Vandag is Bybelsondag. Dis ook vandag Sondag vir Persone met Gestremdheid. Verder is vandag ook spesiaal, want ons verwelkom aanbid vandag saam met lidmate van die VGK Bloemendal. Ons is almal saam aan die Nagmaalstafel.
Dis wonderlik dat al hierdie dinge vandag gebeur, want dit herinner ons: Almal is welkom by Jesus se tafel! Daar is genoeg plek. Niemand is uitgesluit. Jy is welkom.
’n Mens besef nie altyd wanneer jy midde-in geskiedenis leef nie. Dat die oomblik wat jy nou beleef, ’n oomblik is waaroor die wêreld vir jare gaan praat nie. Maar ek dink die twee laaste weke was so ’n tyd. Suid-Afrika het opgestaan en begin sê: “Nie weer nie. Genoeg.” En in ’n ikoniese beeld wat waarskynlik vir altyd in ons kollektiewe geheue geëts sal wees, het vier vroue bewend opgestaan – tjoepstil – en mag op sy kop gekeer en onreg ontbloot. So op die vooraand van vrouedag, wat ons herinner aan die onreg van ons verlede en die vroue wat opgestaan het en gesê het: “genoeg.” Vrouedag. Vier vroue met handgeskrewe plakkate wat ons herinner dat 1 uit 3 vroue in SA verkrag word (sommige statistieke sê 1 uit 2), dat daar elke 6 dae ’n vrou in SA deur haar lewensmaat vermoor word.
Wat ’n ironiese tablo was die afgelope twee weke nie! Die skrille kontraste wat in gelid staan.
Die Here het verwag dat daar reg sou wees, maar daar was net onreg, dat daar geregtigheid sou wees, maar daar was net die hulpgeroep van veronregtes.
Ek het in 1991 my lewe aan God oorgegee. Geestelik is ek dus nou 25 jaar oud. Dis eintlik die belangrikste vraag: hoe vergelyk jou geestelike lewe vandag met geestelike lewe 20 jaar gelede, 10 jaar gelede, verlede jaar? Het jy geestelik gegroei? Verander? Ken jy vir God beter? Kan jy God se stem beter onderskei? Volg jy meer op Jesus se spoor?
God stuur jou. Wat jy het, is genoeg. Wie hy oor jou pad bring, is die regte mense. Jy kan dit doen, want dis nie jy wat dit doen nie – dit is God wat deur jou werk. Jy’t nie ’n hele kar vol bagasie, vol vaardigheid en bronne nodig nie. Te midde van Brexit en Orlando en Sodwana en taalbeleide, stuur Jesus jou soos ’n lam tussen wolwe in. En dis okay. Jy kan maar gaan. Wees vrygewig, gasvry, broos, liefdevol, reik uit na vreemdelinge, beleef hoe nuwe gemeenskap gevorm word en kyk hoe die vrede arriveer.