Jesaja 55 Water, Hoop en Advent

Kom, almal wat dors is, kom na die water toe,

Hierdie woorde klink anders vandag as ’n paar jaar gelede.  Die belofte aan water, wanneer daar nie water is nie.  Ons munisipaliteit beleef van die ergste droogtes in mense heugenis. Teen Woensdag was ons damme gesamentlik op 28.69% kapasiteit.

Ons situasie is nog nie eers so erg soos die droogte in die Wes-Kaap nie!

Die afgelope week was daar boonop nuusberigte oor ’n wyn tekort – globaal, die ergste in 50 jaar.  Wat mense natuurlik laat uitroep:  wat kan nog verkeerd loop?!  Net nie die wyn nie!

Ek lees die week ’n artikel deur Nadia Marais, ’n dosent in dogmatiek aan die Universiteit van Stellenbosch, getiteld #rainmustfall  – ’n teologiese refleksie op droogte, dors en die water van die lewe.  Sy vra o.a. of #rainmustfall ’n roep van wanhoop is, of juis van hoop?  Of is dit ’n wens?  ’n Gebed?

Wat dit ook al is, ons lees hierdie belofte aan water vandag met meer erns en ’n groter begrip van die waarde van water, as ’n tydjie gelede.  Ons besef in ons are:  water is lewe.

Toetrede

Lied 484 v 1 en 5 Almal wat dors het, kom geniet

Votum

Leser 1 (by doopvont)

Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet;

Leser 2: (by Nagmaalstafel)

ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk.  2Waarom betaal julle vir iets wat nie brood is nie, waarom werk julle vir iets wat nie kan versadig nie?

Leser 3: (op preekstoel, met Kanselbybel)

Luister aandagtig na My, sodat julle kan eet wat goed is en versadig kan word met die beste wat daar is. 3Gee aandag en kom na My toe, luister, en julle sal lewe.

Lied 163 Soos ’n wildsbok

Seëngroet

Ek wil met julle ’n ewige verbond sluit, Ek wil my troue liefde aan julle betoon soos aan Dawid.

Omdat ons deel aan God se ewige verbond, kan ek julle groet in sy Naam:  genade en vrede vir elkeen van ons!

Lof

In hierdie derde week van Advent slaan ons ’n nuwe blaadjie om.    Na die vuur en die beendere word ons genooi om na die water te kom.  En saam met die uitnodiging om te kom drink, kom die vraag:  wanneer arriveer hoop?  Spoiler alert!  Die antwoord is:  Altyd.  Jy sien, vandag se teksgedeelte – en Advent – wil ons laat dink oor God se teenwoordigheid.  Voor die vraag:  “Wanneer gaan God arriveer?” vra Jesaja:  “Wanneer gaan jy raaksien dat God alreeds hier is?”

Lied 349 Kom kinders besing met ’n vrolike stem

Doop

Vonkk 124 Jesus bring vreugde

Gebed

Skriflesing

Video:  Operation:  No More Tears  (Jesus Storybook Bible)

Jesaja 55:1-13

Inleiding

Kinders  gehoor teks praat van sneeu?

Ja, die reën en die sneeu kom uit die hemel en dit gaan nie terug na die hemel nie. Dit maak die aarde nat, en daar groei plante wat saad gee sodat die man wat wil saai, saad het en sodat die man wat wil eet, brood het. So sal my woorde wees wat uit my mond kom, dit sal doen wat Ek wil hê. My woorde sal doen wat Ek gesê het hulle moet doen, my woorde sal nie leeg na My toe terugkom nie.

God sê dat sy woorde vir ons lewe gee, soos wat reën en sneeu vir ons lewe gee.  Kinders gaan sneeuvlokkies maak vir kersbome – wys hoe.

Preek

#rainmustfall

Kom, almal wat dors is, kom na die water toe,

Hierdie woorde klink anders vandag as ’n paar jaar gelede.  Die belofte aan water, wanneer daar nie water is nie.  Ons munisipaliteit beleef van die ergste droogtes in mense heugenis. Teen Woensdag was ons damme gesamentlik op 28.69% kapasiteit.

Ons situasie is nog nie eers so erg soos die droogte in die Wes-Kaap nie!

Die afgelope week was daar boonop nuusberigte oor ’n wyn tekort – globaal, die ergste in 50 jaar.  Wat mense natuurlik laat uitroep:  wat kan nog verkeerd loop?!  Net nie die wyn nie!

Ek lees die week ’n artikel deur Nadia Marais, ’n dosent in dogmatiek aan die Universiteit van Stellenbosch, getiteld #rainmustfall  – ’n teologiese refleksie op droogte, dors en die water van die lewe.  Sy vra o.a. of #rainmustfall ’n roep van wanhoop is, of juis van hoop?  Of is dit ’n wens?  ’n Gebed?

Wat dit ook al is, ons lees hierdie belofte aan water vandag met meer erns en ’n groter begrip van die waarde van water, as ’n tydjie gelede.  Ons besef in ons are:  water is lewe.

