Skip to main content

Watter verskil maak God se teenwoordigheid? Ps. 24 11 Jul 2021 Erediens

Terwyl Ps.23 eindig met die getuienis van God wat Sy kinders soos eregaste by ‘n feesmaal ontvang, werp Ps.24 lig op hoe ons as mense, in die besonder ons wat Sy kinders is/Hom ken en lief het (soos dit ook die geval met Israel onder leiding van koning Dawid was), hoe ONS vir God as dit ware aan ons tafels (in ons lewens) “ontvang”. Dit is in ons familie die gebruik om baie moeite te doen as iemand by ons aan huis kom/kom eet/kuier. So wil dit vir my voorkom of dit in ander huishoudings ook so werk… ‘n Predikants-vriend van my vertel dat hy een aand gaan huisbesoek doen het by mense en toe sommer daar sou eet. Hulle gaan sit toe aan tafel en die mense se seuntjie sit langs hom. Die vra toe vir sy ma: Hoekom eet ons vanaand uit hierdie borde? Ons eet nooit uit hulle nie! Die ma het natuurlik nie geweet wat om te sê nie. Hoe verander die teenwoordigheid van die Here egter ons lewens, ons denke, gedrag, waar Hy nie net ‘n tydelike Gas is nie, maar as Heilige Gees altyd by ons is? Wat kan ander mense beleef, raaksien, veral in hierdie tyd, by ons, wat die teenwoordigheid van die Here verteenwoordig? Ons sien wat beteken die teenwoordigheid van die Here vir die volk in hulle reaksie daarop in die lied van Ps.24…

Moenie ontsteld wees nie – glo net! – Markus 5:21-43

Verwelkoming

Dit is tyd vir ons weeklikse asemskep spasie. Om saam die Here te aanbid. Om sy goedheid te bely. Hy is regtig getrou, maak nie saak wat die lewe aan ons opdis nie.

Ek het net een aankondiging:

Kerkdienste

Alle eredienste is afgestel ter wille van veiligheid. Ons het wel drie dienste op Youtube: Ligkids en Pulse vanaf 06:00 beskikbaar op Sondae; Familiediens 09:00 op Sondae. Pulse handel vandag oor die getuienis van Hettie Brittz: Waar was God toe ek verkrag is? Jy kan dit nie misloop nie.

Continue reading

Wat as ek bang is? 1 Sam.17 Erediens 20 Jun 2021

Ons lees 1 Samuel 17…Die bekende verhaal van Dawid en Goliat. Dit is relevant ongeag hoe jonk of oud jy mag wees, want dit spreek die vreesfaktor in ons lewens aan. Ons is almal, van die skrikkeriges tot die brawes (of altans, die wat dink hulle is braaf) onder ons, bekend met die ervaring van: om bang te wees. “Goliat”, daardie persoon, gebeurtenis, verwagting, daardie “ding”, wat die ervaring van vrees by ons aanwakker, neem verskillende gedaantes op verskillende stadiums van elkeen van ons se lewe aan. Waarvoor is jy bang? Wees eerlik en laat God jou help. Een van die frases wat die meeste in die Bybel gesê word is: Moenie bang wees nie. Deur die verhaal van Dawid en Goliat gee God vir ons as mense wat onsself maar gedurig betrap met vrees in ons harte, drie vastrapplekke sodat ons as Sy kinders Sy opdrag kan uitvoer: Moenie bang wees nie. Mag jy nie deur vrees oorweldig te word nie, maar te midde van bedreigings, bekommernisse, “vrees”-like situasies, die oorweldigende vrede van die Here kan beleef, soos wat Dawid het, nie net in hierdie situasie nie, maar voortdurend in sy lewe.

Reuse en dapper muise1 Sam.17 Ligkids 20 Junie 2021

Waarvoor is jy bang? Goggas? Slange? Die donker? Wat van om skool toe te gaan, omdat daar ‘n maatjie is wat met jou lelik is? Of dalk is jy bang vir die toets of eksamen wat jy moet gaan skryf… God weet ons word soms bang en Hy wil ons help! Ons luister na die storie van Dawid en Goliat. God het vir Dawid dapper gemaak om teen die reus te veg en te wen. Soms voel die dinge waarvoor ons bang is ook reus-agtig, dis sommer vir ons sleg en moeilik, MAAR God leer ons: Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.” – Jos.1:9 Kom ons wees dapper, maak nie saak hoe klein of groot ons is nie! Ons maak vandag ‘n oulike kettie, wat ons herinner aan Dawid se slingervel!