Skip to main content

Tag: Huisgodsdiens

17-23 Feb – Goddelike Golflengte Ontdek – Matt 17:1-8

OMGEE GESPREKKE

Daar is tye wat ons God se teenwoordigheid op besondere maniere beleef.  Dit gebeur nie baie kere in ’n mens se lewe nie – al is God altyd daar! Tog gee God soms vir ons sulke spesiale ontmoetings.  As een van julle al so ’n ervaring gehad het, kan julle vir mekaar daarvan vertel.

BYBEL LEES

Gesinne met Gr 1-3’s lees deur die week die materiaal in hul kategese werkboek.

Laat almal hulle oë toemaak en die gebeure in die teks soos ’n fliek in hulle verbeelding sien terwyl iemand die gedeelte lees.  Lees Matteus 17:1-8 uit Die Nuwe Testament vir Kinders

1–3 Ses dae later vat Jesus vir Petrus, Jakobus en Johannes na ’n hoë berg toe. Toe hulle bo kom, verander Jesus skielik. Sy gesig het so helder soos die son begin skyn. En sy klere het spierwit geword. Moses en Elia het ook met Jesus kom praat.

4–5 Petrus het nie mooi verstaan wat aan die gang is nie. Hy vra toe vir Jesus: “Moet ons gou ’n paar tente vir U en vir Moses en Elia opslaan om in te bly?” Petrus was nog besig om te praat, toe kom daar ’n groot wolk oor hulle. ’n Stem praat skielik uit die wolk: “Hierdie is my Seun vir wie Ek baie lief is. Dit wat Hy doen, maak my baie bly. Luister na wat Hy sê.

6–8 Die dissipels het hulle morsdood geskrik. Hulle het op die grond neergeval, want hulle het geweet God praat met hulle. Jesus het na hulle toe gestap en aan hulle gevat. “Staan op. Moenie bang wees nie,” sê Hy vir hulle. Toe die dissipels hulle oë oopmaak, was net Jesus daar by hulle

  • Vertel vir mekaar wat julle gesien het.  Hoe het julle gevoel terwyl julle na die verhaal geluister het?
  • Hierdie storie sê vir ons dat Jesus, al was hy ’n mens, ook tegelykertyd God is en dat ons na hom moet luister.

GEWOONTES EN GEBRUIKE

God sê ons moet luister na wat Jesus sê.  Ons doen dit o.a. deur Bybel te lees, deur te bid en deur met ander gelowiges te praat oor ons lewens.  Hoe gaan julle hierdie week spesiaal luister wat Jesus sê?

GESEËN OM TE SEËN

  • Daar is baie kinders in ons land wat nie ’n eie Bybel het om te lees en so te luister wat Jesus sê nie.  CLF  het ’n besondere projek waar jy ’n Bybel kan koop en terselfdertyd ’n Bybel kan borg vir iemand anders.  Kyk hier hoe jy deel kan wees van hulle “Een miljoen Bybels vir een miljoen kinders” projek.
  • Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid.  Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys.  Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.

10-16 Feb – Skynheiligheid Ontbloot – Matt 6:1-18

OMGEE GESPREKKE

Vertel vir mekaar wat die goed is waarvoor jy hierdie week wil bid en wil hê die ander moet vir jou bid.  Hoekom wil julle spesifiek vir dié goed bid?

BYBEL LEES

Gesinne met Gr 1-3’s lees deur die week die materiaal in hul kategese werkboek.

Lees Matteus 6:9-13

  • Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die gedeelte.  As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels.
  • Jesus het gereeld gebid.  Hy wil ook hê dat ons gereeld sal bid.  Kyk of julle uit die Onse Vader-gebed (die Skrifgedeelte) kan agterkom waaroor ons alles met God kan praat in gebed.  Waaroor kan ons nog met God praat?
  • Vertel vir mekaar waarmee julle sukkel as dit kom by gebed.  Gee vir mekaar raad.

GEWOONTES EN GEBRUIKE

Leer die “Onse Vader” gebed.  Julle kan dit elke dag saam bid, of Lied 266 leer en saam sing.

GESEËN OM TE SEËN

  • Kan julle dalk hierdie week vir iemand kos gee wat nie gereeld kos kry nie?  Dalk kan julle vir Anna-Marie Voges (041 583 6236) help om sop en/of broodjies te maak vir die bosslapers?
  • Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid.  Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys.  Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.

3-9 Feb – Vyande word vriende: Matt 5:17-48

OMGEE GESPREKKE

Vertel vir mekaar van ’n keer wat iemand lelik was met jou.  Hoe het dit gevoel?  Wat het jy gedoen?

BYBEL LEES

Gesinne met Gr 1-3’s lees deur die week die materiaal in hul kategese werkboek.

