Lukas 14 Aan tafel met Jesus
Votum
Vandag is Bybelsondag. Dis ook vandag Sondag vir Persone met Gestremdheid. Verder is vandag ook spesiaal, want ons verwelkom aanbid vandag saam met lidmate van die VGK Bloemendal. Ons is almal saam aan die Nagmaalstafel.
Dis wonderlik dat al hierdie dinge vandag gebeur, want dit herinner ons: Almal is welkom by Jesus se tafel! Daar is genoeg plek. Niemand is uitgesluit. Jy is welkom.
Toetrede
F5 Daar is geen grens
Seëngroet
Jy is welkom aan God se tafel. Daarom groet ek jou ook in die Drie-enige God se naam: Genade en vrede vir julle. Amen
Lofsang
F124 Agnus Dei
Ps. 23 Spies beryming
Dankoffer
Terugvoer Bybelgenootskap
Gebed
Toewyding
V81 Jesus, al is ek maar klein
Skriflesing
Lukas 14:1, 7-14
Video
Can I play too
Preek
Feast in the House of Levi
Hierdie skildery se naam is “Fees in die huis van Levi”. Dis in 1573 geskilder deur die Italiaanse skilder Paolo Veronese. Dis een van die grootste skilderye van daardie era.
Dis mooi, maar sekerlik niks uitstaande wat sal maak dat ons vandag daarvan kennis neem nie.
Behalwe, hierdie skildery het gelei tot ’n ondersoek deur die Rooms-Katolieke Inkwisisie! Veronese is aangekla vir oneerbiedigheid en onbetaamlikheid, selfs die baie ernstige klag van kettery.
Sien, die probleem was, die skildery se titel was aanvanklik “Die Laaste Avondmaal.” En omdat dit ’n uitbeelding van die instelling van die Nagmaal is, moes Veronese verduidelik hoe hy dit kon durf waag om grapmakers, dronk Duitsers, dwergies en ander sulke growwigheide uit te beeld, asook uitspattige kostuums en ligging.
Veronese het 3 maande gekry om die skildery te verander. Hy het dit nie gedoen nie. Hy het net die naam verander, van “Laaste Avondmaal” na “Fees in huis van Levi.” En die skildery was skielik aanvaarbaar. Niemand het weer iets daaroor gesê nie.
Dis een ding om te sê dat Jesus ’n gas was by ’n partytjie waar allerhande sulke ongure karakters teenwoordig was. Maar gasheer? Die gedagte dat sulke mense welkom kan wees by die Heilige Nagmaal, was ondenkbaar.
In Jesus se tyd
Die kultuur waarbinne Jesus geleef het, word vandag beskryf as ’n eer en skande kultuur. Alles in die samelewing, alles wat mense gedoen het, gaan daaroor om eer te bevestig en op te bou en om skande te vermy. Jou posisie in die samelewing was alles. Jou lewe het letterlik daarvan afgehang. Dit sou ook jou ekonomiese posisie bepaal, of mense met jou sal besigheid doen of nie. En eer was baie maklik om te verloor. Skande het die hele tyd dreigend oor jou kop gehang. Alles wat gebeur dui posisie aan: waar iemand sit, wie jy genooi het, wie jou nooi.
Ons lees daarvan en dit klink vir ons effens vreemd. Maar dink so bietjie: dis tog nie so vreemd nie! Dit klink vir my presies soos die lewe op skool (behalwe dalk vir die ekonomiese afhanklikheid). Alles in die skool gaan om rangorde en jou plek in die rangorde. Jy moet die hele tyd seker maak jy doen die regte ding, dra die regte klere, het die regte potlood sakkie, sit op die regte plek in die klas, op die regte plek in die bus! Jy moet met die regte mense uithang pouse, sodat jy nie dalk afbeweeg in die rangorde nie.
Ons noem dit dalk nie skande nie. Ons noem dit dalk eerder cool en uncool of in en uit. Maar skole werk definitief met ’n stelsel van status, waar alles wat jy doen saak maak, alles tel. Miskien, as ons eerlik moet wees, hou dit ook nie op wanneer ons uit die skool gaan nie. Baie van ons se leefwêreld lyk steeds so.
Die grense wat ons bou
Ek wonder of dit nie vandag dalk erger is nie. Ons wêreld word dalk nie gedryf deur een en skande nie, maar ons het ’n ekstra dimensie van vrees en wantroue. Hoe kan ons vriendskapsbande bou met die presiese mense ons geleer is om met agterdog te bejeën?
