Skip to main content

Habakuk 1:1-4 en 2:1-4

Ons sink al meer en meer weg in haat.  Asof ons liefdeloosheid omarm en koester.  Ons antwoord haat met haat, geweld met geweld.  Ons kry lekker wanneer ons hoor van geweld en wraak.  Haat en getwis en wraaksugtigheid word soos ’n monster wat ons insluk.

Die heel ergste is: Habakuk se woorde is vir 2500 jr. al waar.

Dan werk die tradisionele antwoorde nie meer nie.

Toetrede

Flam 386 Mag die God van hoop

Votum (n.a.v. Psalm 130:5-8)

Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom, ek wag op die vervulling van sy woord. Ek wag op die Here meer as wat die wagte op die môre wag, wagte op die môre. Wag op die Here, Israel, want by die Here is daar troue liefde, by Hom is die verlossing seker. Hy alleen sal Israel verlos van al sy sondes.

Respons

Psalm 130: 2

Seëngroet

Lofsang

Flam 16 Ek kyk op na die berge

Lied 476 ’n Vaste burg is onse God

Gebed

Skriflesing

Ps. 91:1-2, 4-5, 14-16

Toewyding

Lied 553 Ek is bly ek ken vir Jesus

Inleiding

Ons gaan vanoggend gesels oor scary goed.  Kom ons hou mekaar se hande vas, dan voel ons beter.  Waarvoor is jy bang?

Storie:  Die held en die vuurvliegie

Wanneer ons bang is, kan ons vertrou op God en glo, want hy is by ons.

Skriflesing

Habakuk 1:1-4, 2:1-4

Integrasie

Hoe lank moet ek bly kla oor geweld?

Geweld. Onreg. Ellende. Onderdrukking. Getwis. Gebaklei.  Waarheen spring jou gedagtes wanneer jy Hab. 1 lees?  Aan watter situasies dink jy?

Ek het my proefpreek in 1998 oor Hab. 1 en 3 gepreek.  Toe het ek gesê dit voel asof Hab. in 1998 in SA praat.  Nou is dit 2016.  Byna 20 jr. later.  Dit voel selfs nog méér asof Hab. vandag skryf.  Hoe kan dit nie so vol nie, as ons sit in die rook van die univ. wat brand, met die kollektiewe trauma wat ’n gemeente soos ons s’n baie direk raak.  Trauma  van uit klasse gejaag word, van in jou kantoor wegkruip, van onverwags tussen oproerige studente en polisie eindig.  Ek het in die laaste twee weke gereeld met studente gesels en voicenotes ontvang.  Ek hoor stories van oordadige polisiegeweld; van studente wat ander studente van die kampus af begelei, hulle letterlik agter hul lywe wegsteek.  Stories van intimidasie en dreigemente.

En dan sit ons president en slaap terwyl Pravin Gordon praat oor die begroting, met klagtes wat oor sy kop hang.  En ons regering besig is om uit te tree uit  die Internasionale strafhof.  Die arme matrieks skryf eksamen en daar is aanmekaar stories (gelukkig net dit:  stories) van matrieks wat nie volgende jaar of die jaar daarna sal kan gaan studeer nie.  Matrieks wat wonder of daar nie maar ’n beter heenkome op ’n ander plek te vind is nie.

Die ding wat my die meeste bekommer, is wat Hab. noem:  “getwis en gebaklei”.   Ons sien hierdie dinge gebeur.  Dis juis in hierdie omstandighede wat ons geloof saak maak.  Soos hulle sê:  dis hier waar die tekkie die teer slaan, hier waar die appèl om jou naaste lief te hê soos jouself, om jou vyande lief te hê, die oproep tot diensbaarheid… Hier kom dit regtig op die tafel.

Maar ons sink al meer en meer weg in haat.  Asof ons liefdeloosheid omarm en koester.  Ons antwoord haat met haat, geweld met geweld.  En van die teenoorgestelde gees wat so kern aan Christelike geloof is, is daar by ons geen sprake nie.  Ons kry lekker wanneer ons hoor van geweld en wraak.  Haat en getwis en wraaksugtigheid word soos ’n monster wat ons insluk, sodat ons op die ou end die hele tyd in ’n wolk van ontevredenheid rondloop, met aggressie die hele tyd onderliggend in ons binneste, gereed om enige oomblik na bo te borrel.

Die heel ergste is: Habakuk , hierdie woorde, is 2500 jr. gelede geskryf. En dis vir 2500 jr. al waar.

Dan werk die tradisionele antwoorde nie meer nie.  Daardie eenvoudige antwoorde wat eintlik maar sê: “don’t worry, be happy”.

Aaron Sari skryf: Sometimes God works in ways so shocking, so beyond our understanding, that we don’t know what to do.  If we don’t allow ourselves to be shocked, we probably aren’t entering fully into the mystery.

