Skip to main content

Miga 6:1-9

Wanneer ons hoor “afgode”,  dink ons goue beelde.  Maar die versoeking om afgode te aanbid, is vandag erger.  Dis gevaarliker in ons tyd waar sosiale en ekonomiese strukture maklik afgode word.  In ons kultuur van individualisme en prestasie  en welvaart, word ons verbruikers – ook van geloof; en maak ons van God en van geloof ’n kommoditeit.  En dan begin ons goed aanbid asof dit God is en ons behandel mense asof hulle goed is.

Refleksie

Verwelkoming

Toetrede

Lied 164 Ons is almal hier tesaam

Votum

Al vanoggend se leesrooster tekste, wys ons in ’n rigting van die evangelie waarvoor ons ongelukkig meestal blind is. Psalm 15

Seëngroet

En dan sê Jesus in die ander Leesrooster teks van vanoggend:  Matteus 5:3-10)

Lofsang

Lied 198 God is my lied

Psalm 9 vv 1, 4 en 5

Wet

37Jesus antwoord hom: “‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. 38Dit is die grootste en die eerste gebod. 39En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’  40In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”

Ek voel al meer dat wat ons vandag “geloof” noem en as Christenskap voorhou, onherkenbaar verskil van wat God vir ons gegee het.  Geloof is nie selfhelp, ’n pad van sukses nie.  Amper asof God in jou diens staan en eintlik net wil hê alles moet met jou goed gaan, dat God sal sorg vir jou voorspoed.  Geloof is nie ’n “pie in the sky when jou die”, ‘n hemel toe, nie.  Geloof is nie persoonlik, bet tussen jou en God, nie.  Geloof is nie klein etiese sake – dit gaan nie oor:  “nie rook nie, vloek nie, dans nie, drink nie.”

Geloof is baie eenvoudiger as dit.  En baie moeiliker.  Geloof is om God lief te hê met elke aspek van jou wese en om jou naaste lief te hê op dieselfde manier wat jy vir jouself sorg en seker maak dat jy veilig voortleef.

Ons maak van geloof ‘n karikatuur, ’n afgod wat in ons diens staan en wat oor ons gaan.

Skuldbelydenis

Kom neem ’n oomblik om ons kompas net weer in die regte rigting te draai, onsself aan God toe te wy aan ’n lewe vir God en en vir ons naaste.

Lied 240:1 Heiland, as in ootmoed stil

Genadeverkondiging

Vanoggend gaan ons uit Miga lees.  Die hele boek is ’n aanklag teen die volk, dat hulle selfsugtig is, mense misbruik en net na hul eie belange omsien.  Tog eindig die boek met die woorde, wat ook vir troos, ten spyte van die karikatuur wat ons van geloof maak:  Miga 7:18-20

Verbintenis

Liturg:  God is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid. Dáárom –

Verbind ons ons tot geregtigheid:

Gemeente: 

  • om alle mense met waardigheid te behandel
  • om na die skepping om te sien
  • om op te staan teen alle vorme van onreg en diskriminasie

Liturg:  Verbind ons ons tot liefde en trou:

Gemeente:

  • om ons naaste lief te hê.
  • om aan te hou vergewe, vir solank as wat dit mag nodig wees.
  • om ander te dien in woord en daad.

Liturg:  Verbind ons ons aan God:

Gemeente:

  • Hy bepaal die rigting van ons lewens
  • Ons wil sy wil doen
  • Ons is afhanklik van hom.

Liturg:  So wil ons leef met volharding leef, omdat dit getroue God self so is.

Vonkk 109 Wees ’n lig vir Jesus (staan)

Gebed

Skriflesing

Ons gaan vanoggend twee Skrifgedeeltes lees.  Probeer dit in jou gedagtes vashou saam met alles wat ons reeds gelees het.  Ons lees nooit die Bybel apart van res van die Bybel – ons lees dit altyd as geheel.

Matteus 7:12

The Berenstain Bears and the Golden Rule

Miga

Miga profeteer in ’n tyd van groot politieke onrus en omwentelinge.  Tog was dit ook ’n tyd  waar dit goed gegaan het.  Die mense was bekommerd oor die magte by die deur, maar daar was ook geestelike herlewing.  Die tempel was vol.  Die inkomste as meer as begroot vir die eerste keer in jare.  Tog neem vandag se teks die vorm van hofsaak aan.  Dit begin waar God die volk aankla:

6 Hoor wat die Here sê: Maak klaar,

Dis dieselfde woord wat God telkens gebruik soos wat God die verbond met Abraham gesluit het

roep die berge as getuie, laat die heuwels hoor wat jy te sê het. 2Berge, vaste fondamente van die aarde, julle moet luister na die saak wat die Here het. Die Here het ’n saak teen sy volk, Hy het Israel aangekla.

