Johannes 1 Broosheid, Liefde en Kersfees
Op ons eie verstaan ons nie liefde nie. Ons sal hoor “God is liefde” en sê “wonderlik!” In ons gedagtes sal ons dink reënboë en unicorns. Ons sal dink liefde beteken so ’n lekker warm gevoeletjie in jou hart; dat liefde beteken dat alles altyd lekker is, dat niks ooit verkeerd loop nie, dat niks moeilik is nie. As ons net gehoor het “liefde”, dan sou ons gedink het dat liefde maklik is. Toe word God mens, sodat ons kan sien hoe liefde lyk.
Toetrede
Lied 348 Stille Nag
Votum
Terwyl eerste 4 kerse aangesteek word
V: In ons wêreld, soos in die skoot van Maria …
G: Kom, Here Jesus.
V: Op al die vergete plekke, soos in die stal van Betlehem …
G: Kom, Here Jesus.
V: Vir die mense wat wag …
G: Kom, Here Jesus.
V: Bring hoop in die lewe van armes; bring omsigtigheid in die lewe van magtiges; bring rus in die lewe van vermoeides; bring onrus in die lewe van oor-gerustes. In ons lewe en in ons verlange, wie ons ook al is …
G: Kom, Here Jesus.
Lied
Met Middernag – Elsje Nelson
Seëngroet
Terwyl wit kers aangesteek word
V: Dit is die goeie nuus:
Christus is gebore.
Christus kom weer.
Geseënd is elkeen wat bid en werk totdat Hy weer kom.
G: Kom, Here Jesus! Kom gou! Amen.
Lofsang
Lied 344 O die goeie tyding, o die blye tyding
Geloofsbelydenis en toewyding
Spaanse Geloofsbelydenis
Liturg: Ons glo in God die Almagtige, Skepper van die hemel en die aarde; Skepper van alle nasies en kerke; Skepper van alle tale en rasse.
Leser 2: Ons glo in Jesus Christus, sy Seun, ons Here, God wat mens geword het as ’n mens vir die mensdom, God wat mens geword het in tyd vir alle tye, God wat mens geword het in een kultuur vir alle kulture, God wat mens geword het in liefde en genade vir die hele skepping.
Leser 3: Ons glo in die Heilige Gees deur Wie God in Jesus Christus sy teenwoordigheid bekend maak in ons mense en in ons kulture, deur Wie God, die Skepper van alles wat bestaan, aan ons die krag gee om nuwe skepsels te word, Wie se oneindige gawes ons een liggaam maak: die liggaam van Christus.
Leser 4: Ons glo aan die kerk wat universeel is, omdat dit die teken van God se heerskappy is, Wie se getrouheid in al sy skakerings getoon word waar al die kleure saam net een landskap teken en alle tonge dieselfde lof besing.
Leser 5: Ons glo aan die (finale) heerskappy van God – die dag van die groot fees wanneer al die kleure van die skepping ’n harmonieuse reënboog sal vorm, wanneer alle mense sal deelneem aan ’n vreugdevolle feesmaal, wanneer alle tonge in die heelal dieselfde lied sal sing.
Liturg: En omdat ons glo, verbind ons ons:
Almal: om te glo vir hulle wat nie glo nie, om lief te hê vir hulle wat nie liefhet nie, om te droom vir hulle wat nie droom nie, tot die dag wanneer hoop ’n werklikheid word. Amen.
Sang
Lied 365 Hoor die blye Eng’lelied (staan)
Song of the Stars
Die Lied van die Sterre deur Sally Lloyd-Jones, illustrasies Alison Jay
Sang
Lied 367 Ere aan God
Gebed
Messias deur Koos van der Merwe
Raaisels in antieke boeke
Geheime eeue oud
Voorspellings drome
Wense soeke
Van harte dors en koud
Duisend verse profesie
Jota tittel kommapunt
Onmoontlik dat ek in een messias
Elke letter sin kan vind
Net u is elke vraag se antwoord
Elke nagsê oggendson
Ook my reis wat soekend kronkel
Moet by u bestemming kom
Skriflesing
Johannes 1:1-5, 9-18
Preek
Die legende van die geestelike reis
Daar is ’n legende wat vertel dat elke mens se geestelike reis uit drie fases bestaan. Eers is jy ’n kameel, dan ’n leeu en uiteindelik… wag, hoor gou eers hoe dit werk:
Eers is jy ’n kameel. Jy begin die lewe op jou knieë, belaai en gebuk onder die tradisies van jou ouers en voorouers, jou gemeenskap, kultuur, onderwysers, vriende. Wanneer jy uiteindelik vol gelaai is en nie meer kan nie, word jy as kameel in die woestyn ingelei.
In die woestyn ontdek jy dat jy alleen is. Maar hierdie besef verander jou in ’n manjifieke leeu. En die tweede fase van jou geestelike reis begin. Die leeu in die woestyn het een taak: Maak die draak dood. Want in die woestyn leef ’n groot draak met die naam “Jy sal”. Op elke skub van die draak is daar een of ander wet geskryf. Sommige wette is 4000 jaar oud, ander ’n paar 100 jaar, ander net ’n paar dae. Dié wette is niks anders nie as die wêreld wat vir jou voorsê wie jy is, wat jy moet doen en wat jy nié moet doen nie. En die leeu moet hierdie draak vernietig.
As jy volhard en uiteindelik die draak vernietig, verander jy in… ’n kind. En die laaste fase van jou geestelike reis breek aan. Jy verander in ’n kind wat vry en spontaan – en broos en kwesbaar is. ’n Kind wat vreugde kan beleef en kan liefhê. ’n Kind in wie se hart God se woord gegraveer is.
