier by die Skepping en Herskepping betrokke was, is IN ons besig om God se werk te voltooi.
Watter ongelooflik waarheid. Christus IN ons. Besig om in ons te werk.
Want, dit is dan ook die tweede boodskap wat hieruit voortvloei:
terwyl ek die worstelstryd voer deur sy krag wat met mag in my werk.
Ek moet sê, ek wonder baie keer hoe Paulus dit reggekry het om in ongeveer 14 jaar die hele bekende wêreld van daardie tyd met die evangelie te kon bereik. Onthou, daar was nie vervoer soos vandag nie. Jy moes stap waar jy wou wees. En daar was nie die kommunikasie middele van vandag nie. Jy kon nie eers ‘n traktaatjie uitdeel nie, praat nie eers van ‘n e-pos skryf nie! Tog het hy met groot impak die wêreld ingevaar met die evangelie, ‘n werk wat die basis gevorm het van die groei van die Christendom, die vrugte waarvan die toets van die tyd deurstaan het.
Ek dink ‘n groot deel van die geheim van Paulus se effektiwiteit word in hierdie vers gevind. Paulus het gewerk met die energie wat God hom gegee het. Die NIV vertaal dit as volg:
“To this end I labor, struggling with all his energy, which so powerfully works in me.”
“Struggling with all his energy.” Dit is die geheim!
Dit is die basis vir die praktiese raad wat Paulus in die res van die brief vir hulle gee om hierdie geheim, hierdie waarheid, hierdie wonder van Christus in hulle, te beleef.
Dit is die basis vir die verdediging van die evangelie. Ons apologetiek.
Hoe doen ek dit?
Normaalweg sal ek hier praat oor gebed, en die Skrif, en ‘n bietjie praktiese raad gee. Oor stiltetyd uit die Bybel. En oor maniere waarop ‘n mens jouself kan herinner aan Christus in jou. Met ‘n eenvoudige gebed wat jy herhaal gedurende die dag. Of ‘n “reminder” op jou sel of dagboek elke uur: “Christus is in my.” En dit is waardevol.
Maar, ek wil jou eerder uitnooi om die brief aan die Kolossense verder te lees – hoofstuk 2-4 – en die Here toelaat om in jou te begin praat. Hy gebruik sy Woord. En die res van die brief is baie prakties. Luister só na jou onsigbare Vriend:
- In Hom is al die skatte van wysheid en kennis verborge, sê Paulus. As jy op Hom fokus soos Hy jou deur die Woord lei, sal niemand jou met slinkse argumente om die bos kan lei nie – Kolossense 2:3-4.
- Lees hoe Paulus ons waarsku teen wêreldse filosofieë en Joodse invloede, en dink ná oor die dinge wat jou gedagtes beïnvloed en besluit om eerder die Woord se waarheid te volg – Kolossense 2:6-23.
- Paulus praat oor wat jy moet vermy – onsedelikheid en ‘n horde ander dinge – en wat jy moet omhels – meelewing, goedheid en ‘n horde ander dinge. Dit is soos klere wat jy uit en aan trek. Oorweeg jou eie lewe in daardie lig en laat jou onsigbare Vriend jou begelei – Kolossense 3:1-17.
- Paulus praat ook oor onderlinge verhoudinge in die huwelik, gesin en werksplek. Oorweeg hoe jou onsigbare Vriend jou begelei – Kolossense 3:18-4:1.
- En Paulus praat ook oor private gebed en publieke gesprek: “Julle woorde moet altyd in goeie smaak wees, met sout besprinkel, sodat julle kan weet hoe om ‘n ieder en ‘n elk te antwoord.” (Kol 4:6).
Die praktyk van die Christelike lewe lê opgesluit in die werklikheid van Christus wat in ons is, ons onsigbare Vriend, wat sy energie in ons aan die werk sit. Soos ons sy Woord lees, daarna luister, dit bedink in gebed, en dit begin leef, só raak die geheim van sy inwoning vir ons al hoe meer werklik.
