Skip to main content

1 Korintiërs 8:1-13 – Die Liefde Bou Op

Vir die vroeë gelowiges was dit ’n brandende vraag of ’n mens vleis wat aan afgode geoffer is, mag eet.  Dis nie vandag vir Christene meer ’n vreeslik brandende vraag nie.  Tog is hierdie gedeelte vandag steeds baie relevant vir ons!  Natuurlik.  Christene sal altyd verskil.  Veral in ’n land soos Suid-Afrika, waar ons ’n mengelmoes van agtergronde en tale en kulture in een pot is.  Ons kom byna daagliks in situasies soos hierdie.  By die werk, in skole en universiteite, by die kerk.  En, natuurlik, in ons eie huise, waar ons ook sterk kan verskil oor wat aanvaarbaar is al dan nie.

Toetrede

Psalm 111 v 1-3

Votum en seëngroet

Psalm 111:1-4

111 Prys die Here!

Met my hele hart

wil ek die Here loof

in die samekoms van die opregtes,

in die gemeente.

2Die werke van die Here is groot,

almal wat daarin vreugde vind,

dink daaroor na.

3Sy dade is vol majesteit en luister,

sy trou staan vir altyd vas.

4Hy sorg dat sy magtige dade

nie vergeet word nie.

Seëngroet

(Psalm 111:4-5)

Genadig en barmhartig is die Here.

5Hy voed dié wat Hom dien,

Hy hou sy verbond altyd in stand.

Lofsang

Lied 334 “God is Liefde!” juig ons harte

Verootmoediging

Psalm 111:7-10a

7Wat Hy doen, getuig van trou en reg,

al sy voorskrifte staan vas,

8hulle is vir altyd geldig,

hulle is gegee in trou en regverdigheid.

9Hy het vryheid vir sy volk bewerk,

sy verbond vir altyd ingestel.

Sy Naam is heilig, dit wek ontsag.

Toewyding

Psalm 111:4 Hy’s op trou en reg gesteld…

Aanmoediging

10Wysheid begin

met die dien van die Here;

almal wat dit doen, het ware insig.

Die roem van die Here hou altyd stand.

Geloofsbelydenis

Lied 332 God se liefde, so oneindig

Gebed

Skriflesing

1 Kor. 8:1-13

1 Kor. 8:1b:  ἡ γνῶσις φυσιοῖ, ἡ δὲ ἀγάπη οἰκοδομεῖ. Kennis blaas op, maar liefde bou op.

Inleiding

Kennis blaas op, liefde bou op – met Mnr Grootkop.

Oorgang

Lied 526 Ubi Caritas Afr., Latyn, Afr.

Preek

Ek het (radikaal) tot bekering gekom in St 9 – Graad 11.  Soos enige tiener was popmusiek ’n sentrale deel van my lewe.  As ’n mens ’n tiener is, hang jy jou kamer vol plakkate van jou gunsteling sterre, druk jy jou emosies en jou identiteit uit deur die musiek waarna jy luister.

Ek was vir so byna ’n jaar ’n Christen, toe ek oortuig raak dat die popmusiek nie goed is vir my nie.  Dit is wêrelds.  Dit assosieer my met wie ek was.  Maar ek is nie meer daardie persoon nie.  Ek leef nie meer volgens daardie waardes nie.  Dit laat my in leun in emosies soos woede en aggressie.

So ek het ontslae geraak van ál my populêre musiek en dit met geestelike musiek vervang.  Dit was nie vir my ’n maklike besluit nie!  Onthou, as tiener was my musiek van my heel belangrikste besittings – indien nie dié heel belangrikste nie!  Maar, was my oortuiging, om God te dien was belangriker.  Ek moes my verbondenheid aan God bewys deur my musiek op te offer.

Vir baie jare daarna het ek nét geestelike musiek geluister.

Vandag, amper al op pad na 30 jaar later, luister ek meestal sekulêre musiek.  Ek skat minder as 10% van my musiek is geestelik.  Die res is sekulêr, hoofsaaklik moderne musiek.  Ek luister self na presies dieselfde musiek as waarna ek geluister het voordat ek tot bekering gekom het.