Om by God te kla

En dit is juis in hierdie omstandighede wat ons oor God en geloof moet praat.  Dit is juis terwyl die rook trek en die koerante ons bloed laat kook wat ons, om Habakuk se beeld te gebruik, op die muur moet gaan staan en by God gaan kla.  Juis wanneer ons dink daar is nie meer uitkoms nie.  Juis wanneer ons dink hierdie liefde en ander wang nonsens help duidelik nie (al het ons dit nog nie eers probeer nie).  Juis wanneer ons heeltemal oorweldig voel.  Wanneer ons desperaat begin voel:  God kan die situasie eintlik nie verander nie.  Juis dan gaan staan ons op die muur en sê vir God:  “Kyk hier!  Hoekom is dit so?  Hoekom laat u dit toe?  Wanneer gaan dit ophou?  Hoekom gryp u nie in nie?”

Wag

En God antwoord, wanneer ons so desperaat voor hom staan.  God sê, eerstens: Wag.

Dit is só belangrik.  Voordat jy iets sê, voordat jy vanuit jou sondige natuur of jou gekoesterde haat en wraakgevoelens reageer… wag.

Dink maar net hoe belangrik dit in huwelike is!  Voordat jy besluit:  ek het genoeg gehad, tot hiertoe en nie verder nie;  voordat jy uit jou eie pyn en woede reageer en die situasie in eie hande neem en net doen wat self wil:  Wag op God.

Want as ons nie wag nie, dan doen ons wat ons wil.  En wat ons wil, is byna nooit die regte ding nie.

Dit is lewensbelangrik – vir ons almal – dat ons wag op God voordat ons oordeel, reageer, optree.  Ons moet eers luister, eers God se stem soek, God se leiding soek.  En niks, maar niks, doen, voordat ons nie duidelikheid het dat dít is wat God van ons vra nie.

Dis nie ’n passiewe, rustige wag nie!  Dis wag soos ons gewag het vir ons ouma wat vakansies kom kuier.  Dit was in die tyd voor selfone.  Jy weet jou ouma kom vandag, maar jy weet nie wanneer nie.  So ons het aanmekaar uitgehardloop, in pad afgekyk – Is hulle al hier?  Dis hoe jy op God wag.   Dit is geloof.  En dit is wat die Sondagskoolantwoorde nie vir ons sê nie.  Geloof is om in die ongemak te bly.  Om te wag, om in die pad af te bly kyk te midde van onsekerheid en vrees.  Om op God te vertrou.

Vertrou getrou

En dis die tweede ding wat die teks sê ons moet doen:  Hf 2:4 “maar wie reg doen, sal lewe omdat hy getrou bly.” Die OAV vertaal dit as “die regverdige – deur sy geloof sal hy lewe”,  die BDV as “die regverdige – deur sy betroubaarheid sal hy lewe”.  Dit kan ook vertaal word as:  “deur My betroubaarheid sal hy lewe.”  Die woord wat hier gebruik word, kan met beide geloof – kom ons noem dit vertroue – en getrouheid vertaal word.

Want dit is hoe ons dit regkry om te bly wag, dit is hoe ons bly leef:  deur getrou op God te vertrou.  Ons staan in die pad, want ons weet ouma en oupa is op pad, hulle gáán nou-nou hier wees.

Die NT haal hierdie vers 4 op plekke aan:  Hebreërs 10:37-38,  Galasiërs 3:11 en Romeine 1:17:

In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan:  “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.”

499 jaar gelede, aan die begin van die 16e eeu, beleef die Europese samelewing groot woelinge.  Aan die oostelike grens is die Turkse opstande.  Wes van Europa word die Nuwe Wêreld (vandag Amerika) ontdekking.  Die seeroete om Afrika bring nuwe handelsmoontlikhede.  Die snelle groei in rykdom beteken dat adellikes hul magsposisie verloor.  Klassieke kultuur herleef.  Mense word bewus van hul eie selfstandige denke.  Voeg hierby die nuwe tegnologie van die drukpers en dis inderdaad ’n tyd van revolusie.

In die tyd het ’n priester, ene Martin Luther, begin besef dat die ou antwoorde nie meer werk nie.  Daar moet iets anders wees.  Hy begin soek na ’n genadige God.  Eendag lees hy hierdie einste woorde waar Paulus Habakuk aanhaal in Romeine 17:

In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.”

En dit is die begin van die Reformasie.  Hierdie teks speel ’n sentrale rol in die Reformasie.

Geloof – hierdie week in SA, is om op God te wag.  Om nie op eie krag staat te maak nie, nie eie planne te maak, nie op eie insig staat te maak nie,  maar om in die pad te staan – of op die muur of wagtoring – om in die pad af te kyk, omdat ons op God vertrou.  Omdat ons God se wil soek en wag op God.

Kom ons staan vanoggend in die pad soos Habakuk op die muur staan.  Kom ons wag op God.

Gebed

Droogte, Universiteit, Matrieks, Sinode

Lied 278 Hoor ons bid, o Heer

Nagmaal

Vonkk 21 Wag op die Heer

Dankoffer

Koor Lied 210 Lofsing die Heer, buig voor Hom neer

Slotsang

Lied 516 Al sou dan ook die vyeboom nie bot nie (staan) orrel

Seën

Respons

Flam 386 Mag die God van hoop

Habakuk, preek, wag, wag op God

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.