Dan volg die klag.  Mens sou verwag dit gaan ’n lys wees van wat die volk verkeerd doen.  Maar hoor wat sê God:

3My volk, wat het Ek jou aangedoen? Hoe het Ek jou moeg gemaak? Antwoord My! 4Ek het jou uit Egipte gebring, Ek het jou uit die plek van slawerny gered, Ek het vir Moses gestuur om jou te lei, ook vir Aäron en Mirjam.

5My volk, dink aan die planne van koning Balak van Moab, en wat Bileam seun van Beor hom geantwoord het.  Dink aan alles tussen Sittim en Gilgal, en weet dat die Here julle die oorwinning laat behaal het.

God praat oor verhouding, oor sy getrouheid deur die geskiedenis.  Hy gee ’n kort oorsig van ’n geskiedenis wat generasies van sorg saamvat.  Hy sê:  “Ek was nog die hele tyd by julle, die hele tyd lief vir julle.  Ek het die hele tyd vir julle gesorg.”

As jy aanklag verwag en jy hoor van verhouding en liefde, hoe dink jy sal jy reageer?

Hoor hoe die volk reageer:

6Wat sal ek saamvat as ek na die Here toe gaan, as ek voor die hoë God gaan kniel? Moet ek met offers na Hom toe gaan, met jaaroud kalwers? 7Sal die Here duisende ramme aanvaar saam met tien duisende offers van olie? Moet ek my eersgeborene offer vir my sonde, hom wat uit my liggaam kom, vir my oortreding?

Dis ’n skrikwekkende, moedswillige reaksie.  God praat oor verhouding, oor liefde en sorg – en hulle vra skoorsoekerig: “Hoe kan ek jou tevrede stel?!  Wat moet ek bring? Niks is goed genoeg nie!” Kyk mooi wat hulle doen.  Hulle “commodify” geloof (is daar ’n woord soos “komodifiseer?”).  Hulle wil vanuit ’n posisie van mag met God onderhandel, letterlik sy guns koop.  Hulle wil iets hier apart in die tempel doen om vir God te paai, en dan weer voortgaan met hul eie agenda.

Maar alles wat hulle noem – selfs die eersgeborene, binne hul kultuur – is besittings. Stuff.  En God will nie ons stuff nie hê nie.  Hy wil ons hê. Hy wil alles hê.

Dan volg hierdie pragtige, ikoniese reaksie. Ek wens ek het grootgeword in ’n kerk wat dít gelees as wet, eerder as die 10 Gebooie (of dit minstens elke tweede Sondag gelees het)!

8Mens,

Dis interessant, want gewoonlik word die volk aangespreek.  Hierdie is die ganse mensdom!

die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.

9Om die Here te dien, dit is wysheid.

En daar is dit!

DIT is wat God van ons vra.

dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.

Preek

Wat is God?

James Fowler het baie navorsing gedoen oor hoe geloof ontwikkel.  Hy het gesê mense skep vir self hulleself betekenis – kom ons sê maak sin van die wêreld – binne ’n “ultimate environment”.  Dis hoe ons die wêreld sien, die wêreld waarbinne ons leef en waarmee ons in verhouding staan.  En daardie verhouding bepaal hoe ons sin maak van die wêreld. MAAR, hoe ons hierdie “ultimate environment”, hierdie wêreld waarin ons leef, sien en konstrueer en verstaan, word gevorm deur ons waarde-kern.  Die kern waartoe ons volledig verbind is, om enigsins sin te maak van die lewe.  En hierdie kern, is hoe ons God verstaan.  Elke poging wat ons aanwend om sin te maak van die lewe, is, uiteindelik, ’n uitdrukking van ons waarde-kern, van wie – of wat – ons God is.

En elke keer wat ons verkeerd doen, nie doen wat God van ons vra nie, dan is dit omdat ons ’n afgod aanbid, omdat ons iets of iemand anders in die plek van God geplaas het.

Wanneer ons hoor “afgode”,  dink ons goue beelde.  Maar die versoeking om afgode te aanbid, is vandag erger.  Dis gevaarliker in ons tyd waar sosiale en ekonomiese strukture maklik afgode word.  In ons kultuur van individualisme en prestasie  en welvaart, word ons verbruikers – oo van geloof; en maak ons van God en van geloof ’n kommoditeit.  En dan begin ons goed aanbid asof dit God is en ons behandel mense asof hulle goed is.

