Skip to main content

Waak en bid – die hele reeks

Gebed ontsluit God se krag

Ek het al baie oor gebed gepreek. Ook verskillende Pinksterreekse oor gebed gehou. Maar, hierdie reeks is anders. Hierdie reeks is vir gelowiges wat dieper in die praktyk van gebed wil ingaan. Wat wil leer hoe om beter te bid. Ek het die raamwerk van Dick Eastman in sy boek The Hour That Changes the World aangepas om dit my eie te maak. Ek gebruik ‘n horlosie metafoor wat jy kan gebruik om ‘n uur aan gebed te spandeer. Daar is 12 temas of onderwerpe vir gebed. Dit is bedoel vir ‘n uur se gebed, maar jy kan elkeen van die temas ook een op ‘n slag beoefen, of afwissel, of korter of langer bid, of selfs in ‘n ander volgorde gebruik. Dit is net ‘n riglyn. Jy moet deur die Here Jesus self geleer word hoe om te bid.

Hier is die hele reeks as jy dit wil lees en gebruik:

Waak en bid: hele reeks

Waak en bid – ‘n uur van gebed – prakties

Welkom by hierdie uur van gebed.

Jy weet reeds dat ons op twaalf maniere gaan bid. Min of meer 5 minute vir elke element.

Ek hoop jy is op ‘n plek waar jy stil kan wees sonder onderbrekings. Dat jy ‘n gemaklike stoel het en ‘n gebedsjoernaal waarin jy gebedsversoeke en verhorings sowel as insigte, beloftes en opdragte kan neerskryf.

Ek gaan telkens die element van gebed aankondig met musiek in die agtergrond. Wanneer ek jou egter kans gee om te bid, sal daar telkens ‘n minuut of twee stilte wees. Tot met die volgende opdrag.

Laai die pdf hier af: Waak en bid – prakties

Follow the leader Ligkids 6 Junie 2021

Hoekom dink jy sê mamma en pappa/ ouma en oupa vir jou sekere dinge om te doen en nie te doen nie? Somtyds voel dit of hulle sommer net lelik is met jou en nie wil hê dat jy iets moet doen wat jy graag wil nie. Ons wil ook nie altyd na hulle luister nie, of hoe? Kan jy ‘n keer onthou wat jy ongehoorsaam was? Wat het toe gebeur? Ek onthou nog toe ek klein was het my mamma vir my gesê om nie op die nat vloer te loop wat sy gewas het nie…en toe, het ek gegly en hard geval. God weet dat ons partymaal iemand nodig het wat beter as ons weet en ons kan help. Daarom gee Hy mense vir ons sodat hulle ons kan leer, help en vir ons ‘n voorbeeld kan wees van wat om te doen en wat om nie te doen nie. Dit was al van die Bybelse tyd af al vir God belangrik dat daar mense sal wees wat kan leiding neem, na wie ons kan opkyk en volg. Ons lees vandag saam uit 1 Sam. 8 om meer hiervan te leer. Kom speel, leer en doen saam!

Wie volg jy? 1 Sam.8 Erediens 6 Junie 2021

Die verhaal van 1 Sam.8 laat ons nadink oor die manier waarop ons as kinders van die Here die landskappe van die lewe navigeer. Die eis van ‘n koning in v. 5 & 10 verklap die volk se behoefte aan iemand wat voor kan loop, leiding neem en voetspore agterlaat vir hulle om in te volg. Ons vind vandag steeds ons pad op voetspoor van ander. Ons lewens is vol stelle spore wat na iewers lei, wat ons dikwels op ‘n dwaalspoor lei oor watter spoor ons behoort te volg. Maar het jy geweet, dat dit vir ‘n spoorsnyer moontlik is om selfs uit ‘n klomp spore wat oormekaar getrap is, een spoor te identifiseer en dit te volg? Uit die gedeelte van 1 Sam.8 is dit duidelik dat ons kan onderskei tussen verskillende “spore” en kies watter een ons volg. God gee ons die opdrag en nooi ons om “op spoor van Hom” te leef en Jesus se voorbeeld na te volg. Ons laat ook voetspore na… Het jy al opgelet na die voetspoortjie van ‘n mier? Wat van ‘n mossie? ‘n Olifant? Elkeen laat ‘n spoor. So ook elkeen van ons, oud en jonk, belangrik en onbelangrik. Daar waar ons was, sal iets agterbly. Dit het ons sekerlik geleer uit die vinnige manier waarop Covid-19 kan versprei wanneer een geinfekteerde persoon aan iets gevat het en ‘n volgende doen dit dan ook. Daar waar ons gaan, sal mense ons volg, al dan nie. Kinders, familie, skool, werk, die wêreld, almal op wie ek en jy ‘n invloed het. Ons is nie hier of enige ander leier is nie hier om God se plek in te neem nie. Ons speel ‘n ondersteunende rol in die verhaal met God as hoofkarakter en ons voetspore behoort ander na God te lei.

Kan mens weer gebore word??? Ligkids Kwartaal 2 #4 30 Mei 2021

Wanneer verjaar jy? Hoekom vier ‘n mens jou verjaarsdag? Want dit is ‘n baie spesiale dag…die dag waarop jy gebore is! Kyk bietjie na fotos van daardie dag of van toe jy nog baie klein was. Kom speel saam Wie is wie? en kyk of julle kan raai wie van die Ligkids span is dit in die foto van toe hulle nog klein was! Nie een van ons sal weer kan terugpas in ons mamma se magie nie! So hoe moet ons dan “weer gebore” word? Jesus gesels met Nikodemus en verduidelik vir hom hoe dit werk: Om weer gebore te word het niks daarmee te doen om aan die buitekant te verander nie, maar alles te doen daarmee om toe te laat dat Jesus jou van binne verander! Hy gee vir ons wat in Hom glo ‘n nuwe hart en die Heilige Gees bly daarin! Kom speel, sing, leer en leef saam, soos altyd!