So, lees, luister en gaan leef. Dit is die geheim en die avontuur van die Christelike lewe. Saam met jou onsigbare Vriend.
Gebed
Kategese
Ons skakel vir die laerskool kategese in die tyd van die inperking in by die Lofkabouters van PE Hoogland. Gebruik die 10 minute aanbieding vir gesprek en aktiwiteite met julle kinders. Geniet!
Eredienste in die kerk
Ons begin al hoe meer na normaal toe terugkeer. By die kerk kan 250 bywoon. Ons sing reeds met maskers om die Here te loof en aanbid. Ons doen dit gelyktydig met die Youtube erediens dat ons geestelik saam met mekaar die Here kan loof en aanbid.
Kerkkantoor
Die kerkkantoor begin ook na normaal terugkeer. Ons volg al die regulasies, maar ons admin personeel is weer terug op kantoor. Pastorale besoeke vind ook by voorkeur daar plaas. Jy is welkom om ‘n afspraak te maak met my.
Byeenkomste in die kerk
Die Ark asook die konsistorie is beskikbaar vir Bybelstudiegroepe. Bespreek asseblief by Liésl 041 583 51115, of “nul sewe drie 4713 647”, of epos haar by info@somerstrandgemeente.co.za. Handhaaf asseblief die Covid-protokol: Dra maskers en saniteer die stoele en oppervlaktes wat gebruik word. Temperatuurmeter en handreiniger sal beskikbaar wees.
Behoeftes
Onthou die kos en klere projekte wat ons deurlopend hardloop. Bydraes vir Jaco en Annemarie Barnard by Bognorstraat 6 en vir Theo by Total en Elsje by die spreekkamer of by Cecile by 3de Laan. Bydraes vir die Noodfonds is ook steeds welkom.
Bydrae vir sendelinge
Slotlied
Vonkk 156 – As vreugde my deel is, of smart my verteer
Seën
View all posts in this series
- Die verhaal van die kerk – Paulus versit berge - 24/07/2020
- Waar is God? – Handelinge 6-12 - 26/07/2020
- Hoe verander hierdie wêreld? – Handelinge 13-16:5 - 02/08/2020
- Wanneer weet ‘n mens wat is waarheid? – Handelinge 16:6-18:23 - 09/08/2020
- Hoopvol op pad – 1 Tessalonisense - 16/08/2020
- Afdraaipaaie – 2 Tessalonisense - 23/08/2020
- Die kragveld van die Gees – Galasiërs 5:16-26 - 30/08/2020
- Lewenslange Leer – Handelinge 18:24-19:38 - 06/09/2020
- Liefde is … 1 Korintiërs 13 - 13/09/2020
- Skat in kleipotte – 2 Korintiërs 4 - 20/09/2020
- Wat is goed? – Romeine 12:1-2 - 27/09/2020
- Valse beskuldigings – Handelinge 21 - 04/10/2020
- Wees bly – Filippense 4:2-8 - 11/10/2020
- Tweede kanse – Filemon - 18/10/2020
- Jou onsigbare Vriend – Kolossense 1 - 25/10/2020
- Op pad na Eden – Efesiërs 2 - 01/11/2020
- Bid vir alle mense – 1 Timoteus 2 - 08/11/2020
- Die laaste stukkie van die legkaart – Titus 2:11-14 - 15/11/2020
- Wees getrou – 2 Timoteus 3:14-17 - 22/11/2020
Bybelskool » Die verhaal van die kerk – Paulus versit berge
[…] Jou onsigbare Vriend – Kolossense 1 […]
Kolossense 1:3-23 – God het ons uit die duisternis gered en verplaas na die koninkryk van sy geliefde Seun – Bybelskool
[…] en twee preke: https://ngkerksomerstrand.co.za/jou-onsigbare-vriend-kolossense-1/ en […]