Lukas 2 Broosheid, Hoop en Advent
God kom aarde toe. God, die skepper van die heelal, wat die planete in hul wentelbane geplaas het, kom om die mensdom te verlos. En hy doen dit, deur mens te word. Maar meer nog. God kom verlos die mensdom, deur mens te word, deur gebore te word… as ’n baba. Het jy al ’n pasgebore baba gesien? Weet jy hoe broos is daardie goedjies? En hier is hierdie babatjie – God! – in ’n stal! In die diere se voerbak!
Die verhaal van Jesus se geboorte, van God se verlossing van die mensdom, is ’n verhaal van broosheid en kwesbaarheid.
Vandag se preek is eintlik een preek in 2 dele, saam met Kersdag se preek. Ons fokus hierdie hele Advent op hoop. Ons het beweeg uit die vuur, deur die beendere, in die water in, Vandag en môre kyk ons na vlees. Want hoop het vel en been en vlees.
Toetrede
Lied 370 verse 1 en 2 Eng’le uit die hoogste hemel
Votum
[terwyl 4 adventkerse aangesteek word]
In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God. Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.
Seëngroet
Hier op die vooraand van Kersfees, groet ek julle in die naam van God wat Woord is, wat Lig is. In hom is daar lewe.
Lofsang
Lied 368 al vier verse Wyl herders by hul kudde wag
Gebed
Skriflesing
Lukas 2:1-20
Video
- The Light of the Whole World (Jesus Storybook Bible)
Preek
’n Brose Kersfees
Anders as meeste mense, geniet ek dit vreeslik om oor Kersfees te werk. Dit is vir my – saam met Paasfees – van die mooiste tye in die Kerkjaar. Ons sing pragtige Kersmusiek. Ons kan die kerkgebou mooi opmaak. En die verhaal van Kersfees! Van engele wat verskyn, drome, ’n baba in ’n stal, herders, sterrekykers. . .
Die probleem is natuurlik dat hierdie verhaal, so tussen die liggies en die blink geskenkpapier, vir ons romanties begin raak. Dat ons vergeet hoe skandalig dit eintlik is en dat ons die revolusionêre aard daarvan miskyk.
Vergeet vir ’n oomblik die kerstonele met Josef en Maria wat tevrede staar na ’n babatjie wat salig slaap. Sien in jou geestesoog eerder die verhaal van ’n jong meisie wat swanger raak voordat sy getroud is – in ’n diep patriargale samelewing, waar vrouens se eer in hul reinheid lê en hul waarde bepaal word deur hul hubaarheid. In ’n samelewing waar haar verloofde nie net die verlowing kan verbreek nie, maar waar sy op ’n gruwelike manier ter dood veroordeel kan word as dit bekend raak dat sy buite die huwelik swanger geraak het.
Deur vir God “ja” te sê, het Maria “ja” gesê vir broosheid. Was sy uitgelewer, kwesbaar.
Die verhaal van Jesus se geboorte is die verhaal van twee hawelose mense sonder heenkome. Mense vir wie hul eie familie nie eers ’n gaatjie kon maak nie.
So hulle eindig tussen diere. In ’n stal. Wat lyk soos ’n stal en ruik soos ’n stal. Dis nie higiënies nie. Daar is nie dokters of vroedvroue of skoon water en warm lappe nie.
Plus, hulle leef in ’n reinheidskultuur, met allerhande wette oor hoe alles gewas moet word, oor hoe jy self onrein word wanneer jy met sekere goed in aanraking kom – selfs godsdienstig onrein.
As dit vandag was – en ’n jong meisie moes iewers op haar eie tussen die diere in iemand se kraal geboorte skenk – sou ons besef hoe broos en kwesbaar, hoe uitgelewer daardie meisie en haar baba is.
In hierdie brose omstandighede gebeur die wonderlike ding: die Messias word gebore! Sekerlik sal die leier van die volk hiervan moet hoor! Of ten minste die geestelike leiers. Of dan net die dorpie se rabbi.
Maar die eerste wat die nuus hoor, is herders. In die nag in die veld.
Weereens het ons dit verromantiseer. Maar herders was láág op die sosiale orde in hul samelewing. Hulle trek saam met hul skape rond. Hulle kon glad nie daardie reinheidswette waarvan ons nou net gepraat het, nakom nie. Hulle kon bv. nie – skande op ergste moontlike skande – hul hande was voor hulle eet nie. Of al die ander kere wat jy jou hande moet was.
So nie alleen was hulle onbelangrike, arm, lae klas mense nie. Hulle was ook, wanneer dit kom by godsdiens, nie baie goeie mense nie.
En dis aan húlle wat die nuus eerste verkondig word. Aan die mense op die rand van die samelewing, op die rand van die godsdiens. En nie met een engel nie, maar sommer met ’n engeleskaar.
Hierdie is nie ’n triomfantlike, romantiese verhaal nie. Dis ’n brose verhaal van brose mense.
Maar dan het ons nog nie eers gepraat van die grootste skandaal van hierdie verhaal nie. Die ergste van alles…
God kom aarde toe. God, die skepper van die heelal, wat die planete in hul wentelbane geplaas het, kom om die mensdom te verlos.
