Jeremia 32 Preek
Ek was die afgelope week by die Universiteit van Pretoria. Dinsdagoggend het ons teetyd gehad op kampus, met filterkoffie en cupcakes (kolwyntjies), toe ’n groep studente singend en dansend ingestap kom. Dit was nogal snaaks: hulle gesigte was op ’n knop, hulle kom maak nou moeilikheid. Maar toe hulle die eet- en drinkgoed sien, verhelder hul gesigte: jackpot! Hulle het ingestap en ons eet- en drinkgoed gevat. Iemand het vir hulle ’n skinkbord gehou en gesê: “Julle kan kry, maar gedra jou, vra mooi.” So die studente het ’n ry gemaak, een-een gevat, dankie gesê. Met die uitstap (ek het by die deur gestaan) het hulle dankie gesê.
Terwyl ek in Pretoria gesit het, lees ek dat hier donderbuisie en rubberkoeëls gebruik is. Ek weet nie wat gebeur het nie, ek het nog nie met studente gepraat nie. Maar as ek hierdie storie vertel, is die reaksie byna universeel woede. Soos die outjie van Touwsrivier.
Dis hoekom ons Jeremia 32 moet lees. Want ons land is droog en die universiteite is toe en die paaie is vol brandende bande of slaggate. Dan praat ons nog nie eers oor kinders wat nie leef soos ons hulle geleer het of probleme van hul eie in die gesig staar of ons eie finansiële nood of huweliksmaats wat net nie… tsu. En Jeremia koop grond.
Verwelkoming & Afk.
Toetrede
Vonkk 120 vv1-2 Soos ’n wildsbok
Votum (n.a.v. Ps. 91)
Die wat by die Allerhoogste skuiling vind en die beskerming van die Almagtige geniet, sê vir die Here: “U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou.”
Seëngroet
14“Omdat jy My liefhet, sal Ek jou red,” “omdat jy My ken, sal Ek jou beskerm. 15Wanneer jy My aanroep, sal Ek jou gebed verhoor; in jou nood sal Ek by jou wees, Ek sal jou red en jou in eer herstel.
Lofsang
Lied 499 Die Heer is God en niemand meer
Flam 16 Ek kyk op na die berge
Kerkraadvoorstelling
Flam 386 Mag Die God Van Hoop
Gebed
Skriflesing
Jeremia 32:1-3, 6-15
Lofsang
Flam 78 God is goed, Hy lewe
Inleiding
Toewyding
VONKK 106 Luister Tog, Heer, En Hoor My Gebed
Integrasie
Ek was die afgelope week by die Lentekonferensie by die Universiteit van Pretoria. Dis ’n jaarlikse konferensie waar predikante van regoor die land bymekaarkom. Teoloë vertel dan vir ons van nuwe ontwikkelinge in hul velde. Opwindende sprekers inspireer ons.
Dinsdagoggend het ons teetyd gehad op kampus, met filterkoffie en cupcakes (kolwyntjies), toe ’n groep studente singend en dansend ingestap kom. Dit was nogal snaaks: hulle gesigte was op ’n knop, hulle kom maak nou moeilikheid. Maar toe hulle die eet- en drinkgoed sien, verhelder hul gesigte: jackpot! Hulle het ingestap en ons eet- en drinkgoed gevat. Iemand het vir hulle ’n skinkbord gehou en gesê: “Julle kan kry, maar gedra jou, vra mooi.” So die studente het ’n ry gemaak, een-een gevat, dankie gesê. Met die uitstap (ek het by die deurgestaan) het hulle dankie gesê.
Woensdag heet hulle weer bymekaargekom. Die slag het studente van AfriForum, Daso en Sasco ook opgedaag en gesê: “ons gee julle ’n halfuur. Stop die nonsens of ons stop julle.” Dit het dinge ge-eskaleer tot op die punt dat ons die kampus moes ontruim.
