Skip to main content

25 Jul 2021 Erediens 2 Kon.4:42-44 ‘n Profetiese rol vandag.

Ek glo almal van ons borsel elke oggend en partymaal ook in die aande jou tande met ‘n tandeborsel en tandepasta. Jy het sekerlik al ‘n buisie tandepasta gedruk sodat dit kan uitkom, maar het jy dit al probeer terugsit? Dis ‘n gesukkel en daarom moet jy mooi werk wanneer jy die buisie druk. So is dit ook met ons woorde en dade – dit wat ons gesê en gedoen het, kan ons nie terugkry nie. Daarom moet ons versigtig wees met en goed nadink oor hoe ons dit gebruik. ‘n Groep mense in die Bybel wat veral gelet het op hulle woorde en dade, was die profete, want hulle moes God se boodskap net so aan die mense oordra en deur hulle dade in ooreenstemming daarmee optree. Ons kyk na die geskiedenis van die profete in die Bybel. Elkeen van ons het egter steeds ‘n profetiese rol om te vervul, in die onderskeie beroepe wat ons beoefen, die kringe waarin ons beweeg, die huishoudings waarvan ons deel is. Clement van Rome, ‘n pous in die jaar 88 n.C. verwoord ons as gelowiges se profetiese rol in sy gebed: Ek bid dat U vandag vir hulle wat swaar kry sal help, Hulle wat geval het sal ophelp Hulle wat in nood verkeer sal verlos van hulle ellende Ek bid dat U die wat siek is sal genees Hulle wat afgedwaal het sal terugbring Die hongeres sal voed Die swakkes sal versterk Die wat moed verloor het nuwe visie sal gee Maar Here, terwyl ek vra dat U hierdie dinge sal doen, Besef ek dat U gekies het om dit deur my te doen.

18 Jul 2021 Erediens Efe.6:10-20 Hoe sal ons bly staan?

Efe.6:10-20 Hoe sal ons bly staan? Ons is almal op een of ander manier in verskillende veldslae gewikkel…Deurgaans in Paulus se lewe voer hy ‘n stryd teen die fisiese gevare en bedreigings, Romeinse owerhede, honger, armoede nie, ook die innerlike stryd. Die Here inspireer hom om vanuit die tronk in Rome hierdie bemoedigende brief aan die gelowiges in Klein-Asië, te skryf. Dit was ‘n omsendbrief, m.a.w. hulle moes dit aanstuur. Vandag kan elkeen van ons dit lees en weet: dit is ook vir jou en my bedoel. Hier word die opdrag gegee om in die stryd wat ons in die wêreld, ons land, huise en harte stry, soos die 1983-vertaling dit stel: op ons pos te bly. Die 1953-en 2020-vertaling sê meer getrou aan die Griekse teks, staande kan bly of vas kan staan (v.11,13,14) Die Griekse woord “stenai” – verwys letterlik na ’n soldaat of weermag wat ‘n kritiese en strategiese militêre posisie inneem teenoor ‘n vyand. Ons word gehelp om ons posisie te bepaal in watter stryd ons ookal stry. Ken jou Bevelvoerder/Verlosser. Ken jou vyand. Onthou die regte “kleredrag”. “Stry die goeie stryd van die geloof. I Tim. ‭6:12 ‬

Watter verskil maak God se teenwoordigheid? Ps. 24 11 Jul 2021 Erediens

Terwyl Ps.23 eindig met die getuienis van God wat Sy kinders soos eregaste by ‘n feesmaal ontvang, werp Ps.24 lig op hoe ons as mense, in die besonder ons wat Sy kinders is/Hom ken en lief het (soos dit ook die geval met Israel onder leiding van koning Dawid was), hoe ONS vir God as dit ware aan ons tafels (in ons lewens) “ontvang”. Dit is in ons familie die gebruik om baie moeite te doen as iemand by ons aan huis kom/kom eet/kuier. So wil dit vir my voorkom of dit in ander huishoudings ook so werk… ‘n Predikants-vriend van my vertel dat hy een aand gaan huisbesoek doen het by mense en toe sommer daar sou eet. Hulle gaan sit toe aan tafel en die mense se seuntjie sit langs hom. Die vra toe vir sy ma: Hoekom eet ons vanaand uit hierdie borde? Ons eet nooit uit hulle nie! Die ma het natuurlik nie geweet wat om te sê nie. Hoe verander die teenwoordigheid van die Here egter ons lewens, ons denke, gedrag, waar Hy nie net ‘n tydelike Gas is nie, maar as Heilige Gees altyd by ons is? Wat kan ander mense beleef, raaksien, veral in hierdie tyd, by ons, wat die teenwoordigheid van die Here verteenwoordig? Ons sien wat beteken die teenwoordigheid van die Here vir die volk in hulle reaksie daarop in die lied van Ps.24…

