Skip to main content

Lukas 10:1-20 Preek

God stuur jou. Wat jy het, is genoeg. Wie hy oor jou pad bring, is die regte mense. Jy kan dit doen, want dis nie jy wat dit doen nie – dit is God wat deur jou werk. Jy’t nie ’n hele kar vol bagasie, vol vaardigheid en bronne nodig nie. Te midde van Brexit en Orlando en Sodwana en taalbeleide, stuur Jesus jou soos ’n lam tussen wolwe in. En dis okay. Jy kan maar gaan. Wees vrygewig, gasvry, broos, liefdevol, reik uit na vreemdelinge, beleef hoe nuwe gemeenskap gevorm word en kyk hoe die vrede arriveer.

Groet

Die meeste Engelse kerke doen ’n ding wat hulle noem “om die vrede te deel” – “sharing the peace”. Dikwels staan hulle op, gee vir mekaar hand. Hoekom? Want die erediens is in wese ’n gemeenskapsdaad. Dis nie persoonlike stiltetyd nie. ’n Erediens is waar ons SAAM vir God aanbid, SAAM na God luister. Vandag se teks praat daarvan dat ons vrede deel, dat ons sê: “vrede vir hierdie huis”. Daarom wil ek julle nooi om mekaar te groet , om die vrede met mekaar te deel.

Afkondigings
Toetrede

Lied 178 Dona nobis pacem

Votum

Ps. 9:2-3

Seëngroet

Liewe gemeente, die Vader wat sy Seun na hierdie wêreld gestuur het, die Seun wat sy dissipels geroep het en die Heilige Gees wat ons elkeen roep, groet julle vanoggend met die woorde: “Genade en vrede!”

Lofsang

(albei Ps. 9)
Psalm 9 vv 1, 3, 5 en 6
Lied 209 Heer, met my hele hart

Doop
Geloofsbelydenis
Toewyding

Vonkk 81 Jesus, al is ek maar klein (staan)

Gebed
Skriflesing

Lukas 10:1-11, 16-20

Preek

Om in te pak

Ek kan nogal goed inpak. Ek kan dit regkry om min te vat, net die nodigste, ’n 3 dae vergadering in Jhb. met net een klein sakkie. Maar ek wil nie. Voorheen het ek altyd probeer om min in te pak. Gou het ek agtergekom: maak nie saak hoe baie – of hoe min! – ek inpak nie, daar gáán seksistiese grappies wees. Toe dink ek, as mense in elke geval simpel grappies gaan maak, gaan ek vir hulle rede gee om grappies te maak. Ek is in elke geval so bang ek gaan iets nodig hê, dat ek basies die hele huis wil inpak. Ek kán minder inpak. Maar ek gaan nie. Want ek hoef nie.

My pa word oor 2 weke 70 en ons gaan vir die naweek Kaap toe. Ek beplan reeds om die verwarmer saam te vat. En die koffiemasjien en die duvet. Ek is nog onseker oor die elektriese kombers….

In vanoggend se teks stuur Jesus 72 en sê: “Moenie ’n beurs of ’n reissak of skoene saamdra nie.” Gelukkig is dit metafories en nie hoe ek (of jy) moet inpak vir vakansie nie. Maar as dit dan nie is hoe ons inpak nie, wat is dit?

Eers gou ’n voetnoot: Hierdie teks is soos ’n tas wat tot oorlopens toe vol gepak is – daardie soort waarop jy moet sit om dit toe te kry. ’n Mens kan vir ’n kwartaal lank hieroor preek, met al die nuanses en implikasies. Ek sê dit vir julle, want as ds. wil mens sommer huil as jy keuses moet maak en nie alles kan sê nie! Ek gaan vanoggend net ’n paar punte uitlig en probeer om die preek nie te swaar te pak nie!

Wat

Die eerste ding wat ek wil onderstreep, in ons metaforiese reissak wil pak, is wát Jesus vir die dissipels sê om te doen: Vrede. Dis nie net ’n groet nie. Dis ’n koffer-woord wat ons moet uitpak, omdat dit so vol betekenis is. Dis ’n woord wat alles saamvat wat God in Christus en deur die Gees doen.
Vrede het te doen met:
• Herstel: genesing, harmonie en balans in die lewe
• Geregtigheid: om lewensruimte te geniet, spasie te hê, genoeg om van te lewe, én
• Vreugde: omdat jou lewe met sin en betekenis gevul is en jy in geneesde verhouding leef.

