Skip to main content

Tag: preek

Miga 6:1-9

Wanneer ons hoor “afgode”,  dink ons goue beelde.  Maar die versoeking om afgode te aanbid, is vandag erger.  Dis gevaarliker in ons tyd waar sosiale en ekonomiese strukture maklik afgode word.  In ons kultuur van individualisme en prestasie  en welvaart, word ons verbruikers – ook van geloof; en maak ons van God en van geloof ’n kommoditeit.  En dan begin ons goed aanbid asof dit God is en ons behandel mense asof hulle goed is.

Continue reading

Psalm 29, Jesaja 42 en Matteus 3 Preek 8 Januarie 2017

Die Keltiese Christelike tradisie praat hulle van verskynings van God as “dun plekke”, plekke waar die grens tussen die gewone en ewige vervaag, waar God die gordyn effens wegtrek en ons ’n kykie kry op sy liefde, mag en majesteit.  Plekke waar ons die hemel sien.  Hierdie dun plekke – die verskyning van God, Epifanie – laat ons toe om onder die gewone oppervlak te kyk en die buitengewone te sien.  Om God te sien.

Die probleem is, natuurlik, dat meeste van ons nog nie ’n helder ster gesien het wat ons na die koning lei, of die hemel sien oopbreek en die Gees wat soos ‘n duif neerdaal met ’n stem uit die wolke nie.  Ons het nie water sien wyn word of Jesus se klere met wit lig sien gloei op ’n bergtop nie.

Psalm 29 beskryf God se stem en sê dit  kloof die seders van die Libanon oop!  Maar meestal, wanneer die jaar nou aan die gang kom en ons elke dag werk toe ry en saans help met huiswerk…  dan is dit asof die stem van God stil is, die hemel toe.  Asof daar geen dun plekke is nie.  Terwyl ons met ons hele wese epifanie begeer – nie net vir ’n seisoen in die kerkjaar nie, maar vir ons hele lewe.

Continue reading

Matteus 3:1-12 Preek – 4 Desember 2016

“Amazing Grace, how sweet the sound, that saved a wretch like me.”  Dis die woorde van John Newton, wat mense oor die eeue aan die hart gryp.  Amazing grace… Wretch… Ellendeling

En as jy John Newton se storie ken, dan maak hierdie lied soveel sin.  Hier was ’n ou, ’n slawehandelaar, wat vir ’n groot deel van sy lewe nie net met slawe gehandel het nie.  Hy was die kaptein van skepe wat slawe ontvoer het uit hul eie land en in die weste verkoop het.  En Newton kom tot bekering.  Hy skryf:  “Amazing Grace, how sweet the sound that saved a wretch like me.”  En ’n wretch, dink ek sal meeste van ons saamstem, was hy beslis.

Maar hierdie lied het Newton geskryf terwyl hy nog betrokke was in slawehandel.  Hy kom tot bekering in 1748.  En hierdie bekering, hierdie ellendigheid waaroor hy skryf, was, volgens sy eie getuienis:  vloek, dobbel, drink.  Hy het aan homself gedink as ellendeling, omdat hy gevloek, gedobbel en gedrink het.  Met sy bekering het hy daarmee opgehou.  Maar dit sou nog 40 jaar wees, voordat hy sou opstaan teen slawerny.  Veertig jaar waarin hy gedink het bekering is om op te hou rummikub speel.  Dit het 40 jaar geneem voordat hy kon sien – en sê – dat slawerny sonde is.

Dan maak dit heeltemal sin dat woorde soos “sonde, toorn, oordeel, bekeer”, nie meer woorde is wat ons kultuur gemaklik gebruik nie.  Want eeue lankal word dit misbruik om ons aandag af te trek van die eintlike probleem.  Laat dit die fokus op kleinlike nietighede val, terwyl dit groot onregte verskuil.

Maar dis jammer dat ons só oorreageer, dat ons glad nie wil praat oor sonde, oordeel en bekering nie.

Continue reading

Habakuk 1:1-4 en 2:1-4

Ons sink al meer en meer weg in haat.  Asof ons liefdeloosheid omarm en koester.  Ons antwoord haat met haat, geweld met geweld.  Ons kry lekker wanneer ons hoor van geweld en wraak.  Haat en getwis en wraaksugtigheid word soos ’n monster wat ons insluk.

Die heel ergste is: Habakuk se woorde is vir 2500 jr. al waar.

Dan werk die tradisionele antwoorde nie meer nie.

Continue reading

Jeremia 32 Preek

Ek was die afgelope week  by die Universiteit van Pretoria.  Dinsdagoggend het ons teetyd gehad op kampus, met filterkoffie en cupcakes (kolwyntjies), toe ’n groep studente singend en dansend ingestap kom.  Dit was nogal snaaks:  hulle gesigte was op ’n knop, hulle kom maak nou moeilikheid.  Maar toe hulle die eet- en drinkgoed sien, verhelder hul gesigte:  jackpot!  Hulle het ingestap en ons eet- en drinkgoed gevat.  Iemand het vir hulle ’n skinkbord gehou en gesê:  “Julle kan kry,  maar gedra jou, vra mooi.” So die studente het ’n ry gemaak, een-een gevat, dankie gesê.  Met die uitstap (ek het by die deur gestaan) het hulle dankie gesê.

Terwyl ek in Pretoria gesit het, lees ek dat hier donderbuisie en rubberkoeëls gebruik is.  Ek weet nie wat gebeur het nie, ek het nog nie met studente gepraat nie.  Maar as ek hierdie storie vertel, is die reaksie byna universeel woede.  Soos die outjie van Touwsrivier.

Dis hoekom ons Jeremia 32 moet lees.  Want ons land is droog en die universiteite is toe en die paaie is vol brandende bande of slaggate.  Dan praat ons nog nie eers oor kinders wat nie leef soos ons hulle geleer het of probleme van hul eie in die gesig staar of ons eie finansiële nood of huweliksmaats wat net nie… tsu.  En Jeremia koop grond.

Continue reading