Drie-eenheidsondag Efesiërs 3:14-21 Kragtig
God se liefde is die superpower wat die Gees ons gee. Deur gebed is ons in hierdie liefde gewortel en gegrondves.
Verwelkoming & Afkondiginge
Drie-eenheidsondag
Toetrede
Lied 454 Vader, ons eer U (staan)
Votum
Ef. 3:20-21
Seëngroet
Ef.1:1-2
Lofsang
Lied 454 Vader, ons eer U (staan)
Toewyding
God het vir ons sakramente, nl. die doop en die Nagmaal, gegee as sigbare tekens van sy liefde en genade. Verlede Sondag was ek weer onder die indruk van hoe belangrik dit is om saam met kinders te aanbid.
Julle sal onthou by die Nagmaal dat iemand oorgeslaan is met die brood. Wat eintlik daar gebeur heet, is ’n ouer wat nog nie toelaat dat haar kinders Nagmaal gebruik nie. Toe Chris vra wie is oorgeslaan, steek die een vinnig hand op. By die tafel was ek geraak deur die gemak waarmee die kinders aansit en tuis voel, hoe hulle nóg vra – en kry.
Sondagaand is Louise en haar dogtertjie gedoop. Die dogtertjie het die hele tyd haar hand in die water gedruk en dan weer op haar voorkop.
Dit het my diep geraak, omdat dit die simbool van God se liefde en genade versterk: daar is altyd nog, altyd meer – jy kan maar kry.
Stil gebed: dink na waar jy God liefde en genade die afgelope week beleef het.
Stilte
Waar wil jy graag meer van God seliefde en genade beleef?
Stilte
Lied 332 God se liefde so oneindig (staan)
Doop
Gebed
Ef. 3:16-21
Skriflesing
Ef. 3:14-21
Inleiding
Lied: The Love of God is so wonderful
In die liedjie het ons gesing oor God se liefde wat so diep, hoog en wyd is. In die Bybel het ons netnou gelees “hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek… liefde wat ons verstand te bowe gaan.”
Ek gaan vanoggend vir julle ’n storie lees van ’n hasie wat vir sy pa probeer vertel hoe lief hy hom het: Raai hoe lief is ek vir jou deur Sam McBratney, Ill Anita Jeram
Ons kan nie liefde beskryf nie. Dis altyd groter. God se liefde is nog groter! Dink hoe baie jy mamma en pappa lief het en hoe baie hulle jou lief het. God se liefde is selfs nog meer!
Gebed
Vonkk 7 Mag ons u liefde ken (sit)
Preek
Superpower
’n Paar weke gelede het Annelet gepreek oor die gebed in Ef. 1. Sy het gesê die krag van die Gees is ’n Superpower wat ons krag gee om te doen wat God van ons vra.
Liefde
Vandag se teks spel helder uit wat daardie Superpower is: liefde.
In Ef. 1 het die briefskrywer weggespring met ’n gebed en so in vervoering geraak, dat dit een lang sin is. ’n Mens kry die idee hy kon amper nie asem skep nie. En dan hier, in die middel van die brief, trek hy weer weg, raak so meegevoer dat hy in een lang sin bid.
En waaroor hierdie gebed gaan – hierdie middelpunt van die brief, waaroor die hele Ef. brief gaan, is liefde.
Ek dink nie dat ’n mens so ’n aangrypende, poëtiese gebed moet analiseer nie, maar ek weet sommige van julle is lief vir die wetenskap van die teks, so kyk gou weer na hierdie teks:
a – Erkenning van God se grootheid (v14-15)
b – Gebed vir krag om innerlik sterk te word (v16)
c – Gebed om Christus se inwoning (v17a)
d – Gebed om Christus se liefde te ken (v17b-19a)
c – Gebed om met God se volheid vervul te word (v19b)
b – Erkenning van God se krag en mag (v20)
a – Eer aan God in Christus Jesus (v21)
Nuwe Testamentici noem dit ’n struktuuranalise. Wat ons daaruit leer is dat liefde in die middelpunt staan. Dis die spilpunt waarom die gebed, waarom die hele brief Efesiërs draai.
Liefde wat die verstand te bowe gaan
Die superpower wat Gees ons gee, is liefde. Alles wat hierna in Efesiërs gaan volg – riglyne vir die Christelike lewe, die etiese goed – is hierop gebaseer.
Nou hoor ons natuurlik baie van liefde in die kerk. Jesus self, wanneer hy gevra word na die wet, wat God van ons vra, sê: “Jy moet die Here jou God liefhê… en jou naaste soos jouself.” Ons sit hier in die kerk en hoor van liefde – dat liefde die krag van die Gees is, dat dit die superpower is wat ons help om ons roeping te vervul. Dan voel dit vir ons soos sagte, warm watte waarin ons toegevou word: “Ah, liefde.”
Maar hierdie liefde is op geen manier ’n sagte, sissy, wishy washy evangelie nie. Dis die sterkste moontlike krag in die heelal.