Wat as ek bang is? 1 Sam.17 Erediens 20 Jun 2021

Ons lees 1 Samuel 17…Die bekende verhaal van Dawid en Goliat. Dit is relevant ongeag hoe jonk of oud jy mag wees, want dit spreek die vreesfaktor in ons lewens aan. Ons is almal, van die skrikkeriges tot die brawes (of altans, die wat dink hulle is braaf) onder ons, bekend met die ervaring van: om bang te wees. “Goliat”, daardie persoon, gebeurtenis, verwagting, daardie “ding”, wat die ervaring van vrees by ons aanwakker, neem verskillende gedaantes op verskillende stadiums van elkeen van ons se lewe aan. Waarvoor is jy bang? Wees eerlik en laat God jou help. Een van die frases wat die meeste in die Bybel gesê word is: Moenie bang wees nie. Deur die verhaal van Dawid en Goliat gee God vir ons as mense wat onsself maar gedurig betrap met vrees in ons harte, drie vastrapplekke sodat ons as Sy kinders Sy opdrag kan uitvoer: Moenie bang wees nie. Mag jy nie deur vrees oorweldig te word nie, maar te midde van bedreigings, bekommernisse, “vrees”-like situasies, die oorweldigende vrede van die Here kan beleef, soos wat Dawid het, nie net in hierdie situasie nie, maar voortdurend in sy lewe.

Follow the leader Ligkids 6 Junie 2021

Hoekom dink jy sê mamma en pappa/ ouma en oupa vir jou sekere dinge om te doen en nie te doen nie? Somtyds voel dit of hulle sommer net lelik is met jou en nie wil hê dat jy iets moet doen wat jy graag wil nie. Ons wil ook nie altyd na hulle luister nie, of hoe? Kan jy ‘n keer onthou wat jy ongehoorsaam was? Wat het toe gebeur? Ek onthou nog toe ek klein was het my mamma vir my gesê om nie op die nat vloer te loop wat sy gewas het nie…en toe, het ek gegly en hard geval. God weet dat ons partymaal iemand nodig het wat beter as ons weet en ons kan help. Daarom gee Hy mense vir ons sodat hulle ons kan leer, help en vir ons ‘n voorbeeld kan wees van wat om te doen en wat om nie te doen nie. Dit was al van die Bybelse tyd af al vir God belangrik dat daar mense sal wees wat kan leiding neem, na wie ons kan opkyk en volg. Ons lees vandag saam uit 1 Sam. 8 om meer hiervan te leer. Kom speel, leer en doen saam!

Wie volg jy? 1 Sam.8 Erediens 6 Junie 2021

Die verhaal van 1 Sam.8 laat ons nadink oor die manier waarop ons as kinders van die Here die landskappe van die lewe navigeer. Die eis van ‘n koning in v. 5 & 10 verklap die volk se behoefte aan iemand wat voor kan loop, leiding neem en voetspore agterlaat vir hulle om in te volg. Ons vind vandag steeds ons pad op voetspoor van ander. Ons lewens is vol stelle spore wat na iewers lei, wat ons dikwels op ‘n dwaalspoor lei oor watter spoor ons behoort te volg. Maar het jy geweet, dat dit vir ‘n spoorsnyer moontlik is om selfs uit ‘n klomp spore wat oormekaar getrap is, een spoor te identifiseer en dit te volg? Uit die gedeelte van 1 Sam.8 is dit duidelik dat ons kan onderskei tussen verskillende “spore” en kies watter een ons volg. God gee ons die opdrag en nooi ons om “op spoor van Hom” te leef en Jesus se voorbeeld na te volg. Ons laat ook voetspore na… Het jy al opgelet na die voetspoortjie van ‘n mier? Wat van ‘n mossie? ‘n Olifant? Elkeen laat ‘n spoor. So ook elkeen van ons, oud en jonk, belangrik en onbelangrik. Daar waar ons was, sal iets agterbly. Dit het ons sekerlik geleer uit die vinnige manier waarop Covid-19 kan versprei wanneer een geinfekteerde persoon aan iets gevat het en ‘n volgende doen dit dan ook. Daar waar ons gaan, sal mense ons volg, al dan nie. Kinders, familie, skool, werk, die wêreld, almal op wie ek en jy ‘n invloed het. Ons is nie hier of enige ander leier is nie hier om God se plek in te neem nie. Ons speel ‘n ondersteunende rol in die verhaal met God as hoofkarakter en ons voetspore behoort ander na God te lei.