Terwyl ek in Pretoria gesit het, lees ek dat hier donderbuisie en rubberkoeëls gebruik is. Ek weet nie wat gebeur het nie, ek het nog nie met studente gepraat nie. Maar as ek hierdie storie vertel, is die reaksie byna universeel woede. Soos die outjie van Touwsrivier.
Agter die woede is natuurlik baie dinge (die woede van studente wat afbrand en afbreek en die woede van toeskouers.) Daar is herinneringe en ervaringe uit die verlede, magteloosheid. Maar veral, dink ek, vrees. Dalk wil ons dit nie erken nie – en jy kan met my stry, want dis ’n komplekse situasie met baie emosies. Maar baie van ons is bang. Wanneer ons na die land kyk, voel ons oorweldig deur misdaad. Dit lyk asof korrupsie die oorhand gekry het, wanneer kinders nie eers ordentlike onderwys kan kry of siek mense nie toegang het tot basiese mediese sorg nie. En dan begin universiteitstudente – die toekomstige leiers, die denk-leiers – breek en verbrand. Om die outjie van Touwsrivier aan te haal: “Hoe kan jy studeer vir ’n grrraad, maar djy doen onnoselike dade.” Ons sukkel om die studente te hoor, te verstaan wat presies hulle vra, hoekom hulle so optree. Ons is kwaad en magteloos en bang. Dan raak dit moeilik om te bly hoop, om te dink dat daar enigsins toekoms is in SA. Ons moes miskien lankal gekyk het na emigreer.
Jy gaan vir ’n wegbreek na die Kruger Wildtuin… en dis net droog. Droog droog droog. Ek het in hierdie week se e-pos nuusbrief vertel van die NGK droogtehulpfonds wat 3 en kwart miljoen rand gegee het aan hulpverlening. Maar die geld is op en die droogte sleep voort.
Dis hoekom ons Jeremia 32 moet lees. Want ons land is droog en die universiteite is toe en die paaie is vol brandende bande of slaggate. Dan praat ons nog nie eers oor kinders wat nie leef soos ons hulle geleer het of probleme van hul eie in die gesig staar of ons eie finansiële nood of huweliksmaats wat net nie… tsu. En Jeremia koop grond.
Jeremia koop grond
Hier in die middel van die boek Jeremia lees ons van hierdie vreemde transaksie. Kyk, Jeremia is nou al vir dekades lank – 40 jaar – besig om vir Juda te sê hier kom moeilikheid. En hulle wou nie luister nie! Nou is hulle beleër deur die Babiloniërs. Jeremia is tegnies in die tronk, want hy staan sê die hele tyd Koning Sedekia gaan verloor, die volk gaan in ballingskap weggevoer word. En hy hou nie op om dit te sê nie! Hierdie klein storietjie van ’n kooptransaksie, verander nie die groter boodskap nie. Oor ’n paar dae of weke word Jerusalem ingeval en vernietig en die Judeërs weggevoer na Babel.
Te midde van hierdie beleg, koop Jeremia grond. Grond waarop die Babiloniese weermag waarskynlik op daardie stadium uitgekamp is. Grond wat eintlik reeds oorgeneem is. Grond, wetende dat die volk in ballingskap weggevoer gaan word.
Maar Jeremia koop die grond wettiglik, “dotted the i’s and crossed the t’s.” Gewoonlik was daar twee kontrakte: een om te sê “dit was ons ooreenkoms” en nog een in ’n kruik, sodat dit kan hou. Ingeval iemand kom en sê: “jy het met die dokumente gepeuter”, dan kan daar teruggegaan word na die oorspronklike, verseëlde dokument.
Jeremia maak seker hierdie transaksie gaan hou. Dis wettig. Jy kan terugkeer na jare en dit gaan steeds geldig staan. Hoekom? Want God het so gesê.
