1 Kronieke 29 Alles behoort aan God
Aanddiens 9 Oktober 2016
Votum
Ps 24:1
Preek
Oor watter saak (behalwe God self!) dink jy praat die Bybel die meeste? Wie dink dis liefde? Geloof? Gebed?
Daar is ongeveer 500 teksverse oor gebed in die Bybel, minder as 500 oor geloof en ongeveer 500 oor liefde, maar 2 350 verse oor geld en besittings; in die vier Evangelies handel een uit elke tien verse direk oor geld; 16 van die 38 gelykenisse wat Jesus vertel het, handel oor die regte aanwending van geld en besittings. Die Bybel praat vyf keer meer oor geld as oor enigiets anders!
Dis ’n ongemaklike ding om oor te praat. Ten spyte van grappies oor “N Gee, “N Gee”, praat ons baie min oor geld, definitief minder as meeste ander kerke. Ek is ook ongemaklik om hieroor te praat te midde van ons huidige situasie, met #feesmustfall. Mense wat nie studies kan bekostig nie, mense wie se toekoms in gedrang is.
Maar dis belangrik dat ons daaroor praat, want dis ’n sentrale deel van die evangelie. Dit het ook in die laaste tyd vir my duidelik geraak dat ons dit eenvoudig nie lekker begryp nie.
Skriflesing
1 & 2 Kronieke: Israel is besig om hul lewens en samelewing te herbou na die ballingskap. Hulle leer hoe belangrik gebed en nederigheid voor God is, hoe om God te aanbid, hoe elke individu ’n rol te speel het in die koninkryk. Hulle het veral geleer dat God volk wil seën. In 1 Kronieke 29 bring hulle skenkings vir die bou van die tempel. Nadat almal getrou gebring het, bid Dawid hierdie dankgebed:
1 Kronieke 29:10-20
Ek vertel vir julle ’n storie wat ek vroeër vanjaar ook by die oggenddiens vertel het: Een dag wou James baie graag iets spesiaal vir sy 5-jarie seuntjie Jimmy doen. Hy vra: “Seun, wat wil jy baie graag nou doen?” Jimmy antwoord: “Ek wil McDonalds Chips hê – McFries.” Pa: “As dit wat my seun wil hê, dit wat my seun sal kry.”
Hulle klim in die wit Isuzu bakkie, ry McDonalds toe. Jimmy se lippe en tong het stil beweeg. Hy kon sy Mcfries reeds proe voordat hulle die winkel bereik. In die winkel plaas sy pa die bestelling. Jimmy se hartjie klop vinnig toe hy hoor sy pa vra super size. James haal geld uit sy beursie en betaal vir die McFries en koeldrank. Jimmie se tande is gereed om in die warm, goue chips te sink, nog lank voor hulle dit maak tot by die tafel. Toe hulle by die tafel gaan sit, het hy vinnig ’n gebed afgerammel: “Jesus seën die kos. Amen.” Dit voel vir Jimmy na te veel woorde, want hy wil homself verlustig in die seën van die heerlike chips.
James is bly om te sien hoe gelukkig sy seuntjie oor iets so eenvoudig is. Hy besluit hy wil deel in die pret. So hy steek sy hand uit om paar van Jimmy se chips te vat. Tot sy verbasing, sit sy seun sy arms om die chips asof hy ’n fort bou, trek dit na homself en sê: “Nee, hierdie is myne.”
Die pa is vir ‘n oomblik in skok. Hy kan nie glo wat gebeur het nie! James trek sy hand terug en begin dink oor sy seun se houding met die mcfries. Hy dink: “My seun sien nie raak dat ek die bron van die mcfries is nie. Nie alleen is ek die bron van die mcfries nie, hy vergeet dat ek, 1.9m en 80 kg, die mag het om die chips te vat, ten spyte van sy armpies wat dit soos ‘n fort omring. Of dat, as ek wil, ek kan teruggaan na die toonbank en vir hom soveel chips kan bring dat hy dit nooit alles geëet sal kry nie. Jimmy verstaan ook nie dat ek nie die chips nodig het nie. Ek kan teruggaan en vir myself soveel kry as wat ek wil hê.”