En daar is niks mee verkeerd nie.  Ek is steeds oortuig dat dit verkeerd sou wees toe ek in matriek was.  Maar nou is dit nie verkeerd nie.  Die musiek het nie verander nie.  Ek het.

Ek het gegroei van ’n jong geloof – die geloofsfase wat Brian McLaren noem “Simplicity”.  Dis die fase in ’n mens se geloof waar alles swart en wit is, waar die belangrikste vraag in jou lewe die vraag is of iets reg of verkeerd is, wie in en wie uit is.  Waar identifikasie met ’n groep so belangrik is dat jy alles in die stryd werp om spesifiek reëls na te kom, om sodoende volledig deel van daardie groep te wees.

Oor die afgelope byna 30 jaar het my geloof gegroei.  Het ek gegroei in kennis en, daarmee saam, in vryheid.

Vandag se vrae

Vir die vroeë gelowiges was dit ’n brandende vraag of ’n mens vleis wat aan afgode geoffer is, mag eet.  Wat waarskynlik beteken het of ’n mens enige vleis kon eet, omdat basies alle vleis wat beskikbaar was om te eet, aan afgode geoffer was.

Dis nie vandag vir Christene meer ’n vreeslik brandende vraag nie.  Natuurlik is daar soms nog die vraag of ons Halaal kos kan eet.  Al meer en meer mense begin vra of ons enigsins vleis behoort te eet.  Maar meestal is die vraag oor vleis wat aan afgode geoffer is, nie regtig iets waaroor ons baklei nie.

Tog is hierdie gedeelte vandag steeds baie relevant vir ons!  Natuurlik.  Christene sal altyd verskil.  En as jy nog die aard van die Christelike geloofsgemeenskap in ag neem, is die tafel gedek vir konflik.  Want, sê Kolossense 3:11

Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie.

Met die implikasie, natuurlik, dat die Christelike gemeenskap ’n mengelmoes van kulture, agtergronde, tale, sosiale status, opvoeding, noem maar op is.  In sulke groepe kan jy verskille verwag. Groot, ernstige verskille.

Vandag nog.  Veral in ’n land soos Suid-Afrika, waar ons ’n mengelmoes van agtergronde en tale en kulture in een pot is.  Ons kom byna daagliks in situasies soos hierdie.  By die werk, in skole en universiteite, by die kerk.  En, natuurlik, in ons eie huise, waar ons ook sterk kan verskil oor wat aanvaarbaar is al dan nie.

’n Goeie, redelik algemene voorbeeld, is alkohol.  Daar is Christene wat geen probleem daarmee sien om af en toe, gematig, te drink nie.  Daar is ander Christene wat ten sterkste enige vorm van alkoholgebruik veroordeel en dink geen Christen mag ooit enige alkohol drink nie.  Daar is Christene wat selfs nie eers wyn drink met Nagmaal nie.  Hierdie verskille bestaan binne ons eie gemeente.

Dis soms moeilik om te glo, maar daar is gelowiges wat verskil oor dans.  Sommige sien geen probleem daarmee nie en dink dis onskuldige ontspanning.  Ander sê Christene hoort nie in die plekke waar daar gedans word nie.  Dat die bewegings en doel van dans nie tot eer van God kan wees nie.

Dan praat ons nog nie eers oor aanbiddingstyle nie!  Ek het met verwondering die Gereformeerde Kerk se afgelope Sinodale gesprek oor kerkliedere gevolg.  Maar in ons eie gemeente sal die gesprek dikwels gaan oor meer gewyde versus meer vriendelike of informele aanbidding.  Sommige sê God is heilig en dat ons respek toon met gewyde stilte.  Ander sê ons moet seker maak dat kinders die Here leer ken – die swakkes onder ons – en dat ons eredienste vir hulle toeganklik moet wees.

Ek kan sekerlik aangaan en nog baie verskille noem.

