Skip to main content

Tag: preek

Liefde wat ons laat sien – Johannes 9

Om Jesus te sien en te beliggaam in donker oomblikke…

Die vraag is nie “hoekom” of “wie se skuld is dit” nie.  Die vraag is:  “hoe kan ek vir Jesus in hierdie donkerte sien?”

Hierdie man in vandag se storie, leer vir Jesus ken deur worsteling.  Dit is te midde van die teëstand wat sy kennis van Jesus al meer uitkristalliseer, wat sy verstaan van wie Jesus is ontwikkel.  Totdat hy kan bely en, uiteindelik, kan aanbid.

Dis ook hoe dit in ons lewens werk.  Dis dikwels juis in ellende, hartseer, pyn, swaarkry, worsteling en verlies wat ons God se genade die helderste sien.  Hoe slegter dit gaan, hoe meer kan ons onder die indruk kom van God se genade en versorging.  Hoe slegter dit gaan, hoe meer raak ons bewus van ons afhanklikheid van God en hoe beter leer ons hierdie God ken.

Ons moenie die fout maak om ons so blind te staar na die donkerte, dat ons die Lig mis nie.  Om so die donker te vervloek, dat ons nie die Lig aanbid nie.

Continue reading

1 Korintiërs 8:1-13 – Die Liefde Bou Op

Vir die vroeë gelowiges was dit ’n brandende vraag of ’n mens vleis wat aan afgode geoffer is, mag eet.  Dis nie vandag vir Christene meer ’n vreeslik brandende vraag nie.  Tog is hierdie gedeelte vandag steeds baie relevant vir ons!  Natuurlik.  Christene sal altyd verskil.  Veral in ’n land soos Suid-Afrika, waar ons ’n mengelmoes van agtergronde en tale en kulture in een pot is.  Ons kom byna daagliks in situasies soos hierdie.  By die werk, in skole en universiteite, by die kerk.  En, natuurlik, in ons eie huise, waar ons ook sterk kan verskil oor wat aanvaarbaar is al dan nie.

Continue reading

Johannes 1 Oujaarsdiens Deel die Hoop

Dit is die verhaal van God wat liefdevol uitrek na die wêreld – ’n verhaal van onwaarskynlike rolspelers. Van Josef, ’n timmerman.  Maria, ’n jong meisie.  Herders.  Vreemdelinge uit ’n vreemde land.

Van Johannes.  Markus se beskrywing beeld hom uit as ’n vreemde, onwaarskynlike karakter, met kameelhaar-klere wat leef van veldheuning en sprinkane.

Ook van my; en jou. Onwaarskynlike karakters wat God kies, red en stuur.  Wanneer ons deur Advent gewag het op hoop, oor Kersfees herinner is aan ons hoop – dan stuur God ons om in die nuwe jaar as agente van hoop te leef.

Niemand voel opgewasse tot hierdie taak nie!  Ons voel ons weet nie genoeg nie.  Of ons doen te veel sonde.  Kan nie genoeg Bybelverse aanhaal nie.  Is self te bang en broos en onseker.

Tog… God kies ons, in ons swakheid en broosheid en vrees en onsekerheid.  En God stuur ons.

Continue reading

Johannes 1 Broosheid, Liefde en Kersfees

Op ons eie verstaan ons nie liefde nie.  Ons sal hoor “God is liefde” en sê “wonderlik!” In ons gedagtes sal ons dink reënboë en unicorns.  Ons sal dink liefde beteken so ’n lekker warm gevoeletjie in jou hart;  dat liefde beteken dat alles altyd lekker is, dat niks ooit verkeerd loop nie, dat niks moeilik is nie.  As ons net gehoor het “liefde”,  dan sou ons gedink het dat liefde maklik is.  Toe word God mens, sodat ons kan sien hoe liefde lyk.

Continue reading

Lukas 2 Broosheid, Hoop en Advent

God kom aarde toe.  God, die skepper van die heelal, wat die planete in hul wentelbane geplaas het, kom om die mensdom te verlos.  En hy doen dit, deur mens te word.  Maar meer nog.  God kom verlos die mensdom, deur mens te word, deur gebore te word… as ’n baba.  Het jy al ’n pasgebore baba gesien?  Weet jy hoe broos is daardie goedjies? En hier is hierdie babatjie – God! – in ’n stal!  In die diere se voerbak!

 

Die verhaal van Jesus se geboorte, van God se verlossing van die mensdom, is ’n verhaal van broosheid en kwesbaarheid.

Continue reading

Jesaja 55 Water, Hoop en Advent

Kom, almal wat dors is, kom na die water toe,

Hierdie woorde klink anders vandag as ’n paar jaar gelede.  Die belofte aan water, wanneer daar nie water is nie.  Ons munisipaliteit beleef van die ergste droogtes in mense heugenis. Teen Woensdag was ons damme gesamentlik op 28.69% kapasiteit.

Ons situasie is nog nie eers so erg soos die droogte in die Wes-Kaap nie!

Die afgelope week was daar boonop nuusberigte oor ’n wyn tekort – globaal, die ergste in 50 jaar.  Wat mense natuurlik laat uitroep:  wat kan nog verkeerd loop?!  Net nie die wyn nie!

Ek lees die week ’n artikel deur Nadia Marais, ’n dosent in dogmatiek aan die Universiteit van Stellenbosch, getiteld #rainmustfall  – ’n teologiese refleksie op droogte, dors en die water van die lewe.  Sy vra o.a. of #rainmustfall ’n roep van wanhoop is, of juis van hoop?  Of is dit ’n wens?  ’n Gebed?

Wat dit ook al is, ons lees hierdie belofte aan water vandag met meer erns en ’n groter begrip van die waarde van water, as ’n tydjie gelede.  Ons besef in ons are:  water is lewe.

Continue reading