Hoop vir Jesaja se gehoor

Die mense vir wie Jesaja die eerste keer hierdie woorde oorgedra het, het ook baie goed besef dat water lewe is.  Hulle was goed bekend met tekort:  tekort aan water, tekort aan voedsel.

Sien, Jesaja skryf hierdie woorde aan ballinge.  Dit is ’n nasie wat hulle rug op God gedraai het.  Daarom het God sy oordeel oor hulle aangekondig.  In Jesaja 8 word dieselfde metafoor van water gebruik om God se oordeel aan te kondig:

5Die Here het verder met my gepraat: 6“Omdat hierdie volk Siloag se kalm waters verwerp het en bang geword het vir Resin en vir Peka seun van Remalja, 7sal die Here die magtige vloedwaters van die Eufraat oor hulle laat kom: die Assiriese koning met al sy mag. Die Eufraat sal oor al sy oewers stoot, oor al sy walle spoel. 8Hy sal Juda binnedring, die hele land oorstroom en daardeur vloei totdat hy skouerhoogte bereik. Hy sal sy vlerke uitsprei totdat dit jou land heeltemal oordek, Immanuel

Hulle word weggevoer, hulle huise vernietig.  Hulle leef as ballinge in ’n vreemde land.  En dit is hier, waar hulle sonder hoop, moedeloos, in ’n vreemde land sit, waar die woorde van hoop vir hulle gebring word.

Hoop as Opdrag

Maar dis baie interessant – hoop kom nie as simpatie of selfs as ’n belofte nie.   Hierdie teks is veel eerder ’n opdrag as ’n trooswoord. In die eerste 7 verse van Jesaja 55, is daar twaalf imperatiewe!

Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom,  koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk.

7 opdragte, net in vers 1!

Hoop is ’n geskenk, ja.   Dit is inderdaad iets wat God vir ons gee.  Maar dit lyk asof hoop nie iets is waarop ons maar passief kan wag nie.  Dit is soos die water van die doop.  Ons doop die kleine babatjies wat nie ’n idee het wat aangaan nie.  God gee sy genadige liefde vir hulle, sonder dat hulle enige aandeel het, enige iets doen.  Maar iewers gaan hulle die geskenk moet aanvaar.  Dit help nie die pakkie bly heeljaar onoopgemaak onder die kersboom lê nie.

Al reën dit nie, al gaan dit swaar, al voel ons soos ballinge.  Ons moet opstaan en die geskenk van God se belofte aanvaar, deelneem aan die hoop wat God belowe.  Koop én eet.  Ontvang met jou kop, intellektuele instemming, maar ook inneem, deel maak van jou wese, van jou lewe.

Die inhoud van die hoop

Dan is dit pragtig, aangrypend poëties, wat God beloof:

Kom ons begin by die waarde daarvan wat God beloof:  “priceless”.  Van onskatbare waarde.  Jy kan nie daarvoor betaal nie.

Dit sê vir ons eerste plek dat dit ’n geskenk is.

Tweedens dat dit so waardevol is, dat niks daarvoor kán ruil, niks is genoeg werd dat jy dit kan gee om daarvoor te betaal nie.  Dis nou weer daardie tweedelige ding van verniet en ontvang, soos die doop: God gee liefdevolle genade.  Verniet.  Ons maak ons hande oop en ontvang dit.  Dis verniet.  Omdat dit van onskatbare waarde is.

Derdens, om ’n prys daaraan te probeer heg, sou beteken dat ons nie die waarde daarvan besef, nie besef hoe uniek dit is nie.  Weereens die doop:  as ons dink dat ons God se genadige liefde op ’n manier kan verdien, deur goeie dade, of deur goed genoeg te wees, dan beteken dit ons besef nie die waarde van God genade en presies hoe onverdiend dit is, hoe vrygewig God is nie.

Vierdens beteken dit dat die geskenk en gewer nie van mekaar losgemaak kan word nie.  Hierdie is nie ’n geskenk wat mens kan gryp soos wat mense graag doen, sodat die mag joune kan wees nie.  Hierdie bly die hele tyd ’n geskenk wat God die hele tyd gee.

En laastens beteken dit dat dit nooit enige iemand se privaat besit is nie.  Dit behoort aan die gewer, wat dit vrygewig uitdeel, aan ’n gemeenskap, selfs aan mense aan wie ons eintlik wens hy dit nie sou gee nie.

En wat ons kry, volgens Jesaja se beeld, is wyn en melk.  Melk, want dit gee vir ons voeding.  Wyn, wat in die woorde van Psalm 104:15, ons harte bly maak.  Wat God bied, is lewe in oorvloed, omvattende lewe.  Vreugdevolle lewe, sodanig dat selfs die bome van die veld hande klap.

As ’n mens hoor “wyn en melk”, dan kan ’n mens dink dis uitspattig.  Maar eintlik gaan dit nie oor die oorvloed nie – dit gaan oor die verhouding.  Dink aan Kersetes.  Tafels wat kreun onder kos waaraan daar vir dae lank beplan en gewerk is.  Hoekom?  Nie vir die kos nie, maar vir die verhouding, vir die mense wat óm die tafel saam kuier.