Een of twee chippies sou regtig nie daardie dag ‘n verskil aan die pa gemaak het nie. Wat hy wou doen, was vir sy seun Jimmy, om hom uit te nooi om ‘n heerlike tyd saam met sy pa te geniet. Hy wou gehad het sy seun moes bereid wees om die geskenk wat James gegee het, te deel.
God voorsien
Julle kan sien hoe hierdie storie soos ons verhouding met God is: God gee gereeld vir ons McDonalds. God voorsien vir ons. Hy bederf ons. Hy gee vir ons McFries – klein houers, medium, groot, sommige van ons kry supper size. Maar God gee vir ons almal McFries.
En God wil saam met ons aan die tafel van die lewe sit en dit saam met ons geniet. Wanneer hy sy hand uitstrek om van die seëninge te gebruik wat hy vir ons gegee het, maak ons te dikwels soos Jimmy: “Nee Here, hierdie is myne. Nee nee nee – kry jou eie.” Ons bou heinings om die seëninge wat die Here vir ons gegee het.
God is the source of everything
Maar God is die bron van alles. Ps 24: Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daar woon, alles behoort aan die Here.
Dawid se gebed 1 Kor 29: 14 Alles kom tog van U af en ons gee aan U wat ons van U gekry het. 16 Here ons God, al hierdie goed wat ons bymekaargemaak het om ‘n huis vir u heilige Naam te bou, het ons van U gekry en dit behoort aan U.
Natuurlik is dit ons wat gaan werk, maar waar kom die werk vandaan? Waar kom die vermoë om te werk vandaan? God is die bron van ALLES. Of ons nou daarvoor gewerk het, of dit gewen het, of dit gevind het of geskenk gekry het – alles kom van God af. Die aarde en alles daarop, die wêreld en almal wat daarin woon, behoort aan God.
Alles wat ons eintlik dink aan ons behoort, behoort aan God.
Wag ‘n bietjie, bedoel jy my huis, my kar, selfoon, tablet, klere, juwele, kos (wat is jou gunsteling ding?) behoort aan God? Jy kan dalk dink jy’t dit verdien. En jy het waarskynlik, maar die krag om dit te verdien, kom van God. Daar’s mense meer geleerd as jy, slimmer as jy, mooier as jy, meer talentvol as jy… maar hulle kan nie uit ’n hospitaalbed opstaan nie. Gewoon jou gesondheid, jou vermoë om enigiets te vermag, kom van God.
ALLES behoort aan God. Ook jou sakgeld. Ook jou beurs. Ook dit kom van God af.
Wetenskaplikes kom eendag by God en sê: “Ons het besluit ons het u nie meer nodig nie. Ons kan mense kloon, harte oorplant, alles doen wat mense voorheen gedink het, is ’n wonderwerk.” God het geduldig geluister en toe gesê: “Goed dan. Om te sien of julle my nog nodig het, wat van ’n kompetisie om ’n mens te maak? Wetenskaplike antwoord: “Ja, wonderlik.” “Ons gaan dit doen net soos in die ou dae toe ek Adam gemaak het”, sê God. “Dis reg”, sê die wetenskaplike en buk om ’n hand vol grond op te tel. “Whoa!” sê God, terwyl hy sy kop skud: “Nie so vinnig nie pel. Kry jou eie grond.”
Daar is niks wat ons het, wat God nie voorsien het nie. God gee vir ons al hierdie wonderlike dinge. En dan hou ons dit vas en sê: myne!