Dís waarmee Jesus se volgelinge gestuur word: met die opdrag om omvattende vrede te bring.

Hoe

Dan gee Jesus instruksies hoe hierdie opdrag uitgevoer moet word. Dis belangrik dat ons daarop let, want dit beliggaam die wese van die evangelie, dit verteenwoordig die karakter van Jesus, en dra die stempel van die identiteit van die Een wat gekom het om sy lewe te gee as losprys vir baie. HOE dissipels vrede bring, sê net soveel van Wie God is en wat die evangelie is, as wat hulle sê.

Bid én gaan

Die belangrike eerste ding ons hier moet doen, is om eienaarskap te neem van hierdie opdrag. Almal wat Jesus volg, is gestuur. Elkeen van ons hier sit, is gestuur om ander in te nooi in Jesus se vrede.

En wie gestuur is, moet bid.
EN gaan.

Vroeërjare, toe die sendingbeweging in hoogbloei was, het ons altyd gepraat van ’n sturende gemeente. As jy nie self gaan nie, dan moet jy ondersteun, moet jy bid. Vandag besef ons: as jy nie self gaan nie, dan is jy ongehoorsaam aan die kern opdrag van die evangelie. Dit is nie so dat sommige van ons gestuur is en dat ander hulle stuur nie. Elke enkele een van ons is gestuur.
Bid én gaan.

Gestroop

Maar dan gaan jy gestroop, sonder al die tasse en die beursie en die ekstra skoene omdat jy wéét jy gaan jou skoene deur loop op die lang reis.

Dit gaan nie hier oor die goed nie. Dit gaan hier, eerstens, oor verhoudings. Jesus stuur sy volgelinge na ménse toe. Afhanklik van ander se gasvryheid. Daarom ook die verwysing na Sodom, wie se sonde was dat hulle nie gasvry was nie, maar in presies die teenoorgestelde gees as gasvryheid geleef het.

Gestroop, omdat vrede nie iets is wat ons op mense kan afdwing nie. Anders as wat ons wêreld deesdae dink, kan jy nie vrede bring met vredesmagte en missiele nie. Dis ook waarom gestuurdes moet leer om te leef met weerstand, selfs teenstand – want jy kan mense nie dwing om die vrede te aanvaar nie.

Die gestuurdes is afhanklik van die mense na wie toe hulle gestuur is en hulle bring nie vrede uit ’n posisie van mag nie, maar juis in afhanklikheid. Afhanklikheid, veral, van die krag van God. Nie fancy programme, geleerdheid, ’n formidabele kennis van die Bybel, perfekte sondeloosheid of die feit dat jy wel ter tale is.
Om die waarheid te sê, hierdie goed is soos ‘n te swaar tas: dit kan dit eintlik vir jou moeiliker maak! Want as jy elke moonlike ding wat jy dalk mag nodig kry, reeds ingepak het, in jou tas, dan kan jy begin dink: “Ek kan dit self doen. Ek weet darem ietsie. Ek het darem die nodige goed in my tas.”

Maar as jy weet dat jy eintlik nie weet nie, eintlik nie goed genoeg is nie, dat jou bagasie meer sonde as vernuf bevat, dan weet jy ook hoe afhanklik jy is van God. Dan weet jy dat dit eintlik nie jou werk is nie, maar dat God self deur Sy Gees werk. Jy is maar net ’n instrument in sy hand.

God stuur én God doen. Jy is bloot ’n instrument.

As dit die styl is – die hoe van die hoe – dan wil ek ook nog ’n paar praktiese gedagtes uitpak. As jy nou vanoggend hier sit en gehoorsaam wil wees aan God se roeping, maar ook diep bewus is van jou eie broosheid, jou onvermoë, jou afhanklikheid God – hoe moet jy dan vrede bring?

(Terloops, ons gaan in volgende kwartaal se aanddiens spesifiek hierop fokus. Ons gaan ’n reeks oor 5 gewoontes van aansteeklike Christene doen, wat op praktiese maniere hierna kyk.)