En dit is die geskenk wat God gee.  Dit is die belofte van Jesaja.  Dit is die hoop van Advent.  Dit is die inhoud van die doop.  ’n Verhouding.  ’n Verbond.  ’n Verhouding van troue liefde.  “Steadfast love”, noem die Engels dit.

Vers 3:  Ek wil met julle ’n ewige verbond sluit, Ek wil my troue liefde aan julle betoon soos aan Dawid.

God maak ons deel van sy verbond, sluit ons in by sy troue liefde.  Daarvan getuig ons elkeen se doop.

Daar is geen groter geskenk as dit nie.  Daarvoor kan ons geen geld betaal nie.  Niks op aarde het genoeg waarde of meer waarde as God se genadige liefdesverbond nie.  En dit is die bron en die inhoud van ons hoop.

Jesus ons hoop

Kom, almal wat dors is, kom na die water toe, selfs ook dié wat nie geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder om te betaal, wyn en melk.

Hierdie tyd voor Kersfees herinner ons op ’n spesiale manier aan hierdie verbond van troue liefde waarin ons deel.  Dit herinner ons aan daardie keer in Kana, toe daar te veel wyn was (Joh. 2:1-11).  Aan die Samaritaanse vrou by die put, toe daar te veel water was (Joh. 4:1-42).  En aan die oewer van die see van Galilea, toe daar te veel brood was (Joh. 6:1-14).   Sodat ons kan weet dat hierdie nie leë beloftes is nie.  Jesus is die lewende water, die brood van die lewe.  By Jesus is daar hoop.  By Jesus is daar lewe.

Bring die hoop

En ja, ek kan nie oor hierdie teks praat, sonder om te praat oor nog ’n berig wat hierdie week in die koerant was nie.  Dat die mense in ons provinsie – in ons stad – letterlik doodgaan van die honger nie.  Hoe lees ons hierdie belofte vir wyn en melk en brood, wanneer mense om ons doodgaan van die honger?

Dan wil ek jou weer terugvat na die belofte en die verbond in Jesaja 55.  Want daardie belofte is nie net vir God se kinders nie.  Vers 5:

en nasies wat jou nie geken het nie, sal na jou toe hardloop ter wille van die Here jou God,

In die belofte van God se troue liefde, is ook ’n roeping.  God se troue liefde loop oor.  Geseën om te seën.

Dan dink ek weer aan die Jürgen Moltmann aanhaling van verlede week:

Faith, wherever it develops into hope, causes not rest but unrest, not patience but impatience. It does not calm the unquiet heart, but is itself this unquiet heart in [all of us]. Those who hope…can no longer put up with reality as it is, but begin to suffer under it, to contradict it. [True hope] means conflict with the world, for the goad of the promised future stabs inexorably into the flesh of every unfulfilled present.

Die hoop wat ons het, gegrond in God se troue liefde, dryf ons tot aksie.  Dit gee vir ons ’n fokus, vasbeslotenheid om die belofte al meer te laat waar word vir al meer mense.  Dis waarom ons lidmate ’n partytjie gehou het vir die kinders van Helenvale – en hoekom ons lidmate sorg dat hulle elke week kos kry.  Dis hoekom ons partytjie gehou het vir die kinders van MTR Smit en hoekom ons die heel jaar na hulle omsien.  Dis hoekom ons op Kersdag geskenke vir Ithemba Lam gaan bring.

Want ons het hoop ontvang.  En ons deel dit met ander.  Daar is genoeg.

Om hoop te sing

Dit was vir my opvallend, in my voorbereiding vir hierdie week, hoe min daar oor hierdie teks geskryf is!  Dis so ’n bekende, aangrypende teks.  Mens sou dink dat daar méér oor hierdie teks geskryf is as oor baie ander.  Maar die teendeel is waar.  Dis asof dominees nie weet hoe om oor hierdie teks te preek nie.  Teoloë nie weet hoe om die teks te verduidelik nie.

Maar musiek?  Nou daar is die teendeel waar!  Dis asof musikante nie genoeg kan sing oor hierdie teks nie.  Ons eie liedereskat het 5 weergawes hiervan.  En elke keer wat ek die teks lees, dan begin my gedagtes sing:  “We shall go out with joy and be led forth with peace, the mountains and the hills will break forth before you.  And the trees of the field will clap their hands….”

Dalk is dit, op die ou end, die punt.  Dat ons nie hoop kan verduidelik of verklaar nie.  Maar ons kan daaroor sing.  Ons kan dit leef.  Ons kan dit wees.

Gebed

Dankoffer

Slotsang

Lied 342 O Jesus, ons Heer, U het ons verbly

Seën

12Julle sal met blydskap uit Babel wegtrek en in vrede gelei word; die berge en die heuwels sal voor julle uit jubel en juig en al die bome in die veld sal hande klap. 13In die plek van ’n doringbos sal daar ’n sipres opskiet, in die plek van ’n dissel sal daar ’n mirteboom opskiet.  Dit sal tot eer van die Here wees, ’n blywende teken wat nooit vernietig sal word nie.

Respons

Lied 345 vers 4 refrein

advent, hoop, Jesaja 55, preek, preke, Rethie van Niekerk, water

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.