Skip to main content

17-23 Feb – Goddelike Golflengte Ontdek – Matt 17:1-8

OMGEE GESPREKKE

Daar is tye wat ons God se teenwoordigheid op besondere maniere beleef.  Dit gebeur nie baie kere in ’n mens se lewe nie – al is God altyd daar! Tog gee God soms vir ons sulke spesiale ontmoetings.  As een van julle al so ’n ervaring gehad het, kan julle vir mekaar daarvan vertel.

BYBEL LEES

Gesinne met Gr 1-3’s lees deur die week die materiaal in hul kategese werkboek.

Laat almal hulle oë toemaak en die gebeure in die teks soos ’n fliek in hulle verbeelding sien terwyl iemand die gedeelte lees.  Lees Matteus 17:1-8 uit Die Nuwe Testament vir Kinders

1–3 Ses dae later vat Jesus vir Petrus, Jakobus en Johannes na ’n hoë berg toe. Toe hulle bo kom, verander Jesus skielik. Sy gesig het so helder soos die son begin skyn. En sy klere het spierwit geword. Moses en Elia het ook met Jesus kom praat.

4–5 Petrus het nie mooi verstaan wat aan die gang is nie. Hy vra toe vir Jesus: “Moet ons gou ’n paar tente vir U en vir Moses en Elia opslaan om in te bly?” Petrus was nog besig om te praat, toe kom daar ’n groot wolk oor hulle. ’n Stem praat skielik uit die wolk: “Hierdie is my Seun vir wie Ek baie lief is. Dit wat Hy doen, maak my baie bly. Luister na wat Hy sê.

6–8 Die dissipels het hulle morsdood geskrik. Hulle het op die grond neergeval, want hulle het geweet God praat met hulle. Jesus het na hulle toe gestap en aan hulle gevat. “Staan op. Moenie bang wees nie,” sê Hy vir hulle. Toe die dissipels hulle oë oopmaak, was net Jesus daar by hulle

  • Vertel vir mekaar wat julle gesien het.  Hoe het julle gevoel terwyl julle na die verhaal geluister het?
  • Hierdie storie sê vir ons dat Jesus, al was hy ’n mens, ook tegelykertyd God is en dat ons na hom moet luister.

GEWOONTES EN GEBRUIKE

God sê ons moet luister na wat Jesus sê.  Ons doen dit o.a. deur Bybel te lees, deur te bid en deur met ander gelowiges te praat oor ons lewens.  Hoe gaan julle hierdie week spesiaal luister wat Jesus sê?

GESEËN OM TE SEËN

  • Daar is baie kinders in ons land wat nie ’n eie Bybel het om te lees en so te luister wat Jesus sê nie.  CLF  het ’n besondere projek waar jy ’n Bybel kan koop en terselfdertyd ’n Bybel kan borg vir iemand anders.  Kyk hier hoe jy deel kan wees van hulle “Een miljoen Bybels vir een miljoen kinders” projek.
  • Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid.  Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys.  Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.

berg, huisgeloof, Huisgodsdiens, Matteus, matteus 17, verheerliking, verheerliking op die berg

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.