Die eerste leidraad het ek reeds na verwys: verhoudings. Jesus sê: bly by mense. Waarskynlik ’n paar dae. Hierdie hele proses gebeur binne ’n netwerk van verhoudinge.
Dis, terloops, hoekom ouers in so ’n goeie posisie is om hierdie opdrag van Jesus uit te leef! Ek sê altyd by doopkategese vir ouers: julle is nou voltydse sendelinge. Daarom maak ouers ’n verbintenis by hul kind se doop. Jy het belowe, dis jou spesifieke opdrag, om die vrede van God, die evangelie van Christus, aan jou kinders te verkondig! En die verhouding is reeds daar!

Maar hierdie proses gebeur eintlik veral waar ons grense oorsteek. (Onthou ons het ’n paar jaar gelede baie hierop gefokus?) Daarom moet ons bedag wees op vreemdelinge. Dis hoe die evangelie oor eeue – millennia – versprei het. Deur vreemdelinge wat oor grense na mekaar hand uitgesteek het. Dit gebeur eintlik ook met ouers – oor die grens van generasies. Of bure – die mense af in straat. Of mense van verskillende tale en kulture in ons eie erediens.

Wanneer die vrede arriveer, kom nuwe gemeenskap tot stand tussen mense wa voorheen vreemdelinge was. Vreemdelinge word vriende, buitestanders word ingesluit in die gemeente, voormalige vyande word bondgenote.

Daarom kan die kerk nooit ’n geslote gemeenskap wees nie. Daarom mag niemand kerk toe kom en nie ’n geselsie aanknoop met iemand wat jy nie ken nie.

Miskien moet ons hier begin oefen. Dalk moet ons nie elke Sondag op dieselfde plek sit nie, of nie net met mense gesels wat ons ken nie.

Hier word ’n nuwe, inklusiewe gemeenskap oor grense gevorm, sodat ons hier kan oefen om grense oor te steek, sodat ons dit ook breër kan doen en op daardie manier vrede bring.

Waar jy is met die gawes wat jy het

En dan is dit nie rocket science nie. God het jou om ’n rede geplaas waar jy is. Om ’n rede vir jou gegee wat jy het – besittings, huis, gawes. As jy hier jou tassies uitgepak het, dan is dit waar jy ontvang is, waar jy die vrede bring.

Het jy geweet net 10% gelowiges is evangeliste? In gemeentes wat groei én gemeentes wat kwyn. 10%. As jy die gawe van evangelisasie het, dan moet jy mense tot bekering bring! Maar as jou gawe is om te dien, dan moet jy dít doen. Of as dit is om waar waar nood is te help, dan moet jy dít doen. Of omgee. Daar waar jy reeds is, die mense wat God reeds oor jou pad gebring het, die goed wat jy kan doen, waarvoor jy reeds ’n passie het.

Jesus stuur 72  na die Romeinse koninkryk. In die tyd van Herodes se sensus, was dit 1.25 miljoen mense. 70. Tussen 1.25 miljoen mense. Hier is ’n prentjie van hoe ’n miljoen lyk. Voeg nog 25% by, dan is dit die hoeveelheid mense van Rome. En hier is 70. (Die skaal is groter as die miljoen prent s’n.)

Maar toe stuur Jesus hulle nie net Rome toe nie. Toe stuur hy hulle na die hele wêreld. En kyk wat het gebeur. Die Satan het soos ’n weerligstraal uit die hemel geval.

En nou stuur God vir jou. En wat jy het, is genoeg. Wie hy oor jou pad bring, is die regte mense. En jy kan dit doen, want dis nie jy wat dit doen nie – dit is God wat deur jou werk. Jy’t nie ’n hele kar vol bagasie, vol vaardigheid en bronne nodig nie. Te midde van Brexit en Orlando en Sodwana en taalbeleide, stuur Jesus jou soos ’n lam tussen wolwe in. En dis okay. Jy kan maar gaan. Wees vrygewig, gasvry, broos, liefdevol, reik uit na vreemdelinge, beleef hoe nuwe gemeenskap gevorm word en kyk hoe die vrede arriveer.

Voorbidding

Dankoffer
Slotsang

Vonkk 158 Ons wy onsself aan Christus toe (staan)

Seën

Gaan uit, die hele wêreld in en vertel dat die koninkryk naby gekom het. Weet dat jy nie in jou eie krag gaan nie, maar dat die God wat jou stuur, jou ook toerus. Weet dat die genade van die Here Jesus Christus, die liefde van God jou Skepper en die teenwoordigheid van die Heilige Gees, met jou is. Amen

Respons

Vonkk 158 vers een se vier laaste reëls (staan)

Save

Lukas 10:1-20, preek

Comment

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.