Skip to main content

Jesaja 7 | Preek | Oujaarsaand

Ons uitdaging, wanneer ons terugdink oor die afgelope jaar, maar veral ook in die jaar wat voorlê, is om die tekens van God se liefde raak te sien.  Om tekens van daardie liefde te WEES.  God is met ons.  Immanuel.

Inleiding

Ons gaan vanaand by hierdie diens tyd spandeer om te reflekteer op die afgelope jaar.  Môreoggend sal ons meer kyk na die Nuwejaar, maar vanaand fokus meer op refleksie oor die jaar wat so te sê verby is.  Dit was ’n jaar van skrikwekkende droogte;  #feesmustfall; protes regoor SA; Terrorisme aanvalle regoor die wêreld – Brussels, Frankryk, Duitsland;  Vlugtelinge-krisis, Sirië, Aleppo; Trump; Brexit; groot figure wêreldwyd wat dood is.  Sommige van die goed voel ver, ander raak ons direk.

Refleksie

  • Wat is die beste ding wat die afgelope jaar gebeur het?
  • Wat is die mees uitdagende ding wat die afgelope jaar gebeur het?
  • Watter onverwagse vreugdes was daar?
  • Watter onverwagse hindernis, seer of teleurstelling was daar?

Gebed

Lied

Lied 509 vv 1, 2 en 4 Op berge en in dale (staan)

Skriflesing

Jesaja 7:10-17

Eers bietjie agtergrond:  die Aramese en Israelitiese konings wil Jerusalem, dus Juda, aanval in die tyd van Koning Agas. (Onthou, Israel was twee koninkryke.)  Agas maak planne deur ’n alliansie met Assirië.  God stuur Jesaja na Agas met die boodskap:  Moenie bang wees nie, vertrou net.  En dan gaan God verder, vers 10:

10Verder het die Here gesê: Jy moet ook nog vir Agas sê: 11Vra van die Here jou God ’n teken, enigiets, diep uit die doderyk of uit die hoogtes daarbo.

Wat ’n fantastiese aanbod! Gewoonlik sê God mense moenie vra vir tekens, maar eerder net vertrou.  Maar God sê vir Agas: enige iets!  Kan jy dink!  Hoe sou jy reageer?

12Maar Agas het geantwoord: “Ek sal niks vra nie, ek sal die Here nie tart nie.”

Hy maak asof hy ’n piëtistiese antwoord gee, maar eintlik is dit verskansde ongeloof.  Hy wil nie op God vertrou nie.  Hy wil eerder vertrou op die planne wat hy maak met die Assiriërs.  Hy wil nie ’n teken hê nie, hy wil sy eie ding doen.

13Toe sê Jesaja: “Luister, geslag van Dawid! Is dit vir julle nie genoeg om mense te vermoei nie, dat julle nou ook my God moet vermoei? 14Die Here sal daarom self vir julle ’n teken gee: ’n Jong vrou sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel  noem. 15Hy sal net dikmelk en heuning hê om te eet totdat hy weet om te verwerp wat verkeerd is en te kies wat goed is. 16Maar voordat die seuntjie weet om die verkeerde te verwerp en die goeie te kies, sal die lande van die twee konings vir wie jy bang is, verwoes lê.17“Wat jou, jou volk en jou familie betref, die Here sal ’n tyd oor julle laat kom soos daar nie was sedert die dae toe Efraim van Juda af weggebreek het nie. Dit sal gebeur deur die koning van Assirië.

Dis gelyk ’n belofte en oordeel.

Net gou eers iets oor die tegniese aspekte van die teks:  Die term “jong vrou” word dikwels geïnterpreteer as “maagd”, maar verwys nie noodwendig spesifiek na ’n maag nie.  Dit kan ’n jong getroude vrou wees, of diensmeisies, sangers…  Verder sê baie teoloë die belofte was waarskynlik iets waarvan Agas geweet het – dalk verwys dit na Agas se eie vrou.

Ek kies om die teks te lees in die lig van Matteus 1:23, waar Matteus hierdie teks aanhaal en sê dat dit met Jesus in vervulling gegaan het.  Matteus verstaan hierdie belofte as dat dit verwys na Jesus.

Om van God te hoor

Ek lees hierdie week ’n vertelling van iemand genaamd Rachel Swanson. Sy vertel van hul familie-kuier oor Desember, hoe daar heerlik om die tafel gekuier word (’n tafel wat al te klein geword het met al die nuwe toevoegings tot die familie).  Hoe hulle heel vakansie gesels, lag, speel en eet.  Tydens een so ’n ete begin hulle gesels oor mense wat sê dat God met hulle praat, wat blykbaar so helder God se stem hoor.  En hoe hulle sukkel om daardie mense te glo, omdat die mense se optrede – en wat hulle blykbaar hoor – so anders is as wat die Swansons in die Bybel oor God hoor.  Hulle gesels oor hoe mense dikwels hierdie sogenaamde woorde van God gebruik om vreeslike dinge te doen en te regverdig.  Totdat haar broer sê:  “It’s like here I am, begging God for scraps, and meanwhile, the crazies are hearing him in full sentences.”  Dis asof ek God soebat om stukkies oorskietkos, en intussen hoor die malles hom in vol sinne.  Natuurlik het hulle hul gebreek van die lag en was dit die einde van die gesprek.

Maar dit laat ’n mens wonder.  Sal dit nie fantasties wees om God se stem so helder, so duidelik te hoor nie?  In vol sinne!  Geen dubbelsinnigheid, geen interpretasie moontlik, wat nog te sê nodig.  Dat God vir jou ’n teken gee, enige teken!  Helder, duidelik.  Jy hoef nie agterna nóg ’n velletjie uit te gooi nie, want jy het God se stem gehoor.

