Barmhartige Samaritaan Preek Lukas 10:25-37
Dis interessante tye waarin ons leef. Dit voel vir my ek kan nie bybly oor waaroor ek ontstoke moet wees nie. Eers is almal woedend oor ‘n dominee wat dit durf waag om liefde en solidariteit te betoon aan Moslems. Toe jy weer kyk, begin almal hul DSTV skottels vernietig. Ek het nog nie eers al die videos van verontwaardigde vernietiging klaar gekyk nie, toe dreig Moreletta Park om die NG Kerk te verlaat en almal baklei daaroor. En toe is daar ‘n Boer wat almal verwar met wat presies hy nou eintlik soek.
Verlede week die tyd sit ek en kyk hoe die verkiesingsluitslae stuk-stuk uitkom en een ding is duidelik: ons leef in ‘n samelewing wat al meer gepolariseerd raak. Wêreldwyd. Maar ook hier by ons.
Maar die Messias vertel stories van ‘n barmhartige Samaritaan.
Nou het ons natuurlik hierdie storie al te veel gehoor, dit te mak gemaak.
Amy-Jill Levine skryf dat ons geloof bedoel is om verdruktes te troos en gemaklikes te verdruk. In Engels: “to comfort the afflicted and to afflict the comfortable.” As ‘n mens m.a.w. na ‘n gelykenis soos hierdie luister en jy dink “Ja! Ek hou daarvan”, of, erger nog, dit daag jou nie uit nie, dan, sê Levine, het jy nog nie goed genoeg geluister nie. Dis veronderstel om jou ongemaklik te maak, om jou uit jou gemaksone te skud.