27 Jan – 2 Feb – Sout-van-die-aarde mense: Matt 5:13-16
OMGEE GESPREKKE
Vertel vir mekaar van ’n keer wat jy vir iemand anders van Jesus vertel het óf waar mense deur jou goeie voorbeeld kon sien dat jy Jesus se kind is. Vertel ook vir mekaar van ’n keer wat dit vir jou moeilik was om ’n goeie voorbeeld te wees of te praat oor Jesus.
BYBEL LEES
Gesinne met Gr 1-3’s lees deur die week die materiaal in hul kategese werkboek.
Lees Matteus 5:13-16
- Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die gedeelte. As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels. Verduidelik hoe sout subtiel smaak gee aan kos.
- Jesus sê ons moet soos sout en lig wees. Probeer aan praktiese maniere dink waarop ons sout en lig kan wees – noem voorbeelde.
GEWOONTES EN GEBRUIKE
Sing saam! Sing liedjies soos “Jesus roep my vir ’n sonstraal”, “This little light of mine”, “Laat ons skyn vir Jesus” en “Laat my lig so skyn”.
GESEËN OM TE SEËN
- Hoe gaan julle saam hierdie week sout en lig wees? Dink aan ’n praktiese uitreik wat julle saam kan doen.
- Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid. Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys. Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.