En dan sê Agas nee dankie!  Maar God praat steeds, al sê Agas nee dankie.  God gee in elke geval vir Agas ’n teken.

Die 700 jaar teken

Behalwe, as ons die teks lees soos Matteus sê, dan het dit 700 jaar gevat voordat hierdie belofte waar geword het, voordat hierdie teken eintlik verskyn het.  Verbeel jou dat jy al jou hoop op hierdie belofte vestig, met alles in jou wese uitkyk vir hierdie teken… en dit vat 700 jaar.

In die fliek “The Prestige” vertel iemand dat towerkunsies gewoonlik in drie bewegings gebeur.  Die eerste is die “pledge” – belofte. Die kunstenaar wys vir die gehoor iets gewoon, soos kaarte, ’n voël of ’n mens.  Die tweede beweging is “turn” – draai.  Die kunstenaar neem die gewone ding en doen iets buitengewoon daarmee.  Nou soek jy vir die geheim, maar jy gaan dit nie sien nie, want jy kyk eintlik nie – nie regtig nie.  Maar om iets buitengewoon te doen,  is nie genoeg nie.  Dit help nie jy laat iets bv. net verdwyn nie.  Jy moet dit ook terugbring.  Dis die derde beweging.  Dis die moeilikste deel.  Die Prestige.

Tussen-in tyd

Ons het pas Kersfees gevier.  Dit herinner ons dat hierdie belofte waar geword het.  Maar op ’n manier is dit ook asof ons nou tussen die tweede en derde beweging is, in ’n tussen-in tyd.  Die belofte HET waar geword.  Die belofte IS waar.  Die belofte MOET NOG waar word.

God het ’n belofte gemaak.  En toe, 700 jaar later, is Jesus gebore.  Die gewone, menslike lewe, word buitengewoon.  Alles draai, alles is anders.  En nou wag ons.  Intussen soek ons tekens, vra ons na God se stem, vra ons elke dag:  Waar is Immanuel?  Soek ons daardie stukkies oorskiet wat bewys dat God ons nie verlaat het nie, dat daar nog ’n derde beweging op pad is.  Soos Rachel Swanson dan sê oor haar broer se opmerking:  “I am compelled by the scraps.’

Tekens van Immanuel

Die ding met die Prestige – en met Immanuel, die teenwoordigheid van God, hier in die tussen-in tyd – is dat dit selde is waar jy dit verwag.  Dat dit selde is wát jy verwag.  Maar dit is daar. Klein tekentjies dat liefde nie dood is nie.  Dat daar nog goed in die wêreld is.  In kerktaal sou ons sê:  Tekens van die koninkryk van God wat deurbreek. ’n Onverwagse stukkie liefde.

’n Man wat sy lewe waag om ’n kind tussen die puin in Sirië uit te haal, omdat hy glo dat lewe kosbaar is.  ’n Ma wat opstaan teen geweld.  Jong vrouens wat opstaan teen korrupte magte.  Joernaliste in swart.  ’n Boer wat dans in die reën.  ’n Groepie Afrikaanse studente wat water en vrugte vat Vir oproeriges.

Vanjaar het ’n Roomse Pous en Russies Ortodokse patriarg hande geskud – vir die eerste keer in 1000 jr. Daar is vrede in Columbië, Gambië het van ’n diktator ontslae geraak.  Indië het binne een dag 5 miljoen bome geplant.  Navorsers het ’n nuwe geen gevind wat moontlik kan help om laterale sklerose te genees (ALS).  Daar is hoop vir ’n M.I.V. entstof.  China het goeie muskiete geteel wat slegte muskiete beveg.  ’n Eksperimentele Ebola entstof is 100% effektief.  Gambië en Tanzanië het kinderhuwelike verban.  300 gemeenskappe in Afrika het onderneem om genitale verminking van vroue te stop.  Pakistan het uiteindelik ’n wet teen eer-moorde.  Pandas is nie meer bedreig nie.  Juno het op Jupiter geland.  Caster Semenya het goud gewen en vir God die eer gegee.  Wayde van Niekerk het die rekords laat spat.

Ons uitdaging, wanneer ons terugdink oor die afgelope jaar, maar veral ook in die jaar wat voorlê, is om die tekens van God se liefde raak te sien.  Om tekens van daardie liefde te WEES.  God is met ons.  Immanuel.

Verder nadenke:

  • Met wie was jou mees kosbare verhoudings afgelope jaar?
  • Watter veranderinge was daar binne daardie verhoudings? (nader, verder, nuut)
  • Op watter maniere het jy gegroei in jou verhoudings met ander?
  • Wat was die grootste ding wat jy vanjaar geleer het?
  • Waar het jy vir God “ja” gesê?
  • Watter onverwagse geleenthede was daar?
  • Hoe het jy toegeneem in lewensvaardighede?
  • Watter begeertes is vervul?
  • Waar het jy liefde gesien?
  • Waar het jy Immanuel gesien, dat God met ons is?

Gebed

Dankie vir 2016

Slotsang

Lied 500  v 1 en 3  Gods dade is volmaak en goed (staan)

Seëngroet

Thomas Merton:

Life is simple.  We are living in a world that is absolutely transparant.  And God is shining through all the time.

Mag jy in elke oomblik van 2017 God se teenwoordigheid raaksien.

2016, 2017, Jesaja 7, Oujaarsaand, preek, Rethie van Niekerk

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.