Wat jy moet raaksien oor die verskille, is drie goed:

  1. Christene verskil van mekaar. Ons het nog altyd.  En totdat Jesus weer kom en sy Koninkryk finaal kom, sal ons waarskynlik aanhou verskil.
  2. Die verskille is dikwels ernstig. Wanneer die Korintiërs verskil oor vleis wat aan afgode geoffer is, verskil hulle oor twee goed:  afgodery en naasteliefde.  Jy moet jou Here jou God liefhê… en jou naaste soos jouself.  Die eerste en die tweede gebod. Hierdie verskille is nie eenvoudige goed nie.  Dit is dikwels kompleks.  En ons moet dit elke keer met groot erns benader.
  3. Die derde ding wat jy moet raaksien oor die verskille, is dat dit uit verskillende lewenservaringe gebore is. Die verskille is nie omdat sommige slim is en ander onnosel nie.  Of omdat sommige deugsaam en ander boos is nie.  Verskillende lewenservarings lei ons daartoe om verskillende omstandighede – en verskillende Skrifgedeeltes – verskillend te interpreteer.

Die Korintiërs wat gesê het jy mag nie vleis eet wat aan afgode geoffer is nie, was bekeerlinge uit die heidendom – mense wat voorheen vleis aan afgode geoffer het.  Vir hulle om te leef as gelowiges, moes hulle volledig met daardie verlede breek.

Mense wat sê dat Christene geen alkohol mag gebruik nie, of glad nie mag dans nie, sê dit meestal vanuit ’n baie spesifieke lewenservaring.  Net soos die offervleis sê hulle dit nie sommer net vanuit ’n wettiese fundamentalisme nie, maar omdat hulle die ander kant gesien het en die gevare ken.

Liefde as vertrekpunt

Paulus gesels met die Korintiërs oor die verskil wat tussen hulle bestaan.  En hy begin deur ’n reël te stel.  Die reël sal dan bepaal hoe die verskil hanteer moet word.

Die reël:  Kennis blaas op, liefde bou op. 

Eers die reël:  liefde.  Dan die toepassing.  Wanneer gelowiges verskil, wanneer gelowiges in ’n spesifieke situasie stry oor wat reg of verkeerd is, begin die gesprek by die liefde.  Die onderlinge verhouding is die vertrekpunt.

Wat beteken dit?  Hoe lyk dit as liefde die vertrekpunt is?  ’n Ouer se liefde beteken tog nie dat ’n kind altyd haar sin sal kry nie.

Liefde is om aan die ander te dink, eerder as aan jouself.  In die woorde van Filippense 2:

3Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. 4Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander.

Dit beteken dat jy sal doen wat die ander persoon help.  Nie om op dieselfde plek te bly as waar hulle nou is nie!  Liefde bou op.  So liefde is om trappe te bou, om dit vir ander maklik te maak om te groei in kennis en vryheid.

Dit beteken ook dat liefde opoffering is.  Dat jy soms sekere dinge – sekere vryhede – moet opgee, sodat jy nie daarmee ’n struikelblok bou nie.  Onthou, ons wil trappe bou, nie struikelblokke.  Ons wil mekaar opbou, nie blokkeer nie.

’n Praktiese voorbeeld:  dit beteken dat diegene wat ’n stil, gewyde erediens soek, soms ’n bietjie gewoel en geraas moet verduur voordat daar stilte is.  Dit beteken dat diegene wat ’n glas wyn geniet, soms by ’n funksie moet koeldrank drink.

Omdat die ander persoon vir ons meer saak maak as ons eie vryhede.

Reëls is maklik.  Liefde is moeilik.  Want liefde vra onderskeidingsvermoë.  En liefde vra opoffering.  En geduld.

’n Radikale voorbeeld hiervan – ’n mens sou selfs kon vra of dit nie dalk ’n ekstreme voorbeeld is nie – is die RCA, die kerk wat vanuit die NG Kerk ontstaan het en spesifiek onder die Indiërs bedien.  Die meeste van hul lidmate is bekeerlinge uit ander gelowe.  Hierdie gemeentes bestaan binne gemeenskappe waar Christene die minderheid is.  Dit is vir hulle uiters belangrik om radikaal anders te wees.  Daarom is hul byna rigied in hul andersheid, in hul totale breuk met die gewoontes van hul vorige lewe.

