Skip to main content

Tag: Huisgodsdiens

HuisGeloof 4-10 Augustus

Ons Is en Maak Dissipels

OMGEE GESPREKKE

Vertel vir mekaar wat ’n “dissipel” is.

BYBEL LEES

Vertel die verhaal van Jesus wat sy dissipels se voete gewas het (of voer dit op!) en lees dan Johannes 13:34-35.

  • Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die verhaal en die teks. As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels.
  • Dissipels buig voor Jesus om gewas te word en buig dan weer voor ander om hulle voete te was. Gesels oor wat dit beteken. Probeer ook aan praktiese voorbeelde dink.

GEWOONTES EN GEBRUIKE

Dissipels luister na Jesus deur Bybel te lees. Hoe doen julle elkeen dit? Watter tyd van die dag, watter vertaling van die Bybel, waar? Hoe lees julle as gesin saam Bybel? Beplan hoe julle dit nog meer van ’n gewoonte kan maak.

GESEËN OM TE SEËN

  • Maak seker almal verstaan wat dit beteken om iemand se “voete te was.” Gesels wie en hoe julle hierdie week iemand se voete kan was.
  • Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid. Is daar iets spesifiek waaroor iemand in jul gesin tans die Here se wil soek? Bid saam daarvoor en die dinge op jul lys. Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.

HuisGeloof 30 Junie – 6 Julie

OMGEE GESPREKKE

Vertel vir mekaar van ’n keer wat jy baie veilig gevoel het. Wat het jou so veilig laat voel?

BYBEL LEES

Lees Matteus 11:28-30.

  • Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die verhaal. As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels.
  • Kyk hoe vertaal Die Nuwe Testament vir Kinders die teks. Wat verstaan julle anders of beter as julle na hierdie vertaling kyk?

Glo in My. Kry julle baie swaar? Is julle moeg gesukkel om by God uit te kom? Ek kan help! Kom rus by My. Ek maak dit glad nie moeilik om in God te glo nie. Omdat Ek regtig vir julle omgee, is julle veilig by My. Ek sal my arms om julle sit en julle styf vashou. Ek maak die lewe weer lekker.

  • Gesels oor hoe hierdie teks waar kan wees ook wanneer dit met ’n mens sleg gaan en alles nie lekker voel nie.

GEWOONTES EN GEBRUIKE

Sing die ou Jeugsangbundel 29:

Ek was eensaam en verlaat | Al was mense rondom my | Daar was niemand wat my verstaan | Maar U Woord kom toe helder na my:

Refrein: “Kom na my toe | Almal wat moeg en oorlaai is | Kom na my toe | Ek gee rus” | Toe ek opstaan en, nog verward | my hand in Syne lê | Kry die lewe sin | En vind ek rus in Hom

GESEËN OM TE SEËN

  • Volgende week is Avontuurweek! As julle in PE is, klik hier om te registreer.
  • Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid. Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys. Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.

HuisGeloof 23-29 Junie 2014

OMGEE GESPREKKE

Vertel vir mekaar van ’n keer wat iemand baie moeite gedoen het om gasvry of vrygewig teenoor jou op te tree. Wat het hulle gedoen? Hoe het dit jou laat voel?

BYBEL LEES

Lees Matteus 10:40-42 uit Die Nuwe Testament vir Kinders

40–41 “Ek en julle werk saam in ’n span. As iemand vriendelik met julle is, dan is hulle ook vriendelik met My en met my hemelse Vader. Wanneer iemand goed doen aan een van julle wat vir God werk, sal God hom of haar daarvoor beloon.
42 “Party mense wat in My glo, is baie arm. Ander mense gee niks vir hulle om nie. Wanneer julle so iemand help, sal julle regtig ’n plek in die hemel kry. Selfs al gee julle maar net vir so iemand ’n glas koue water, sal God dit raaksien. Want Hy is vriende met almal wat in My glo.”

