Oor watter saak (behalwe God self!) dink jy praat die Bybel die meeste? Wie dink dis liefde? Geloof? Gebed?
Daar is ongeveer 500 teksverse oor gebed in die Bybel, minder as 500 oor geloof en ongeveer 500 oor liefde, maar 2 350 verse oor geld en besittings; in die vier Evangelies handel een uit elke tien verse direk oor geld; 16 van die 38 gelykenisse wat Jesus vertel het, handel oor die regte aanwending van geld en besittings. Die Bybel praat vyf keer meer oor geld as oor enigiets anders!
Ek was die afgelope week by die Universiteit van Pretoria. Dinsdagoggend het ons teetyd gehad op kampus, met filterkoffie en cupcakes (kolwyntjies), toe ’n groep studente singend en dansend ingestap kom. Dit was nogal snaaks: hulle gesigte was op ’n knop, hulle kom maak nou moeilikheid. Maar toe hulle die eet- en drinkgoed sien, verhelder hul gesigte: jackpot! Hulle het ingestap en ons eet- en drinkgoed gevat. Iemand het vir hulle ’n skinkbord gehou en gesê: “Julle kan kry, maar gedra jou, vra mooi.” So die studente het ’n ry gemaak, een-een gevat, dankie gesê. Met die uitstap (ek het by die deur gestaan) het hulle dankie gesê.
Terwyl ek in Pretoria gesit het, lees ek dat hier donderbuisie en rubberkoeëls gebruik is. Ek weet nie wat gebeur het nie, ek het nog nie met studente gepraat nie. Maar as ek hierdie storie vertel, is die reaksie byna universeel woede. Soos die outjie van Touwsrivier.
Dis hoekom ons Jeremia 32 moet lees. Want ons land is droog en die universiteite is toe en die paaie is vol brandende bande of slaggate. Dan praat ons nog nie eers oor kinders wat nie leef soos ons hulle geleer het of probleme van hul eie in die gesig staar of ons eie finansiële nood of huweliksmaats wat net nie… tsu. En Jeremia koop grond.
Vandag is Bybelsondag. Dis ook vandag Sondag vir Persone met Gestremdheid. Verder is vandag ook spesiaal, want ons verwelkom aanbid vandag saam met lidmate van die VGK Bloemendal. Ons is almal saam aan die Nagmaalstafel.
Dis wonderlik dat al hierdie dinge vandag gebeur, want dit herinner ons: Almal is welkom by Jesus se tafel! Daar is genoeg plek. Niemand is uitgesluit. Jy is welkom.
’n Mens besef nie altyd wanneer jy midde-in geskiedenis leef nie. Dat die oomblik wat jy nou beleef, ’n oomblik is waaroor die wêreld vir jare gaan praat nie. Maar ek dink die twee laaste weke was so ’n tyd. Suid-Afrika het opgestaan en begin sê: “Nie weer nie. Genoeg.” En in ’n ikoniese beeld wat waarskynlik vir altyd in ons kollektiewe geheue geëts sal wees, het vier vroue bewend opgestaan – tjoepstil – en mag op sy kop gekeer en onreg ontbloot. So op die vooraand van vrouedag, wat ons herinner aan die onreg van ons verlede en die vroue wat opgestaan het en gesê het: “genoeg.” Vrouedag. Vier vroue met handgeskrewe plakkate wat ons herinner dat 1 uit 3 vroue in SA verkrag word (sommige statistieke sê 1 uit 2), dat daar elke 6 dae ’n vrou in SA deur haar lewensmaat vermoor word.
Wat ’n ironiese tablo was die afgelope twee weke nie! Die skrille kontraste wat in gelid staan.
Die Here het verwag dat daar reg sou wees, maar daar was net onreg, dat daar geregtigheid sou wees, maar daar was net die hulpgeroep van veronregtes.
Ek het in 1991 my lewe aan God oorgegee. Geestelik is ek dus nou 25 jaar oud. Dis eintlik die belangrikste vraag: hoe vergelyk jou geestelike lewe vandag met geestelike lewe 20 jaar gelede, 10 jaar gelede, verlede jaar? Het jy geestelik gegroei? Verander? Ken jy vir God beter? Kan jy God se stem beter onderskei? Volg jy meer op Jesus se spoor?