En ons God raak al kleiner en kleiner.  Ons dink aan God as ’n polisieman, ’n knorrige ou oom, die besturende direkteur, die marionette meester.  Ek het die fgelope week na ’n praatjie van Richard Rohr geluister.  Hy het die ipiese godsbeeld van ons tyd beskryf:  ’n Ou omie.  Wit met ’n lang wit baard, wat ons dophou en straf.  Rohr het gesê dis nie God nie.  Dis Kersvader.  “He’s making a list, and checking it twice, gonna find out who’s naughty or nice.”

Wie is God?

Daarom is dit belangrik dat ons aanhoudend vir onsself vra:  Wie is God?  Hoe is God?

En dan gee hierdie teks van vanoggend so  aangrypende beeld van God.  God wat sy kinders uit slawerny lei, na vryheid bring; wat in die geskiedenis ingryp, sodat ons volheid van lewe kan hê.

En hierdie God kan vertrou word.  Hy hou sy beloftes.

Hierdie God het ’n koninkryk wat hy besig is om te vestig, ’n Koninkryk waar vrede heers, waar geregtigheid geskied, waar daar vryheid en heelheid – shalom – vir die ganse mensdom is.

Hierdie is ’n Verbondsgod, wat uitreik na mense en hulle insluit in verhouding met hom.

Dis God wat in verhouding met mense wil wees.  Wat nie offers en omkoopgeld vra nie, maar ’n verhouding van liefde.  Wat vra dat ons in verbintenis met hom sal leef.  Uit verbondenheid met hom sal leef.  Dat ons bedagsaam sal leef.  Die Engels praat van “walk humbly”.  Die vroeë Christene het bekend gestaan as “die weg”.

Om God te aanbid

Want DIS wat geloof is.  Om die Here jou God lief te hê

met jou hele hart en met jou hele siel’  en met jou hele verstand.

Met alles wat jy is.

Ons maak die fout om te dink geloof is bepaalde kennis, om die regte goed te dink.  Maar geloof is ’n lewe:  ’n lewe saam met God op weg;  ’n lewe van God ken  en God vertrou en stap waar God stap.

G Ernest Wright:

Faith is not a series of propositions which are either believed or not believed. It is instead that trust in God which leads one to follow him in whatever situation one may find oneself, a trust which waits on the Lord, even in times when one is fearful for one’s life.

Geloof is radikale vertroue in God.  Radikale verbintenis aan God.  Absolute vertroue en afhanklikheid.

Om God te volg

En wie God is, bepaal dan wie ons is en wat ons doen.  As ons God die God van lewe en liefde is, die God van vryheid en geregtigheid en vrede, dan is dit hoe ons, wat saam met hom op pad is, moet leef.

Dit beteken dat ons streef na lewe, liefde, vryheid, vrede, geregtigheid…

En wat dit beteken, gewoon, is dat ons buite onsself sal leef, wat iemand noem “other-centered solidarity”.  Dat ons ander sal raaksien en nie net selfsugtig na ons eie belange sal kyk nie, maar sal uitreik, omgee en versorg.  Nie net ons eie in-crowd nie, maar ook die wat anders as ons is, met wie niemand anders wil speel nie.  Dit beteken dat ons buitentoe, buite onsself sal leef, onsself sal gee in diens van ander.

Iemand praat van al die 40 dae projekte wat ’n tyd gelede so gewild was.  Sy het gesê, wat sy wil hê, is 40 dae van liefde en trou.  Want dis wat God van ons vra.  Dat ons God sal liefhê.  Dat ons ons naaste sal liefhê.

Dat ons bedagsaam sal leef voor God –  saam met God sal leef.

Dat ons liefde en trou sal laat geskied – sal uitreik en omsien na ons naaste.

Dat ons reg sal laat geskied – liefde en trou ook in publieke goed en sisteme.

Want geregtigheid, het Cornel West gesê, is hoe liefde in die openbaar lyk.

Getuienis-oomblik

Gebed

Dankoffers

Slotsang

Lied 284 Laat, Heer, u vrede deur my vloei (staan)

Seën

Julle is die sout vir die aarde.

Julle is die lig vir die wêreld.

Laat julle lig so voor die mense skyn dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik (uit Matt 5:13-14, 16).

Respons

Lied 189 Halleluja

geregtigheid, Liefde en trou, Miga 6, preek, Rethie van Niekerk

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.