  •  Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die verhaal. As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels.
  •  Jesus noem dat gasvryheid selfs daarmee te doen het om vir iemand ‘n glas koue water te gee. Vir ons is dit maklik: Jy stap na die yskas toe en jy skink koue water. Maar in Jesus se tyd was dit nie so maklik nie – hulle het nie yskaste gehad nie. Die enigste manier om in Jesus se tyd vir iemand koue water te gee, was om na die naaste put te gaan en daaruit water op te hys met die swaar emmer en dan in te skink. Maar daar was nie by elke huis ‘n put nie – putte was soms vêr en dan moet jy nog in die middel van ‘n warm dag soontoe stap, soms kilometers ver. Jesus sê wanneer jy moeite doen vir iemand anders, dan doen jy so iets asof vir Jesus!
  •  Hoe kan jy vir ander mense moeite doen en hulle so help?

GEWOONTES EN GEBRUIKE (GESEËN OM TE SEËN)

  • Maak ’n gewoonte daarvan om elke maand ’n bedrag te gee vir ’n organisasie wat kinders of mense wat op straat woon, versorg. Skep ’n begunstigde op jul bankrekening en laat die kinders die “betaal” knoppie druk, sodat hulle die ervaring het dat hulle ook gee. Ondersteun bv. die Barcelona sopkombuis in Helenvale en ander behoeftige mense en instansies wat deur ons gemeente ondersteun word deur geld in te betaal by die Finros Jumbo rekening: CCW Wholesalers, Absa Rek 4058449931, Tak 505626, Verwysing: C376 Interkerk Kombuis. Stuur asb. t.w.v. kontrole vir Theo ’n e-pos by theoh[by]telkomsa.net, sodat hy kan seker maak die geld is in die regte rekening oorbetaal.
  • Bring Sondag blikkieskos, warm klere, komberse, ens. vir Projek Winterhoop kerk toe. Sit dit in die blou kis in die voorportaal.
  • Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid. Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys. Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.

HuisGeloof 16-22 Junie 2014

OMGEE GESPREKKE

Vertel vir mekaar waarvoor julle bang is. [Dit is belangrik dat kinders weet en beleef dat ouers ook die Here vertrou met hul bekommernisse. Kinders kan egter maklik bang raak en onseker voel. Wanneer jy ’n vrees kies om te deel, kies iets wat nie jou kind bedreig of onseker sal laat voel nie, maar waarvoor hulle saam met jou kan bid, bv. “dat ek nie al my werk betyds gedoen sal kry nie”.]

Sondag was Vadersdag! Hier is ’n lekker aktiwiteit vir Vadersdag, vanaf Vibrant Faith @ Home:
Laat almal beurte maak om ’n muntstuk te gooi. As die muntstuk op “stert” land, vertel die speler van iets wat hulle in die verlede geniet het om saam met hul pa te doen (soos boek lees, bal speel, in die tuinwerk). As die muntstuk op “kop” land, vertel hulle van iets wat hulle sal geniet om in die toekoms saam met pa te doen. Volwassenes speel ook saam en gesels oor hul pa’s. (As kinders sukkel om aan aktiwiteite te dink, help hulle om iets vir elke seisoen binne en buite te dink.) Oorweeg om ook ander belangrike mans in jul kinders se lewens by die speletjie in te sluit, soos oupas, ooms, peetpa’s en familievriende.

BYBEL LEES

Lees Matteus 10:26-30

  • Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die verhaal. As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels.
  • Wat sê hierdie gedeelte vir jou oor dié goed waarvoor jy bang is?
  • Dalk kan julle ’n speletjie daarvan maak om mekaar se hare te probeer tel en gesels oor hoe God vir julle sorg.

GEWOONTES EN GEBRUIKE

Bid hierdie week elke dag saam vir dié goed waarvoor julle bang is. As julle 1c-stukke in die hande kan kry, dra dit met julle saam of plak dit iewers om julle te herinner dat God vir julle sorg.

GESEËN OM TE SEËN

Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid. Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys. Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.