Jesus is Lord
Ons, gelowiges, bely en glo dat Jesus Heer is. Here van ons lewe. Wat beteken heer? Meester! Hy’s die baas. Alles behoort aan hom. Dis syne. Hy’s die een wat sê het. Ons soek sy wil, gehoorsaam hom, vertrou hom. In die verhaal van die ryk jong man in Matt 19, sê Jesus hy moet alles verkoop. Dit gaan nie oor die jongman se goed nie. Dit gaan daaroor dat Jesus raakgesien waarin hy sy vertroue plaas en om uitgedaag om sy vertroue te verplaas van goed na God. As Jesus Here van ons lewe is, dan beteken dit dat ons Jesus vertrou. Iemand het gesê: as God nie jou tjekboek het nie, het God nie jou hart nie.
Deur te erken dat alles aan God behoort, erken ek dat God werklik vertrou – met alles. Finansies is dikwels die laaste ding wat ons bereid is om vir God oor te gee. Jesus sê: Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees. Matt 6:21 Waar is jou hart?
Stewards
As ons erken dat alles aan God behoort, dan beteken dit ons is rentmeesters. “Stewards”. Wat’s dit? Dis die beheerder van geld en/of goed. ’n Meer moderne ekwivalent is dalk “Trustee”. ‘n Rentmeester is iemand wat eiendom, mense, bronne bestuur. Wat dit nie besit nie. ’n Rentmeester is verantwoordbaar aan die eienaar oor die manier wat die eiendom bestuur word. ’n Rentmeester is iemand wat niks besit, maar verantwoordelik is vir alles.
God is die eienaar. Ons is die rentmeesters. Alles wat ons het, behoort aan God. God het jou vertrou om dit namens hom te bestuur. Die vraag is: As alles aan God behoort, wat is ek besig om daarmee te doen?
Gestel dat jy vir die vakansie [iemand beroemd] se huis oppas. Alles in die huis gaan aan hulle herinner. As jy iets sien, gaan jy weet: dis hulle s’n. Het jy al gedink daaraan? Die kar waarmee jy ry, is God se kar. Al is dit ’n skedonk: ID’s God se skedonk. Die selfoon waarop jy whatsapps stuur, is God se selfoon.
Guidelines for responsible stewardship
As ons in die kerk praat oor finansies, moet ons ook praat oor begroting. Ek is nie ’n finansiële kenner nie, ek kan nie finansiële raad gee nie. Daar is baie mense in ons gemeente wat dit kan doen. Maar as alles aan God behoort, is dit belangrik dat jy ’n begroting opstel – biddend opstel! – om dit verantwoordelik te bestuur.
Eerste beginsel: soek allereers die koninkryk van God. Soek God se wil.
En dan nog ’n paar beginsels:
- Moenie meer spandeer as wat jy inkry nie.
- Gee vir God.
- Verander jou houding – houding van rentmeesterskap eerder as eienaarskap.
Dankoffer
Hoekom gee ons dankoffers? Want die Here gebruik die geld vir sy werk. God deel nie eweredig uit nie. God gee vir sommige meer. Juis om ons aan mekaar te verbind, gemeenskap te vorm, het God ons verantwoordelik gemaak vir mekaar.
Verder, as alles aan God behoort, dan is dankoffer ’n daad van aanbidding. ’n Dankoffer is ’n simbool van ‘n groter geheel. Dankoffer is erkenning dat alles aan God behoort.
Gebed
Dankoffer
Slotsang
Seën
1 Kronieke 29, dankoffers, finansies, geld, Rethie van Niekerk
portia boesen
Baie dankie vir die pragtige boodskap oor die dank offers. Kan u asb vir my n boodskap gee oor die vrou wat aan bloeiing gelei het? Sal dit baie waardeer.
Baie dankie en seen vir u werk.
Portia Boesen
webmeester
Dankie Portia. Ek het oor die vrou wat aan bloedvloeiing gely het by die Oujaarsdiens 2014 gepreek. Jy kan dit hier lees.
Rethie van Niekerk
Hier is nog ‘n preek oor die vrou wat aan bloedvloeiing gely het: https://ngkerksomerstrand.co.za/markus-5-menswaardigheid/