Want Jesus het gesê:

6“Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, van My afvallig maak, vir hom is dit beter as hy met ’n groot meulsteen aan sy nek in die diep see verdrink.

Liefdevolle verskille

Beteken dit dan dat ons nooit van mekaar mag verskil nie?  Dat as een lid sê ons mag nie hierdie vleis eet nie, moet almal dit laat staan t.w.v. daardie een lid?

Beslis nie!  Die punt is nie dat ons ten alle koste konflik moet vermy nie.  As alle Christene oor alle eeue dit gedoen het, dan sou gelowiges steeds slawe besit het en sou vroue steeds van die ampte verban gewees het.

Verskille kan nie gebruik word as ’n wapen om ander gyselaar te hou  nie.  As die verskil die verhouding laat stagneer, dan hanteer ons dit nie reg nie.

Dit gaan ook nie hier oor bekrompe idees nie.  Onthou, die “swakkes” van wie hier gepraat word, is jong gelowiges.

So ons verskille moet ons nie gyselaar hou nie.  Dit moet ons help om te groei.  Dit veronderstel ’n verhouding, ’n wederkerige, twee-rigting liefde.  Dit veronderstel dat beide partye sal opoffer, dat albei partye mekaar se belange sal hoër ag as hul eie.

Dit beteken ook nie dat ons die waarheid of ons vryheid moet aflê nie.  Maar enige iemand wat getroud is, weet dat om reg te wees, nie altyd genoeg is nie!

Ons uitdaging – ons roeping en opdrag – is om beide die waarheid en mekaar vas te hou.  Waarheid, vryheid én liefde.

Dit is nie altyd eenvoudig nie.  Dit vra dikwels van ons opoffering.

So wanneer jy weer in so ’n situasie kom, dalk met iemand hier uit die gemeente, of dalk in jou eie huis, of dalk by jou werk, vra jouself af:

  • Hoekom sê hierdie persoon soos hulle sê? Watter lewenservaring het hulle tot daardie oortuiging gebring?  Wat kan ek daarby leer?
  • Wat gaan ons verhouding help om te groei?
  • Wat gaan vir my en vir daardie persoon help om te groei in God –om te groei in liefde, kennis en vryheid?
  • Watter opoffering word hier van my gevra? Gaan hierdie opoffering ons almal gyselaar hou, of gaan dit opbouend wees?
  • Is ek bereid om, t.w.v. my medemens en die koninkryk van God, daardie opoffering te maak?

Slot

Die Joodse skrywer, Abraham Joshua Heschel skryf:

“Toe ek jonk was, het ek slim mense bewonder. Noudat ek oud geword het, bewonder ek mense met medelye.”

Paulus sê verder in dieselfde brief aan die Korintiërs:

Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is:

Al praat ek die tale van mense

en engele,

maar ek het geen liefde nie,

het ek ’n stuk klinkende metaal,

’n galmende simbaal geword.

2Al het ek die gawe

van profesie

en ken ek al die geheimenisse

en besit ek al die kennis

en al het ek al die geloof

om berge te versit,

maar ek het geen liefde nie,

dan is ek niks.

 

Kennis blaas op.  Liefde bou op.

 

Gebed

Dankoffer

Slotsang

Lied 530 Praat ek mense eng’letale

Seën

Mag ons saam bely dat die Vader God is.

Mag die liefde van die Here Jesus Christus ons na mekaar toe trek.

Mag die krag van die Heilige Gees ons in staat stel om ruimte te maak vir mekaar.

En mag die seën van God, die Vader, Seun en Heilige Gees, tussen ons wees en vir altyd bly.

Respons

Psalm 111 Keervers

'1 Korintiërs 13', 1 Korintiërs 8, afgode, offer, preek, Rethie van Niekerk, vleis

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.