Skip to main content

20-26 Jan 2014 – Swaarkry word beloon: Matt 5:1-12

OMGEE GESPREKKE

Vertel vir mekaar van ’n keer wat jy hartseer was of wat mense slegte dinge aan jou gedoen het.  Hoe het dit jou laat voel?  Wat het gebeur?

BYBEL LEES

Lees Matteus 5:1-12

Toe Jesus die baie mense sien, het Hy teen die berg opgegaan en gaan sit. Sy dissipels het na Hom toe gekom.  Toe het Hy begin om vir hulle te leer. Hy het vir hulle gesê: “Mense wat weet hulle het vir God nodig, is gelukkige mense, want God wat in die hemel is, is hulle Koning. Mense wat nou hartseer is, is gelukkige mense, want God sal hulle hartseer wegneem. Mense wat nederig is en wat op God vertrou, nie op hulleself nie, is gelukkige mense, want God sal vir hulle die aarde gee. Mense wat baie graag wil doen wat God wil hê, is gelukkige mense, want God sal vir hulle help om alles te doen wat Hy wil hê. Mense wat goed is vir iemand wat swaarkry, is gelukkige mense. God sal vir hulle ook goed wees. Mense wat net vir God dien, is gelukkige mense, want hulle sal God sien. Mense wat vrede maak tussen mense, is gelukkige mense. God sal sê hulle is sy kinders. Wanneer mense doen wat God wil hê, en ander mense doen slegte dinge aan hulle, dan is hulle gelukkige mense. God wat in die hemel is, is hulle Koning. “Julle is gelukkige mense wanneer ander mense julle beledig en slegte dinge doen aan julle omdat julle My dien. Julle is gelukkige mense wanneer hulle slegte stories oor julle vertel wat alles leuens is. Wanneer mense slegte dinge doen aan julle, dan moet julle baie bly wees, want in die hemel sal God vir julle baie goed wees. Die mense het ook slegte dinge gedoen aan die profete wat voor julle gelewe het.”

  • Vertel vir mekaar wat vir julle uitstaan in die gedeelte.  As julle vrae het, kan julle ook daaroor gesels.
  • Jesus noem verskillende groepe wat hy “gelukkig” noem.  Kyk gou weer wie dit is.  Vertel vir mekaar as jy soos deel van een van daardie groepe voel – verduidelik hoekom jy so voel en hoe hierdie teks jou laat voel.

GEWOONTES EN GEBRUIKE

Hoe gereeld wil julle as gesin saam Bybel lees?  Watter tyd gaan julle dit doen?  Kies iemand om elke keer almal te herinner.

GESEËN OM TE SEËN

  • Jesus sê:  “Mense wat goed is vir iemand wat swaarkry, is gelukkige mense.” Beplan saam en doen hierdie week iets spesiaals vir iemand wat swaarkry.
  • Maak ‘n lys van die goed waarvoor julle hierdie week gaan bid.  Bid saam vir mekaar en die dinge op jul lys.  Onthou ook om deur die week te bid vir die dinge op die gebedslys in die afkondiginge.

bergpredikasie, huisgeloof, Huisgodsdiens, Matteus

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.