’N BELOFTE VAN GOD IS ’N BELOFTE WAT HOU
En ’n belofte van God is ’n belofte wat hou. Ons hoop is nie in die Egiptenaars om die Babiloniërs te kom wiks nie, of in die DA of die ANC of burgerskap van ’n ander land of die waarde van die rand of mediese dokters nie. Ons hoop is in God. En dit het niks met ons omstandighede te doen nie.
God is nie Kersvader nie. Dit is nie God se werk om seker te maak dat alles altyd vir ons lekker en gemaklik en voorspoedig is nie. Dit is ons werk om te midde van ons vrees, bekommernis en moedeloosheid die oog op God te hou. Om te midde van hierdie lewe God se wil te soek. Om gehoorsaam aan hom te leef. Ons is geroep om in navolging van Jesus die realiteit waarin ons eintlik glo te beliggaam. Om in navolging van Jesus te lewe met liefde, selfopoffering en diensbaarheid. Ook – veral – teenoor ons vyande.
Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee. Matt. 6:33
Gelowiges kyk anders na die wêreld en anders na die uitdagings van die wêreld. Ons kyk daarna as burgers van die koninkryk van God, wie se Koning mense se voete gewas en aan ’n kruis gesterf het
Dade van hoop
Ons kyk na verleenthede as geleenthede om die waardes van hierdie koninkryk te beliggaam. Ons geloof is nie ’n sagte, snoesige kombersie wat ons gerusstel in moeilike omstandighede nie. Dit is ’n oproep om vooroor gebuk teen die stormwind voort te beur, om die gevallenes lang die pad op te help en deur die storms te dra. Dis geloof in die Drie-enige God. Dis om grond te koop in Annatot terwyl die Babiloniese leër daarop uitkamp.
Hierdie dade van radikale hoop is nie noodwendig reuse goed nie. Dikwels is dit gewoon om in die oggend uit die bed uit op te staan. Of om te bly bid.
Iemand vertel dat hy saam met sy dogter die Santiago gestap het. Baie mense draai om by dag 3. Wanneer jy uit dag 3 se dorpie stap, is daar ’n bordjie wat sê: “Santiago 780km”.
Terwyl hy saam met sy dogter gestap het, op dag vyf, so ’n uur en half uit die laaste dorpie, het sy dogter gaan sit. “Wil jy rus?” het hy gevra. “Nee,” was haar antwoord. “Dit was ’n fout. Ons moet omdraai.”
Dis soos die lewe: Om Christus te volg, is te erg. Wie kan so lewe?
Hy vertel hoe hy alles in sy vermoë probeer het om sy dogter aan te moedig. Op ’n stadium het hulle klokke gehoor. Dit was ’n trop skape met die herder voor. In desperaatheid sê hy vir haar Psalm 23 op. Maar sy sit. Sê niks. Sit net. Na ’n lang tyd, sê sy: “So jy dink hy stap voor?” Hulle het nog bly sit. En toe opgestaan en verder gestap.
Ons is dikwels op hierdie punt. Dan sê ons vir onsself: “Dis okay. Los dit maar. Jou saak met die Here is reg. Jy hoef nie teen hierdie storm vorentoe te beur nie, hoef nie beleërde grond te koop nie.” Maar dan vat die Gees ons aan die hand en sê: “kom”. Ons beur voort.
Ons steek klein kersies aan wat tingerig flikker in die donker.
Want God is God. God regeer. ’n Belofte van God is ’n belofte wat hou. Ons behoort aan God.
Jacques Cousteau het gesê:
As ons logies was, sou die toekoms inderdaad donker gelyk het. Maar ons is meer as logies. Ons is mense. En ons het geloof en ons het hoop.
Of die kortste Nederlandse gedig, deur JH Leopold:
O rijkdom van het onvoltooide
Gaan. Koop grond in Anatot.
Gebed
Dankoffers
Slotlied
Lied 509 verse 1, 2 en 4 Op berge en in dale
Seën
Gaan koop grond in Anatot. Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee! (Num 6:24-26)
Respons
Flam 386 Mag die God van Hoop