En hy doen dit, deur mens te word.
Weet jy hoe broos is ons mense? Hoe maklik breek ons?
Maar meer nog. God kom verlos die mensdom, deur mens te word, deur gebore te word… as ’n baba.
Het jy al ’n pasgebore baba gesien? Weet jy hoe broos is daardie goedjies?
En hier is hierdie babatjie – God! – in ’n stal! In die diere se voerbak! (Is daar nie altyd goggas in strooi nie?)
En die politieke magte woel. Die Romeine het die land ingeneem, almal veg om mag, daar is ’n gespartel om posisie wat die ANC se afgelope vergadering na ’n kinderpartytjie laat lyk.
Kort hierna volg ’n massamoord, moet die familietjie – met God, ’n brose jong seuntjie – vlug vir hul lewens, na ’n vreemde land. Word hulle mkwarra-kwarra. Vlugtelinge.
Die verhaal van Jesus se geboorte, van God se verlossing van die mensdom, is ’n verhaal van broosheid en kwesbaarheid.
Om broosheid te vermy
Dan is dit tog interessant dat ons as mense alles in die stryd sal werp om broosheid te vermy. Ons is so bang om nie beheer te hê nie. Bang om afhanklik te wees van ander.
So ons ontwerp strategieë om kwesbaarheid te vermy. Ons pantser onsself met ’n wapenrusting teen broosheid. Ons het almal verskillende pantsers. Party gebruik perfeksionisme om hul kwesbaarheid weg te steek. Ander intellektualiseer. Ander probeer die gevoel van broosheid verdoof met drank of partytjies of grappies of vermaak of werk, noem maar op.
Brené Brown noem nog ’n interessante manier waarop ons broosheid probeer keer. Sy sê dat vreugde – joy – een van die mees brose emosies is wat ’n mens kan ervaar. Daarom reageer ons met wat sy noem “foreboding joy”. Kom ons vertaal dit as ’n “onheilspellende vreugde”.
So die oomblik wat jy ware vreugde ervaar, begin jy solank vooruitdink aan alles wat kán verkeerd loop, wat moontlik hierdie vreugde kan vernietig. As jy bv. staar na jou slapende kleinkind, dan begin jy dink aan alles wat met haar kan gebeur, alles wat kan verkeerd loop in haar lewe.
En so pantser jy jouself teen die broosheid wat noodwendig saam met vreugde en liefde kom.
Ons probeer onsself beskerm teen seerkry en verwerping. So ons pantser. Ons staan soggens op en vra: Waarvoor moet ek vandag bang wees? En: wie moet ek blameer?
En ons dink broosheid is swakheid.
Wat is broosheid?
Maar weet jy wat? Broosheid is nie swakheid nie. Om broos te wees, is van die dapperste, moedigste dinge wat ons kan doen.
Wat is broosheid? Hoe sou jy dit antwoord? Wat is broosheid vir jou?
Iemand het hierdie vraag gevra en o.a. die volgende antwoorde gekry:
Om broos te wees is om:
- ’n ongewilde mening te deel
- op te staan vir jouself
- te vra vir hulp
- “nee” te sê
- Jou eie besigheid te begin
- Jou 34-jarige vrou met fase 4 borskanker te help met besluite oor haar testament
- ’n vriend te bel wie se kind gesterf het
- Om afgedank te word
- Swanger te raak na drie miskrame
- Te wag vir ’n biopsie se uitslae
- Te erken dat jy bang is
- Te vra om vergifnis
- Te glo
- Te hoop
God word broos
En God word broos. God word volledig deel van ons realiteit. Word ’n babatjie, onder die mees kwesbare omstandighede wat jy jou kan indink.
En dít is hoe God kies om ons te verlos. In brose kwesbaarheid.
Want sien, liefde is per definisie broos. Daar kan nie liefde wees sonder broosheid nie. Om lief te hê, is om jouself oop te stel – vir seerkry, vir verwerping, maar ook vir vreugde en liefde.
God word mens sodat ons hom kan ken. Sodat ons sy plan vir ons kan sien. Sodat ons sy liefde vir ons kan sien. En God nooi ons in ’n verhouding met homself in. En God laat toe dat mense hom verwerp.
Die broosheid van hoop
So as ons dan hierdie Advent praat van hoop, dan praat ons van broosheid. Hoop is ’n onsekere risiko. Om te hoop, is broos. Dit is om ons pantsers te laat val, wetend dat ons kan seerkry. Om te hoop is om te erken dat ons nie beheer het nie. Dat ons en die wêreld nie perfek is nie.
Om te hoop, is dapper. Dit is om ons vertroue in God te stel. Dit is om lief te hê.
En dit is net wanneer ons broosheid omarm en aanvaar, dat ons dit regkry om werklik in hoop en in liefde – in God se hand – te leef.
Gebed
Slotsang
Lied 364 al 3 verse Herders op die ope velde
Seën
Mag die God van liefde wat sy enigste Seun vir ons gegee het, julle lewe met liefde en vrede vul.
Respons
Lied 364 refrein: Gloria in excelsis Deo! Gloria in excelsis Deo!
advent, broosheid, Herders, Kersfees, kwesbaarheid, Lukas 2, preek, Rethie van Niekerk