Ons lees die boek Rut asof dit hierdie vreeslike romantiese storie is. En deur ons verwesterse – en bevoorregte – oë, sien ons liefde en romanse oral in die storie. Maar die boek Rut is nie ’n liefdesverhaal nie. Dit is die tipe storie wat in die tyd wat dit geskryf is, so skalks onderlangs aangegee sal word. “Het jy dié gesien?” Dis die tipe storie waaroor die regering jou sal opsluit. Nie ’n roman nie, maar ’n subversiewe politiese pamflet. Dis wat Rut is. Dis kritiek teen nasionalisme, rassisme, onverdraagsaamheid, vooroordele en seksisme.
Dit is ’n verhaal van desperate oorlewing. ’n Verhaal wat ons konfronteer met ons eie vooroordele en ons uitdaag oor ons verantwoordelikheid teenoor die mense wat op die rante leef.
’n Vreemde vrou in ’n vreemde land, sonder enige heenkome, geen manier om vir haarself te sorg of te voorsien nie. Met die pyn van verlies van ’n eggenoot wat sterf. En dan nog boonop die pyn van ’n kind wat sterf. En nog ’n kind wat sterf. Daar is nie woorde om daardie pyn te beskryf nie. As jy jouself die ergste, seerste ding indink wat met jou kán gebeur – en dan nóg – dan is jy nog nie waar Naomi was nie.
En dis ongeveer hier dat Naomi besluit God het teen haar gedraai. Wat anders moet sy dink?
In een van sy praatjies vertel dr. Leo Buscaglia hoe hy uitgenooi is na ’n klein kerkie naby sy huis. Hy vertel hoe hy vriendelik en gasvry en liefdevol verwelkom is, sommer by die deur al. Maar die hoogtepunt was toe die dominee opstaan en sê: “Vriende, broer Jonathan gaan vanoggend vir ons preek. Sy onderwerp gaan “geloof” wees.” Broer Jonathan het opgestaan en vorentoe gegaan: ’n klein, kort mannetjie, geen hare nie, klein, skerp ogies. Hy het vir ’n paar oomblikke voor almal gestaan. Toe vou hy sy hande en sê: “Geloof. Geloof. Geloof. Geloof. Geloof. Geloof.” En toe gaan sit hy. Die dominee het opgestaan en met ’n groot glimlag gesê: “Dankie broer Jonathan, vir daardie aangrypende preek oor geloof.”
Nou vandag moet ek eintlik net sê: “God is liefde. God is liefde. God is liefde. God is liefde. God is liefde. God is liefde.”
Sjoe, dit was wonderlik om hierdie week al die foto’s te sien van die reën en die sneeu in die Wes-Kaap! Ons het so lank gebid en gesoebat. Dit het selfs gesneeu in Kaapstad se middestad. Julle het seker die foto gesien?
Behalwe, dit het nie. Hierdie foto is van hael in 2013.
Maar dit is die wêreld waarin ons deesdae leef. Die wêreld van “fake news” waar goedgelowige mense onbedoeld leuens versprei. Waar dit al moeiliker raak om te onderskei tussen waarheid en leuens.
’n Artikel wat vanjaar in die joernaal “Science” verskyn het, sê dat dit ongeveer 6 keer langer vat vir die waarheid om by 1500 mense uit te kom as leuens. “Falsehood diffused significantly farther, faster, deeper and more broadly than the truth in all categories of information”, skryf hulle.
Dikwels is die stories skadeloos. Dit laat ons naïef lyk, maar dis eintlik al.
Ander stories is nie so skadeloos nie. Stories dat jy nie huilende kinders moet help nie, want dis hoe skelms jou in die hande kry. Sleutelhouers wat by petrolstasies uitgedeel word om jou te vang. Mense wat jou aan parfuum laat ruik om jou te besteel. Dis alles leuens. Of die aaklige storie wat in Mei vanjaar versprei is, oor ’n man wat in Pretoria gekaap en aan die brand gesteek is. Nie waar nie. Stories oor Eskom en allerhande ander spoke. Wat vrees en haat stook en ons lam lê. Wat die brose situasie in ons land net vererger.
Dan is daar natuurlik die stories wat waar is, wat niemand glo nie.
Of die stories wat waar is, wat ’n mens wens nié waar was nie.
Dit is moeilik om te onderskei tussen waarheid en leuen.
Ons het ’n probleem. Want ons is God se kinders! Ons leef in verbondenheid met hom! Maar ons maak droog. Selfs ons beste is nie goed genoeg nie. As die dominee sê daar is geen oorvleueling tussen die lig-sirkel en die duisternis-sirkel nie, dan skuif ons ongemaklik rond, want ons wéét van ons eie duisternis.
In die oorspronklike Jurassic Park is daar hierdie wonderlike toneel, wanneer Dr. Alan Grant die paleontoloog, vir die eerste keer regtige, lewendige dinosourusse sien. Hy is verstom. Hy kan sy oë nie glo nie. Sy asem is weggeslaan. Dinosourusse in lewende lywe is soveel meer indrukwekkend as wat hy ooit uit sy fossiele kon droom.
Baie van ons se geloof is soos paleontologie. Soos die studie van fossiele. Dit is vir ons regtig, maar eintlik bestudeer ons net dooie bene. Van ou artifakte. Daar is nie regtig lewe nie. Baie mense kan nie regtig praat van wat hulle self gesien en gehoor en gevoel het nie.
Tog is ons geloof soveel meer as dit! Ons geloof berus nie net op idees of leerstellings nie. Om ’n Christen te word, is nie maar net om by ’n kerk aan te sluit of ’n sekere belydenisskrif te onderskryf of in te stem met ’n sekere leerstelling nie.