En dis onmoontlik.
Dis hoekom ons liefde mooi moet verstaan. Dis nie een of ander romantiese idee nie. Om vyande lief te hê, om te praat oor misdaad in Somerstrand, oor Mugabe, oor die regering en Pravin Gordhan, rentekoerse en petrolpryse en ons kinders, eggenote, ouers en werksgenote… uit liefde…. As julle my nou sal verskoon, maar dit sit nie in enige man se broek nie. Dit IS ’n superpower.
DIT is ’n krag van God.
Drie-enige God se liefde
Die liefde waarvan Efesiërs praat, is nie ons s’n nie. Dis God s’n. Ek het netnou gesê alles wat hiervandaan in Efesiërs volg, die etiese, gewortel is in liefde. Maar alles vooraf, alles wat oor God gesê is, alles waarvan Ef. 1-3 vertel, word gemotiveer – gedring! – deur God se liefde en ontferming.
En dit gaan ons verstand te bowe. Want ons liefde is so beperk. Ons het mense lief want mooi, vriendelik, liefdevol, familie of goeie geselskap is. God het mense lief, want God is liefde. God het sondaars lief, gebrekkige, onvolmaakte, onsmaaklike mense.
Ons menslike begrip kan eenvoudig nie die wydte en breedte en diepte God se liefde verstaan nie. Ons wil altyd grense trek, God se liefde beperk of inperk. As ons dit probeer begryp, wil ons breine ontplof.
Maar hoe kan dit dan ons superpower wees, as dit ons verstand te bowe gaan? Hoe kan ons krag hê, innerlik sterk wees, liefde ken, vervul word met hierdie volheid van God? Hoe kan ons in hierdie kragtige liefde gewortel en gegrondves wees?
Gebed
Die antwoord is in wat ons hier lees: ’n gebed! Dit is die voorbeeld wat ons sien in die hele brief Efesiërs. Die hele brief tot hier is eintlik ’n gebed.
Gebed is die manier waarop ons in liefde gewortel en gegrondves word, die manier waarop ons vervul word met die volheid van God.
Die beeld waaraan ek die hele tyd dink, is hierdie herlaaibare lantern. Toe ons nou by die Wildtuin was, het ons huisie nie elektrisiteit gehad nie. So ons het hierdie lantern wat jy elke dag inprop en laai. Wanneer dit donker raak, skyn die lantern met die krag wat dit gekry het terwyl dit ingeprop was.
NT Wright sê dat die Westerse kerk begin dink het dat gebed en dade / aksie teenoorgestelde kante van die skaal van die Christelike lewe is. Maar is gebed IS die skaal. Gebed bring liefde en mag bymekaar. Wanneer ons bid, word ons gevul met die kragtige liefde van God. DIT word die krag waaruit ons leef. Was dit Luther wat gesê het dat hy so ’n besige dag het, hy moet langer tyd in gebed spandeer?
Maar kyk net gou na hierdie gebed. Dis nie ‘n inkopielys nie. Dis nie: “Here laat x en y en z gebeur” nie. Dis: “mag julle innerlik sterk word; mag geloof in julle harte woon; mag julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. Mag julle Christus liefde begryp; mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.”
Gebed wat ons wortel en grondves in God se liefde, is gebed wat fokus op God. Gebed wat nie in die eerste plek fokus op my behoeftes nie, maar oorgee aan God, soek om God te ken, om God se wil te ken. Sodat dit God se wil en liefde krag is wat jou lewe bepaal en wat die res van jou gebed bepaal. Ons hoor eers wie God is, wat God wil hê – en dan bid ons vir die krag om dít te doen.
Ons word groot met die idee dat jy Jesus in jou hart moet hê. Maar die punt is nie Jesus in ons, maar ons in Jesus.
Kragtig
En dan, dan kan ons weet dat God magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink. Wanneer ons in liefde gewortel en gegrondves is – ingeprop en gelaai soos daai lamp – dan kan ons dink aan alles wat God in ons en deur ons kan doen.
Dink so bietjie – droom – wat God in en deur ons kan doen.
…
Weet jy wat? God kan dubbel dit doen. Driedubbel. Meer as wat ons kan bid of dink.
Gebed
Dankoffer
Slotsang
Lied 449 Koor vers 2 Halleluja, ons loof U Heer (staan)
Seën
Mag God deur sy Gees
uit die rykdom van sy heerlikheid
aan julle die krag gee
om innerlik sterk te word,
Mag Christus deur die geloof in julle harte woon
Mag julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees.
Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp
hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek.
Mag julle sy liefde ken,
liefde wat ons verstand te bowe gaan,
en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.
20Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, 21aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.
Respons
Vonkk 144
Efesiërs 3, hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek, preek, preke, Rethie van Niekerk
Mariette
Wow!
As jy die diens misgeloop het, kry gerus die opname by die kerkkantoor.
Op hierdie geestespad gaan ons God virseker “sien” en daardeur innerlike geestelike krag ontvang….