Ons leef in ’n wêreld wat heinings bou: heinings rondom verskille in ras, ekonomie, politiek, gender, fisieke en verstandelike vermoëns. Selfs heinings van vooroordele, wrokke, seer uit die verlede. In plaas daarvan om te vriendskap en intimiteit te koester, bevorder ons uitsluiting en vervreemding. Ons leef in ’n wêreld vol misdaad en woede en ontevredenheid. Ons is bang. Ons voel onveilig. En ons vrees en behoefte aan sekuriteit troef telkens gasvryheid.
Jesus se onderstebo gemeenskap
Maar dis juis in hierdie wêreld dat Jesus ons uitdaag om getuies te wees van ’n ander manier van lewe. Om mense wat anders is as ons, om vreemdelinge en armes en immigrante, nie te sien as bedreigings nie, maar as God se uitgenooides. Jesus se woorde in vandag se teks is radikaal – in sy tyd en in ons tyd. Dit draai die hele eer/skande kultuur op sy kop, keer alles onderstebo. Nie net op die eenvoudig manier van sit op ’n ander plek, of nooi ander mense nie – maar regtig. Dit plaas alles op die spel, jou status, jou besigheid.
Eintlik is dit self nog erger! Lees gou saam met my paar ander tekste in die Bybel:
Levitikus 21:18
mag offer nie: geen blinde of kreupele of iemand met ’n misvormde gesig of liggaamsdeel
En wie sê Jesus moet jy nooi? Armes, kreupeles, verlamdes en blindes. Presies diegene van wie die wet sê– wat hulle op daardie stadium geken het as die Bybel – van wie die wet sê jy mag hulle nie innooi nie: presies hulle is die mense wat Jesus sê jy moet nooi.
Jesus keer nie net die sosiale / kulturele sisteem van wie in en uit is om nie. Hy keer selfs die godsdienstige sisteem – wat hulle gedink het is die Woord van God – om. Hy help ons om die lyn reg deur die hele Bybel raak te sien – selfs in wat hulle op daardie stadium as Bybel gehad het maar dalk nie daarin raakgesien het nie: Dat God passievol is oor geregtigheid teenoor armes, besorg waak oor weduwees, weeskinders (wat in die Bybel altyd beteken randfigure, mense uitgelewer, nie tel in die sisteem nie), jaloers beskermend teenoor die kwesbaares van die wêreld.
Jesus herinner ons nie net aan die lyn wat regdeur die Bybel, regdeur God se verhaal met die mensdom loop nie. Jesus kom wys vir ons God. Dat selfs God nie die plek van eer kies nie, maar ’n dienaar word. Verneder word. Om verhoog te word.
God se ekonomie keer ons ekonomie op sy kop. God se tafel lyk radikaal anders as ons wêreld se tafel.
Nagmaal
En dis hoekom ons hier saamkom, hier om hierdie tafel sit. Want dit leer ons van wie God is en hoe God is. Dit verbind ons aan al die eet-verhale in die Bybel, al die verhale waar brose mense versorg word, uitgestote mense ingenooi word.
Hier leer ons dat Veronese se uitbeelding van die laaste Avondmaal juis die akkurate een is, juis die refleksie is van die lewe van Jesus. Hier by hierdie tafel word die waardes van God se koninkryk ingeoefen, word ons gevorm en word ons die gemeenskap wat God ons roep om te wees.
Hier is ons Jesus se gaste, uitgenooi om sáám by sy tafel te sitEn hier word ons wat ons eet. Ons word die Liggaam van Christus op aarde. Die formulier sê die Nagmaal is ’n viering van gemeenskap met die lewende Here en met mekaar.
In die sakrament van die Nagmaal word ons ingenooi in die dood van Jesus Christus, maar ook ingenooi in sy lewe, in lewe met die Heilige Gees.
En in die Nagmaal word ons een gemeenskap, een met mekaar. Omdat dit een brood is, is ons, al is ons baie, saam een liggaam, want ons het deel aan die brood (1 Kor 10:17).
Hier word ons in liefde aan mekaar gebind. Nagmaal is nie NET tussen my en God nie. Dit is gemeenskap met God én met mekaar. Dit is gemeenskap wat ons uitnooi en uitdaag om self ook uit te nooi, ons tafels groter te maak, om die radikale, omgekeerde ekonomie van Jesus se koninkryk ook in ons lewens sigbaar te maak.
Tafel Gereed
L301 vv 1, 3 en 4 Ons kom vier u maaltyd, Vader
Nagmaal
Dankgebed
Slotsang
V63 vv 1 en 3 Die Here Jesus Christus
Seën
Respons
L189 Halleluja!
gasvryheid, Lukas 14, nederigheid, preek, Rethie van Niekerk