In hierdie fase het jy nie meer die wette van jou kameel-lewe nie. Jy het ’n nuwe verstaan van wie jy is en daardie verstaan van jou identiteit – nie wette nie – wat jou gedrag bepaal. Vir die eerste maal in jou lewe is jy wat jy veronderstel is om te wees: ’n kind.
12Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.
Die Kosmiese Christus
Wat Johannes doen, is om vir ons ’n sterk, helder lyn te trek, wat God se hele verhaal bymekaarbring. Heel, heel van die begin af:
1 In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. 2Hy was reeds in die begin by God. 3Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie.
V10b die wêreld het deur Hom tot stand gekom—
God is die magtige Skepper van die heelal, deur wie alles tot stand kom. Die Skepper van die ganse Kosmos…
Die Kosmiese Christus… word vlees
…Word vlees.
14Die Woord het mens geword en onder ons kom woon.
Dis baie interessant dat die 1983 vertaling sê die Woord het “mens” geword. (Ook die BDV vertaal dit so.) Maar dis nie wat daar staan nie. Daar staan letterlik: die woord het vléés geword.
En vir die Grieke was die vlees tekenend van alles wat sleg en swak is. Baie geleerde, heilige mense het al hulle krag daaraan gewy om los te kom van die vleeslike. Hierdie lyf is alles wat sleg is, alles wat broos is. Letterlik die tronk van die siel. Die strewe moet wees om los te kom hiervan. So het hulle ook nie geglo in ’n liggaamlike opstanding nie. Nee, net die gees kan voortbestaan. Maar die vlees is nie die moeite werd om aan te dink nie.
Want vlees is broos. Dit raak moeg, dors, honger. Dit kry maklik seer. Dit kan siek raak, doodgaan.
En gister het ons gepraat juis oor hierdie broosheid. En dat God – die Skepper van die kosmos – kies om broos te word. Om vlees te word. Kwesbaar.
Die Kosmiese Christus… word vlees sodat ons kan sien hoe liefde lyk
Want sien, op ons eie verstaan ons nie liefde nie. Ons sal hoor “God is liefde” en sê “wonderlik!” En in ons gedagtes sal ons dink reënboë en unicorns. Ons sal dink liefde beteken so ’n lekker warm gevoeletjie in jou hart; dat liefde beteken dat alles altyd lekker is, dat niks ooit verkeerd loop nie, dat niks moeilik is nie. As ons net gehoor het “liefde”, dan sou ons gedink het dat liefde maklik is.
Toe word God mens, sodat ons kan sien hoe liefde lyk. Jesus gaan sit by mense met wie ons niks te doen wil hê nie. Jesus doen die moeilike goed, maak die moeilike keuses. Jesus het diegene lief vir wie ons gedink het niemand kan lief wees nie. Jesus voed diegene wat deur ons verwerp is. Hy verdra nie beskaming nie, laat nie aanvalle toe nie. Hy lê sy lewe af vir die einste mense wat hom verwerp.
By Jesus sien ons dat liefde moeilik en morsig en vuil is. Liefde is gevaarlik. Dit is geduldig, soek nie sy eie belang nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.
Liefde maak ons broos, kwesbaar. Dit kos ons.
Jesus word ’n brose babatjie, sodat ons kan sien hoe liefde lyk. Hoe God lyk, want God is liefde.
Kinders van God
En Jesus kom vou ons in God se liefde in.
12Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.
Jesus kom wys nie net vir ons hoe liefde lyk nie, hy gee vir ons die ultimate liefde – die liefde van God. Hy maak ’n verhouding met God moontlik. Jesus het nie net gekom om ons te verlos nie. Hy het gekom om ons kinders te maak.
En kinders is broos. Kinders kan nie vir hulleself sorg nie. Dikwels moet hulle nog leer hoe die wêreld werk. Hulle is afhanklik.
Maar kinders verstaan ook instinktief dat broosheid ’n wonderlike gawe is. Kinders is nie bang om lief te hê nie, nie bang om liefde te gee nie. En omdat hulle oop is, broos genoeg om lief te hê, ontvang hulle die wonderlike vreugde wat daarmee saamkom.
En Jesus kom maak jou ’n kind van God. Jy is dit nie van nature nie, nie deur jou eie drang of uit jou eie besluit nie, maar deur die werk van God (vers 13). Wil jy nie dan, hierdie Kersfees – en die dae wat kom – dapper genoeg wees om broos te wees en in God se liefdevolle arms te val nie? Wil jy nie maar hierdie Kersfees die geskenk ontvang wat God ook vir jou gegee het nie? Die geskenk van homself, van God, vir jou.
Ons het hierdie hele Advent gepraat oor hoop. En gister oor broosheid en dapperheid. Laat ek dan vandag afsluit met hierdie gedig deur Aric Clark:
Love has a scar in the center of her belly where her umbilical cord was severed.
Love was born in mucus and blood, frightened and helpless.
Love wears a skin which records her history in wrinkles and scars.
Love is flesh and that flesh is anything but invincible.
Which is not to say that love is weak. On the contrary, most of the scars that love wears, she earned by wrapping herself around the targets of hatred and receiving the blows in their stead.
Gebed
Slotsang
Vonkk 68 Ere aan God, Bring Hom die Eer
Seën
Mag die God van die engele wat Christus se geboorte aangekondig het, vir ons vrede gee.
Mag die God van liefde wat sy enigste seun vir ons gegee het, se liefde in ons leef.
Mag Immanuel, God met ons, ons elke dag vergesel.
Respons
Lied 348 vers 2 laaste 2 reëls: Juig, die Redder is daar!
broosheid, Johannes 1, Kersdag, Kersfees, kinders van God, liefde, preek, Rethie van Niekerk
Kobus Kloppers
Baie dankie vir die preek. Baie geniet en baie stof tot nadenke gegee.
Seenwense