Lees Matteus 5:21-22, 43-48

  • Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die gedeelte.  As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels.
  • Jesus sê ons moet ons vyande (mense wat lelik is met ons) liefhê.  Is daar iemand spesifiek wat jy moet kies om lief te hê?  Hoe kan jy dit doen?  (Jy kan bv. vir daardie persoon bid, nie sleg oor hulle praat nie, hulle help met iets of hulle goeie eienskappe in opnoem.)

GEWOONTES EN GEBRUIKE

Probeer saam aan situasies dink waar hierdie teks relevant is en hoe ’n mens dit in daardie situasie sal leef.  Bv. hoe maak ’n mens as:

  • Jou suster die speelding kry wat jy graag vir jou verjaarsdag wou hê.
  • Jy en ’n seun in jou klas gesels, jy in die moeilikheid kom, hy nie en hy lag vir jou.
  • Jou maatjie is kwaad en sê lelike goed wat jou seermaak.
  • Jou vriende pik op ’n nuwe kind in julle klas.

GESEËN OM TE SEËN

  • Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid.  Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys.  Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.

27 Jan – 2 Feb – Sout-van-die-aarde mense: Matt 5:13-16

OMGEE GESPREKKE

Vertel vir mekaar van ’n keer wat jy vir iemand anders van Jesus vertel het óf waar mense deur jou goeie voorbeeld kon sien dat jy Jesus se kind is.  Vertel ook vir mekaar van ’n keer wat dit vir jou moeilik was om ’n goeie voorbeeld te wees of te praat oor Jesus.

BYBEL LEES

Gesinne met Gr 1-3’s lees deur die week die materiaal in hul kategese werkboek.

Lees Matteus 5:13-16

  • Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die gedeelte.  As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels.  Verduidelik hoe sout subtiel smaak gee aan kos.
  • Jesus sê ons moet soos sout en lig wees.  Probeer aan praktiese maniere dink waarop ons sout en lig kan wees – noem voorbeelde.

GEWOONTES EN GEBRUIKE

Sing saam!  Sing liedjies soos “Jesus roep my vir ’n sonstraal”, “This little light of mine”, “Laat ons skyn vir Jesus” en “Laat my lig so skyn”.

GESEËN OM TE SEËN

  • Hoe gaan julle saam hierdie week sout en lig wees?  Dink aan ’n praktiese uitreik wat julle saam kan doen.
  • Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid.  Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys.  Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.

20-26 Jan 2014 – Swaarkry word beloon: Matt 5:1-12

OMGEE GESPREKKE

Vertel vir mekaar van ’n keer wat jy hartseer was of wat mense slegte dinge aan jou gedoen het.  Hoe het dit jou laat voel?  Wat het gebeur?

BYBEL LEES

Lees Matteus 5:1-12

Toe Jesus die baie mense sien, het Hy teen die berg opgegaan en gaan sit. Sy dissipels het na Hom toe gekom.  Toe het Hy begin om vir hulle te leer. Hy het vir hulle gesê: “Mense wat weet hulle het vir God nodig, is gelukkige mense, want God wat in die hemel is, is hulle Koning. Mense wat nou hartseer is, is gelukkige mense, want God sal hulle hartseer wegneem. Mense wat nederig is en wat op God vertrou, nie op hulleself nie, is gelukkige mense, want God sal vir hulle die aarde gee. Mense wat baie graag wil doen wat God wil hê, is gelukkige mense, want God sal vir hulle help om alles te doen wat Hy wil hê. Mense wat goed is vir iemand wat swaarkry, is gelukkige mense. God sal vir hulle ook goed wees. Mense wat net vir God dien, is gelukkige mense, want hulle sal God sien. Mense wat vrede maak tussen mense, is gelukkige mense. God sal sê hulle is sy kinders. Wanneer mense doen wat God wil hê, en ander mense doen slegte dinge aan hulle, dan is hulle gelukkige mense. God wat in die hemel is, is hulle Koning. “Julle is gelukkige mense wanneer ander mense julle beledig en slegte dinge doen aan julle omdat julle My dien. Julle is gelukkige mense wanneer hulle slegte stories oor julle vertel wat alles leuens is. Wanneer mense slegte dinge doen aan julle, dan moet julle baie bly wees, want in die hemel sal God vir julle baie goed wees. Die mense het ook slegte dinge gedoen aan die profete wat voor julle gelewe het.”

  • Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die gedeelte.  As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels.
  • Jesus noem verskillende groepe wat hy “gelukkig” noem.  Kyk gou weer wie dit is.  Vertel vir mekaar as jy soos deel van een van daardie groepe voel – verduidelik hoekom jy so voel en hoe hierdie teks jou laat voel.

GEWOONTES EN GEBRUIKE

Hoe gereeld wil julle as gesin saam Bybel lees?  Watter tyd gaan julle dit doen?  Kies iemand om elke keer almal te herinner.

GESEËN OM TE SEËN

  • Jesus sê:  “Mense wat goed is vir iemand wat swaarkry, is gelukkige mense.” Beplan saam en doen hierdie week iets spesiaals vir iemand wat swaarkry.
  • Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid.  Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys.  Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.